’n “Oorspronklike” Aramese Nuwe Testament? ’n Kritiese evaluasie van die Pesjitta-voorrangsteorie, Die Pad van Waarheid tot die Lewe-vertaling (Afrikaanse Lamsa-Bybel), en die kulturele aanloklikheid van oriëntalisme

  • 16

’n “Oorspronklike” Aramese Nuwe Testament? n Kritiese evaluasie van die Pesjitta-voorrangsteorie, Die Pad van Waarheid tot die Lewe-vertaling (Afrikaanse Lamsa-Bybel), en die kulturele aanloklikheid van oriëntalisme

Chris L. de Wet, Departement Bybelse en Antieke Studie, Universiteit van Suid-Afrika

LitNet Akademies Jaargang 13(2)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

’n Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling, wat in 2015 uitgegee is, roem daarop dat die Nuwe Testament daarin vervat, vertaal is uit die oudste, “oorspronklike” Aramese geskrifte, geskryf in dieselfde taal as wat Jesus self gepraat het. Die oogmerk van hierdie artikel is om die aansprake van die vertaling van die Bybel genaamd die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL), oftewel die Afrikaanse Lamsa-Bybel, krities te beoordeel, spesifiek met aandag aan die brontekste en die kwessie van “oorspronklikheid” en om te kyk hoe dit binne ’n bepaalde ideologie van Bybelvertaling funksioneer. Aangesien die mees omstrede aansprake van die PWL oor die aard en vertaling van die Nuwe Testament gaan, vorm dit die fokuspunt. Die artikel ondersoek egter nie net die Bybelwetenskaplike geldigheid van die PWL se aansprake nie, maar stel ook ondersoek in na waarom vertalings soos die Lamsa-Bybel en PWL so aanloklik is as moderne, kulturele artefakte. Weens die sterk klem op die gesag van die Aramese taal word daar eers ’n beoordeling van die aard van die Aramees (oftewel Siries) van die bybelse en vroeg-Christelike wêreld gemaak. Tweedens sal die Pesjitta-voorrangsteorie krities ondersoek word, aangesien dit die dryfveer agter die PWL is. Vrae oor die aard, oudheid en oorspronklikheid van die Nuwe-Testamentiese geskrifte sal ook aandag kry. Dit word gevolg deur ’n kort oorsig van die werk van George M. Lamsa. Die vrae wat hier gevra word, is of die manuskripte wat die PWL as brontekste gebruik het, werklik die oudste, gebaseer op meer oorspronklike Aramese bronne, is en voortspruitend daaruit, waarom Bybels soos die Lamsa-Bybel en PWL so gewild in die Westerse kultuur is. Die vraagstuk waaroor die tweede deel van die artikel gaan, sal verhelder word deur na Edward Said se teorie van “oriëntalisme” te kyk.

Trefwoorde: Aramees; Bybelvertaling; George M. Lamsa; Gerrie C. Coetzee; Khabouris; Lamsa-Bybel; Nuwe Testament; oriëntalisme; Pad van Waarheid tot die Lewe; Pesjitta; Siries; Yonan-kodeks.

 

Abstract

An “original” Aramaic New Testament? A critical evaluation of the Peshitta Primacy theory, Die Pad van Waarheid tot die Lewe translation (Afrikaans Lamsa Bible), and the cultural lure of orientalism

A new Afrikaans translation of the Bible, entitled Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL), meaning “The Way of Truth unto the Life”, was published in 2015. It was translated by a South African missionary, Gerrie C. Coetzee. What makes the PWL translation of the Bible unique is its claim that the translation, particularly of the New Testament, is based on the “original” Aramaic manuscripts, written in the same language as that spoken by Jesus, and not on the Greek version as is conventional. To the expert it is immediately evident that the PWL is simply the Afrikaans version of the so-called Lamsa Bible.

The purpose of this article is two-fold. Questioned is, first, to what extent the claims made by the Lamsa Bible and the PWL, particularly with regard to the original Aramaic manuscripts, are accurate. In this case attention will be given to the development of the Aramaic language in antiquity since the claims made by Lamsa and the PWL are based primarily on the authority and prevalence of Aramaic. Then a summary of the consensus view related to the New Testament manuscripts (as having been written in Greek) will be given, and this is then compared with the theory of Peshitta primacy as popularised by George Lamsa. Attention will also be given to the critical editions used by the PWL, especially the Khabouris codex. Second, the article also looks at why translations like those of Lamsa and the PWL have gained popularity in Western culture. In order to address this second issue, Edward Said’s theory of orientalism will be used.

The most astonishing claim made by the PWL, which is also what makes it unique, is that it was translated not from the Greek New Testament, but from the “Aramaic Peshitta”. The PWL further states that the New Testament was not originally written in Greek, but actually in Aramaic, since the language of Jesus and all the apostles was Aramaic and not Greek. The problem in this instance, of course, is that although it is true that Jesus and the apostles spoke Aramaic, we do not have any early ancient witnesses (papyri, parchments, and so on) to an Aramaic New Testament – only early Greek witnesses exist. Greek was the language spoken and written throughout the ancient Mediterranean. Inscriptional evidence also attests to the prevalence of Greek in 1st-century Palestine.

Behind the use of the “Aramaic Peshitta” lies the Peshitta Primacy theory. This theory, promulgated by Lamsa, states that the Peshitta represents a more original manuscript than the Greek and is thus more reliable and authoritative when one is seeking the words and teachings of Jesus and the apostles. The problem here is that the language of the Peshitta is Syriac, not Palestinian Aramaic (although the two languages are closely related, they remain distinct). Syriac is indeed a dialect of Aramaic. But Jesus’ language was probably Galilean (Jewish) Aramaic, a Western Aramaic dialect, while Syriac was a later Eastern Aramaic dialect. Studies have also shown that the Peshitta, which is in part a later revision of the so-called Old Syriac version, actually consulted the Greek New Testament in addition to the Old Syriac version. The problems and inconsistencies of the Peshitta Primacy theory are discussed in detail in the article, and it is indicated that the Peshitta Primacy theory and the preference for Aramaic influenced the translation. For instance, the PWL wrongly translates the Syriac word for heathen or Greek, which is carmâyâ, as Aramean (confusing it, perhaps deliberately, with the differently vocalised word, cârâmâyâ). Thus, texts which usually contain the word Greek instead have Aramean. This indicates how one’s ideology could influence a translation of the Bible.

According to the PWL, the Khabouris codex was used as a primary text in the translation of the New Testament. This obscure manuscript of the Peshitta is, however, problematic in many respects. It is, firstly, a medieval manuscript of the Peshitta. The only reason it is given prominence is because of a rumour that there is an inscription in the colophon of the manuscript which states that it is a copy of a manuscript from 164 AD. The existence and validity of this inscription are contested. The Khabouris is one of two codices acquired by Norman Yonan and his lawyer Dan MacDougal. In the 1950s Yonan publicised the discovery of a first codex, dubbed the Yonan codex, and also spread the rumour that it is a very old codex of the New Testament written in Aramaic, the language of Jesus. All the claims made by Yonan and MacDougal were refuted by academics, including the respected text critic Bruce Metzger, and soon the hype surrounding the Yonan codex died down. In the 1970s the hype was somewhat revived by the introduction of the Khabouris codex to the debate, but its time in the spotlight was short-lived. Although it is an impressive codex in its own right and important for the study of the Peshitta, the Khabouris does not by any means qualify as an authoritative witness for the primary text of the New Testament.

From a scholarly perspective on the Bible, the Lamsa Bible and PWL Afrikaans translations fail miserably in their use of “authoritative and original” primary texts. It is nevertheless interesting to look at the events and groups surrounding George Lamsa and movements like that of the PWL as cultural phenomena. Lamsa particularly places much emphasis on the notion that he is the only person with the ability to correctly interpret the Bible. According to Lamsa he was born in a place and culture akin to that of the Bible. Lamsa and the ideologies behind the PWL assume that ancient Near-Eastern cultures were static and did not undergo any changes. This view of Eastern culture is described by Edward Said as orientalism. The article therefore concludes by noting that in order to better understand movements like those of Lamsa and the PWL, one needs to read them within the theoretical framework of orientalism, which would also provide clues as to why they were and are so popular and persistent in Western cultural contexts.

Keywords: Aramaic; Bible Translation; George M. Lamsa; Gerrie C. Coetzee; Khabouris; Lamsa Bible; New Testament; orientalism; Pad van Waarheid tot die Lewe; Peshitta; Syriac; Yonan Codex.

 

1. Inleiding1

Na ’n lesing by ’n gemeente se Bybelskool in April 2016 het twee van die studente na my toe gekom met ’n boek in die hand. Die titel van die boek is: Die Pad van Waarheid tot die Lewe: Die Woord van יהוה in Afrikaans, vertaal deur Gerrie C. Coetzee van Pretoria en in 2015 gepubliseer (hierna afgekort as PWL 2015). Die PWL gee voor om ’n Afrikaanse vertaling van die hele Bybel te wees – met een groot verskil: die Nuwe Testament (oftewel, die Nuwe Verbond), sowel as ’n paar van die boeke van die Ou Testament, onder andere Daniël, Esra, Nehemia en Ester (PWL 2015:1678), is hoofsaaklik vanuit Aramese tekste vertaal, en nie vanuit Griekse en Hebreeuse tekste soos die algemene gebruik is nie. Dit het my belangstelling geprikkel, maar as gevolg van ander verpligtinge kon ek nie veel aandag aan die boek skenk nie. Toevallig kry ek daardie selfde aand ’n boodskap van een van my oudstudente wat ook navraag doen oor die PWL, en twee weke later vra nog ’n aantal studente my uit oor dieselfde publikasie. Ek kon gelukkig ’n eksemplaar in die hande kry om van nader te bestudeer, alhoewel die hele boek gratis van die internet aflaaibaar is (PWL-Web1 s.j.). Coetzee maak dit duidelik dat die PWL gratis is en nie verkoop mag word nie, en dat die kopiereg aan God behoort (PWL 2015:i).

