’n Veertjie vir Albie Louw

  • 8

Met sosiale media deesdae versprei nuus vinniger as die Kaapse veldbrande en dit is gewoonlik die slegte nuus wat die meeste aandag trek. Gisteroggend toe ek op Facebook tik, sien ek onmiddellik op Ellen Botha se blad: “RIP Albie Louw, great musician, great human being.”

En toe ek yskoud word van hierdie skielike nuus, was daar ook die skuldgevoel: Hoekom het ek Albie nie meer dikwels besoek nie? En daar dink ek aan my laaste besoek aan hom in ’n klein hospitaaltipe-kamertjie in ’n versorgingsoord in Durbanville: twee hospitaalbeddens, hoog bo teen die plafon ’n TV wat heeldag aangeskakel is, en voor hom op ’n onpersoonlike metaaltafeltjie ’n plakboek met sy herinneringe toe hy operasanger, koorleier, komponis was, en veral in sy laaste jare – die man by die wit klavier by die Tygervallei-sentrum wat vir ure daar byna ongesiens en selfs ongehoord sit en klavierspeel, soos musiek in ’n hyser wat jy hoor en tog nie hoor nie, maar tog met so nou en dan iemand wat stilstaan om te luister en miskien met ’n versoek: “Speel bietjie vir my ‘Goodnight Irene, goodnight.’” Maar dit was altyd die oues met die grys hare. Vir die jonges was hy seker maar nog net ’n ou man by ’n klavier.

Verlede week dink ek juis: ek moet Albie binne die volgende paar dae bel, want op die 10de verjaar hy en ek het hom juis so verwaarloos, en ek herinner my aan ’n vriend se onlangse woorde: “Gaan besoek hom, netnou is hy dood.”

Dan het ek telkens gedink: Durbanville is so ver uit Kaapstad, en met die onmoontlike verkeer deesdae in die Kaap is dit ’n uittog om daar uit te kom, maar met ’n gewete wat sê ek moet. En nou is dit te laat. Tog is daar die effense troos dat ek hom tog ’n maand of wat gelede gebel het en gesê het: “Ek kom kuier!”

Gister nadat ek die nuus verneem het, het ek self maar my eie boodskappie op Facebook gesit met ’n foto van Albie met die volgende daarby:

Albie Louw (1926–2017)
’n Nederige persoon wat ontsettend baie vir my loopbaan beteken het.

En ja, dit was Albie wel: ’n nederige man wat altyd gereken het dat sy toonsettings van my werk nie goed genoeg is nie, want daar is al die groot, vername komponiste van Suid-Afrika wat ook my versies getoonset het.

Die eerste keer toe ek hom leer ken het, was nie as pianis nie, maar wel toe hy in 1964 in Bloemfontein in die operette Die Fledermaus die komiese rol van Frank vertolk het.

Op 15 Januarie 1967, presies 50 jaar gelede, het ek in Kaapstad kom woon, en in my klein dagboekinskrywings van destyds, met niks langer as vier reëls nie, staan daar op die 17de, skaars twee dae na my aankoms: Gaan na Albie Louw se huis in die aand. Hulle bespreek planne vir die Albie Louw Show.

Dus, ’n halfeeu gelede is daar reeds saadjies vir vriendskap geplant.

Maar dit was eers 17 jaar later dat die eintlike werkgenootskap en vriendskap begin het. Op 45 is my eerste boek, O togga! ’n Gogga, gepubliseer en twee jaar later Brommer in die sop.

Deon Knobel het toevallig by Albie gehoor dat hy graag Afrikaanse versies wou toonset, want tot toe was hy eintlik net bekend vir sy klavierspel en musiekverwerkings. Deon het hom van my speelse versies vertel en binne 21 dae was die hele O togga! ’n Gogga getoonset.

Ek het destyds in Tamboerskloof gewoon en Albie en sy jare lange vriend Pietie, net oor Kloofnek en skuins af by hulle huis Costa del Sol in Kampsbaai. En elke keer was daar die groot opwinding as Albie my skielik bel en sê: “Ek het nou net weer een van jou versies getoonset. Kom luister!”

Een oggend was dit die volgende versie:

Tortelduifie in jou vlug
val ’n veertjie uit die lug
As hy op my hoed rinkink,
sal ek aan jou koer-koer dink.

