’n Reis deur die operawêreld tydens die inperking

  • 2

Fotobron: Pixabay

Ek weet nie wanneer my belangstelling in opera begin het nie. Ek het tussen 1940 en 1960 in ’n plattelandse huis sonder klassieke musiek grootgeword en ek kan tot vandag toe nie ’n noot musiek lees of sing nie, maar het blykbaar goeie ore. Dit was waarskynlik programme op die radio soos U eie keuse of omroepers soos Daniel Kirstein wat my belangstelling gestimuleer het. Op universiteit het ek by ’n boekwinkel in Meulstraat, Stellenbosch, ’n slapbandboekie genaamd Stories of famous operas gekoop en dit is vandag nog vir my kosbaar. Dit was trouens baie nuttig met die skryf van hierdie artikel. My liefde vir opera het dalk ook begin met die 1956 film, Tosca, wat ek destyds in die Plaza-bioskoop op Stellenbosch gesien het  ̶  my eerste vollengte opera. Gelukkig is ek later met ’n musiekonderwyseres getroud en ons het in Johannesburg en Kaapstad vele operas bygewoon en doen dit nog steeds as die geleentheid daar is.

In onlangse jare het die Metropolitan Opera in New York operafilms wêreldwyd vrygestel wat, ook in Suid-Afrika, in sekere rolprentteaters vertoon is. Uit die aard van die saak loop ons nie graag dié vertonings mis nie. Met die inperkingstyd het die Metropolitan sedert 16 Maart 2020 in ’n grootse gebaar van hierdie opnames op die internet beskikbaargestel. Elke dag word ’n ander opera vertoon. Die films het ook byskrifte in Engels wat dit makliker maak om die storielyn te volg. Ons het ongelukkig eers op 23 Maart begin kyk, maar het tot op hede reeds meer as 60 operas gesien. So het ons ’n reis deur die mitologie, die letterkunde en die geskiedenis beleef, gepaardgaande met die wonderlikste musiek. Vir my, as wetenskaplike, was die rol wat die bonatuurlike in operas speel, opvallend. Weerlig is ook destyds as ’n bonatuurlike krag wat deur die gode beheer word, beskou. Dit is interessant om daarop te let dat Benjamin Franklin eers in 1752, kort voor Mozart se geboorte, bewys het dat weerlig ’n natuurlike verskynsel is.

Waaraan kan die gewildheid van opera toegeskryf kan word? Dié vraag is die tema van Richard Strauss se opera, Capriccio. Watter kunsvorm is die grootste: poësie (die gesproke woord) of musiek? Soos dikwels die geval in operas, word die vraag met ’n opvoering binne ’n opvoering ("play within a play") beantwoord. Die storielyn is van ’n gravin wat tussen twee minnaars moet kies, ’n digter of ’n komponis. Die regisseur, die digter, die komponis en aktrise (die gravin) is besig om tydens ’n repetisie finale gestalte aan die opvoering te gee. Die aktrise is in die werklike lewe ook verlief op beide die komponis en die digter en moet ’n keuse maak. Die aktrise besluit derhalwe om die slot van die opera self te skryf. Uiteindelik kan sy nie tot ’n besluit kom nie en kan net die onskeibaarheid en die sinergie van woord en musiek beklemtoon (soos in operas die geval is).

Hieronder word indrukke van die operas wat ons tot op datum gesien het, weergegee. Uit die aard van die saak moes ek selektief te werk gaan. Die komponiste is min of meer chronologies gerangskik.

Wolfgang Amadeus Mozart (1756–1791)

Mozart se Cosi fan tutte (So maak almal) is ’n komiese opera waarin twee offisiere, Ferrando en Guglielmo, spog met die getrouheid van hulle verloofdes, Dorabella en Fiordiligi. Don Alfonso beweer egter dat geen vrou vertrou kan word nie en gaan ’n weddenskap daaroor met hulle aan. Omruiling van identiteite en maskers lei tot groot pret. Die regisseur het in hierdie weergawe die storie na die 1950’s in ’n pretpark in Coney Island (waarna ook in Sonja Loots se Sirkusboere en Chris van der Merwe se Kansvatter verwys word) in New York, verplaas.