Vir die “gewone” leser van die Bybel sal die PWL aanvanklik vreemd voorkom. Behalwe die kwessie oor die brontekste, die vraag waaroor hierdie artikel hoofsaaklik handel, is daar ’n aantal sigbare verskille tussen die PWL en ander Afrikaanse Bybels. Eerstens hebraïseer die PWL alle Bybelse name waar dit moontlik is; die titels soos hulle in die Hebreeuse Bybel (of die Tanakh) voorkom, word bloot getranslitereer. ’n Boek soos Genesis word (tereg) B'resheet genoem en Obadja is 'Ovadyah. Dieselfde gebeur met die name van Nuwe-Testamentiese boeke: Matteus word byvoorbeeld Mattityahu genoem, en 1 Petrus is 1 Kefa. Waar die naam van die boek Grieks is, word die Griekse spelling verkies (nie die Latynse nie). Titus word dus weergegee as Titos, en Timoteus as Timotheos. Kenmerkend is ook die feit dat die name vir God in die Hebreeus of Aramees gegee word, en waar ook al God se naam as Jahweh (YHWH) geskryf word, word dit onveranderd vanuit die Hebreeuse alfabet as יהוה weergegee. Verder word Israel byvoorbeeld as Yisra'el geskryf, Abraham as Avraham, en Jesus as Yeshua.

Die volgorde van die boeke in die PWL Ou Testament weerspieël die volgorde in die Tanakh; die PWL eindig dus nie met Maleagi nie, maar met 2 Kronieke.

Die volgorde van die boeke van die Nuwe Testament verskil ook (sien PWL 2015:ii–iii), omrede ander kodekse van die Pesjitta as brontekste gebruik is. Die volgorde van die boeke van die Nuwe Testament in die Pesjitta verskil van die orde in hoofstroomvertalings.

Alhoewel dit nie onbelangrik is nie, is bogenoemde kosmetiese verskille ’n sekondêre kwessie. Die opspraakwekkendste aanname wat gemaak word, is op die eerste bladsy van die PWL:

’n Afrikaanse vertaling van die volledige Skrif. Die Tanakh (Torah, Profete en Vroeëre Geskrifte) is vanuit die oudste beskikbare Hebreeuse en Aramese (Peshitta Tanakh), met verwysings na die Griekse (LXX), tekste en die Nuwe Verbond (Latere geskrifte en Briewe) vanuit die Khabouris en Peshitta Aramese oorspronklike tekste vertaal. (PWL 2015:i)

Die PWL, en dus die vertaler, Coetzee, maak hiermee die aanspraak dat hierdie Bybel vanuit die “oorspronklike” Hebreeuse en Aramese geskrifte vertaal is. Vir die kenner word die identiteit van die PWL deur hierdie stelling ontsluier – die PWL is bloot die Afrikaanse weergawe van die omstrede Lamsa-Bybel. Die oogmerk van hierdie artikel is om hierdie aanspraak van die PWL, naamlik oor die brontekste en die kwessie van “oorspronklikheid”, krities te beoordeel en ook te vra hoe dit binne ’n bepaalde ideologie van Bybelvertaling funksioneer. Die aandag sal veral fokus op die aard en vertaling van die Nuwe Testament, aangesien hierdie die mees kontroversiële aanspraak van die PWL is. Ek sal dus nie net kyk na die Bybelwetenskaplike geldigheid van die PWL se aansprake nie, maar ek wil ook ondersoek instel na waarom vertalings soos die Lamsa-Bybel en PWL as moderne, kulturele artefakte so aanloklik is.

Weens die sterk klem op die gesag van die Aramese taal sal daar eers na die aard van die Aramees (oftewel Siries) van die bybelse en vroeg-Christelike wêreld ondersoek ingestel word. Tweedens sal die Pesjitta-voorrangsteorie krities ondersoek word, aangesien dit die dryfveer agter die PWL is. Die vrae oor die aard, oudheid, en oorspronklikheid van die Nuwe-Testamentiese geskrifte sal ook aandag kry. Daarna volg ’n kort oorsig van die werk van George M. Lamsa.

Die vrae wat dus hier gevra sal word, is of die manuskripte wat die PWL as brontekste gebruik het, werklik die oudste en gebaseer op meer oorspronklike Aramese bronne is en waarom Bybels soos die Lamsa-Bybel en PWL gewildheid in die Westerse kultuur verwerf. Om sinvol aandag aan die tweede deel van die artikel se vraagstuk te gee, sal daar na Edward Said se teorie van “oriëntalisme” gekyk word.

Volgens die biografie op die PWL-webwerf is Gerrie C. Coetzee en sy vrou Hanlie sendelinge wat reeds ’n aantal boeke van die Nuwe Testament in Tibettaans vertaal het (PWL-Web2 s.j.). Dis nodig om te verklaar dat ek geen direkte kontak met Coetzee gedurende die skryf van hierdie artikel gehad het nie. Op grond van die aanvanklike waarnemings van hierdie navorsing het ek ook geen aanduiding gekry dat Coetzee enige kwaadaardige bybedoelings, finansieel of andersins, met die PWL het nie, ten spyte van die hoogs polemiese aard van die PWL se voorwoord (PWL 2015:v), die vertalingsinligting (PWL 2015:1678–9) en die leerbundels wat van hul webwerf (www.padwlewe.ch) aflaaibaar is. Terwyl daar deurgaans ook na van hierdie lesingmateriaal verwys sal word, en veral ook die grondleggende werk van Lamsa self, sal die fokus hoofsaaklik op die PWL-vertaling bly. Daar is ’n uitnodiging op die webwerf van die PWL vir “verandering en aanbevelings om die PWL nog beter te maak” (PWL-Web3 s.j.). Coetzee noem in die PWL (2015:1678) dat hulle “onweerlegbare bewyse” het vir ’n Aramese oorsprong van die Nuwe Testament – ’n aanspraak wat hier getoets sal word. Die leringe van die PWL veskyn ook op ’n aantal YouTube opnames.

Die artikel dien nie om een teologiese of kerklike tradisie bo ’n ander aan te beveel nie. In die slot sal daar genoem word dat die aannames van die PWL, spesifiek aangaande oorspronklikheid, ook nie gemaak kan word deur enige ander Bybelvertaling nie. Hierdie studie is gedoen op grond van die publikasie van die PWL, as ’n Afrikaanse vertaling van die Bybel, wat vrygestel is aan die publiek. Dit is die taak van Bybelwetenskaplikes om verwante gepubliseerde materiaal wat vir die publiek toeganklik is ook krities te beoordeel. Die meeste vertalings van die Bybel is reeds aan dieselfde kritiese blik onderwerp. Alhoewel daar op aspekte van die tekskritiek en ontstaansgeskiedenis van die Nuwe Testament gefokus sal word, is hierdie nie uitsluitlik ’n eksegetiese studie nie. Daar sal oor die algemeen nie gekyk word hoe akkuraat die PWL as vertaling is nie. Die studie gaan hoofsaaklik oor die PWL se aanvaarding van die Pesjitta-voorrangsteorie, die geldigheid daarvan, en ook oor hoe sulke vertalings in die populêre godsdienstige kultuur funksioneer.

 

2. Aramees onder die tale van die Bybelse wêreld: ’n onstandvastige terrein

Die PWL lê ongelooflik klem op die feit dat dit vertaal is vanuit Hebreeuse en Aramese bronne. Dit staan so in die voorwoord (PWL 2015:i, v), en agter in die boek in ’n afdeling getitel “Vertalingsinligting” (PWL 2015:1678) staan die volgende:

Die vertaling van die Nuwe Verbond [d.i. die Nuwe Testament] is gedoen vanuit die oorspronklike “Peshitta”, (“reguit”), Aramese Nuwe Testament. Ons het voldoende, onweerlegbare bewyse van die Aramese oorsprong en sal dit aanbied op versoek. (My kursivering)

Voordat daar na die kwessie van die tekste self gekyk word, is dit nodig om iets oor Aramees te sê, spesifiek die aard daarvan in die bybelse en vroeg-Christelike wêreld, en hoe dit in die diskoers voorgehou in die PWL funksioneer. Die PWL (2015:1678) beweer dat Jesus en die eerste skrywers van die Nuwe Testament Arameessprekend was en dat die skrywers daarom, soos ’n mens sou verwag, oorspronklik in Aramees geskryf het.

Die term Aramees omvat egter ’n hele aantal dialekte. Aramees is deel van ’n noordwestelike Semitiese taalgroep, verwant aan Hebreeus. Ons het eerstens die Aramees wat in sommige van die boeke van die Ou Testament voorkom. Die tekste in Daniël 2:4–7:28, Esra 4:8–6:18, 7:12–26 en Jeremia 10:11 is in Aramees, en so ook ’n paar woorde in Genesis 31:47. Teen die Persiese tydperk, in die 6de eeu v.C., was hierdie vroeë vorm van Aramees, ook genoem Ryksaramees, die lingua franca van ’n groot deel van die Nabye Ooste (Beyer 1986:13–15). Ryksaramees was die amptelike korrespondensietaal van die Persiese Ryk, en daarom vind ons dat sekere gedeeltes van die Ou Testament in Aramees geskryf is. Schuele (2012:1–3) toon aan dat sekere van hierdie Ou-Testamentiese gedeeltes oorspronklik in Aramees geskryf is en moontlik later in Hebreeus vertaal is – Ryksaramees was dus die erkende amptelike taal, terwyl Hebreeus op daardie stadium steeds aansien as die taal van die kanonstradisie geniet het. Beyer (1986:30–40) verduidelik dat daar alreeds met die verloop van die Persiese tydperk tot met die Hasmoniese tydperk verskeie dialekte van Aramees ontwikkel het, wat hy hoofsaaklik verdeel in Oud-Oostelike Aramees en Oud-Westelike Aramees.

Vestig ons die blik op die konteks van Jesus, sê Beyer (1986:38) dat “seven different Western Aramaic dialects can be clearly distinguished at the time of Jesus; of course the approximately three million Arameans of Palestine and western Syria could always understand each other.”

Die dialek wat Jesus waarskynlik gepraat het, was Galilese Aramees – verder bestaan daar ook, onder andere, Judese, Samaritaanse en Jordaniese Aramese dialekte (Beyer 1986:36–40). Dit is baie belangrik om hierdie verskillende dialekte in ag te neem, aangesien die dialek van ’n teks ’n moontlike aanduiding van die plek en tyd van ontstaan, en ook van die gehoor, kan gee.

