’n Teologie van insluiting sê onvoorwaardelik “ja!” vir gays

  • 2

bybelgay650
Daar is breedweg twee maniere waarop die Bybel oor homoseksualiteit gelees en gebruik kan word.

Die eerste manier val binne 'n raamwerk van uitsluiting, wat veronderstel dat heteroseksualiteit die norm, en homoseksualiteit die afwyking is.

Die tweede manier is om die Bybel vanuit die perspektief van 'n teologie van insluiting te lees.

Hierdie perspektief gaan van die oortuiging uit dat álle mense ingesluit word in God se huishouding en daarom volledig en onvoorwaardelik in die kerk verwelkom moet word.

Belangrikheid van kontekste/aannames

Ons kan nie anders as om Bybeltekste te lees vanuit die aannames oor die lewe wat ons eie konteks of omgewing aan ons gee nie.

Ons lees daarom die tekste in die lig van óns lewenservaring.

Die Bybel is egter geskryf deur mense wat, net soos ons, uit hulle eie besondere konteks gekom het. Wat hulle geskryf het, het hulle verstaan vanuit húlle sosiokulturele perspektiewe en aannames. Dit is implisiet deel van die teks.

Die boodskap van die Bybel is dus geklee in die perspektiewe van sy skrywers.

'n Sentrale aspek van die hermeneutiese sirkel (Bybelse uitleg- of vertolkingskunde) is wat "'n hermeneutiek van suspisie of agterdog" genoem word.

Suspisie help ons om bewus te raak van en ondersoek te doen na die aannames wat óns maak wanneer ons die Bybel lees. Maar dit help ons ook om bewus te word van die aannames in die Bybeltekste self.

Dus: wanneer ons kyk na die Bybel en homoseksualiteit, is dit belangrik dat ons aandag gee aan sowel die aannames wat óns oor seksualiteit maak, as aan dié van die Bybelskrywers self oor seksualiteit.

Ons gebruik van die Bybel

Die Bybel is al op diep afbrekende/verdelende maniere gebruik. Die geskiedenis van die gebruik van die Bybel in Suid-Afrika/Afrika is 'n voorbeeld van hoe die gebruik daarvan met tragedie gevul kan word.

In Suid-Afrika is die Bybel gebruik as die sentrale dokument om apartheid mee te regverdig, en terselfdertyd is dit as teks gebruik in die stryd téén apartheid. Daar sou nog voorbeelde genoem kon word.

Interne stryd van die Bybel

Die Bybel ondersteun verskillende interpretasies. Dit is hoekom dit so 'n betwiste dokument is. Dit word intern betwis, omdat dit gemengde seine gee.

Voorbeeld: Sommige tekste gee 'n duidelike indruk dat die instelling van die koningskap deur God bestem is (Ps 89, ens), maar in teenstelling hiermee dui 1 Samuel 8 daarop dat daardie Israeliete wat 'n koning wou hê, God as koning of heerser hiermee verwerp het.

Petrus en Paulus het verskil oor die vraag of nie-Joodse bekeerlinge hulle moes besny en die reinheidswette onderhou of nie.

Uiteindelik het Paulus se teologie gewen en het die teologie van genade oor die teologie van die wet geseëvier.

Ons moet hierdie aspek ernstig opneem, anders kan ons ons maklik skuldig maak aan 'n naïewe lees van die Bybel.

Implikasies oor sekere aannames oor homoseksualiteit

Die kerk het feitlik deurgaans/universeel die Bybel gelees vanuit die aanname dat heteroseksualiteit normatief is.

Hierdie aanname is só kragtig dat min mense dit hoegenaamd oorweeg om daaroor na te dink of dit te ondersoek, of om agterdogtig daarteenoor te wees.

Hulle glo dat die uitsluiting van gay mense of afwysing van homoseksuele verbintenisse/huwelike heeltemal versoenbaar met die Christelike boodskap is.

Vir talle gay mense het die Bybel egter emosionele dood gebring, nie lewe nie. Hulle word bygekom met sekere tradisionele tekste teen homoseksualiteit.

