
Foto: Canva
’n Privaat aangeleentheid
Seepunt. 19:58.
“Julle moes dit nie gedoen het nie.” Johann, 57 jaar oud en glad geskeer, haal sy bril af en verskuif die magneetboekmerk voordat hy die sagtebandboek toemaak. Ons skulde staan in groot hoofletters bo die sinkende motor, onder die skrywer se naam.
“Vergifnis. Vergelding. Watter een sal jy kies as iemand ’n onvergeefbare sonde teenoor jou pleeg?” het ’n resensent op LitNet gevra. Die resensie het hom nie net aangespoor om die boek te koop nie, maar ook om die afspraak met sy afpersers na te kom, iets wat hy in sy beroep normaalweg nooit sou oorweeg nie.
Hy vee sy duim en wysvinger oor sy oë, haal diep asem en blaas dit dan stadig uit. Deur meditasie het hy die tegniek ingeoefen.
“Dit was ’n privaat aangeleentheid,” mymer hy.
“Gee net ons geld.” Hulle klik desperaat.
Die jongman met ’n moesie op sy regterkantse wang vat Johann se glas. Hy drink dit in een teug leeg en slaan die glas hard op die kroegtoonbank neer. “Barman, sit die TV harder. En refeul.”
Johann weet hoekom. Dit is om moontlike afluisterapparate te kortwiek en sodoende die gebruik daarvan in hofsake uit te elimineer.
Dink hulle regtig die saak gaan in die hof draai?
Op die TV-skerm lees die hy nuusopskrif: Skatryk sakeman huur “hitman” om sy dogter se ontvoerders op te spoor. Die polisiekommissaris beloof vervolging, nie net op die booswig, nie, maar ook die sakeman. Die publiek ondersteun hom, sê hulle sou dieselfde doen. Dit is tyd dat ons geregtigheid in ons eie hande neem, is die algemene gevoel.
Hy wys na die skerm.
Agter Moesie troon ’n kaalkop, sy lippe trek ’n reguit lyn. Tatoeëermerke hardloop oor bultende spiere. Sonop, dollartekens en ’n draak wat vuur spoeg. Die vuur verander in dansende spoke.
Seemeeue krys seker buite, maar die TV oordonder alles. Die reuk van fynbos en seesout hang in die lug.
Johann sit sy bril terug, trek swart leerhandskoene aan en kyk Moesie waterpas in die oë. “Ek dink daar is ’n misverstand.”
“Die enigste misverstand is dat jy die verkeerde kind gespyker het.” Moesie se stem klim in toonhoogtes en eindig in ’n skreeu.
“Jy? Nog ’n kind? Op dertig?”
“Ek kon jóú kind gewees het.” Die man klink histeries.
Johann haal ’n koevert uit sy baadjiesak. Dit is dik en met ’n rekker om die middel gebind.
“Vyftien duisend rand, soos jy gevra het.”
Hy stoot die koevert oor die tafel na die kroegman. Hy leun dan oor na aan Moesie, so naby dat sy asem hom soen.
Hemel, hoe het hy nie hierdie ken, wang en nek gesoen nie!
“Die misverstand,” sê Johann, “is dat jy dink ek gaan toelaat dat ’n snotneus my afpers. Ek het vir ’n diens betaal en dit gekry.”
Hy skud sy kop: “Jy kan die video wys vir wie jy wil.”
Kaalkop storm nader en slaan sy hande op die kroegtoonbank. Sy asem ruik na knoffel. “Nou waarvoor is jy dan hier? En hoekom gee jy ons geld vir hóm?”
“Afpersers sal ’n koei aanhou melk, al het sy net poeiermelk oor.” Johann kyk vir die kroegman.
Laasgenoemde sit die vadoek neer. “Ek gaan pis,” sê hy toonloos.
Die Kaap van Storms se geweld bars bo-oor die Skiereiland los. Weerlig bliksem.
“Ek besef dit is nie die eerste keer dat julle iemand tydens ’n intieme oomblik verfilm en later afpers nie.” Johann hou sy stem kalm.
“Daarvoor is julle gans te professioneel. ’n Mooi gesiggie om die ou mans te aas en ’n spiertier om seker te maak almal betaal.” Sy wysvinger beweeg soos ’n pistool van die een na die ander.
“Julle kies self die hotel, want met ’n paar rand onder die tafel kan julle in- en uitgaan soos julle wil. Die opsigter weet nie eens van die videokameras nie, of hoe? Anders moes julle die geld in drie verdeel.”
In die spieël glinster die kroeg se naam in neonletters.
’n Oomblik van stilte daal neer.
Wanneer Johann hulle lank genoeg laat wriemel het, sê hy: “Ek vermoed verder dat julle ’n string ou mans soos ek lewenslank aan ’n lyntjie hou, en dit is waarom ek hier is.”
“Kyk hoe bewe my broek.” Moesie se hande vibreer in die lug, sy asemhaling is te vinnig. Hy is bloedrooi in sy gesig.
“En wat gaan jy doen, ou toppie?” Die trilling in Kaalkop se stem verraai sy vrees. Sy onderbewussyn sou nou al na die tekens van ’n vreesbevange slagoffer soek en kon dit nie kry nie. Dit sou gevaarligte in sy kaalkop aktiveer, maar sy spiermassa het hom oor die jare vals sekuriteit gegee. Daarom het hy nooit die kuns aangeleer om na sy sesde sintuig te luister nie.
“Jou probleem is dat julle dink ek is ’n regter.”
Hy kan sien hoe hulle na mekaar loer.
“Ek is, maar nie op die manier wat julle dink nie. In my beroep vonnis ek mense ter dood.”
Johann staan op. Van agter sy rug verskyn ’n vuurwapen. Die knaldemper is reeds vasgeskroef. “Maar ek doen dit nie in ’n hof nie.”