In hierdie opsig is die PWL dan inderdaad korrek: die taal van Jesus en die eerste dissipels was Aramees, maar ons moet hier meer spesifiek wees. Hulle het ’n dialek van Aramees gepraat wat ons breedvoerig onder Westelike (Palestynse) Aramese dialekte kan groepeer. Ons lees, interessant genoeg, in Matteus 26:73, wat gaan oor Petrus se verloëning van Jesus, dat die inwoners van Jerusalem, wat Judese Aramees sou gepraat het, aan Petrus se dialek kon agterkom dat hy nie van daardie gebied afkomstig was nie. Petrus se Galilese dialek het hom verklik. Teen die tyd van Jesus was Hebreeus, soos dit in die Ou Testament voorkom, vir baie lank reeds nie meer ’n spreektaal nie (Beyer 1986:43). Daarom vind ons ook gedurende hierdie tydperk, die eerste twee eeue voor en na Christus, die ontstaan van Aramese “vertalings” van die Hebreeuse Bybel, naamlik die Targums. Die Targums lê êrens tussen direkte vertaling en parafrasering en toon iets van die unieke aard van antieke “vertalings” van die Bybel (Flesher en Chilton 2011:3–39).

Teen die 3de eeu n.C. kan ons makliker ’n onderskeid tussen Aramese dialekte tref, wat teen dié tyd as Middelaramees bekend staan, naamlik Oostelike Middelaramees en Westelike Middelaramees. Van die Oostelike Middelaramees het ons slegs die sogenaamde Oudsiriese, Joodse Oudbabiloniese en die (nuwe) Mandaïese weergawes (Beyer 1986:43–4). Vanuit die Oudsiriese dialek spruit Middelsiries, wat die taal van die Oosterse Siriese kerk sou word en wat ook die taal van die Pesjitta is. Dit sou nie so bly nie. Weens verskille oor teologiese leerstellings was daar in die 5de eeu n.C. ’n skeuring in Middelsiries soos dit deur die kerk gebruik is, sodat Westelike Middelsiries (verteenwoordigend van die sogenaamde Jakobiete van Edessa, onder Romeinse heerskappy) teenoor Oostelike Middelsiries (van die sogenaamde Nestoriërs van Nisibis, wat nog onder Persiese heerskappy was) ontstaan het. Elkeen het ook sy eie unieke skrifstyl ontwikkel (Beyer 1986:43–4). Die verskil tussen Oostelike en Westelike Siriese dialekte is dus eers na hierdie skeuring sigbaar.

Daar bestaan vandag ’n moderne weergawe van Aramees – Neo-Aramees – met sowat 500 000 sprekers hoofsaaklik in klein gebiede binne Turkye en Iran (veral binne die geografiese gebied wat bekend staan as Kurdistan). Ongelukkig is dit ’n bedreigde taal (Sabar 2003:222–34). Die opkoms van die terroristegroep ISIS het meer druk op die taal geplaas (Perlin 2014). Neo-Aramees het verskeie dialekte wat veral op grond van sprekers se kerklike tradisies verskil. Die taal soos vandag gebesig, verskil baie van antieke Aramese dialekte (Beyer 1986:54–5).

Ons sien dus dat wanneer daar in die algemeen na Aramees verwys word, dit nie sonder ingewikkeldheid is nie. Natuurlik is daar, op ’n bepaalde vlak van abstraksie, ooreenkomste tussen die verskeie dialekte van Aramees, maar om te sê dat die 1ste-eeuse Galilese Aramees wat Jesus en sy dissipels gepraat het dieselfde is as die 2de/3de-eeuse Middelsiries van die Pesjitta, soos die PWL (2015:i, 1678) wel doen, of selfs dieselfde is as Neo-Aramees, is hoogs problematies en feitelik nie korrek nie, veral nie wanneer dit gaan oor teksvariante van die Bybel nie.

Yamauchi (1974:327) noem:

The Syriac of the Peshitta is not the language of coastal Syria around Antioch, which was evangelized in the first century A.D., but of the area in the interior around Edessa, one hundred fifty miles from the coast, which was evangelized between A.D. 116 and 216.

Alhoewel dit baie na haarklowery lyk, moet mens hierdie mikroverskille in ag neem wanneer daar na antieke brontekste gekyk word, aangesien ’n klein verskil groot implikasies in terme van die tyd en plek van ontstaan van ’n manuskrip kan hê. Dit is ook belangrik om te weet dat dit een ding is om na ’n taal te verwys wat gepraat is, en totaal iets anders as dit gaan oor ’n taal wat geskryf is, waaroor die volgende afdeling handel.

 

3. ’n “Oorspronklike” Aramese Nuwe Testament? George Lamsa, die PWL, en die Pesjitta-voorrangsteorie

Soos bo genoem, voer die PWL aan dat dit ’n vertaling van die Bybel gebaseer op die Hebreeuse en Aramese (Pesjitta) tekste van die Ou Testament is en dat slegs die Pesjitta (en veral die sogenaamde Khabouris-kodeks) gebruik is as bronteks vir die Nuwe Testament. Hierdie artikel fokus hoofsaaklik op die stellings wat oor die Nuwe Testament gemaak word, aangesien dit die mees omstrede is. Dit beteken nie dat daar nie ernstige probleme met die gebruik van die Pesjitta as bronteks vir die Ou Testament is nie. Ook hierdie probleme sal in hierdie afdeling duidelik word. Laat ons eers by die basiese beginsels by die gebruik van bybelse brontekste begin.

3.1 Die konsensus-siening

In teenstelling met die vertaling van die PWL word hoofstroomvertalings van die Bybel vanuit die Hebreeuse en ook Aramese (vir die Aramese teksgedeeltes aan die begin van die studie genoem) weergawes van die teks vir die Ou Testament gedoen. Vir die vertaling van die Nuwe Testament word slegs die antieke Griekse teks (in ’n dialek wat oor die algemeen bekend staan as koinê, wat “gemeenskaplik” of “algemeen” beteken) as bronteks gebruik (Epp 2013:1–40). Hieroor word mens vroeg reeds in die Bybelskool of tydens teologiese studies ingelig. Daar is bykans geen gerespekteerde Bybelwetenskaplike in die akademie wat, met die bewyse en manuskripte wat tans beskikbaar is, sal beweer dat die Nuwe Testament nie oorspronklik in Grieks geskryf is nie. Alhoewel daar inderdaad spekulasie oor ’n Aramese agtergrond vir Matteus en Markus is, is daar ongelukkig geen direkte tekstuele getuienis hiervoor nie. Tensy daar een of ander uitsonderlik groot historiese ontdekking in die toekoms gemaak word (wat natuurlik nie onmoontlik is nie), sal hierdie konsensus onder akademici bly staan. Dus, al het Jesus en sy dissipels Aramees gepraat, is die vroegste Christelike geskrifte wat ons het, in Grieks geskryf.

Die redes hiervoor is meervoudig en gaan nie hier in besonderhede bespreek word nie. Die hoofrede vir die taal van die Nuwe Testament is die hellenisering (wat letterlik “vergrieksing” beteken) van die Nabye Ooste wat begin het in die 4de eeu v.C. met die veroweringstogte van Aleksander die Grote en wat in die eeue daarna gevestig geraak het (DeSilva 2004:39–41). Dit het nie sonder weerstand gebeur nie. ’n Aantal Jode binne Palestina byvoorbeeld was nie gelukkig met die instelling van die Griekse taal, kultuur en godsdienstige gebruike nie. Dit was juis vroeg in die 2de eeu v.C. tydens die heerskappy van Antiogus IV, met sy helleniserende praktyke, dat die Makkabese opstand plaasgevind het (1 Makk. 1–2). Teen hierdie tyd was Grieks egter reeds as die nuwe lingua franca van die antieke wêreld gevestig en dit het selfs so gebly in die Romeinse Ryk, waarin Latyn die amptelike taal was. Grieks was die taal van die 1ste-eeuse Mediterreense streek (Borchert 2011:15–43).

Natuurlik, soos ons alreeds in die vorige afdeling aangedui het, was die Ou Nabye Ooste, veral in die tyd van Jesus, ’n omgewing waarin baie tale gepraat en baie kulture verteenwoordig is, maar selfs hier het Grieks voorrang geniet. Alhoewel mense verskeie tale gepraat het, het die meeste mense in Grieks geskryf, sodat hul pennevrugte deur ’n wye gehoor gelees sou kon word. Die handeling van skryf was, in sigself, elitisties van aard; Jesus, sy dissipels, en die meeste van sy gehoor (met ’n paar uitsonderings) was juis nie deel van die elite nie. Ons moet ook die konteks waarbinne die Christelike gemeenskappe ontstaan het, in ag neem. Alreeds in die 1ste eeu, met die werksaamheid van Paulus, sien ons dat die kerk veral buite Palestina, in gebiede soos Klein-Asië (vandag Turkye) en Griekeland, groei ervaar het. In hierdie gebiede was die taal van die massas beslis nie Aramees nie, maar Grieks (Borg en Crossan 2010:59–92). Ons moet ook onthou dat baie Jode teen die einde van die Babiloniese ballingskap in die 6de eeu v.C. nie na Palestina teruggekeer het nie, maar in Babilon gebly het, of na ander gebiede gegaan het – insluitend gebiede in die Griekssprekende wêreld. Dit word die Joodse diaspora (of “verstrooiing”) genoem (Borchert 2011:69–72). In die tyd van die Nuwe Testament was daar ’n aantal bekende en invloedryke Joodse skrywers, soos Philo en Josefus, wat in Grieks geskryf het.

