‘n Propvol program vir die 20ste Absa KKNK

  • 0

Die feesprogram bestaan uit meer as 150 aanbiedings waarvan 46 toneelaanbiedings, 46 musiekvertonings, 8 kits-musiekverhoë geborg deur Absa, Diskoerse, Karoo-ervarings, Visuele Kuns, die BRAVO!-verebal en die bevryding van Baron van Reedestraat.

Die toneelaanbiedings spog met 22 nuwe tekste en vyf nuwe vertalings/verwerkings terwyl 26 musiekaanbiedings by die fees debuteer. In visuele kuns word drie feeskunstenaars (i.p.v. die gebruiklike een) vereer; Gordon Froud: A retrospective of exhibitions I never had, Louis Janse van Vuuren: Oogwink – ‘n Kunstenaarsblik en Willem Boshoff: Big Druid in his cubicle.

Brandende kwessies word vanjaar trompop geloop. Rachelle Greeff het die Anene Booysen moord en verkragting as vertrekpunt vir die drama Rondomskrik gebruik, terwyl Willemien Brummer in haar eerste drama, Braai, die soeklig plaas op die verband tussen gesinspolitiek en landspolitiek. Moedermoed en haar kinders (verwerk deur Saartjie Botha) takel korrupsie en gierigheid en die plekspesifieke produksie Dogma deur Christiaan Olwagen is ‘n gesprek tussen geskiedenis, geloof, identiteit en die bestaan van die magiese en menslikheid deur die oë van ‘n jong man. Die vrygebore generasie se jong stemme maak ‘n verskyning op die feesprogram met verskeie aanbiedings soms komies, soms ernstig, maar deurlopend opsoek na ‘n identiteit in die huidige Suid Afrika. Die kletsrymprogram is sterk gemik om die platform vir die jonger generasie se stem en ontwikkeling te staaf met Da Rainbow show met verskeie kunstenaars wat hande vat en die diversiteit van die reënboognasie vier met onder andere Jack Parow, Cream, Baza Son, Tastic (Nederland) en Safi & Spreej (Vlaandere).

Hoogtepunte om vanuit die Absa KKNK se broeikas-lokaal genaamd Baanbreek na uit te sien is Kontinuum van Naomi van Niekerk, Siembamba deur belowende nuwe skrywers Philip Rademeyr en Penny Youngleson met Nieke Lombard en Epicene Butcher ‘n produksie wat in Suid-Afrika en internasionaal groot impak gemaak het op gehore. Hierdie produksie maak gebruik van Kamishibai, ‘n Japanese vertellingstegniek en beloof om ‘n verfrissende hoogtepunt te wees.

Vanjaar se 20 komedies sluit 3 Afrikaanse vlagskip klugte in genaamd, Boeing-Boeing met onder andere Theodore Jantjies, Hennie Jacobs en Henry Mylne as regisseur, My boetie se sussie se ou word vervaardig deur Frans Swart se Lefra Produksies en Vat Hom Flaffie deur Pieter Fourie met onder andere Chris van Niekerk, Chanelle de Jager en Susanne Beyers. Susanne is ook te sien in 2 ander komedies op die fees naamlik Feeskatte en Hotel Vleispaleis. Tobie Cronje is te sien in Ballade van ‘n Banggat en Gys de Villiers in Wit manne se Wapens. Marion Holm debuteer in Hol Marion!, Sy is ook die teksverwerker en regisseur van Die Oudisie met Lulu Botha asook Voorskoot en Lipstiek met Herman Lensing (Sarie) en Marinda Engelbrecht (Kokkedoor) Sy deel ook haar liefde vir poësie met ons in Gedigte sonder grense en mik om die storievertel-genre op sy kop te draai in Koetjie en Kalfies, Ditjies en datjies…

Ter viering van die 20ste bestaansjaar word drie van die mees gewildste produksies soos gestem deur die publiek weer by die fees aangebied naamlik Shirley Valentyn met Shaleen Surtie Richards, Die Naaimasjien met Sandra Prinsloo en Deon Opperman se Boesman, my seun met Louis van Niekerk en Wessel Pretorius. Die Huisgenoot Klein Karoo 20 Jaar Pops -‘n spesiale skemerkonsert met Nataniël, Laurika Rauch, Kurt Darren, Dorothy Masuka, David Kramer, Karen Zoid, Emo Adams, Nianell, Thandi Klaasen, Amanda Strydom, Koos Kombuis en Zanne Stapelberg en Die Groot Kaktus op die Vlaktes met Freshley Ground, Springbok Nude Girls, Van Coke Cartel, Gangs of Ballet, Bittereinder, Black Cat Bones en die Skynmaagde vier aanbiedings wat ontstaan het op die feesprogram en instellings geword het. Die Bravo-bal skop die fees af in styl as fondsinsameling vir die Teaterbystandsfonds.

‘n Gedenkboek saamgestel deur ervare joernalis en skrywer Ilza Roggeband, word tydens die bal bekendgestel. Hierdie hardeband-boek, vertel deur volkleur-foto’s, staaltjies en herinneringe van kunstenaars en rolspelers in die kunste, die kleurryke geskiedenis en storie van die oudste Afrikaanse fees in die land se ontstaan.

Die program bied ‘n verskeidenheid van beide klassieke en kontemporêre musiekaanbiedings met vars kombinasies van gevestigde kunstenaars en belowende jong talent. Laurika Rauch en Elvis Blue is te sien in Hart en See, Amanda Strydom vier ook haar twintigste Absa KKNK en veelsydigheid in ‘n kontemporêre aanbieding met State of the Heart en Klassieke aanslag Misa Criolla en Navidad Nuestra. Die gewilde Akoestiese Klanke is ‘n platform om gunsteling kunstenaars soos David Kramer, Arno Carstens en Francois van Coke se musiek in ‘n meer intieme omgewing te ervaar en optredes deur Spoegwolf, Jak de Priester, Mathys Roets, Rina Hugo om maar ‘n paar te noem. Die klassieke program bestaan uit koorsang deur die Libertas koor in Stellenbosch Libertaskoor: 25 Jaar, Janine Neethling in Trio with a Twist en klassieke kitaar in James Grace en Jonathan Crossley – Guitar Hero.

Die fees vereer ook hierdie jaar kunstenaars, skrywers en persone wat in hul kapasiteit ‘n groot bydrae tot die ontwikkeling van die kunste gemaak het; Koos Human, TT Cloete, Nataniël, Christiaan Olwagen, Franklin Sonn, Thandi Klaasen, Jaco Bouwer, Sandra Prinsloo, Shaleen Surtie-Richards, Coenie de Villiers en Zolani Mahola.

Die fees se strewe na toeganklikheid is duidelik in die Rivierbuurt met bekostigbare toegang tot ‘n feesterrein met hoë gehalte vermaak vir die hele gesin. ’n Musiekverhoog geborg deur kykNET, kindervermaak, stalletjies sowel as ‘n area vir avontuurlustiges maak van die Rivierbuurt dié plek vir pretsoekers tydens die fees. Die projek vir die Bevryding van Baron van Reedestraat bring Oudtshoorn en feesgangers bymekaar met die groter doel voor oë om bestaande vriendskappe te vier en nuwes te smee.

Kaartjies vir die 20ste Absa KKNK is beskikbaar op Computicket http://online.computicket.com/web/

Vir meer besonderhede oor die feesprogram besoek gerus www.absaKKNK.co.za

Volg die Absa KKNK op Twitter, Facebook, Pinterest en Instagram vir daaglikse inligting en agter die skerm lusmakers ter voorbereiding van dié groot feesjaar.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top