'n Power salute vir Pussy Riot

  • 0

Toe ek die eerste keer op die Afrikaanse televisienuus van Pussy Riot se inhegtenisneming hoor, was my onmiddellike reaksie om met gebalde vuis my lelieblanke weergawe van ’n power salute te gee. Hoe fantasties dat drie meisies so dapper was om ’n outoritêre en patriargale sisteem op die wêreldverhoog deur middel van musiek uit te daag. As Afrikanerkind wat homself die eerste keer leer ken het in die euforiese eerste dekade van die reënboognasie, is ek immers ’n swakkeling wanneer dit by die romantiese narratiewe van (musikale) protes kom. Dis tog so maklik om jouself as ’n Kerkorrel of ’n Kombuis te verbeel, om vinger te wys en te sê: “Ek sou nooit in die illusies van apartheid geglo het nie.” Maar as klassieke musikus wat maar grotendeels “veilige” uitvoerings van Mozart en Schubert lewer, besef ek toenemend hoe ek nooit die tipe hardcore bad guy sou kon wees wat ’n middelvinger in die gesig van die sisteem druk nie.

Dit is hoekom die drie Russiese meisies wat onlangs elkeen gevangenisstraf van twee jaar opgelê is, my so mateloos beïndruk: Wathinta umfazi, wathinta imbokotho! (Slaan jy ’n vrou, dan slaan jy ’n klip.)

Ek is ’n manlike feminis in ’n tyd waarin die straight jong Afrikaner-vrouens van my generasie ’n amper generiese verveeldheid met die kragtige idees van feminisme ten toon stel: “Ons is nie dykes nie.” The third wave is still coming? Nee wat. In Afrikaanse kringe voel ek soms nog of mevrou Pankhurst haarself eerder aan Louis Botha se koets moes vasgeketting het, want dan het ons ten minste ’n first wave gehad. Geen verrassing, dus, dat die deursnee-koshuisdame (musiekstudente inkluis) op my universiteitsdorp die Russiese bohaai wat Pussy Riot is, totaal en al gemis het nie. Natuurlik was sy die hele week lank besig met voorbereidings vir Ser – of was dit hierdie keer Klein-Ser? In elk geval kan mens verstaan dat daar min tyd is om koerant te lees, veral wanneer charismatiese kledingstukke aanmekaar gestik word (steek vir steek) om die perfekte simbiose tussen maagdelikheid en toeganklikheid te suggereer. “Pussy wat?” vra sy met haar hand oor haar mond – al kom sy oorspronklik van Bellville. Oënskynlik verstaan hierdie nooi onder Voëlvry ’n ander soort aktiwiteit.

Grrrrrlpower! Xoxo ... Mwah!

Die sirenesang van my dorp se hubare jong dames is ’n verheerliking van die bestaande patriargale orde. Elke stroperige harmoniese progressie, elke gesinkroniseerde danspassie, elke spuit van die haarsproeikannetjie bevestig die idee van die liberale status quo: ’n tipe Verligtingsdiskoers wat daarop aandring dat óns die goeie mense is en dat dinge net al hoe beter met ons sal gaan solank as wat ons vasklou aan die afgesaagde musikale rituele van generasies voor ons. En die generasies voor ons het mos glad nie Afrikanervrouens aangemoedig tot opstand nie? Vandag se jongspan-serenadesangeresse moet ’n nuwe soort geraas probeer maak as hulle ’n slag teen die patriargale bestel wil sing. Nie om dit te vernietig nie, maar om dit ruimhartig te versag en te vermenslik. (Bygesê moet sommiges van hulle eers bewus gemaak word van die patriargie se bestaan.)

Een van die kernidees agter punk is om genoeg van ’n lawaai te maak dat inbreuk gemaak word op die alledaagse manier waarop mense die wêreld rondom hulle ervaar in terme van klank. So skryf Benjamin Freed oor punk-konserte van die middeltagtigerjare buite die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington DC: (1)

"The South African embassy was already the subject of constant protests. [...] If South African diplomats ever noticed the protests, it was probably from reading about them in the newspaper. The punks aimed to bludgeon the apartheid embassy’s eardrums instead."

Die mikpunt is dus om deur die medium van lawaai aandag te vestig op sosiale of politiese probleme waarvan ’n bewussyn andersins baie maklik wegsyfer, want om een of ander rede is dit makliker om jou oë vir iets te sluit as wat dit is om jou ore toe te druk.

Alhoewel die effek nie dieselfde is nie, is die estetika van geraasbesoedeling soortgelyk aan dié van selfmoordbomaanvallers: om bestaande sisteme wat verhard en stagneer het, weer onbestendig te maak. Musiek/geraas is oënskynlik vloeibaar genoeg om sosiale ossifiserings teen te werk. Op hierdie manier word dit ’n aankondiger van broodnodige veranderings in die sosiale omgewing en word die skreeuers van daardie geraas – om woorde by Amanda Strydom te leen – die sieners en die baanbrekers van môre.

Nietemin is dit ’n fyn spel om te speel, omdat die moontlikheid van ’n omgekeerde resultaat ook bestaan. Geraas is moeilik interpreteerbaar, en indien dit te ver buite toehoorders se verwysingsraamwerk val, kan dit as gemors afgemaak en geïgnoreer word (2). Dis juis hoekom Pussy Riot hulself doelbewus in ’n hoogs kontroversiële konteks moes plaas, deur eers soos skollies op te tree in Moskou se Katedraal van Christus die Redder en dit dan nog uit te saai oor die internet. Wat ek probeer sê, is dat hulle musiek/geraas waarskynlik nie sterk genoeg is om politieke verandering te bewerkstellig nie – dat dit selfs vervelig kan wees indien dit nie vergesel word van ontheiligende fotomateriaal nie.

Ek is ongemaklik met hierdie optrede, omdat ek as agnostikus die patriargale aard van ons wêreld se kerke teenstaan, maar dit steeds moeilik sou vind om hierdie tipe streke in heilige plekke uit te haal. Daar is noodgedwonge sensitiwiteite in Rusland weens die onderdrukking van die Christendom tydens voormalige kommunistiese regimes. Op die oog af is dit dus paradoksaal om op die ontstaan van ’n nuwe kommunistiese ystergreep te wys deur ’n Ortodokse kerkdiens te ontwrig. Ek glo dat die groep se lede ten volle bewus was van hierdie teenstrydigheid en dat hulle nogtans voortgegaan het met hul protesoptrede.

Net soos die Dixie Chicks na hulle protes teen George W Bush se oorlog in Irak bly Pussy Riot aspris halsstarrig (3):

Not ready to make nice.
Not ready to back down.
Still mad as hell.
Can’t bring myself to do what you think is right.

2. McClary, S. 2009. Afterword: The Politics of silence and Sound. In Jacques Attali se Noise: The Political Economy of Music, bl 149.
3. Watson, J en L Bunks. 2011. Resisting exile and asserting musical voice: the Dixie Chicks are “Not Ready to Make Nice”. Popular Music 29(3):325-50 (vir meer oor die Dixie Chicks).
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top