Een van die verdedigers van die Pesjitta-voorrangsteorie en die Lamsa-Bybel, Lataster (2009), beweer dat daar geen bewyse vir die Griekse oorsprong van die Nuwe Testament is nie en redeneer dat Jesus en die dissipels Arameessprekend was en so ook hul gehore, dus moes al die geskrifte in Aramees gewees het. Hierdie sienswyse is egter misleidend en oningelig, aangesien die oudste tekste van die Nuwe Testament wat ontdek is in Grieks geskryf is (Metzger 2005:36–66) en daar geen vroeëre Aramese manuskripte van die Nuwe Testament gevind is nie. Die inskripsies van die streek bevestig ook die verspreiding en algemene gebruik van Grieks. Yamauchi (1974:326) skryf van George Lamsa, wat die Pesjitta-voorrangsteorie gewild gemaak het, die volgende: “Lamsa, who seems to be ignorant of the inscriptional evidence, is under the delusion that ‘Greek was never the language of Palestine.’” Yamauchi voel dat Lamsa in ’n waan verkeer wanneer hy so ’n stelling maak. Lamsa (1989:ix) verwys na die bekende antieke Joodse historikus Josefus (Ant. 20.12.1; Whiston 1999:660) om sy punt oor die afwesigheid van Grieks te staaf. Die PWL (2015:1678) volg Lamsa in hierdie opsig na: “Soos Josephus self erken: weinig van hulle kon Grieks vlot praat.” Wanneer die stelling van Josefus, wat in Ant. 20.12.1 voorkom, egter in konteks gelees word, word sy bedoeling duideliker. Hy sê:

Ek het hard gewerk om die lering van die Grieke te bekom en om die fasette van die Griekse taal te verstaan, alhoewel ek vir so lank gewoond was om ons eie taal [Aramees] te praat, dat ek nie die Grieks korrek kon uitspreek nie. (Vertaling De Wet uit die LCL-teks van Feldman 1965)

Josefus sê nêrens dat hy of die Jode van sy tyd nie Grieks kon praat nie. Hy sê die teenoorgestelde: hy het juis Grieks geleer, maar het bloot met die uitspraak en aksent gesukkel. Na hierdie stelling bevestig hy dat baie mense, selfs slawe, die taal geleer het. Lamsa en die PWL se verwysing is veral ironies aangesien die aangehaalde gedeelte deur Josefus in Grieks geskryf is. Lamsa (1989:xii) glo selfs dat Paulus se briewe oorspronklik in Aramees geskryf en later vertaal is ter wille van bekeerlinge uit die heidene. Paulus kon beslis Aramees praat, maar min mense in die gehore van Paulus in Klein-Asië en Griekeland sou Aramees verstaan het. Paulus het in Grieks met sy bekeerlinge buite Palestina gekommunikeer, en Aramees gepraat slegs wanneer hy tussen Jode of in Palestina was (sien Hand. 22:2). Paulus is inderwaarheid nie eers in Palestina gebore nie, maar in die stad Tarsus, wat in die Romeinse provinsie van Silisië was, waar Grieks die algemene spreektaal was (Borg en Crossan 2010:11–2).

3.2 George M. Lamsa en die PWL

Wanneer vir die PWL-vertaling (2015:i, 1678) die Aramese bronteks bo die Griekse brontekste verkies word, is die implikasie dat die Grieks nie oorspronklik en betroubaar is nie. Wanneer ’n mens op die webwerf van die PWL soek, onder die talle dokumente en PowerPoint-aanbiedinge, word hierdie weersin teen die Grieks bevestig. Op een van die PowerPoint-aanbiedinge, getitel “Opsoek na die Waarheid” (PWL-Web4 s.j.), word ’n baie simplistiese saak teen die oorspronklikheid van die Grieks van die Nuwe Testament gemaak. Die aanbieding, wat uit 86 skyfies bestaan, stel dit basies dat die Nuwe Testament nie in Grieks geskryf is nie om die volgende redes: 1) die plekke, idiome, name, en “grammatika” (die bedoeling hier is nie duidelik nie) van die Nuwe Testament is Aramees; 2) die persoonlike naam van God (hiermee, soos dit voorkom, word moontlik Jahweh of ’n ander Hebreeuse vorm bedoel, maar dit is onduidelik) verskyn nie in die Grieks nie; en 3) Jesus en die eerste dissipels móés Aramees gepraat het, en dus ook daarin geskryf het. Daar word dan dikwels verwys na “meer as genoeg bewyse” (PWL-Web4 s.j., skyfie 15) of “onweerlegbare bewyse” (PWL 2015:1678) vir Aramees as die taal van die oorspronklike teks van die Nuwe Testament – ongelukkig word die “bewyse” nêrens duidelik en sistematies uitgelê nie.

Die aannames wat die PWL, en dus Coetzee, maak, is nie nuut nie – dit het eintlik ’n lang en ingewikkelde geskiedenis. Om die kern van die PWL se ideologie en voorveronderstellings, en dus ook die ideologie van Coetzee, te verstaan, moet ons by die werk van George M. Lamsa (1892–1975) begin.

In 1933 publiseer Lamsa sy eie vertaling van die Bybel met die titel The Holy Bible from Ancient Eastern Manuscripts, wat ook bekend staan as die Lamsa-Bybel – hy het daarop aangedring dat die Griekse teks nie oorspronklik en betroubaar is nie (sien ook Magiera 2006:5–7). Lamsa se outobiografie (Lamsa 1966) skets ’n interessante beeld van die man. Hy is in Mar Bishu in oostelike Turkye gebore, en was ’n Neo-Aramese spreker wat homself binne die Nestoriaanse kerklike tradisie gevestig het (Juedes 1989). Lamsa het graag gesê dat sy vertaling en interpretasie van die teks meer akkuraat is omdat hy die taal van Jesus self praat en in ’n gebied gebore is waar min modernisasie plaasgevind het, waar die “suiwere” bybelse kulturele praktyke soos in die tyd van Jesus steeds gevolg is (Lamsa 1971:vii–viii). Op grond van die stellings van die vorige afdeling is so ’n aanname ooglopend problematies.

’n Samesweringsteorie skuil agter al die aannames. Lamsa noem dat sommige “oorspronklike” Aramese geskrifte verlore geraak het en baie ander deur die kerk vernietig is omdat die betrokke geskrifte leerstellings bevat het wat teen die ortodokse leerstellings van die Konsilie van Nisea (325 n.C.) was en omdat sekere tekste in die Bybel opsetlik deur die kerk vervals is (Lamsa 1945, xiii–xv; 1947, 97; sien ook Juedes 1989). Daar is egter in geen antieke bronne melding van Aramese Nuwe-Testamentiese manuskripte wat verbrand of vernietig is nie. Lamsa se Bybel was baie gewild en die agterblad toon aanbevelings van bekende predikante soos Billy Graham en Oral Roberts.

Een van Lamsa se volgelinge is Neil Douglas-Klotz, wat ook die Nuwe Testament uit die “Aramese oorspronklike” vertaal en uitlê (Douglas-Klotz 2010). Daar is baie ander groepe, veral in die VSA, wat hulself koppel aan die leringe van Lamsa, veral die sogenaamde Aramaic Bible Society en Janet M. Magiera van Light of the Word Ministries.

Die werk van Coetzee en die bediening van die PWL in Pretoria moet dus vanuit die breër Lamsa-beweging verstaan word.

Verder is daar die Nuwe Lied Bediening van Johan Kriel in Jeffreysbaai wat geassosieer word met Coetzee en daarmee dan ook met Lamsa (Nuwe Lied s.j.; sien ook PWL-Web5 s.j.).

Uitgawes van die Aramese Nuwe Testament verskyn aanhoudend: die vyfde weergawe van Andrew Roth se Aramaic English New Testament het in 2012 verskyn.

Die enigste deeglike akademiese kritiek teen Lamsa se teorieë is vervat in ’n 1974-artikel van die bekende historikus Edwin Yamauchi.

3.3 Die Pesjitta-voorrangsteorie

Oor die werk van Lamsa en sy nakomelinge skryf die bekende navorser van antieke Aramees, Bruce Chilton van Bard College in New York die volgende:

A still less defensible tendency confuses Aramaic of the first century with Syriac, a different form of the language. The approach of George Lamsa, who used the Peshitta Syriac version as an index of replicating Jesus’ teaching in Aramaic, has been taken up and popularized by Neil Douglas-Klotz. This approach willfully perpetuates a basic confusion of language, since Aramaic and Syriac come from different centuries and areas (although they are closely related Semitic languages), and is based on uncritical treatment of the Peshitta, a Syriac version of the Gospels. (Chilton 2010:65)

Die hoofbeginsel agter die Lamsa-Bybel en die PWL is dat die Pesjitta gebruik moet word as bronteks vir die vertaling van die Bybel, aangesien Jesus se oorspronklike taal Aramees was en die “Aramees” (oftewel die Siries) van die Pesjitta dus die “oorspronklike” woorde van Jesus en die skrywers van die Nuwe Testament sou weerspieël. Soos vroeër genoem en bevestig deur Yamauchi en Chilton hier bo, is die taal van die Pesjitta, wat Siries is, en die taal van Jesus, Galilese Aramees, beslis nie dieselfde nie. Jesus en die skrywers van die Nuwe Testament het nie die Siries van die Pesjitta gepraat óf geskryf nie.

Die Pesjitta is vandag die algemene Bybel wat in die kerk van die Siriese tradisie gebruik word en is dan ook die amptelike Bybel wat in Lamsa se kerklike tradisie gebruik word. Die Pesjitta self is ’n uiters belangrike dokument, aangesien dit ’n venster op die lewe van die vroeë Siriese kerk verskaf. Die probleem lê dus nie by die Pesjitta nie, maar by die idee dat die Pesjitta voorkeur as bronteks bo ander tekste vir die vertaling van die Bybel moet geniet. Die Pesjitta is self ’n vertaling en dit is uiters problematies om ’n vertaling te gebruik om nog ’n vertaling saam te stel.

Interessant genoeg het die vroeë kerk ook dieselfde fout gemaak deurdat sommige van die eerste Latynse vertalings (die Vetus Latina of Ou Latynse Bybel) van die Ou Testament nie uit die Hebreeus gemaak is nie, maar hoofsaaklik uit die Septuaginta. Op daardie stadium was die kerk baie negatief oor enigiets wat Joods of Hebreeus was. Ons kan die sienswyses van Lamsa en Coetzee dus verstaan as die teenoorgestelde hiervan; waar die vroeë kerk agterdogtig was oor enigiets wat Hebreeus of Aramees was, is Lamsa en Coetzee nou agterdogtig oor die Grieks. Dit was eers die kerkvader Hieronymus (in sy Liber de optimo genere interpretandi [of Brief 57], wat in Latyn beteken “Boek aangaande die beste manier om ’n vertaling/uitleg te maak”), wat verantwoordelik was vir die nuwe Latynse vertaling, die Vulgaat, wat aanbeveel het dat die Ou Testament uit Hebreeus vertaal moes word, terwyl die Nuwe Testament steeds uit die Grieks vertaal is. Ongelukkig is die Vulgaat eers aan die einde van die 8ste eeu, gedurende die Karolingiese tydperk, algemeen aanvaar (Marcos 2000:338–9).

