In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Iemand vertel onlangs vir my die mooi storie van ’n man wat vir seker 20 jaar lank onafgebroke by ’n staatslykhuis gewerk het. Hy was ’n goeie werker wat omtrent nooit siek geword het nie. Wat meer is, hy het nooit vakansieverlof geneem nie.
Na al die jare wat hy nie verlof geneem het nie, het sy werkgewer op ’n stadium vir hom gesê: "Kyk kêrel, jou verlof hoop nou só op, dit is tyd dat jy daarvan gebruik maak. Neem ’n lekker vakansie; vat jou vrou, klim op die trein en gaan sien die land." Dit het nogal heelwat oorreding gekos om die man so ver te kry om tog wel verlof te neem.
Toe gebeur daar in sy afwesigheid ’n eienaardige ding: die naasbestaandes van oorledenes wie se liggame in die lykshuis gehou is, het elke keer as hulle die liggaam kom opeis, aangebied om R15 daarvoor te betaal. Aangesien dit ’n staatslykhuis was, was die berging van liggame in daardie dae nog gratis. Die kêrel wat kwansuis so ’n goeie werker was, het egter klaarblyklik gemeen dat, volgens die spreekwoordelike Wet van Transvaal, geen diens gratis aangebied word nie, en daarom het hy ’n reël ingestel dat ’n lyk slegs teen betaling van R15 aan die naasbestaandes oorhandig sou word. Dié R15 is natuurlik pylreguit na sy eie sak toe. En was dit nie dat hy met vakansie gegaan het nie, sou sy werkgewer seker nooit agtergekom het van sy skelm geldmakery nie.
Nog ’n kêrel wat gedurende sy afwesigheid van werk uitgevang is, is ’n man met die naam Broodryk wat in die vroeë jare dertig ’n passer was in die werkswinkel van die staatsdiamantmyn te Alexanderbaai. Een van Broodryk se diensvoorwaardes was dat hy nie die myngebied kon verlaat voordat sy persoon, asook sy besittings. deurgesoek is en ook aan ’n X-straalondersoek onderwerp is nie. Vroeg in November 1931 het Broodryk siek geword en is hy op drie maande siekverlof geplaas, met die duidelike verstandhouding dat hy na drie maande sy werk sou terugkry. Voordat hy die kamp kon verlaat, is hy, soos wat die reël was, persoonlik deurgesoek en is daar ook X-strale geneem. In sy besit het hy ’n kissie gehad met gereedskap wat hy met hom saam wou neem. ’n Speurder het die gereedskap deurgesoek, maar daar was twee items in die kissie wat hy nie met X-strale kon ondersoek nie. Die een was ’n waterpas en die ander ’n beitel. Die speurder het aan Broodryk verduidelik dat hierdie gereedskapstukke teruggehou moes word sodat hulle behoorlik ondersoek kon word. Daarna is Broodryk uit die kamp begelei en het sy siekteverlof begin.
Die kissie met die gereedskap (die waterpas en beitel inkluis) is agter slot en grendel gehou tot 10 November 1931 (dis ook al 81 jaar gelede!). Vir Broodryk was dit ’n noodlottige dag, want op daardie dag het ’n man met die naam Van Oordt begin om die waterpas en beitel te ondersoek. Die gereedskap is na die werkswinkel geneem en ’n gaatjie is in die waterpas geboor. Terwyl hulle nog besig was om te boor het ghries by die gaatjie begin uitloop. Dit het verdag gelyk en uiteindelik is die waterpas oopgebreek en toe peul daar 162 ongeslypte diamante wat in ghries en sakkies verpak was, uit die oopgebreekte waterpas. Die beitel is daarna oopgesaag en ’n verdere 14 ongeslypte diamante is binne-in gevind. Die waarde van hierdie vonds was destyds £10 000 – in vandag se geldwaarde ver meer as ’n miljoen rand.
Broodryk is in hegtenis geneem en aangekla van besit van ongeslypte diamante. Hy het onskuldig gepleit en aan die einde van die staatsaak het sy advokaat aansoek gedoen om sy ontslag – glo omdat daar nooit bewys is dat hy in besit van die diamante gevind is nie. U sal onthou dat toe hy die myn verlaat het, die mynowerheid nog nie geweet het van die versteekte diamante nie. Dit was eers op 10 November 1931 dat hulle dit agtergekom het toe die beitel en waterpas oopgebreek is. Broodryk se saak was dat omdat die diamante nie toe hy ondersoek is in sy besit gevind is nie, daar nie gesê kon word dat hy ooit in besit van die diamante betrap is nie.
Die hof het geweier om Broodryk te ontslaan, soos sy advokaat gevra het, en daarna moes hy toe sy eie saak stel. Hy het egter sy saak gesluit sonder om getuienis aan te bied – veral sonder om te verduidelik hoe die diamante in sy gereedskap gekom het. Gevolglik is hy skuldig bevind. Ongelukkig lees ons nie in die hofverslag wat sy vonnis was nie. Hy het teen sy skuldigbevinding en vonnis geappelleer, maar ook die appèlhof was tevrede dat hy skuldig was. Appèlregter Curlewis het beslis dat Broodryk in besit was van die waterpas en beitel met die diamante daarin op die dag toe hy die myn met siekverlof verlaat het. Op daardie dag kon die gereedskapstukke nie oopgebreek word nie, en die feit dat dit eers ’n paar dae later oopgebreek is, het geen verskil gemaak nie. Van deurslaggewende belang was dat die jurie oortuig was dat daar nie met die gereedskapstukke gepeuter is en die diamante byvoorbeeld daarin geplant is nie. (Ja, dit was in ’n tyd toe die juriestelsel nog in Suid-Afrika gegeld het. Dié het mettertyd in onbruik verval en is in 1969 afgeskaf.)
’n Lang tyd agter die tralies was dus Broodryk se voorland.
[1]Rex vs Broodryk 1932 (ad) 131