Deur dít te doen, word die Bybel gebruik om mense te marginaliseer en voel talle Christene soos vreemdelinge / onwelkom in die huishouding van God.

Die eksklusiewe teologie van heteroseksisme

Die kerk is tradisioneel 'n heteroseksuele instansie – dit neem aan dat heteroseksualiteit die normatiewe vorm van menslike seksualiteit is. Alle ander vorme van seksuele oriëntasie wyk vir sulke mense hiervan af.

Dít lei tot vooroordeel teenoor homoseksuele persone/verhoudings/verbintenisse/huwelike.

Heteroseksisme is presies soos seksisme en rassisme. Dit bevoorreg 'n bepaalde sosiale groep en diskrimineer teen die groep wat hulle "die ander" noem. Dit is dikwels 'n kwessie van mag – van meerderwaardigheid, teenoor minderwaardigheid. Só word homoseksualiteit en gays na die kantlyn verskuif.

Heteroseksiste beskou homoseksualiteit as 'n afwyking van die "natuurlike" menslike seksualiteit en meen dat dit daarom nie aan die ideale uitdrukking van 'n individu se menswees kan voldoen nie.

Vir 'n teologie van heteroseksisme, sien Genesis 1:27–28 en 2:18–25. Wat God in die begin sou geskep het, is hiervolgens universeel normatief vir die menslike samelewing. Op dié aanname volg dat slegs heteroseksuele "partners" mekaar werklik kan aanvul.

Maar is dit waar?

Genesis 2 is vanuit 'n meerderheidsperspektief (met ander woorde 'n heteroseksuele en patriargale een) geskryf en het nie probeer om oor "variasies op die tema" te besin nie.

Byvoorbeeld: Niks word gesê oor hoeveel keer 'n man hom aan 'n vrou mag verbind nie. Daar is ook glad nie sprake van hoe die seremonie/ritueel moet lyk wat hierdie verbintenis bevestig nie.

Daarom kan ons aanvaar dat dieselfde waardes wat volgens Genesis 2 'n verhouding tussen 'n man en 'n vrou moet kenmerk, ook die vertrekpunt moet wees vir waardes wat ánder verhoudings behoort te kenmerk (soos wederkerigheid, mede-afhanklikheid, ens).

Wat beteken hierdie verduideliking vir ons?

Bybelskrywers gaan uit van die aanname dat heteroseksualiteit die normale is. Hierdie aanname was implisiet in hulle wêreldsiening – hulle het niks anders geken nie.

Maar dit is nie soseer wat die Bybel vir ons wil leer nie – dit is veel eerder 'n aanname wat in die Bybel gemaak word.

Heteroseksuele lesers/interpreteerders van die Bybel lees hulle eie aannames in baie van hierdie tekste in. Dit word dan gebruik om 'n heteroseksistiese teologie te ondersteun – wat gay mense in verbintenisse/huwelike van die kerk vervreem en uitsluit.

'n Bybelse teologie van insluiting

'n Teologie van insluiting, daarenteen, is sentraal tot die Christelike boodskap. Dit is die teologie waaraan álle Bybelse tekste geëvalueer behoort te word – ook tekste van oënskynlike uitsluiting móét in die lig van hierdie teologie van insluiting gelees word om te sien of hulle die toets slaag.

Die boodskap van Christus is 'n inklusiewe een en daag elke poging van die kerk uit waar hy uitsluiting in watter vorm ook al skep.

Lees ook meer oor Paulus se teologie van insluiting in Galasiërs 3:23–29 en Efesiërs 2:12–19.

Belangrik: Die Bybelse regverdiging van apartheid is oorwin toe die rassistiese aannames van eksegete blootgelê is en die selfsugtige doelwitte waarmee hulle die Bybel gebruik het, duidelik geword het. Hulle kon nie staande bly teen die evangelie van insluiting nie.

Inklusiewe teologie beweer/eis dat die sentrale krag van die Christelike boodskap inhou dat daar geen verdeling of skeidsmure is nie – ook nie ten opsigte van heteroseksuele en homoseksuele mense nie, want ons is almal een in Christus. Aan die voet van die kruis is alle grond gelyk.