Die datum van die Ou Testament-Pesjitta is onseker: soos die meeste antieke vertalings van die Bybel, byvoorbeeld die Griekse Ou Testament, of die Septuaginta, is die boeke van die Pesjitta heel waarskynlik oor ’n lang tydperk stelselmatig deur verskillende vertalers voltooi. Dit lyk asof die meeste van die Ou Testament-deel van die Pesjitta tussen die 2de en die 3de eeu n.C. voltooi is. Hulle het ’n Hebreeuse grondteks gebruik, maar het soms ook die Targums en die Griekse Septuaginta geraadpleeg (Brock 2006:17–8). Behalwe die feit dat die Pesjitta ’n vertaling is, is dit dus ook ’n redelik laat weergawe van die Ou Testament.

Die Pesjitta is nie die enigste Siriese vertaling van die Ou Testament nie. Hiernaas bestaan die sogenaamde Siro-Heksapla, wat in Siries vanuit die Griekse Ou Testament vertaal is – die meeste daarvan deur biskop Paulus van Tella, moontlik tussen 615 en 617 n.C. Die Siro-Heksapla was baie gewild in die Siriese kerk en soms is dít eerder as die Pesjitta in die liturgiese lectionaria (skrifleesboeke) gebruik (Brock 2006:28). Wat dit vir ons sê, is dat die Siriese antieke tradisies, ook dié waaraan Lamsa verbonde was, nie dieselfde afkeer van die Griekse Bybel as Lamsa en Coetzee getoon het nie. Taylor (2002:298–331) lewer oortuigende argumente vir die Siries-Griekse tweetaligheid van die streek waarbinne hierdie manuskripte ontstaan het. Lamsa is dus nie eens ten volle getrou aan die geskiedenis van sy eie kerktradisie nie.

Sover word daar steeds nog slegs oor die Ou Testament gepraat.

Die Nuwe Testament-Pesjitta, wat deur Lamsa en Coetzee as bronteks vir die Nuwe Testament gebruik word, is nog meer problematies as die Ou Testament-Pesjitta. Die grootste deel van die Nuwe Testament-Pesjitta is nie ’n nuwe vertaling vanuit die Grieks nie, maar ’n hersiening van ’n ouer Siriese vertaling, wat ons die Oudsiries noem (Metzger 2005:98–99). Die Oudsiries kom na ons toe deur twee manuskripte, naamlik die Sinaïtikus-palimpses en die Curetonianus-manuskrip – maar dié manuskripte bevat slegs die evangelies. Daar is onsekerheid oor watter ander Nuwe-Testamentiese geskrifte benewens die evangelies in die Oudsiries teenwoordig was. Die hersiening van die Oudsiries in die Pesjitta was ’n lang en ingewikkelde proses wat volgens Brock (2006:34) waarskynlik eers vroeg in die 5de eeu n.C. voltooi is. Verder moet ons verstaan dat die Pesjitta sekere boeke van die Nuwe Testament, naamlik 2 Petrus, 2 en 3 Johannes, Judas, en Openbaring, weglaat. Hierdie boeke is nie deur die vroeë Siriese kerk as gesaghebbend beskou nie en is dus weggelaat.

Bogenoemde boeke van die Nuwe Testament is moontlik eers in die 6de eeu in Siries vertaal, dalk deur Philoxenus van Mabbug; daar is ongelukkig nie sekerheid hieroor nie (Brock 2006:35–36). Philoxenus se weergawe was ook meer van ’n hersiening van die Pesjitta as ’n splinternuwe vertaling, afgesien dan miskien van die weggelate geskrifte. Ons is wel seker dat die eerste volledige vertaling van die Nuwe Testament in Siries wat al die boeke insluit eers in die 7de eeu deur Tomas van Harkel voltooi is – die sogenaamde Harkleaanse weergawe. Dit was, soos vorige vertalings waarna reeds verwys is, baie gewild in die Siriese kerk.

Dit is ironies dat daar oortuigende tekens is dat die Nuwe Testament-Pesjitta die Oudsiries in terme van die evangelies gevolg het, maar soms ook aanpassings gemaak het om nader aan die Griekse evangelies van die Nuwe Testament te wees. Die antieke samestellers van die grondteks wat Lamsa en Coetzee gebruik het, het dus self die voorrang van die Griekse Nuwe Testament erken. ’n Internasionale kenner van die Pesjitta en professor aan die Noordwes-Universiteit, Herrie van Rooy (2015:1–12), wys aan die hand van ’n gevallestudie van die Ou-Testamentiese aanhalings in die Siriese weergawes van Matteus op die volgende: “Die Nuwe Testament Pesjitta het waarskynlik met ’n teks naby aan die Oud Siriese begin, maar het dit dikwels aangepas om dit nader aan die Griekse Nuwe Testament te bring.”

Die Pesjitta-voorrangsteorie wat Lamsa en Coetzee volg, misluk daarom grootliks op twee vlakke: eerstens is dit tekskrities gewys nie verantwoordbaar nie, want daar is geen vroeë bewyse van “oorspronklike Aramese” geskrifte vir die Pesjitta nie en die Pesjitta is in elk geval nie in Wes-Aramees geskryf nie, maar in Siries; tweedens is die Pesjitta nie die enigste Siriese weergawe van die Nuwe Testament nie. Dit is problematies as ’n bronteks vir die Nuwe Testament omrede dit in Siries geskryf is, baie laat voltooi is, onvolledig is, en in sommige gevalle ’n hersiening van die Oudsiries is. Mens sou vir voorstanders van die Pesjitta-voorrangsteorie kon vra waarom hulle nie byvoorbeeld die Oudsiries dan vir die evangelies gebruik het nie, of dalk Tatianus se Diatessaron, wat ’n samestelling of “harmonie” van die vier evangelies in een is. Ons is nie seker wat die oorspronklike taal of datum van die Diatessaron is nie, maar ons weet dat die Siriese weergawes hiervan lank voor die Pesjitta in die vroeë Siriese kerk gewild was. Die bekende Siriese kerkvader Afrem het ’n hele kommentaar op die Diatessaron geskryf. Die vraag is waarom ’n obskure Pesjitta-kodeks, naamlik die Khabouris (sien 3.4 hier onder), gebruik word en nie die Oudsiriese Sinaïtikus-palimpses of Curetonianus-kodeks (ten minste vir die evangelies) nie.

Die laaste spyker in die kis vir die Lamsa-Bybel en die PWL is dat daar wel ’n Christelike, Palestyns-Aramese weergawe (ook bekend as die Siro-Palestynse weergawe) van die Nuwe Testament bestaan wat deur die Melkiete gebruik is en wyd in die gebied van Palestina verspreid was. Hierdie teks is ook in die 6de eeu n.C. voltooi (Williams 2013:155). Daar is ongelukkig nog min navorsing oor hierdie teksweergawe gedoen.

Ten slotte kan daar genoem word dat die Pesjitta en al die ander Siries-Aramese weergawes van die Nuwe Testament belangrike en waardevolle dokumente is en dat ’n mens hulle wel sou kon gebruik om vroeëre Siries-Aramese teksgebruike en eksegetiese tradisies te rekonstrueer. In hierdie geval sou die Oudsiries eerder as die Pesjitta voorrang geniet (ten minste, dan, vir die evangelies). Om weer vir Chilton (2010:65–6) aan te haal: “[T]he supposition that a Syriac version as it stands represents the Aramaic Jesus spoke and therefore gives his teaching more accurately than the Greek Gospels is tendentious in the extreme.”

Kan die PWL dan tog op sy eie as ’n verteenwoordigende vertaling van die Pesjitta in Afrikaans geld en dus tot ’n mate ’n bydrae lewer? Selfs hier is daar probleme: die Lamsa-Bybel en die PWL verteenwoordig nie goeie vertalings van die Pesjitta nie. Soos vroeër genoem, is die Pesjitta, volgens die kanonstandaarde van Westerse kerktradisies, ’n onvolledige Bybel. Die PWL vul die teks aan met boeke wat nie oorspronklik daarin voorkom nie, en daar is gedeeltes in die teksvolgordes wat nie met dié van die Pesjitta klop nie. As ons die voorbeeld neem van Johannes 7:53–8:11, oor die vrou wat in owerspel betrap is (genoem die pericope de adultera), dan sien ons dat die meeste van die vroegste manuskripte, Griekses en Sirieses, insluitend die Pesjitta, hierdie teksgedeelte weglaat. Die kanse is dus baie goed dat dit nie in die oorspronklike Johannesevangelie was nie, maar ’n latere toevoeging is. Tog voeg die PWL hierdie perikoop by, teen die volgorde van die Pesjitta.

Coetzee skryf in hierdie verband:

Die gedeelte vanaf Yog [d.i. Johannes] 7:53–8:11 word gevind in 8 Aramese manuskripte asook in meeste Griekse manuskripte en word baie na verwys deur die Kerkvaders. Peshjitta en Khabouris bevat nie die gedeelte nie. Ek glo nie hierdie was ’n invoeging nie maar ’n weglating deur die persoon wat dit oorgeskryf het. Die baie naby visuele ooreenkoms van die oorspronklike karakters van die begin van 7:53 en die begin van 8:12 het dit veroorsaak. Hy het die karakters gesien, weggekyk, die ander karakters gesien toe hy terugkyk en aangeskryf. Die karakters met ink op perkament is nie so duidelik soos op rekenaar nie. (PWL 2015:1693. Nota: hierdie opmerking kon slegs in die elektroniese weergawe van die PWL opgespoor word; sien PWL-Web6 s.j.)

Die manuskripte waarin die teksgedeelte voorkom, word natuurlik nie genoem nie en nou skielik word daar verwys na die Grieks. Dit word gedoen terwyl die oudste Griekse manuskripte, soos uiteengesit deur Hoskyns (1961:563–64) en Morris (1995:778–80), die teksgedeelte juis nie bevat nie. Van die vroegste kommentare van die kerkvaders op die Johannesevangelie, byvoorbeeld dié van Origenes (3de eeu n.C.) of Johannes Chrysostomus (4de eeu n.C.) bevat ook nie die teksgedeelte nie. Coetzee is dus feitelik verkeerd in hierdie geval, beide oor die Griekse manuskripte en oor die kerkvaders. Morris (1995:779–80) noem wel dat die perikoop meer gewild was by Westerse (Latynse) skrywers as by Oosterse (Griekse en Siriese) skrywers. Met “Aramese manuskripte” bedoel Coetzee sekerlik Siries, maar die pericope de adultera is ook in die vroegste van hierdie manuskripte weggelaat, behalwe in baie latere weergawes (Hoskyns 1961:563–4). Die gedagte dat die kopieerder se oog “gespring” het, is bloot ’n raaiskoot. Ook baie toevallig dat die kopieerder se oog só spring dat dit aan die begin van hierdie gedeelte spring en dan weer aan die begin van die volgende gedeelte voortlees. Die ooreenkoms van die voorkoms van die Siriese letters (wat Coetzee met ’n foto in die PWL (2015:1693) vertoon) is nie vir almal ooglopend nie en geld beslis nie in die geval van die Grieks nie. Coetzee is daarom selfs nie eens getrou aan die Pesjitta nie en gebruik die Griekse manuskripte as verwysings wanneer dit sy argument pas.