Mozart se Le Nozze di Figaro speel in Spanje af, in die kasteel van Hertog Almaviva. Die hertog se lakei en oudbarbier, Figaro, staan op troue met Susanna, die hertogin se bediende. Die hertog het ook sy oog op Susanna, terwyl die hertogin deur Cherubino, die hofknaap, agtervolg word. Die opera is ’n mengsel van komedie, romanse, teenspoed en die gebruiklike identiteitsverwarring.

Die vroeë opera, Idomeneo, was die begin van Mozart se sukses. Die verhaal is ontleen aan die Griekse mitologie en speel af in antieke Kreta net ná die Trojaanse Oorlog. Dieselfde gegewe kom voor in Richard Strauss se Elektra. Die rol van Elettra word met goeie toneelspel en voortreflik sang deur die Suid-Afrikaanse sopraan, Elza van den Heever (een van ’n drieling van die destydse TV-aanbieder, Rita van den Heever), vertolk. Terwyl die Griekse koning, Idomeneo, by die beleg van Troje betrokke was, het sy seun, Idamante, in Kreta as heerser waargeneem. Idamante raak verlief op Ilia, ’n Trojaanse prinses. Elettra het ook haar oog op Idamante. Idomeneo word tydens ’n storm ter see deur Neptunus gered, nadat hy aan Neptunus ’n gelofte afgelê het dat hy die eerste man wat hy aan land sou ontmoet, aan Neptunus sou offer. Die eerste persoon wat hy ontmoet is Idamante, sy eie seun. Net voordat die offerande kan plaasvind, gryp Neptunus in en hef die gelofte op, op voorwaarde dat Idomeneo die troon ontruim en Idamante en Ilia koning en koningin word.  

Mozart se Don Giovanni bly maar ’n gunsteling. Die Metropolitan Opera het ’n opname uit 1978 met onder andere Joan Sutherland aangebied. Die losbol, Don Giovanni (Don Juan), loop sy rieme styf toe selfs die bonatuurlike teen hom draai.

Mozart se laaste opera, La Clemenza di Tito, is in die opera seria-styl van sy vroeë operas geskryf. Dit gaan oor Keiser Tito van Rome wat in die eerste eeu nC kwytskelding aan die aangeklaagdes van ’n gepoogde sluipmoord op hom verleen.

Gaetano Donizetti (1797–1848)

Donizetti se Don Pasquale speel in Rome in die 19e eeu af. Ernesto is verlief op die jong weduwee, Norina (voortreflik gesing en gespeel deur die sopraan, Anna Netrebko). Pasquale soek self ’n vrou en ’n erfgenaam sodat hy Ernesto, sy neef, kan onterf. Deur vermommings en karakterwisselings word Pasquale ’n les geleer.

Donizetti het drie operas oor die Britse Tudor-koninklikes geskryf: Anna Bolena, Maria Stuarda en Roberto Devereux.

In Anna Bolena is Koningin Anna Bolena (Anne Boleyn) vasgevang in die huwelik met Henry VIII, wat sy oog het op Jane Seymour, Anna se vriendin. Percy, ’n vroeëre geliefde van Anna, daag ook op en dra by tot verdere intrige wat uiteindelik tot Anna se teregstelling lei.

Donizetti se Maria Stuarda is gebaseer op Friedrich Schiller se drama, Maria Stuart. Koningin Elizabeth (gespeel deur Elza van den Heever) onderteken die doodsvonnis van haar niggie en mededinger, Maria Stuart.

Roberto Devereux gaan oor die liefdesverhouding tussen Koningin Elizabeth en die Hertog van Essex, (Roberto Devereaux) wat ook op Sarah verlief is. Op die ou einde beland Roberto op die skavot.

’n Ou bekende is Donizetti se Lucia di Lammermoor. Die storie gaan oor die brose Lucia wat vasgevang is in die familietwis tussen die Lammermoors en die Ravenwoods. Sy is verlief op Edgardo (’n Ravenswood), maar word gedwing om ter wille van die familie met Arturo te trou. Sy raak van haar kop af in die bekende mal-toneel.

