Jonine von Wielligh
Gesien op Facebook:
Vandag het ek na vele jare weer Joe Dolan se song "Hush Hush Maria" raakgeluister, en dit het my teruggevoer na 'n vakansie in Ai-Ais tydens my kinderjare. Ons het op 'n lieflike windstil aand in die warm swembad gaan swem. 'n Volronde maan het saam met die vakansie-atmosfeer in die lug gehang. Die stoom het speels op die oppervlakte gedans tussen die maan se strale en die wieg van die water.
Vakansiegangers het soos meerminne aan die rand van die swembad gehang en 'n man met 'n kitaar en cowboy-hoed het met sy voete in die water gesit en "Hush Hush Maria" met soveel gevoel gesing dat tyd stil gaan staan het. Sy mooi rasperstem het oor die aandstilte gesweef en het iets in die binneste van die mense geroer. Ek onthou nog die magiese atmosfeer en hoe ons aan sy lippe gehang het. As die song klaar was het een van die meerminne gevra "Ag, sing dit tog asseblief weer," en so moes hy dit oor en oor sing want ons kon nie genoeg kry van sy meevoerende stem nie. Ek onthou nie meer sy gesig nie, maar sy stem het die x-faktor gehad wat 'n blywende indruk gelaat het. Dit was 'n windstil somersaand wat my altyd sal bybly …
Kommentaar
Jeanine, jy het my nou laat terugdink aan die liedjie van toeka. Baie mooi geskryf.