![]() |
|
Foto: wikipedia
|
In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.
'n Relletjie op 'n winkelstoep in Windhoek in die vroeë jare sewentig is die agtergrond tot vandeesweek se aflewering.
'n Sekere mnr A het in 'n argument met 'n Portugese winkelier betrokke geraak oor 'n kas wat in die besit van die winkelier was.
Die winkelier is later deur die hof as "'n vaatjie op bene" beskryf. Hy was 1,7 m lank, het 105 kg geweeg, en was daarby nogal kort van humeur, want hy het mnr A in die hitte van die argument na die warmplek gestuur. Mnr A het teruggeblaf dat hy nie die reg het om hom na die warmplek te stuur nie, waarna hy hom redelik hard op die linkerwang geklap het. Die gesette winkelier het sy balans verloor en reg agteroor geslaan met sy kop op die sementstoep. Hy het sy bewussyn verloor en is kort daarna oorlede.
Mnr A is daarvan aangekla dat hy die winkelier se dood op 'n nalatige wyse veroorsaak het, met ander woorde dat hy skuldig was aan strafbare manslag. Die hooggeregshof in Windhoek het hom skuldig bevind en tot 'n boete van R100 of 'n maand gevangenisstraf gevonnis. Hierteen het hy geappelleer, en op 19 Februarie 1976 – dis ook al 29 jaar gelede – het hoofregter Rumpff en twee appèlregters na die argumente van die advokate geluister.
In sy latere uitspraak1 sê die hoofregter dat die vraag waaroor die hof moes beslis, eintlik eenvoudig was: Kon en moes mnr A redelikerwys voorsien het dat die winkelier deur die klap sou kon sterf? Die toets is hoe die redelike mens onder sulke omstandighede sou opgetree het. As ander mense in dieselfde omstandighede en met dieselfde kennis en vermoëns as mnr A die moontlikheid van dood as 'n gevolg van die klap sou voorsien het, sou dit beteken het dat mnr A versuim het om soos hulle op te tree, en dan was hy nalatig.
Ten einde te kan bepaal hoe die redelike mens sou opgetree het, moet gekyk word na die persoon van die aanrander (in dié geval mnr A), die persoon van die slagoffer (in dié geval die gesette winkelier), die wyse van aanranding, en die omstandighede waaronder die aanranding plaasgevind het. Die hoofregter noem twee uiterste voorbeelde. Hy sê dat wanneer iemand wat in 'n gemakstoel sit, taamlik hard deur die gesig geklap word, dit nie redelik voorsienbaar is dat hy agteroor kan val en daardeur skedelbreuk kan opdoen nie, terwyl 'n sagte klap in die gesig van 'n koorddanser in 'n sirkus hom na benede kan laat tuimel en as daar nie 'n net is nie, sou dit redelik voorsienbaar wees dat hy kon sterf.
Wat die geval voor die hof betref, wys hoofregter Rumpff daarop dat ernstige besering en die dood teoreties wel voorsienbaar was, want die feite bewys dit: die winkelier het immers gesterf nadat hy geklap is. Die hoofregter beklemtoon egter dat dit hier gaan oor 'n gevolg wat redelik voorsienbaar was en hy kom dan tot die volgende slotsom: "Na my mening is die gevolg van die sydelingse klap van so 'n buitengewone en seldsame aard, dat dit nie met sekerheid gesê kan word dat mnr A redelikerwys moes voorsien het dat die oorledene agteroor met sy kop teen die stoep kon val nie."
Mnr A was dus volgens die hof geregtig op die voordeel van die twyfel, en sy skuldigbevinding aan strafbare manslag is ter syde gestel. Hy was egter skuldig aan die geringer misdryf van aanranding op die ongelukkige winkelier, en dáárvoor is hy tot 'n boete van R50 of 'n maand gevangenisstraf gevonnis.
1 S v Van As 1976(2) SA 921(A)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