Laastens noem Coetzee dat die “Gwilliams-Pinkerton [sic] 1920 kritiese uitgawe” (PWL 2015:1678) van die Pesjitta gebruik is vir die vertaling (saam met die Khabouris-kodeks). Mens is nie seker watter teks hiermee bedoel word nie. Die standaard kritiese uitgawe van die Pesjitta is die 1987-heruitgawe (wat ook die apokriewe geskrifte bevat) van die United Bible Societies (UBS), wat Lee se 1826-teks weergee, of volumes van die Leiden Pesjitta-projek wat deur Brill uitgegee word. Die Sirioloë Philip Pusey, George Gwilliam (nie Gwilliams, soos die PWL lees nie) en John Gwyn was medewerkers aan die UBS-weergawe en het elk tot verskeie afdelings bygedra (sien ook Pinkerton en Kilgour 1920). Daar is wel ’n Gwilliam-Pinkerton-uitgawe van die Pauliniese briewe, maar nie van die res van die Nuwe Testament nie. Wat is dan vir die vertaling van die evangelies en Handelinge gebruik? Dit lyk asof dit die Khabouris-kodeks is (wat hierna bespreek sal word), maar dit is weer eens nie ’n kritiese uitgawe nie en dit maak nie sin om nie krities-wetenskaplike uitgawes te gebruik by vertalings nie.

Binnekort meer oor die Khabouris-kodeks, maar wat ons voorlopig kan sê is dat die Khabouris-kodeks self ’n vroeg-Middeleeuse manuskrip is wat weer eens net 22 boeke van die Nuwe Testament bevat. Die vraag is waarom Gwilliam-Pinkerton gebruik is vir die Pauliniese briewe en nie die Khabouris nie? Oftewel, waarom is hierdie twee saam gebruik, maar nie ander kritiese weergawes nie? Daar word wel genoem dat Gwyn se kritiese uitgawe van die Algemene Briewe en Openbaring gebruik is. Waarom dan nie net die hele UBS-weergawe gebruik nie? Geen presiese duidelike inligting word gegee oor die Ou Testament se kritiese uitgawes wat gebruik is nie – slegs kodekse word genoem (Westminster Leningrad en Aleppo), maar dit verteenwoordig nie ’n kritiese uitgawe, soos die Biblia Hebraica Stuttgartensia (BHS), nie – die Leningrad-kodeks is wel die basis van die BHS.

Hierdie onduidelike en selfs wisselvallige verwysings na kritiese uitgawes van brontekste moet enige leser bekommer. Die PWL (2015:1678) noem wel dat die Lamsa-vertaling as “verwysing” gebruik is – maar wat hiermee bedoel word, is weer eens onduidelik. Is die PWL dan, op die ou einde, dalk net ’n Afrikaanse vertaling nie van die Pesjitta nie, maar van die Lamsa-Bybel met sporadiese verwysing na antieke tekste (soos Lamsa dit ook doen)? Is dit dalk vertaal, saam met die Lamsa-Bybel (en moontlik Roth se 2012-vertaling), met behulp van ’n interliniêre weergawe? In hierdie geval word Glenn Bauscher se Peshitta Aramaic-English New Testament: An Interlinear Translation (2006) tog in die PWL (2015:1678) genoem. Bauscher se teks is ook nie sonder meer aanvaarbaar nie – dit is ’n amateuragtige weergawe van die Nuwe Testament wat basies aan geen wetenskaplike vereistes voldoen nie. Dit is uitgegee deur Lulu Press, wat ’n selfuitgewery is. Bauscher het dus self hierdie weergawe sonder enige onafhanklike akademiese keuringsprosesse gepubliseer. Alhoewel die vraag nie met sekerheid op grond van die publikasie bewys kan word nie, lyk dit by vergelyking asof Lamsa se vertaling, en dalk Bauscher se interliniêre weergawe, baie invloedryk was met die samestelling van die PWL. Mens wonder ook hoe ’n vertaler wat die hele Pesjitta in Afrikaans vertaal het, kan sê dat die Pesjitta in Aramees geskryf is as dit eintlik, streng gesproke, ’n Siriese teks is – hy ken dus nie die basiese verskil tussen Westelike en Oostelike Aramese dialekte nie. Nadat ek per e-pos met drie plaaslike Suid-Afrikaanse Sirioloë, almal gesiene professore aan universiteite, gekorrespondeer het, het hulle bevestig dat hulle nog nooit van Coetzee gehoor het nie. Hiermee kan natuurlik nie bewys word dat die PWL uit Engels eerder as Hebreeus en Aramees/Siries vertaal is nie en daar kan ook nie gesê word dat Coetzee nie in staat is om vertalings uit Hebreeus, Aramees of Siries te doen nie. Die “vertalingsinligting” in die PWL-publikasie (PWL 2015:1678–9) sal egter die meeste kenners agterdogtig laat.

Laastens, wanneer ons van nader na die vertaling van ’n paar tekste van die PWL (wat ook die geval is vir die Lamsa-Bybel oor die algemeen) kyk, sien ons dat hul pro-Aramese/anti-Griekse ideologie ongelukkig ook hul vertaling beïnvloed het. ’n Leser van die PWL sal byvoorbeeld onmiddellik agterkom dat in die verse van die Nuwe Testament waar daar na Grieke verwys word, dikwels eerder Arameër(s) gebruik word. Dit verskyn so in die volgende verse: Handelinge 19:10, 17, 20:21; Romeine 2:9–10, 3:9; 1 Korintiërs 1:22–24, 10:32, 12:13; Galasiërs 3:28. Volgens die standaard kritiese weergawe van die Griekse Nuwe Testament-teks, die Nestle-Aland Novum Testamentum Graece (28ste uitgawe, 2012), is die Griekse woord vir Griek(e) wat in hierdie tekste gebruik word, onderskeidelik Hellên of Hellênes. Wanneer mens na die Siries van die Pesjitta kyk, dan sien mens iets interessant. Soos die meeste Semitiese tale is Siries (asook Hebreeus en Aramees) ’n taal wat met of sonder vokale geskryf kan word. Dikwels word Siries, soos Hebreeus, sonder vokale geskryf. Wanneer die Siriese woord wat gebruik word vir Griek(e) in die Pesjitta gevokaliseer word, is daar twee moontlikhede, naamlik cârâmâyâ en carmâyâ – neem kennis van die toevoeging van een vokaal (â) in die vokalisering (Salvesan 2009:207). So op die oog af lyk die vertaling van Lamsa en die PWL, naamlik Arameër in plaas van Griek, korrek; maar wanneer daar van nader na die gebruik van die woorde gekyk word, word dit duidelik dat die lewering Arameër vir Griek uit die Siries van die Pesjitta eintlik verkeerd is.

Om dit te verstaan en te bewys moet ons begin by die Rabbynse literatuur. Stern (1994:17) toon aan dat die Rabbynse geskrifte (soos in B. Pes. 3b; B. Hul. 97a [Dik. Sof.]; sien Stern 1994:17 n. 108) soms die woord Arameërs gebruik om te verwys na nie-Jode oor die algemeen. Een van die moontlike redes hiervoor is die fonetiese eendersheid van die Hebreeuse en Aramese woorde vir Romeine en Arameërs (soms word Romeine as Aromiim geskryf). So gebeur dit dikwels dat in die Babiloniese Talmoed die woord Arameërs gebruik word om na die Romeine te verwys (Stern 1994:17, n. 106). In B.Git. 17a (sien Stern 1994:17, n. 107) lees mens byvoorbeeld dat die heerskappy van die Aromiim (dus, die Romeine) minder begeerlik is as die heerskappy van die Persiërs. Dieselfde gebeur in sommige geskrifte van die Halakhah (Lieberman 1965:86; Stern 1994:17–8). Ons sien dus reeds in die Rabbynse geskrifte dat die presedent geskep is om die woord Arameër te gebruik as ’n algemene verwysing na die “heidene” of selfs Romeine. Stern (1994:18) se gevolgtrekking is hier van belang: “I would stress that the Arameans are never described as an ethnic group with a distinct identity of their own (as Persians and Arabs occasionally are); they are no more than unspecifiable non-Jews.” (My kursivering. Sien ook Pines 1987:199.)

Die praktyk waarna Stern hier bo verwys, om ’n woord vir ’n algemene groep en ook vir ’n etniese groep te gebruik, vind ons ook by die Oosterse kerkvaders wat in Grieks geskryf het. Die Griekse woord Hellênes is gebruik om na heidene te verwys (Sandwell 2007:61–180). Johannes Chrysostomus verwys byvoorbeeld na die “Grieke” wat hulself deur kastrasie geskend het in hul toewydingspraktyke aan die godin Magna Mater (Hom. Matt. 62.3; Migne PG 58.599.42–600.7). Hy praat ongetwyfeld hier van die galli, ontmande priesters van die Anatoliese moedergodin Kybele (De Wet 2015:274–5) en nie van ’n spesifieke Griekse etniese groep nie.

Dieselfde kenmerk kom in vroeë Arabies voor, waar die woorde Rûm en Al-Rûmî oor die algemeen na die Romeine of Bisantyne (of selfs Christene) verwys. Dus, in die Koran, bestaan daar die Sûrat ar-Rûm, wat die dertigste surah (of hoofstuk) van die Koran is; dit is die een wat aangaande die “Romeine” (dit is nou die Bisantyne, wat eintlik, kultureel gesproke, Grieks was) geskryf is. Hierdie etniese veralgemening, wat Stern (1994:17, 20) “ethnographic blurring” noem, was dus nie net ’n kenmerk van antieke Hebreeus, Wes-Aramees, en Siries nie, maar selfs van die Griekse Christelike geskrifte van die tydperk en breë geografiese ligging waarbinne die Pesjitta ontstaan het, en later ook in die vroeë Arabiese geskrifte, veral die Koran.