Donizetti se L’Elisir d’amore is ’n romantiese komedie oor ’n arm kleinboer, Nemorino, wat verlief is op die mooi en vermoënde Adina (gesing deur die Suid-Afrikaanse sopraan, Pretty Yende), maar sy ignoreer hom. Toe Dulcamara, ’n rondreisende smous, opdaag, koop hy ’n liefdes-elikser. Die medisyne werk nie en desperaat besluit hy om by die leër aan te sluit. Hy merk tog op dat Adina skelmpies ’n traan wegpink. Aan die einde werk alles tog mooi uit, want ’n ryk oom het ’n stewige erfporsie aan Nemorino nagelaat. 

Vincenzo Bellini (1801–1853)

Norma speel af in Gallië tydens die Romeinse besetting. Die verhaal gaan oor ’n liefdesdriehoek tussen Pollione, die Romeinse konsul van Gallië, Norma, die Druïde-prinses (sy vorige minnares) en die jong Adalgisa. Dit speel af teen die agtergrond van teen die Galliese opstand teen die Romeinse besetters, gelei deur die Druïde-priester, Oroveso. Aan die einde sterf Norma en Pollione saam op die brandstapel.

La Sonnambula (die slaapwandelaar) gaan oor ’n jong meisie wat op die vooraand van haar huwelik in die slaapkamer van ’n vreemdeling gevind word  ̶  vas aan die slaap. Al gee die titel van die opera die ontknoping weg, gaan dit alles gepaard met die wonderlikste musiek, veral die slaapwandel-toneel.

I Puritani was onteenseglik een van ons gunstelinge van die reeks. Die opera speel af tydens die Engelse burgeroorlog tussen die Puriteine en die Rojaliste in die 1640’s. Elvira, ’n skugtere Puritein, is verlief op Arturo, ’n Rojalis. Op hulle troudag besluit Arturo op die ingewing van die oomblik om sy koningin te red, ten koste van die huwelikseremonie. Elvira is platgeslaan en raak van haar kop af. Sopraan Anna Netrebko het met die sogenaamde mal-toneel die gehoor in vervoering gehad.

Gioachino Rossini (1792–1868)

Il Barbiere di Siviglia is ’n verruklike komedie wat, soos Mozart se Le Nozze de Figaro, ook op een van die Franse skrywer, Pierre Beaumarchais, se verhale gebaseer is. Hertog Almaviva is verlief op Rosina, die welgestelde pleegkind van Bartolo, wat eintlik self met haar wil trou. Almaviva se serenade voor haar venster het nie die gewenste effek nie en die Hertog benodig die hulp van Figaro, die barbier en algemene nutsman (faktotum).

Le Comte Ory is ook ’n komiese opera oor die Hertog Ory wat alle vroue onweerstaanbaar vind. Dit is vol grappe, misverstande, vermommings en gender-verwisseling, soos ridders wat as nonne vermom is.

La Cenerentola is gebaseer op die verhaal van Aspoestertjie wat as bediende deur haar stiefpa en stiefsusters misbruik word. Die prins is op soek na die mooiste vrou in die land. Haar susters is vol hoop, maar uiteindelik, na veel intrige, vind die prins Aspoestertjie in haar bediendeklere.

Hector Berlioz (1803–1869)

Berlioz se La Damnation de Faust gebruik dieselfde verhaal as Gounod, met enkele verskille. Die opera is in Italiaans, maar die aanslag en musiek verskil egter aansienlik.

Die opera, Les Troyens, speel ook af in die antieke tyd, net ná die Trojaanse Oorlog en die veldtogte van Aeneas. Sy geliefde is Dido, die prinses van Kartago. Niemand slaan ag op die Trojaanse prinses, Cassandra, se waarskuwing oor die val van Troje nie.

Richard Wagner (1813–1883)

Met die eerste operas waarna ons gekyk het, is ons by die diepkant ingegooi met Richard Wagner se Ringsiklus, Der Ring des Nibelungen, bestaande uit die vier operas genaamd Das Rheingold (Die Ryn se goud), Die Walküre (Die Valkyries), Siegfried en Götterdämmerung (Die skemering van die gode). Die storielyn gaan oor ’n betowerde ring wat aan die besitter die mag verleen om oor die wêreld te heers. Die ring is deur die Nibelung-dwerg, Alberich, uit goud gesmee wat hy by die Ryn-maagde gesteel het. Wagner het die verhaal op dele van Duitse en Skandinawiese folklore gebaseer.

