
Foto: Canva.com
’n Tikkie nostalgie
Vanaand swerf my gedagtes weer
na die klik-klak van ’n ou tikmasjien
’n mixed tape in die agtergrond
en Tipp-Ex om spelfoute te korrigeer
Sias Reinecke sing van die Suidersee
en die klanke spoel nostalgies oor my
soos beelde in vergeelde polaroids
vasgevangde oomblikke van lank geleë
ons praat annerdag van tannie Esmé
van die troepie-songs en die oorlog,
die jonges luister maar net soos ons
onthou van Carike en Laurika en Gé
ek luister na ’n ou bekende liedjie
dink aan kruisbeen sit op die mat
langspeelplate in hopies opgestapel
en sonder rede verlang ek ’n bietjie
na die grys strate van Johannesburg
die koue wintersoggende op ’n bus
op pad skool toe in ougoud en bruin
herinneringe voer my dekades terug
ons sit weer voor die radio vasgevang
luister intens na Patrollie 3 3 Charlie,
Wolwe dans in die skemer en ander
wat die aande te vinnig laat omgaan
ek hoor die waterorrel by Wemmerpan
lag opgewonde in die kar op pad na
die inry by Top Star; opgeskote kinders
wat met helder oë die sonstrale vang


Kommentaar
Mooi Gedig, skryf meer! Dit laat my ook dink aan tye lank terug
Nostalgie pragtig saamgevat. Afrikaans bly maar die mooiste, gevoelvolste taal. Ek sien uit na al jou ander gedigte.