’n Skerfie glas deur Erika Murray-Theron: ’n resensie

  • 1

’n Skerfie glas
Erika Murray-Theron
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485309109

Self nog ’n kleuter, moet die kleine Issie Malherbe ma speel vir haar twee jonger boeties. Enetjie laat val sy bottel (destyds van glas) op die stoep en ’n skerfie beland in haar oog. Meer as ’n eeu later vors haar kleindogter Erika Murray-Theron (https://af.wikipedia.org/wiki/Erika_Murray-Theron) Issie en die res van die familie se geskiedenis na en bou die prentjie skerfie vir skerfie op.

Issie se pa Izaak is ’n man van daardie tyd: sterk, soms afstandelik. Maar toe sy dogtertjie haar oog verloor, huil hy langs haar bed. En hy noem haar Belle – sy is sy mooie dogter. Toe hy haar later aan sy tweede vrou as Issie voorstel, is dit vir haar die bevestiging van die afstand wat daar tussen hulle gekom het.

’n Skerfie glas is, soos Murray-Theron se ander boeke (oa Die toubrug, Vlegsel en Stippellyn), nie ’n uitbundige, dramatiese boek nie. Groot en klein gebeurtenisse word met haar kenmerkende subtiliteit so lewend geskilder dat dit nie vir die leser moeilik is om ’n prentjie te vorm nie.

’n Skerfie glas is die verhaal van Issie Malherbe, maar ook die verhaal van haar uitgebreide familie, van die skrywer self en uiteindelik van die Afrikanervolk. Murray-Theron volg die lotgevalle van Issie se familie deur baie jare en na verskillende belangrike plekke in die familiegeskiedenis, oa Tulbagh, Johannesburg en Pretoria, Wellington en die destydse Nylstroom (nou Modimolle). Sy slaag uitmuntend daarin om wat sy self noem ’n sense of time and place aan die verhaal te gee.

Die lewenstyl van die tyd word vir die leser lewend gemaak. Veral Issie se ouma Bella slaag deurgaans daarin om soms te midde van groot smart op Tulbagh en later in Wellington ’n besondere lewenstyl te handhaaf. Sosiale aanvaarbaarheid was van die grootste belang en dinge om en in die huis is op baie spesifieke maniere gedoen.

Dis soms hinderlik dat die skrywer die verhaal telkens onderbreek om van haar eie ervarings tydens haar navorsing te vertel. Aan die ander kant voeg dit ’n ekstra dimensie by die verhaal en verryk dit. Hoewel die skrywer haar eie metodes kritisieer, is die fyn besonderhede die stille getuienis van uitmuntende navorsing. Die insetsels toon dat die navorsing ook vir haar verskeie intense belewenisse en nuwe vriendskappe gebring het. Hoewel die verhaal op intensiewe navorsing en baie feite berus (die baie name en besonderhede is soms verwarrend), dui die skrywer hier en daar tong-in-die-kies aan dat sy haar tog soms die vryheid van haar verbeelding toegelaat het. Dit gee veral aan Issie en Piet se liefdesverhaal ’n besondere kwaliteit.

Die families wat hier geskilder word, is geen plebs nie. Dit sou seker nie verkeerd wees om na hulle as Boere-adel te verwys nie. Die skrywer kom onvermydelik ook by die vraag uit waarmee baie van haar tydgenote waarskynlik worstel: Hoe kon hierdie hardwerkende, eerlike, gelowige, ontwikkelde, belese mense aandadig gewees het aan die skep van apartheid? Hoe kon hulle dit as reg en regverdig gesien het? Hoe kon hulle die regering wat dit afgedwing het, gesteun het?

Die verhaal wemel van indrukwekkende karakters, mans sowel as vroue. Die meeste is geleerde mense met ’n sterk kultuuragtergrond. Ook die meisies kry ’n goeie opvoeding, veral op aandrang van ouma Bella, die matriarg van die familie.

Bella is een van die aangrypendste figure in die boek. ’n Vrou wat kan raakvat, wat hard werk om haar elf kinders groot te kry en haar gekose lewenstyl te handhaaf, maar ook ’n vrou wat uiteindelik ses van haar elf kinders, sowel as haar man, aan die dood moet afstaan. Haar diep geloof bring nie altyd vir haar verligting nie, want sy worstel met God en soek soms die rede vir haar smart by haar eie vermeende tekortkominge.

Issie word, ten spyte van die vele verliese en baie ontwrigtings as kind, ’n besonderse vrou wat haar ses kinders ordentlik grootmaak, haar man in sy rol as politius ondersteun en telkens by nuwe omstandighede aanpas. Hiermee sluit sy aan by die talle vrouekarakters in die verhaal. Vroue wat dikwels groot smart en baie verliese beleef, vroue wat dikwels grotendeels via hul mans gedefinieer word, maar vroue met besonder sterk karakters, sonder om sagtheid in te boet.

’n Skerfie glas is die roerende verhaal van ’n individu en ’n familie, maar ook van ’n nasie. Die leser kom met ’n beter begrip van wit Afrikaners se komvandaan uit die ervaring wat die lees van hierdie boek is. Dit word sterk aanbeveel vir almal wat beter wil verstaan.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top