Twee verdere Wagner-operas gaan oor sangkompetisies ─ Die Meistersinger von Nürnberg en Tannhäuser, ʼn fiktiewe Middeleeuse minnesanger, wat aan die Wartburgse Sangkompetisie deelneem. Dit gaan oor die stryd tussen hoë (verhewe) liefde en lae (aardse) liefde, ’n tema in baie van Wagner se werke. Een van die deelnemers sing ’n ode aan die Aandster. In albei hierdie operas is die hoofrol deur die vroeg-afgestorwe Suid-Afrikaanse tenoor, Johan Botha, gesing.

Parsifal, Wagner se laaste opera, gaan oor die Heilige Graal, die beker waaruit Christus volgens oorlewering tydens die Laaste Avondmaal gedrink het, en die spies waarmee Hy aan die kruis gesteek is. Dit is rofweg op ’n epiese gedig van die 13e eeuse Duitse ridder en minnesanger, Wolfram von Eschenbach, gebaseer. Koning Amfortas het ’n wond wat nie wil genees nie. Uiteindelik is dit ’n onbekende jong man, wat later sou blyk om Parsifal te wees, wat Amfortas se wond met die spies aanraak om die wond te genees en aan die Graal ’n ereplek te gee. 

Die marathon-opera, Lohengrin, sluit aan by Parsifal. Lohengrin is die seun en opvolger van die Graal-koning, Parsifal. Hy word gestuur om Elsa, die Hertogin van Brabant, in Antwerpen te verdedig (en die hof te maak). Die voorwaarde is dat sy nie na sy naam moet verneem nie. Tydens hulle huwelikseremonie word die bekende troumars gespeel. Tipies vrou kan Elsa nie haar nuuskierigheid beteuel nie en vra wie hy eintlik is. Gevolglik moes Lohengrin hulle weer verlaat ─ op ’n boot getrek deur ’n swaan, net soos hy gekom het.

Ambroise Thomas (1811–1896)

Die opera Hamlet, deur die Fransman Thomas, volg ook Shakespeare se drama oor Prins Hamlet se wroeging om sy vader se dood te wreek. Die hoofrol is gesing deur Simon Keenlyside en sy vertolking Être ou ne pas être (Te wees of nie te wees nie) is treffend.

Charles Gounod (1818–1893)

Gounod’s Roméo et Juliette is ’n roerende aanbieding, gebaseer op Shakespeare se bekende verhaal. Die hoofsangers is Diana Damrau en Vittorio Grigolo. Een hoogtepunt is Roméo se aria, "Ah! lève-toi, soleil!"

Faust van Gounod is, soos Berlioz se Damnation de Faust, gebaseer op Johann Wolfgang Goethe se gelyknamige drama. Méphistophélès gryp in en bied aan om die depressiewe Faust die sin van die lewe in wêreldse genieting te laat ondervind. Faust ontmoet die onskuldige Marguerite en verlei haar. Uiteindelik word Marguerite tereggestel vir die moord op haar kind en weier Faust se hulp, maar sy neem haar toevlug tot God en ontvang verlossing toe sy sterf. Die opera bevat verskeie mooi arias, onder andere "Salut, demeure chaste et pure" (Wees gegroet, tuiste van kuisheid en reinheid).

George Bizet (1838–1875)

Les Pêcheurs de Perles (Die pêrelvissers) speel af in die antieke tyd in Ceylon (Sri Lanka) en handel oor twee jongmanne se geswore vriendskap wat deur hulle liefde vir dieselfde vrou bedreig word. Hulle sing die kameraadskap-duet van die pêrelvissers, "Au fond du temple saint". Sy weer word in twee geskeur deur haar eed as priesteres en haar wêreldse liefde.

