die verteller, verkleurmannetjie-uitnek
fatsoeneer patrone
uit die vloed informasie omheen,
soek oog en draad om die verhaal aan te hang
sodat lag en ween innig verweef
gebek kan wees
om ons te verseker net so
soos bloei in die vloei
die opvatting bevat
dat die fabelagtige ’n funksie van skoonheid vergestalt
en niks ooit dieselfde is
al word dit aan een draad gekwyl net so
is alles geheg aan variasies op die vermenigvuldiging
van één in toon en kleur
want om die verskrikking van die onverteerde te weerstaan
mag jy uitvee en vergeet
"oral is daar geluide
jy (moet) weet
waar die nag se stilte
om jou breek"
die profeet, vark en volksverteenwoordiger
verwoord in die veremantel van onheilsvoël
herkén patrone
van die vuil in ons
die voorlog van verdagmaking
se voorlê
verdoemenis in verrotting
vleie waar water verslaan
tot selfs die kikkers verstaan
daar is geen wegkom nie
gee voor hy wéét
die vuur gaan ons vreet en verteer
deur die tydelike tot in alle nie-terugkeer
se wéér en wéér
"en oral is daar geluide
waar die nag se stilte
om jou breek"
my verminde ek is maar die vertaler
om met swewende verse net so
te sinnespeel op die nag wat onversadigbaar mag wees
al is dit soos vibrasie in die sooie
ook tevergeefs
voorspel poësie die hel in ons?
jy vra wat help dit om
te vervel in vertolking van ons fantasieë
as om verder te lewe ’n ontvlugting
van ons verantwoordelikheid
teenoor vernietiging moet beteken
met die wrede wete
soos draad in die mond
wat die tong sny en verwetter?
maar hoe moet ek verbeel ek gee voor
jou vingers het nie my verste vlugte vergesel
na ’n vasteland van bevryding nie?
hoe moet ek maak om woorde net so
op die wind te vergeet?
verloofde
sal ons ten spyte van die seer
tog nog vlerke vleg
om ons begeerte na vervoering verder
te neem in die niet?
sal jy ooit weer jou vrouwees voldoende
aan my en aan jou kan toevertrou
in die vou-intieme huid
van onthou hoe dit is
was
moes wees
om verlei te word?
en nou ek hier handeviervoet vassteek
voor verdonkering se verwelkomende
"kom in boytjie jy word verwag"
met verlange na vergiffenis ’n hart in die bos
vir oulaas verseg om sommer so gevoertsek
as die ot in die boontjieland
verniet om genade en of verlossing
te onderhandel
soos ’n liefdeskranke sot
hoe dan gemaak met die want
verinneweerde vlae
soos vergeelde gelapte lappe
gedraad aan die stok van skrywe
wat as vervloë drome
ons blind bly bind
en omswagtel
my lief?
Lees al die Mondig-gedigte hier:


Kommentaar
'n Adam van nou en vir nou (indien u nie te na gekom voel nie). Adam en sy vrou verder oos, aan ons kant, as die oostekant van die tuin van Eden met sy patrollie gérubs.
Hierdie verskuns is driedimensioneel soos ons dit byvoorbeeld vind in die
skulptuur van David Oliveira. Wat ook opval is die wit ruimtes wat natuurlik
ontstaan; Wittgenstein se "Wovon man nicht sprechen kann" in ewewig met
"waar die nag se stilte om jou breek."