Sokoloff (2002:169) en Salvesan (2009:207) bevestig dat daar twee vokaliseringsopsies vir beide die Hebreeuse en Siriese woorde vir Arameër of heiden is. Die samestellers van die Pesjitta vertaal Hellên in die bogenoemde Nuwe Testament-tekste dus korrek uit die Griekse bronteks, volgens hul kontemporêre gebruik van die woord (in Siries en Grieks), as carmâyâ (heiden), wat nie gelees moet word as cârâmâyâ (Arameër in die beperkte etniese sin) nie. Die vokalisering in die UBS-Pesjitta is ook carmâyâ en nie cârâmâyâ nie. Die skaarsheid van antieke bronne wat spesifiek na Arameërs as ’n afsonderlike etniese groep verwys, ondersteun so ’n lesing nog meer (en dit is nog ’n rede waarom ’n goeie tekskritiese weergawe van die Pesjitta teks gebruik moet word).

Ook kontekstueel maak die vertalings van die Lamsa-Bybel en die PWL nie sin nie. Die begin van die doopformule in Galasiërs 3:28, wat gewoonlik sou lees: “Daar is nie meer Jood of Griek nie”, lees nou in die PWL (2015:1584), “Daar is nie Jood of Arameër nie.” Die woord in die Pesjitta hier vir Griek is carmâyâ en nie cârâmâyâ nie. As mens carmâyâ hier as heiden verstaan (paganus in die Latyn), maak die teks meer sin, aangesien Paulus hier van kontraste gebruik maak om sy punt te staaf. Jood staan teenoor heiden, vry mens teenoor slaaf, en man teenoor vrou. Wat is in elk geval die verskil tussen ’n Jood en ’n Arameër? As die logika van die teks gevolg word, moet ’n Arameër die teenoorgestelde wees van ’n Jood, maar dit is nie waar nie. Mens sou kon argumenteer dat Jode ook, tot ’n mate, Arameërs was; ten minste Jode wat Aramees gepraat het. In 1 Korintiërs 1:22–24 verwys Paulus na die Jode wat tekens soek en die Grieke wat wysheid soek – laasgenoemde is ’n baie algemene verwysing na die Griekse filosofie, aangesien die Griekse woord vir wysheid hier sofia is. Korinte was ’n stad in Griekeland waar die Griekse filosofie algemeen bedryf is. Volgens die PWL (2015:1547) is dit hier die Arameërs wat wysheid soek. Dit maak net nie sin nie – van watter Korintiese Arameërs praat Lamsa en Coetzee nou eintlik? Die Siriese teks van die Pesjitta word dus (doelbewus?) verkeerdelik gelees en vertaal om die Pesjitta-voorrangsteorie te ondersteun, en op een of ander onsinnige manier te probeer bewys dat die mense vir wie Paulus geskryf het, nie Grieke was nie, maar Arameërs. Dit is ’n duidelike voorbeeld van waar ’n vertaler of vertalers se ideologie hul vertaling van ’n antieke teks bepaal.

3.4 Die Khabouris- en Yonan-kodekse

Die PWL meld dat die Khabouris- (soms Khaboris-) kodeks baie invloedryk was in die vertalingsproses, saam met een of twee ander kritiese uitgawes:

Die Gwilliams-Pinkerton 1920 kritiese uitgawe van die Peshitta, is gebruik langs die “Khabouris” (Oosterse Peshitta manuskrip, gekopieër vanaf ’n tweede eeuse (164 na Y’shua), intern gedateerde manuskrip). Hierdie ou manuskrip het in die mate waarin sy bladsye duidelik is, die kern van die vertaling uitgemaak. Ek het, met groot dank, die transkripsie van S.P. Silver hier gebruik. Dit is ’n getroue weergawe van die eerste eeuse geskrifte wat reeds vanaf die begin in die Kerk van die Ooste gebruik is. (PWL 2015:1678)

Wat presies is die Khabouris-kodeks? Die Khabouris is een van ’n aantal manuskripte van die Pesjitta. Daar is uiters min inligting beskikbaar oor die Khabouris-kodeks in erkende akademiese bronne. In ’n verslag van die 1972 Symposium Syriacum wat in Rome by die Pontificium Institutum Orientalium Studiorum gehou is, gee James Clemons (1974:506) ’n kort oorsig oor die teenwoordigheid van die manuskrip in die VSA. Die Khabouris is een van die kodekse wat deur Norman Yonan en sy prokureur, Dan MacDougald, van ’n Kurdiese klooster in 1966 aangeskaf is. Clemons het in 1971 daarvan te hore gekom. Dit is ’n goeie manuskripeksemplaar wat, volgens drie onafhanklike koolstofdateringstoetse in die 1980’s en ’90’s, in die 11de of 12de eeu n.C. saamgestel is. Die Khabouris is dus ’n Middeleeuse manuskrip van die Pesjitta (sien illustrasie 1).

Waarom sou ’n Middeleeuse manuskrip van die Pesjitta voorkeur bo al die ou Griekse papiri van die Nuwe Testament geniet? Volgens aanhangers van die Pesjitta-voorrangsteorie is daar ’n inskrywing in die kolofon wat noem dat dit ’n kopie is van ’n teks wat in 164 n.C. geskryf is – die PWL (2015:1678) beweer dit ook. Die probleem hier is dat die bestaan en outentiekheid van die kolofon se inskrywing nie bevestig is nie. Daar is ook nie eenstemmigheid oor die datum wat blykbaar in die inhoud van die kolofon verskyn nie. Volgens die PWL is die datum 164, maar volgens die beskrywing wat MacDougald vir Clemons gestuur het, word ’n 3de-eeuse datum in die kolofon genoem. Op ’n webwerf verklaar een van die beweerde medewerkers, James Trimm (2011), wat die moeilik leesbare kolofon blykbaar moes vertaal, dat daar geen teken van enige datuminskrywing is nie. Ongelukkig is die akademiese betroubaarheid van die webwerf onseker, maar daar is foto’s van en rubrieke oor die Khabouris en inligting oor die datering. Die Khabouris is dus beslis nie “’n getroue weergawe van die eerste eeuse geskrifte” (PWL 2015:1678) nie. Verder moet mens vra hoe ’n Middeleeuse kopieerder van ’n teks so ’n akkurate datum sou kon vasstel (amper 1 000 jaar later!), terwyl ons vandag met al ons tegnologie en tekskritiese vaardighede self nog baie sukkel met die datering van tekste. Dit is die krisis wat ons met interne daterings van manuskripte in die gesig staar. In elk geval is alle antieke tekste kopieë van ouer tekste, en selfs al is dit ’n direkte kopie van een of ander teks van 164 n.C., beteken dit ook nie dat die hipotetiese bronteks “oorspronklik” is nie; dit is steeds minstens ’n eeu na die meeste van die Nuwe Testament geskryf. Indien dit bestaan het, sou mens kon raai dat dit ’n teks kon wees wat saam met iets soos die Diatessaron ontstaan het. Dan is dit nog steeds nie geskryf in die Aramees van Jesus nie. Dit is op hierdie onvaste basis dat die PWL bou om die Khabouris as gesaghebbend en “oorspronklik” voor te stel en dit “die kern van die vertaling” te maak.

Illustrasie 1: Folio 360 van die Khabouris-kodeks, geskryf in die Estrangelo skrifstyl. Die rooi letters (rubrikasie) is kenmerkend van Middeleeuse manuskripte en kan beklemtoning aandui, of die begin van ’n nuwe afdeling, of in die geval van lectionaria, instruksies aan die leser. (M. Ryce 2006; Wikimedia Commons [https://commons.wikimedia.org/wiki/File:Kaburis-p360-photo.jpg])

Daar is nog iets te sê oor die oorspronklikheidsdiskoers wat aan die Khabouris gekoppel word. Volgens Metzger (1995:103–16) het Yonan en MacDougald vroeër ook ’n ander kodeks bekom, wat nou bekend staan as die Yonan-kodeks (illustrasie 2). Soms word die Yonan- en Khabouris-kodekse met mekaar verwar. Die verhaal wat Metzger vertel oor hierdie kodeks is skokkend. In die 1950’s, toe hierdie manuskrip in die openbare oog verskyn het, het Metzger (1995:106–7) die manuskrip gedateer as van rondom die 7de eeu n.C. op die vroegste, maar waarskynlik ’n bietjie later (sien ook Siegman 1956:151–7 vir ’n nuttige opsomming oor die kwessie van die Yonan-kodeks). Die Aramaic Bible Foundation (wat hulself met Lamsa geassosieer het) het, saam met ’n paar pastore, die Yonan-kodeks aangeskaf en onmiddellik met ’n toer binne die Amerikaanse “Bible Belt” begin. Die veldtog was baie gewild.

Llibre_manuscrit_dewet2

Illustrasie 2: Die Yonan-kodeks. (2015; Wikimedia Commons [https://commons.wikimedia.org/wiki/File:Llibre_manuscrit.jpeg])

Besondere aannames is gemaak oor die Yonan-kodeks, soos dat dit ’n baie ou teks is wat die taal van Jesus weergee (die Yonan-kodeks is ook geskryf in Siries, nie Wes-Aramees nie), baie soos wat gesê word oor die Khabouris.

Metzger (1995:108) vertel:

In the light of this background information we may now pick up the narrative of the subsequent fortunes of the Yonan Codex during its progress through the Bible Belt. The first stop made by the bus was at the chapel of the Southern Baptist Theological Seminary in Louisville, Kentucky. Here Professor Shapley delivered a lecture on the importance of the manuscript. Extravagant and misleading claims were made as to its date and the nature of its text. According to information sent to me by W.D. Chamberlain, professor of New Testament at the Louisville Presbyterian Theological Seminary, Shapley claimed that the Yonan Codex was one of the oldest, if not the oldest manuscript of the New Testament. He also referred to it as a copy of the original New Testament in Aramaic. After the lecture questions were invited, and Chamberlain began a series of inquiries that made it necessary for Shapley to admit that the codex was a copy of the Syriac Peshitta and that its text was, in fact, subsequent to the Old Syriac text.