Giuseppe Verdi (1813–1901)

Die opera-koning, Verdi, was goed verteenwoordig in die uitsendings en ons het tot op hede reeds twaalf van sy operas gesien. Die ou gunstelinge was daar, met al hulle treffer-arias en koorwerke – Aida (twee keer), La Traviata, Rigoletto en Nabucco. Verdi het ook ’n reeks operas wat op geskiedenis gebaseer is, nagelaat. Hieronder val Don Carlos, gegrond op die drama van Schiller, wat oor die 16de-eeuse Spaanse koningshuis gaan. Don Carlo is verlief op Elizabeth van Valois, maar sy vader, Koning Philip II, wil self met Elizabeth trou. Die opera Ernani gaan oor dieselfde gegewe: Elvira, ’n jong meisie, word begeer deur drie mans Ernani (’n avonturier), die bejaarde Da Silva (haar voog) en Don Carlo (die koning van Spanje).

In Il Trovatore wedywer Hertog Di Luna en Manrico om Leonora se hand. Daar is ’n ou sigeunerin, Azucena, in hulle verlede. Die verhaal eindig tragies as Di Luna (onwetend) sy broer laat teregstel en Leonora gif drink. Die sangers in die opvoering was Dmitri Hvorostovsky, wat ’n paar maande voor die opvoering met breinkanker gediagnoseer is en twee jaar later daaraan oorlede is. Hy en sterre soos Anna Netrebko het vir ’n onvergeetlike uitvoering gesorg met liedere soos D’amor sull’ali rosee (Op liefde rooskleurige vlerke).

Verder het Verdi kers opgesteek by William Shakespeare. Die opera, Falstaff, is ’n klug waarin sir John Falstaff, ’n ridder van Windsor en ’n vrouejagter, ’n les geleer word. Falstaff is ook ’n karakter wat in Henry IV, Henry V en The Merry Wives of Windsor voorkom. Macbeth en Otello volg min of meer Shakespeare se dramas se storielyne. Daar word byvoorbeeld gesê dat Verdi se Otello meer dramaties as die oorspronklike Shakespeare is.

Verdi se Luisa Miller is op die drama Kabale und Liebe van Friedrich Schiller gebaseer. Die opera speel in Engeland van die negentiende eeu af. Luisa, die dogter van ’n oudsoldaat, raak verlief op ’n jong man genaamd Carlo, wat eintlik Rodolfo, die seun van die plaaslike landheer, is. As tragiese uiteinde drink die twee geliefdes ’n gifbeker.

Verdi se Un Ballo in Maschera het betrekking op die sluipmoord op Koning Gustav III van Swede, tydens ’n maskerbal in 1792. Gustavo (Riccardo) is verlief op Amelia, sy beste vriend se vrou en dit loop uit op ’n onvermydelike tragedie tydens die maskerbal.

Pyotr Ilyich Tchaikovsky (1840–1893)

Iolanta is ’n verruklike eenbedryf oor ’n blinde prinses wat deur haar vader, Koning René, in afsondering versorg laat word. Sy mag nie weet dat sy blind is nie. Kort voor haar gereëlde huwelik poog ’n dokter om haar blindheid te genees, maar hy het egter haar samewerking nodig en sy moet dus weet wat blindheid is. Intussen daag ’n verdwaalde ridder, Vaudémont, op, raak verlief op haar en laat haar besef dat sy blind is ─ die resep vir ’n gelukkige einde.

Jules Massenet (1842–1912)

In Massenet se Manon is die vrysinnige Manon onderweg na ’n klooster toe sy die jong Kavalier Des Grieux ontmoet en op hom verlief raak. Manon vergesel Des Grieux na Parys waar haar spandabelrigheid hulle in geldelike moeilikheid laat beland en hy begin dobbel. Na ’n gekonkel deur Des Grieux se invloedryke vader word Manon tot tronkstraf en dwangarbeid gevonnis. Des Grieux probeer haar vryheid bewerkstellig, maar hy is te laat en sy sterf aan ontbering.

Die opera Werther is gebaseer op die roman Die Leiden des jungen Werthers van Johann Wolfgang von Goethe. Die verhaal gaan oor die jong Werther wat hartstogtelik verlief is op Charlotte, wat ongelukkig reeds verloof is. Die vergeefse liefde lei daartoe dat Werther sy eie lewe neem. Die bekendste aria, hier gesing deur Jonas Kaufmann, is Pourquoi me reveiler (Waarom wek julle my?)