Die teologie van insluiting word altyd aan 'n teologie van geregtigheid en bevryding gekoppel. In hierdie verband behels die teologie se taak die identifisering en blootlegging van die oorsake van lyding.

As dít die teologie se ware vertrekpunt is, dan moet die ervaring en lyding van gays (veral in verbintenisse) voorop gestel word. Hulle ervaring as voorwaardelik-aanvaarde persone moet 'n kritieke aspek/oomblik in die lees van Bybeltekste en die konstruksie/samestelling van 'n bevrydende teologie wees.

Om 'n mens se seksuele oriëntasie as 'n afwyking of onnatuurlik gebrandmerk te hê, is geen geringe saak nie. Die lyding wat veroorsaak word deur die teologiese voorspraak van heteroseksisme mag nie onderskat word nie.

Die teologiese noodsaaklikheid van 'n inklusiewe visie van God se liefde vereis 'n herevaluering van die heteroseksistiese aannames van die Bybelse tekste en van die interpretasie daarvan.

Van al die Bybelse gedeeltes in die OT en NT bied Romeine 1:26–27 die helderste, maar geensins onweerlegbare nie, argument teen homoseksuele aktiwiteite.

Die ander het te doen met homoseksuele verkragting, wellus, oortredings, afgodery, tempelprostitusie en pederastie, soos al heelwat oor geskryf is.

Hierdie tekste slaag nie daarin om die oorweldigende Bybelse teologie van insluiting te weerlê nie. Hulle is eenvoudig nie oortuigend nie.

Romeine 1 bied wel die beste argument vir heteroseksiste, maar dit staan alleen teen die kumulatiewe krag van die inklusiewe werk van Jesus aan die kruis.

Christus het gesterf om ál die mure van verdeling/skeiding af te breek.

Hy het gesterf sodat niemand meer vreemdelinge mag wees nie, maar volledige lede van die huishouding van God.

Ek is só dankbaar vir kerkleiers, lidmate en ander persone wat dít insien en hiervoor opstaan. Oor die res, is ek bevrees, gaan die geskiedenis hard oordeel!

Jones, C. Etiek vanuit God se koninkryk bedink – Christelike waardes vir uitdagende tye. HBI: BM.

  • 2

Kommentaar

  • George Bekker

    Het hierdie artikel aan 'n predikant voorgelê wat reken hy kan Jones op elke punt “gelyksny”. Terwyl ek nie 'n teoloog is nie sal ek my tot enkele gedagtes beperk. Jones wys daarop dat “In Suid-Afrika is die Bybel gebruik as die sentrale dokument om apartheid mee te regverdig ...”. Terwyl hy ook 'n spesifieke groep se saak bevorder moet hy nie uiters versigting te werk gaan nie? Om gewone heteroseksueles wat nie saamstem met 'n “teologie van insluiting” nie 'n etiket van “heteroseksisme” om te hang is 'n onverstandige werkswyse.

    Wat my veral hinder is dat die bevorderaars van gay-regte nie probeer om objektief na die Bybel te kyk nie maar eerder die gesag van die skrif verswak in 'n poging om verby Paulus en 'n boek soos Romeine te kom. Die amptelike Christendom is skynbaar op 'n afdraande-pad in terme van geloofsekerheid en lidmaatgetalle en hierdie poging om dinge verder te relativeer kan die kerk se probleme vererger. Gelowiges verlang groter sekerheid.

  • C Jones sê dat die Bybel inklusief asook eksklusief gelees kan word. Hy verkies om dit inklusief te wil lees veral mbt gays. Hy verswyg om te noem dat die Bybel ook op sig gelees kan word, dws letterlik gelees word soos wat daarin staan.
    Jammer maat. Die Bybel is ondubbelsinnig mbt gays Dit gaan nie net oor liefde nie, maar ook oor oordeel. Die God van die Bybel het miskien die sondaar lief, maar indien sodanige sondaar nie van sy sondige weg bekeer nie, staar hy die oordeel in die gesig. Die Bybel gee 'n hele lys sonde wat God veroordeel, oa homoseksuele dade.
    Trots gay en 'n ateïs.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top