’n Resensie van The Cedarville shop and the wheelbarrow swap deur Bridget Krone

  • 0

Titel: The Cedarville shop and the wheelbarrow swap
Skrywer: Bridget Krone

ISBN: 9781946395665
Uitgewer: Catalyst Press

The Cedarville shop and the wheelbarrow swap pas netjies in die al hoe groter wordende-kategorie Suid-Afrikaanse kinder- en jeugboeke waarin Westerse skrywers vir, en oor, kinders se belewenisse in agtergeblewe gemeenskappe skryf. Sommige van die boeke is ongelukkig neerbuigend, oneg of bevooroordeeld. The Cedarville shop and the wheelbarrow swap trap egter nie enige van in dié slaggate nie. Soos Marita van Aswegen in Roer jou riete Pampas (1998) – een van my gunstelingboeke in die kategorie – skryf Bridget Krone ’n sensitiewe en oortuigende verhaal oor Boipelo Seku, ’n 12-jarige seun wat saam met sy ouma en pa in ’n tweeslaapkamerhuisie in Cedarville in die Oos-Kaap bly. Die verhaal het ’n sterk gemeenskapgevoel en is dig bevolk met karakters uit alle sfere van die gemeenskap. Die verhaal fokus hoofsaaklik op Boi in verhouding met ander.

Boi moet elke aand sy matras van onder sy ouma se bed uittrek voor hy kan gaan slaap. Maar anders as die meeste mense in die gemeenskap, het sy pa het darem ’n werkie en het hulle saans kos om te eet. Onder die bed is ook ’n stapel ou You­-tydskrifte. Onder dié bed lees Boi een aand ’n artikel oor ’n Kanadese man wat met net ’n skuifspeld in sy besit begin het om deur ’n reeks ruiltransaksies uiteindelik vir hom ’n huis te bekom.

...
Dit alles skep ’n sensitiewe, speelse en plek-plek snaakse verhaal vol deernis, liefde en genade.
...

’n Liggie gaan in Boi se kop aan. Hy bedink ’n soortgelyke plan. ’n Klei-os wat hy uit die modder van die rivier wat deur die gemeenskap loop, boetseer, word die eerste ruilitem in Boi se merkwaardige reis. Dis die katalisator vir ’n onderhoudende verhaal wat maklik vervelig en soetlik kon gewees het, maar dit nie is nie. Dis ’n sterk verhaallyn, ingegee deur ’n hele aantal kleiner en groter intriges, ’n goeie spanningslyn gekoppel aan die verloop van die ruilproses, die leser se noue betrokkenheid by die ontwikkeling van die oortuigende hoof- en kameekarakters, en die noue betrokkenheid van gemeenskapslede by mekaar –  dit alles skep ’n sensitiewe, speelse en plek-plek snaakse verhaal vol deernis, liefde en genade.

Deur middel van die ruilprojek leer Boi die mense om hom beter ken. Maar hy verloor sy beste vriend, Potso, en vind liefde by Sesi. Dis Boi se plan, wat bykans geen kans op sukses het nie, wat dié gemeenskap, gedompel in ’n toekomslose gelatenheid, bewus maak van nuwe moontlikhede en onwaarskynlike nuwe verbindings tussen mense van binne die gemeenskap (sakemense en gemeenskapsmense) en buite die gemeenskap (media en politici). Sodoende begin ’n stadige opbouproses.

Baie verteltyd word gewy aan die verlies van Boi se vriendskap met Potso, sy kop-klappende beste vriend. Die ruilprojek het egter ’n onherstelbare kraak in hulle verhouding veroorsaak as gevolg van hulle verskillende beskouings daaroor. Vir Potso word Boi “Mr Social Worker”, te veel betrokke by die opheffing van ander. Vir Boi veroorsaak dit innerlike konflik en wroeging. Was hy reg om aan te dring dat hy finale seggenskap oor die ruilprojek het? Het hy sy vriend in die tande geskop? Dis die ou man, Mkhul’uGuba, wat vir Boi die pad wys: “Every person has something they must do. It’s like a door that has your shape … Only a few people find theirs and go through it.”

Die gemeenskap is op intieme vlak by mekaar se lewens betrokke. Die volwassenes se klein “prekies” aan die kinders beeld die nou bande uit en sorg ook vir van die humor in die boek. Boi neem byvoorbeeld die umblaselo-kruiwa na Mr Tshezi se deurmekaar huis vir hulp met die regmaak daarvan. Boi sukkel om sy verstomming weg te steek oor die magtige hoop rommel in die erf. Mr Tshezi is vinnig met sy preek: “Mess is where everything starts.” Letterlik lê Cedarville se redding in dié profetiese woorde. Dis dus nie onverwags dat die gemeenskap entoesiasties elke stuk rommel te ruil bring sodra Boi sy eerste ruilplakkaat aan die winkel se deur spyker nie. Soms is Boi se gedagtes oor volwassenes ook ’n glimlag werd. In reaksie op die neerbuigende gesprek met die fotograaf dink hy byvoorbeeld: “She smiled at me as if I was a child who still believes in Father Christmas.”

Dit is gemeenskapsaktiwiteite, soos koorsing en die versorging van die sterwende Mr Mkhul’uGuba, wat Boi prikkel om eksistensiële vrae oor dood en lewe te bedink. Dis in die winter dat die vrae Boi teister. “The streets, matching my mood, looked gray and desolate in the evening light.” Die gemeenskap en omgewing word ’n klankbord vir sy emosies.

...
Die hegte struktuur van die roman word onderstreep deur die Piet-my-vrou wat netjies die verhaal omarm.
...

Die hegte struktuur van die roman word onderstreep deur die Piet-my-vrou wat netjies die verhaal omarm. Treffend kondig die roep van die Piet-my-vrou die somer aan die begin van die verhaal aan. Boi is aanvanklik, en deur die eerste somer, baie bewus van die Piet-my-vrou se lied. Sy ouma noem hom immers soms Piet, omdat hy net soos die voël kan skree. Deur die lang, donker winter wyk die Piet-my-vrou se stem, maar toe die somer weer aanbreek, word die Piet-my-vrou se lied die versinnebeelding van die nuwe liefde in Boi se hart en lewe.

Die verhaal bied baie moontlikhede in die klaskamer en dit kan met vrug voorgeskryf word. Ek is nie op hoogte van hierdie teikengehoor se leesvoorkeure nie, maar ek vermoed die verhaal sal oor die algemeen plesier verskaf, gegewe die meesal ligte trant en die lekker sterk spanningslyn wat tot aan die einde volgehou word.

Ek verstaan die rasionaal agter die titel en inhoud van die eerste hoofstuk, maar ons weet dat kinders meer hou van ’n verhaal wat hulle direk binne-in die aksie plaas. Ook die titel is dalk problematies, al is dit ten minste net oor ’n moontlike gesukkel met die uitspraak van die woordspel daarin. Ek weet ook nie of dit die teikenlesers sal aantrek nie.

The Cedarville shop and the wheelbarrow swap het ’n Junior Library Guild Gold Standard Selection-toekenning ontvang. Die toekenning word voor publikasie toegeken.

Lees ook:

True magic amongst grinding poverty, no fairies: Bridget Krone on her latest book

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top