Massenet se Thaïs het ’n interessante storie wat in die vierde eeu na Christus in Aleksandrië afspeel. ’n Monnik, Athanaël, is besorg oor die invloed wat die courtisane en aktrise Thaïs (met wie hy vantevore ’n verhouding gehad het), in Aleksandrië uitoefen. Sy is ’n aanhanger van Venus, die god van liefde. Athanaël bekeer haar tot die Christendom en sy word in ’n klooster opgeneem. Athanaël swig egter voor sy verlange en besluit om haar te uit die klooster te gaan haal. Sy is egter tot Heilige verklaar en hy is net betyds sodat sy in sy arms kan sterf. Die sangers, Renée Fleming en Thomas Hampson, lewer skitterende vertolkings. ’n Bekende melodie uit die opera is die vioolsolo, Méditation.

Ruggero Leoncavallo (1857–1919)

In Pagliacci is daar ’n liefdesdriehoek, bestaande uit Canio, sy vrou, Nedda en Silvio. Hulle voer ’n toneelstuk op waarin daar insgelyks ook ’n liefdesdriehoek is. Canio speel die nar, Pagliacco, en Nedda is sy vrou, Colombina. Toe hy besef dat die toneelstuk se storie ooreenstem met die werklikheid, pluk hy sy masker af en steek Nedda (Columbina) met ’n mes. Die opera eindig met Pagliacco wat sing: "Ridi Pagliacco" ("Lag maar nar!").

Pietro Mascagni (1863 – 1945)

In Cavalleria Rusticana verneem Turiddu, toe hy van ’n veldslag af terugkom, dat sy verloofde, Lola, intussen met ’n ryk wynhandelaar getroud is. Uit vergelding maak hy ogies vir Santuzza. Die uiteinde is ’n swaardgeveg tussen Alfio en Turiddu, wat sy tragiese einde tegemoetgaan. Ten spyte van die sekulêre storielyn is die bekendste musiek die Paaskoor en die Intermezzo.

Giacomo Puccini (1858–1924)

Soos reeds genoem, was Puccini se Tosca die eerste vollengte opera wat ek in die sestigerjare in ’n fliek op Stellenbosch gesien het. Dit bly steeds een van my gunstelinge. Tydens hierdie reeks uitsendings was ons bevoorreg om twee opvoerings te beleef, ’n moderne weergawe met die sopraan Sonya Yoncheva teenoor Vittorio Grigolo. Die ander een was uit 1978 met ’n jong Luciano Pavarotti teenoor Shirley Verrett. Dit is moeilik om tussen die twee te kies, maar die ou opvoering was uit die boonste rakke. Tosca bevat dramatiese en bloedstollende tonele, soos wanneer Tosca vir Scarpia, wat haar wil verkrag, met ’n mes deurboor. Dit het ook van die mooiste arias uit die opera-repertorium.

Puccini se La Bohème gaan oor die lotgevalle van die twee verliefdes, Mimi en Rodolfo, in Parys tydens die Belle Époque tydperk  ̶  net voor die Eerste Wêreldoorlog. Die sangers in hierdie 1977 opname was Renata Scotto en Luciano Pavarotti.

Turandot beskryf die mededinging om die hand van die Chinese prinses Turandot. Die suksesvolle minnaar moet drie raaisels korrek beantwoord, anders sterf hy. Toe prins Caláf al die antwoorde regkry, is Turandot op die agtervoet en Caláf stel, as ’n toegeeflike gebaar, aan haar ’n verdere raaisel. As sy vóór die volgende oggend sy naam kan uitvind, is hy bereid om te sterf. Die hele nag soek almal na sy naam. Caláf sing: Nessun dorma (Niemand sal slaap nie).

La Fanciulla del West (Die meisie van die Wilde Weste) gee Puccini se siening van die Amerikaanse Wilde Weste. Minnie is die eienares van ’n mynkamp. Dick Johnson en die sheriff wedywer om Minnie se guns te midde van cowboys en pokerspel.

Puccini se La Rondine (die swaeltjie) gaan oor die lot van Magda (die swaeltjie) wat halsoorkop verlief raak op die aantreklike Ruggero. Toe hulle op trou staan, besef sy dat haar verlede sy reputasie mag skaad en sy verlaat hom, net soos ’n swaeltjie wat wegvlieg.