Die twee afpersers snak na hulle asem. Moesie se adamsappel spring trampolien. Kaalkop sweet.
“Ek’s ’n professionele sluipmoordenaar. Maar ek hou nie van daardie naam nie. Ook nie van die woord hitman nie. Ek verkies kontrakteur.” Hy knik na die TV. “Ek is genader om klein Nadia te vind en seker te maak haar ontvoerders ... jy weet ... raak nooit weer aan ’n kind nie.”
Johann glimlag. “Na so ’n missie moes ek van die spanning ontslae raak.”
Hy swaai die pistool na Moesie. “Jy was my weerligafleier. Daarvoor het ek jou baie goed betaal. Hoekom sou jy meer wou hê vir ’n uur se werk?”
Moesie se gesig ping-pong tussen die TV en pistool. Sy onderlip bewe.
Johann knik na die toilette. “Ek het vir die kroegman julle geld gegee, sodat hy my gesig kan vergeet. Hy dink julle is deel van die groep mensehandelaars wat klein Nadia ontvoer het. Sy dogter is ses. Pa’s verstaan wat ek doen.”
Johann pers sy lippe op mekaar. Hy laat sy woorde insink.
“Hier is nie kameras in die kroeg nie, ook nie buite in die straat nie – dit is juis hoekom julle hierdie kroeg uitgekies het om my te ontmoet. So, ek is glad nie bekommerd dat iemand ons saam gesien het nie. Bowendien, kry die polisie, of iemand, wel later julle video, gaan hulle dink ek was een van julle arme slagoffers. Ek sal sê ek het betaal soos al die ander mans. Case closed.”
Moesie gebruik die Skepper se naam ydellik. Sy knieë knak. Kaalkop raak spierwit. Dit lyk of hy wil opgooi.
Die donderslae bliksem buite.
Moesie se hande vleg saam in aanbidding. Sy groot hemelblou oë wat soveel mans nader gelok het, is nou papnat. “’Seblief. Ek’s te jonk om dood te gaan. Dit was sy idee.”
“Adam, Eva en die slang,” sê Johann peinsend. “Ek stel nie belang in wie se idee dit was nie. Ek is net hier om seker te maak die ander mans word nie verder afgepers nie.”
Moesie sê: “Jy kan die video kry. Verniet. Gratis.”
Iets soos ’n snik ontsnap oor sy mooi lippe.
Johann druk die vuurwapen teen Kaalkop se kop en ruik die skerp geur van urine.
“Ek soek ál die video’s.” Hy sê dit saggies, maar beslis.
Die twee afpersers kyk vlugtig vir mekaar. Dit is nie die gewone kyk van ’n vooraf goeduitgewerkte leun nie, maar een van angs. Doodsangs.
“Ons delete hulle gewoonlik nadat ons dit vir die ... vir die ... mans gewys het,” sê Moesie.
Kaalkop se kop knik soos ’n dashboard-mannetjie op ’n grondpad.
Johann oordink dit en sê dan: “Ek glo julle nie. Julle het nou net gesê ek kan almal kry. Verniet. Gratis.”
Hy haal die moordwapen se hamer oor en druk die veiligheidsknip met sy duim af.
“Ek sweer! Ek sweer!” Nou is daar trane.
Dan weer Moesie se pleidooi, skaars hoorbaar. “Ek sweer.”
Die TV raak ook stil. Net die kroeg se horlosie wat die sekondes aftik, is hoorbaar. Dit klink soos geweerskote. Tik. Tik. Tik.
“Los julle selfone en skoert,” sê Johann uiteindelik. “As ek julle weer hier rond sien, sal ek nie so genadig wees nie.”
Hulle huiwer. Hy druk die geweer effens nader aan Kaalkop se skedel.
Versigtig haal die twee hulle fone uit hul sakke.
Ewe versigtig word dit neergesit.
“Fokkof!”
Sy woorde is skaars koud, toe hol die twee na die uitgang. Kaalkop hardloop ’n stoel uit die pad, struikel, maar herwin sy balans voordat hy kan val. Hy swets van die pyn.
Die twee skrum teen mekaar om eerste by die deur uit te kom.
Die kroegman verskyn langs Johann en rus sy hand op sy skouer. Oor die TV se lawaai sê hy: “Dit lyk of hulle jou geglo het.”
Johann sit die pistool op die kroegtoonbank neer. Hy blaas sy asem stadig uit. “Ek was so bang hulle sien dit is ’n replika.”
“Jou gewone, vir jou senuwees?” Hy tel Ons skulde op en lees die agterkant. “Die moeite werd om te lees.”
“Maak dit maar liewer ’n dubbel vanaand.”
Hy sit sy bril op. “Die boek gaan definitief op ’n kortlys of twee beland. Hoe ek hierteen gaan kompeteer, weet ek nie.”
“Jy’t vir my baie oortuigend geklink.” Hy skink Johann se gewone vodka.
“Dalk moet jy vanaand se gebeure vir een van jou boeke gebruik. Dan kan jy my sexy uitbeeld.”
Johann krap sy kop en proe aan sy drankie. Hy vryf oor sy hare. “Die nuusberig kon nie op ’n beter tyd gespeel het nie; dit het geloofwaardigheid aan my storie gegee. Bliksem, ek kan nie glo hulle het my geglo nie.”
Die kroegman sit die koevert langs Johann se leë glas neer.
Johann stoot dit terug. Die kroegman vat dit nie, maar vra: “En dié? Ek dog dis om kleur aan jou storie te gee.”
“As Nini moet uitvind ...” Hy skud sy kop. “My huwelik sal dit nie oorleef nie. Dit is om stil te bly oor die jongman.”

