Byna glip die ironie by my verby.
Jan Rap voer die afgelope tyd ’n verbete stryd teen my, maar veral teen Angus oor onder andere die agteruitgaan van Afrikaans, en soos hy onlangs gesê het (3 Junie), “...die verengelsing van Afrikaans...en...die besoedeling van Afrikaans...” Jan is ’n voorstander van korrekte Afrikaans en korrekte grammatika.
Nou toe nou. Nog selde het ek waargeneem dat iemand sy eie argument so aan flarde skiet soos wat hy doen met die eerste sin van sy brief van 5 Junie (Reaksie op Angus se kommentaar onderaan my brief van 3 deser). Kyk wat skryf Jan Rap (in Afrikaans!): “Beste Angus. Sjoe maar dis moeilik om met julle ouens te praat wat so tangensiaal afskiet.”
Dis direk “gecopy” uit Engels uit, trouens dis ’n totale Anglisisme nagevolg van die Engelse idioom “to go off on (at) a tangent”. Wat is my punt? Angus het talle pogings aangewend om aan Jan te verduidelik dat tale, soos Afrikaans en Engels, wat langs mekaar bestaan, onafwendbare invloede op mekaar het. En dat hierdie invloede linguïstiese verskynsels is. Nee, sê Jan, dis nie so nie, dis mense se luiheid of onderdanigheid wat Engels laat infiltreer in Afrikaans en die taal besoedel.
En daar doen Jan dit self! Hoekom? Want op die oomblik toe hy uitdrukking wou gee aan sy gevoel, het daai Engelse idioom eerste by hom geregistreer: “Dís hoe ek dit wil sê.” Op daardie oomblik het die Engelse invloed net eenvoudig die oorhand gekry en Jan daarvan weerhou om aan ’n oorspronklike Afrikaanse idioom of sinsnede te dink wat bruikbaar sou wees. Linguisties, sien jy Jan? Selfs ’n suiwer spreker soos jy word beïnvloed.


Kommentaar
Beste Dirk
Van die os op die jas (of is dit nou esel?) is seker te platvloers vir Jan. Die ander laai is natuurlik dat tangensiaal via Latyn of ander eksotiese taal in Afrikaans gekom het.
Groete
Angus