’n Vers vir Pa

  • 2

Fotobron: Canva

’n Vers vir Pa

Oom Lokomotief wat help jou verse my nou?
My pa kan nie meer teug aan díé kuns van jou nie
Dis ék wat die groot verseboek in sy bedkassie moes uithaal

Jou woorde smeer nie konfyt op geleende brood nie
Ons koskaste stel nie belang in sonnette en hul prys nie
Hongerpyne praat harder as goed afgeronde strofes
Sonder my pa vloek hierdie huis hardop met familiefoto’s 
Oomblikke gedrapeer teen koue wit mure in vryrym
Oom Lokomotief by jou verse baat ek net mooi niks
Pa se kantlynnotas peregrineer nou in niemandsland
Sy voete strek duskant die grens van ’n digbundel se blaai

Oom Lokomotief my pa kon jou verse verby die vergeling van bladsye lees
Gedigte met sy oë uit die wêreld steel en terugreflekteer
Maar nou skyn die son anders aan hierdie kant van die treinspoor
Die dood het sy tas hier kom uitpak in my pa se klerekas
Pa se groot verseboek nou ’n kind wat rou op my boekrak
Oom Lokomotief wat help jou verse my nou?
Jou opvlugte hou my nie veilig saans as die wolwe buite huil
en my nagmêrries ontsnap tot in die agterplaas nie

Oom Lokomotief jou trein het sy laaste stasie in hierdie huis bereik
Die tyd om jou woorde in nabetragting op Saterdagmiddag te kroon is verby
Die betekenis wat in jou verse skuil is saam met Pa in ’n knapsak hemel toe

  • 2

Kommentaar

  • Margaret Cordier

    Afrikaans
    klik-klak-klik-klak klink jou klinkers en medeklinkers saam
    ... ooeeee dis 'n mooi taal Johann !!-- in al sy vorme en dialekte... van die Paarl tot bo in 'n Bosveld-beestekraal.
    Mag sy skrywers meer as krummels of geleende brood eet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top