Puccini se Manon Lescaut is losweg op dieselfde verhaal as Massenet se Manon gebaseer, maar dit is in Italiaans terwyl Manon in Frans is.

Francesco Cilea (1866–1950)

Die opera Adriana Lecouvreur én die komponis daarvan was vir ons onbekend, maar was ’n aangename verrassing. Die opera is weer ’n opera-in-opera en is vol drama. Ons gunsteling-sopraan, Anna Netrebko, was in die titelrol.

Richard Strauss (1864–1949)

Daar is reeds na Richard Strauss se opera, Capriccio, in die inleiding verwys. Sy gewildste opera is Der Rosenkavalier wat in die middel van die 18de eeu afspeel. Dit gaan oor die aristokratiese Marschallin en haar jong minnaar, Octavian (gewoonlik deur ’n vrou gespeel), haar ongeskikte neef Baron Ochs en sy verloofde Sophie. Die opera is bekend vir sy meesleurende musiek, veral die oorhandiging van die roos.

Die eenbedryf, Elektra, is op dieselfde Griekse mite as Mozart se Idomeneo gebaseer en name soos Klytaemnestra en Orestes kom ook voor.

Ariadne auf Naxos is eweneens op die Griekse mitologie gebaseer. Die libretto is geskryf deur die Duitse skrywer, Hugo van Hoffmannsthal. Ariadne betreur haar lot omdat sy deur haar geliefde Theseus op die eiland Naxos agtergelaat is. Haar treurigheid kom tot ’n einde toe die god Bacchus opdaag en sy saam met hom na die goderyk opvaar.

Strauss se dramatiese opera, Salome, is losweg gebaseer op die Bybelverhaal waarin Herodus aan sy dogter, Salome, enigiets belowe, mits sy vir hom dans. Sy vra toe Johannes die Doper (Jochanaan) se kop. Sy is verlief op Jochanaan en begeer ’n kus van hom, selfs na sy dood.

John Adams (1947–)

Die opera Nixon in China is ’n redelike getroue weergawe van Nixon se geskiedkundige besoek aan China in 1972. Die president en veral sy vrou, Pat, beleef ’n kultuurskok. ’n Tipiese voorbeeld is "I am the wife of Mao Tse-tung".

Nico Muhly (1981–)

Marnie is ’n boeiende moderne opera, gebaseer op die film van Alfred Hitchcock van 1964. Dit is die verhaal van die vrou, Marnie, wat lewenslank met ’n ongegronde skuldgevoel leef en dit deur skelmstreke (diefstal en vermommings) verwerk. Die hoofrol is deur Isabel Leonard vertolk.

At Home Gala

Een van die uitsendings was ’n At Home Gala waar verskeie Metropolitan Opera-sterre uit hulle huise opgetree het. Die Suid-Afrikaaanse sopraan, Elza van den Heever, wat tans in Frankryk woon, het S Le Roux Marais se Heimwee gesing.

 Samevatting

Uit die aard van die saak is hierdie artikel nie ’n volledige lys van al die operas wat ons gesien het nie. Die stromingsdiens gaan voort en elke dag is daar nog steeds ’n nuwe opera. Die daaglikse opera is ’n aangename verposing waarin ons uit die werklikheid van die korona-pandemie kon ontsnap. Net soms het die woorde, "la kôrôna", die ore laat regop staan. Soos uit die opera-beskrywings hierbo blyk, figureer konings dikwels in operas. Die Italiaanse woord vir "kroon" is "corona". Dan was daar ook heel dikwels gemaskerde figure in die operas om ons weer aan ons huidige situasie te herinner.

  • 2

Kommentaar

  • Myrtle du Toit

    Skitterende artikel. Baie beter as die boeke wat ek oor operas besit. My liefde vir operas en swaar klassieke musiek ken geen perke. Ek en my oorlede man het die liefde, ten volle gedeel. Ons is uiters bevoorreg. Die musiek het grendeltyd draaglik gemaak. Sedert begin Mei oefen ek en Mercia weer saam en dis die hoogtepunt van ons week. Geniet die res van die operas. Mooi loop.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top