'n Sluk wyn vir Afrika

  • 0

Ons vroue is tog so trots op ons vermoë om te multi-funksioneer; ons maak kos, was wasgoed en hou ‘n oog oor die kinders se huiswerk, alles binne dieselfde tydruimte. Op hierdie punt in my lewe rol “Ek kan nie nou nie, wag net tot ek hier klaar is asseblief” soos gesmelte Belgiese sjokolade oor my lippe en ek voel nie een oomblik skuldig nie. Wanneer dit my pas, sonder dat iemand hoef te weet, plaas ek myself egter steeds in daardie sone. So kry ek dit reg om lustig mee te doen terwyl ek my psigies onttrek en van buite af met ‘n objektiewe oog inkyk op die tablo waarvan ek deel vorm.

‘n Groepie vriende kom bymekaar om dit te doen wat ons mense die beste doen. Die motief: om na ‘n week se werk en stres net te ontspan, af te skakel. Ironies genoeg, is die onderwerpe onder bespreking die petrolprys, rentekoers, korrupsie, Julius Malema, moord en verkragting, gebrek aan of sloerdiens by publieke instellings, vandalisme en muitery tydens sogenaamde vreedsame protesoptogte, ens, ens. Dan sê ek in my binneste soos my kleindogter “Ag man, (lelike woord)!” (Gelukkig besef sy nie wat sy sê nie en ons almal ignoreer dit net.) Hulle wie my goed ken, weet – of dalk het hulle dit nog nooit eens opgemerk nie – ek praat nie saam oor daardie onderwerpe nie. Om dieselfde rede dat ek nie slaafs die dagblaaie lees en tv-nuus kyk nie: ek weier om my gees daardeur te laat besoedel.

My familie wou my stenig toe ek Big Brother Africa gevolg het. Ek was nuuskierig. Hoe lyk Afrika, wat doen Afrika, hoe leef Afrika, dis wat vir my belangrik was, want eendag gaan my nasate so leef. Om dieselfde rede het ek in daardie tyd ook sommer begin om Afmag-kanaal te kyk; daar kon ek meer van die kulture wysword. Dit is tog Suid-Afrka se voorland. Dis die visie en missie van Afrika Renaissance en dis onafwendbaar.

Ons kwel oor die beskikbaarheid van elektrisiteit sowel as die koste daarvan. In dele van Tanzanië is elektrisiteit twee ure per dag beskikbaar, maar niemand weet wanneer nie; dus moet daar altyd bedags iemand by die huis wees en snags iemand wakkerbly om te sorg dat die koelkas en/of vrieskas tydens daardie wonder-ure aangeskakel is. Ons kla oor kospryse. In Afrika eet die middel-inkomste-groep rys of mieliepap met sous gemaak van vier hoendervlerkies, ekstrakblokkies, kruie en speserye. Genoeg rys en hulle voed maklik tien mense met hierdie resep. Dag na dag, maaltyd na maaltyd.

Vir ons is die groeiende gaping tussen ryk en arm nog ‘n kwessie wat ernstig aangespreek en herstel moet word. “Herstel” gaan lyk soos Abuja, Lagos, Accra: herehuise agter hoë mure waar ge-chauffeeerde Amerikaanse motors deur swaar bewaakte hekke die gaterige strate injaag, terwyl die shanti-bure se kinders uitmekaarspat. “Herstel” is reeds op pad met die regering se behuisingsbeleid met hierdie tipe van integrasie as voorvereiste by die toekenning van fondse vir die oprigting van nuwe huise. Wat ons as degenerasie van ‘n nasie sien, is die opbou van ‘n nuwe nasie, Afrika-manier. Ons moet dit aanvaar, ons heil soek in die heel hoogste lugstrome.

Om dus ‘n vuur brand te maak met hierdie onderwerpe, is ‘n klap in die gesig van rooikranshout; om die afgetelde tjoppies daarmee te sout, los ‘n bitter smaak in die mond. Om te probeer afskakel met jou hand op ‘n hoogspanningsdraad, is ‘n ramp. Die enigste oplossing is om die week se knelpunte onder die fynhout toe te pak voor die vuur aangesteek word, almal saam "Bobbejaan klim die berg" te sing en die eerste glasie vinnig weg te sluk. En die tweede. En die derde.

Suikerbrood en suurvye

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top