"'n Pel met 'n pêrel" deur Jaco Prinsloo

  • 0

'n Pel met 'n pêrel

Met my hoop styf toegeknoop
vat ek vroegdag die pad na jou
Klippe wat my skoene van polish stroop
Sal jy darem nog van my hou?
In die pad was ek kalm, op jou stoep kry ek warm
As my skadu op jou deurknop val
sê vandag net ja, sê tog net jy sal

Met geen pand in 'n pakkie
net een pêrel in my sakkie
Bring ek hom uit die diepste blou
sommer self uitgeduik vanaf pa se visserskuit
om te kom vra om met jou te trou

Ja, bring jou bed na my pandokkie
bring jou huis, bring jou haard
Ja, kom hang jou cool nylon rokkie
hier op my wasgoed draad
Bring jou lewe, bring jou bere, pak dit als in 'n boks
Vat 'n wilde kans, so spontaan, so onortodoks
Gee jou hart vandag vir 'n dromer, swaai my winter om na 'n somer
Sê vanaand, vanaand net ja
Want ek is net 'n pêl met 'n pêrel
'n Pêrel in die palm van sy hand

Net 'n pêl met 'n pêrel
Kies vanaand vir altyd my kant
Net 'n pêl met 'n pêrel
Kom plant jou voet hier in Soutberg se sand
Sê net ja vir 'n kêrel
'n Kêrel sonder boeke of rand
Net 'n pêl met 'n pêrel
'n Pêrel in die palm van sy hand

Maar as jou ma my nie soek nie
oor my pa in die tjoekie
Met net 'n pêrel in 'n doekie
sê jou sussie ook jy moet nie
Sê vanaand, vanaand net ja
Jou pa sê loop soek iemand sterker
of ek trap hom met die trekker
Sê vanaand, vanaand net ja

Veilig op ons dak vol klippe en pampoene
vergeet ons lankal van die wegloopslae
Al leef ons net van korsies en lemoene
was jou antwoord 'n perfekte ja

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top