In die voorkamer in die huis met die vleuelklavier en met vensters wat na die see se kant toe kyk, het Albie sy toonsetting vir my gespeel en self die woorde gesing. En dié dag het ek geweet: hier is ’n komponis wat presies weet wat ek in my versies wil sê. My versies is niks groots nie en dit is nie iets wat ’n halfuur vat om te ontleed nie. En dít het Albie ook met sy musiek reggekry. Onmiddellik toeganklik met ’n wysie om te onthou en daar in die begeleiding kon die koer-koer van die duifie gehoor word.

En toe Albie dié wysie vir die eerste keer vir my voorspeel, het ’n regte duifie in die somertuin begin saamsing. Ek sal daardie dag nooit vergeet nie.

Later was daar ander wysies met toonsettings van Brommer in die sop en daarna Daar’s bitterals in die heuningwals.

En as gevolg hiervan was daar toere met my en Albie na honderde skole in Kaapland en met optredes by die heel eerste KKNK en ’n uur lange program daarna op die Draadloos-program op TV en in 1998 ’n CD, Brommer in die sop, waar hy sy toonsettings speel en ek sing.

Op Facebook het Hettie Scholtz juis geskryf: “Julle het ’n lang voedende geskiedenis gedeel.”

En so was dit dan ook, want deur Albie het my werk meer bekend geword, en as gevolg van sy toonsettings het ook die jongmense hom leer ken.

By een van ons opvoerings êrens in Kaapstad het ons een oggend met ons skoletoer opgetree in ’n skoolsaal met 400 kinders wat hulle op die vloer tuisgemaak het.

En daardie oggend was dit weer die liedjie oor die tortelduif wat ek gesing het.

Hierdie keer het die kinders se reaksie my ietwat onkant gevang. In plaas van net luister, het ’n paar kinders, wat ongeduldig rondskuifel het, hardop begin lag.

’n Rukkie later in die personeelkamer het die skoolhoof verduidelik: “Net toe jy die woorde ‘val ’n veertjie uit die lug’ sing, het ’n veertjie van die verhoogplafon geval en agter jou op die vloer neergesak.”

Vandag is ek jammer dat ek nie daardie veertjie opgetel en vir altyd gehou het nie.

Maar – Albie se liedjies sal ek vir altyd met my saamdra, en op die snit van die CD Brommer in die sop, waar ek en Albie saam sing, met die tortelduifie se gekoer in die begeleiding, sal ek elke keer as ek daarna luister, onthou dat Albie ’n deel was van my lewe.

Hier is twee snitte op YouTube waar ek van Albie se toonsettings sing:

Tortelduifie

Op die duineveld van Bloubergstrand

Foto's: verskaf

  • 8

Kommentaar

  • Pragtig.
    Baie Dankie.
    Ek weet Albie Louw is verlangs familie.
    Jammer ek het hom nooit ontmoet nie.

  • Pragtige lirieke en toonsettings! Kry ons eie kunstenaars die eer wat hulle toekom terwyl hul leef?

  • Pragtige huldeblyk, Philip. Duinedou verdwyn te gou, maar vriendskap hou. Onthou 😉 Hoe het ek nie altyd uitgesien na die poskaarte met jou getikte versies daarop nie. Ek het nog van die ou kassetbande van die verwerkings wat jy met die pos Pretoria toe gestuur het. Dit was in die laat 80's? Die bure was naderhand so gatvol dat ek "Op die duineveld van Bloubergstrand" oor en oor speel 😉 Sensitiewe en kreatiewe aanvoeling vir mekaar se kunstenaarskap wat in 'n gedeelde juweel weerspieël. Al het ek Albie nooit persoonlik geken nie, kon ek my in sy talent verheug. Sterkte, en jammer oor die verlies, my vriend. Groete, Magdalene Aggenbag. Kyk ook hier: https://www.youtube.com/watch?v=dR91_tqQl4w

  • Annora Eksteen

    Dit is 'n lieflike huldeblyk. Die liedjies se wysies en woorde en versies sal nog lank leef. Ja, daai TVs in die versorgingskamers wat so aan gelos word ... vir wat wonder ek altyd. Hy is nou stil en ek kan maar net dink aan Alba Bouwer se woorde: “Die afdraand van die dag is kil.”

  • Ursula Elize Botha

    Waar kan ek die bladmusiek aankoop - sal graag wil hê my koor moet die tortelduifie lied sing. Dit is ongelooflik pragtig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top