Na hierdie gebeure het Yonan probeer om Chamberlain, die professor wat kritiek op die teks gelewer het, met dagvaardiging te dreig, maar niks het hiervan gekom nie (Metzger 1995:108).

Die oordrewe aannames oor datering en oorspronklikheid het natuurlik gedien om die finansiële waarde van die teks, asook die gewildheid daarvan, te laat vermeerder. Ons sien presies dieselfde met die Khabouris, en mens wonder of die gerug oor die 3de eeu-/164-kolofon-datum nie dalk ook om dieselfde redes ontstaan het nie. Anders as die Yonan-kodeks het die Khabouris-kodeks later in die Middeleeue ontstaan. Volgens Metzger (1995:116) was die Yonan-kodeks laas in die besit van die gerespekteerde Scriptorium Instituut in Grand Haven, Michigan. Die lot van die Khabouris-kodeks is meer onseker (Clemons 1974:506–7). Volgens die 2016-Wikipedia-inskrywing is die Khabouris tans in die besit van ’n private familie in die VSA, maar dit moet bevestig word. Die Yonan Codex Foundation het wel ’n vertaling van sekere gedeeltes, met verwysings na die Aramees, van die Khabouris in 1993 uitgegee.

Die vraag moet dan wees: As die Khabouris so ’n belangrike bron is, waarom het dit so te sê van die tekskritiese radar af verdwyn? Daar word ook gesê dat die Khabouris-kodeks, interessant genoeg, op ’n stadium gebruik is deur die Heartland-instituut, ’n groep wat geestelik-sielkundige genesing bewerk het, waar MacDougald ook betrokke was. Die PWL het die transkripsie van die Khabouris van Silver (2007) gebruik, wat gratis aanlyn aflaaibaar is (illustrasie 3). Silver se transkripsie is nie ’n kritiese uitgawe nie – dit vertoon bloot die Engelse teks, met die Siries daarlangs, met foto’s van die kodeksfolio’s. Ek kon nêrens in Silver se weergawe die presiese plek en posisie van die sogenaamde 164-inskrywing kry nie, aangesien die kolofon, sover ek kon sien, nie daar vertoon word nie. Die Khabouris is dus ’n baie problematiese teks, en geen Bybelwetenskaplike sou dit gebruik as primêre grondteks vir ’n algemene vertaling van die Nuwe Testament nie.

Kaburis-p360-syriac_dewet3

Illustrasie 3: ’n Voorbeeld van ’n getranskribeerde bladsy uit Silver se Khabouris-transkripsie. (S.P. Silver 2006; Wikimedia Commons [https://commons.wikimedia.org/wiki/File:Kaburis-p360-syriac.png])

 

4. Slot: Die probleem van “oorspronklikheid” en die kulturele aanloklikheid van oriëntalisme

Dit is noodsaaklik vir Bybelwetenskaplikes en ander belangstellende akademici om verby die onsinnigheid van die Pesjitta-voorrangsteorie en die beginsels van die Lamsa-Bybel te beweeg. Een van die waarskynlike redes waarom daar so min akademiese kritiek op die Pesjitta-voorrangsteorie en Lamsa is, met die uitsonderings van Metzger (1995), Siegman (1956) en Yamauchi (1974), is dat die aannames so teen die algemene akademiese konsensus indruis dat sommiges gevoel het dat “some things are not worth confuting” (’n stelling van die argeoloog William F. Albright van Johns Hopkins-universiteit; in Siegman 1956:152, nota 1). Tot dusver is dieselfde in hierdie artikel bewys. Tog is dit interessant om na bewegings wat binne die Lamsa-ideologie gegroepeer kan word, soos Coetzee en die PWL, as godsdienstig-kulturele verskynsels uit eie reg te kyk. So ’n volledige ondersoek sal natuurlik nog ’n artikel regverdig, maar vir nou is ’n paar oorsigtelike opmerkings nodig.

Slegs ’n paar dekades na die sages van Lamsa en die Yonan-kodeks is Edward Said se Orientalism (1979) gepubliseer. Alhoewel sy sienswyses heelwat in die afgelope jare ontwikkel het, is die uitgangspunt van die boek werklik grondleggend en dien dit vandag as ’n beginpunt vir baie studies oor postkolonialisme. Said se kommentaar kan ook help om die ideologiese onderbou van Lamsa en Coetzee se PWL beter te verstaan. Said se argument aangaande oriëntalisme lui dat die Westerse wêreld (dit is nou Europa, Amerika en hul kolonies) Oosterse gemeenskappe as onontwikkeld en staties voorstel. Hiervolgens kan Oosterse gemeenskappe bestudeer en gereproduseer word, en kan hulle ook gekenmerk word deur ’n bepaalde eenvoudige “andersheid” (“otherness”). Die implikasie is dan dikwels dat die Westerse wêreld ontwikkeling, vooruitgang en rasionaliteit verteenwoordig, en die Ooste die ou, verlore, mistieke wêreld. Die eksotiese en esoteriese aard van die Ooste is baie aanloklik vir die Weste, juis weens hierdie andersheid en voorgestelde onveranderlikheid.

Dit is ’n baie vereenvoudigde opsomming van Said se teorie; die boek self is veel meer gedetailleerd en genuanseerd. Wat belangrik is van Said se werk, is dat dit aandui hoe kulturele diskoerse en praktyke in die stryd om mag en in die skep van identiteit en groepsdifferensiasie gebruik word. Said se teorie het verder in ander rigtings ontwikkel (App 2015), en is nie vry van kritiek nie (Warraq 2007).

Die Lamsa-verskynsel pas ten volle in die beeld wat Said van Westerse sienswyses oor Oosterse gemeenskappe geskep het. Lamsa was ongelooflik gewild in Amerika. Lamsa het gebruik gemaak van Westerse onkunde en stereotipes oor die Ooste en dit ten gunste van sy eie publisiteit gebruik. Neem die volgende voorbeeld wat direk aangehaal is uit een van Lamsa se kommentare op die evangelies; die aanhaling is lank maar noodsaaklik om Said se oriëntalisme, soos dit in Lamsa se denke voorkom, aan te dui (Lamsa praat van homself as die outeur in die derde persoon; skuinsdruk is deur my):

The author of this book was born and reared in a unique civilization which had remained static from the time of Noah to the dawn of the twentieth century – in a region where customs and manners remained unchanged and unaltered, and where the people conversed in Aramaic the way the patriarchs and Jesus and his disciples did. Moreover, they used the same idioms and mannerisms of speech that were used in the Holy Bible. They wore the same garments and ate the same food, and used the same implements for plowing and threshing as did King David. The area wherein they lived was like a little island in a great ocean. They were surrounded by millions of non-Christians and people who spoke alien languages. Nothing new was introduced into this region until World War I. Only three years ago the Turkish Government opened the door of this land which in the old days, because of its abundant water, fruit trees and vegetables, was called the Garden of Eden. Moreover, the author was educated under the care of learned priests from the Church of the East who knew no other language but Aramaic, and highly educated Englishmen, graduates of Oxford, Cambridge and other famous English schools. The author, through God’s grace, is the only one with the knowledge of Aramaic, the Bible customs and idioms, and the knowledge of the English language who has ever translated the Holy Bible from the original Aramaic texts into English and written commentaries on it, and his translation is now in pleasingly wide use. The purpose of this book, like other works I have written, is to throw more light on the obscure passages of Jesus and to elucidate what seems hard and harsh to Western readers and clarify and strengthen the meaning of the Scriptures. (Lamsa 1968:xxviii–ix)

Lamsa voer hier aan dat hy die enigste persoon is wat, deur God se genade, die Bybel kan uitlê soos dit in die antieke tyd verstaan is. Sy regverdiging vir hierdie stelling berus presies op die beginsels van Said se oriëntalisme. Daar word genoem dat die gebied van Lamsa se oorsprong, Mar Bishu in oostelike Turkye, tot ’n mate in tyd vasgevang is. Modernisering het nie plaasgevind nie en die kultuur en taal van die gebied is identies aan die kultuur en taal van die Bybel. Die aanname is daarmee dat daar ’n onveranderde “kultuur van die Bybel” bestaan wat slegs vir diegene wat daarin gebore word, toeganklik is. Lamsa noem selfs dat hy gebore is in of ten minste naby aan die Tuin van Eden. Daar is ook ’n baie gesaghebbende kulturele “geslagsregister” versteek in die teks. Lamsa koppel homself direk aan Adam en Eva (Eden), Noag, Dawid, Jesus en die dissipels. Hy bou voort op die Westerse voorveronderstelling dat die Ooste die ou, mistieke en onveranderde wêreld is. Met hierdie strategiese gebruik van oriëntalisme is Lamsa dalk meer Westers as wat hy wil voorgee. Hy maak aanspraak op ’n opvoeding beide in die Ooste (onder die priesters van die Siriese (Nestoriaanse) kerk) en in die Weste (opgelei deur “hoogs opgevoede” Engelse mans van, onder andere, Oxford en Cambridge). Die verwysing na die Oosterse kerk staan ook in teenstelling met die Westerse kerk en skep die indruk dat die oorspronklike Christendom hier te vinde is. Dit is ironies dat Lamsa, wat self uit die Ooste kom, oriëntalisme op hierdie wyse as ’n magsdiskoers gebruik.

Lamsa bied homself aan as ’n rariteit, soos iemand wat vanuit die “bybelse wêreld” uit ’n tydreismasjien geklim het om moderne mense te vertel wat die Bybel “werklik” beteken. Hy noem dat hy, weens sy agtergrond, eintlik die enigste persoon is wat die Bybel korrek kan uitlê. Dit is ook waarom die diskoers van waarheid so kenmerkend van Lamsa-bewegings is. Die titel van die Afrikaanse Lamsa-Bybel is die “Pad van waarheid tot die lewe” (my skuinsdruk) – egtheid en oorspronklikheid word hier gelyk gestel aan waarheid. Die woord “waarheid” verskyn ook telkemale in die PowerPoint-aanbiedings op die PWL se webwerf. Lamsa beweer dat hy nie net oor kennis van die bybelse kultuur beskik nie, maar dat die bybelse kultuur as’t ware in sy lyf gegraveer is. Lamsa is die inkarnasie van die Bybel se spreektaal en idiome, kos, klere, landboupraktyke en godsdienstige gebruike. Lamsa se identiteit word geskep op grond van die esoteriese vreemdeling-dog-middelaar-beeld; hy is die “noble savage”, die onbedorwe gids, onaangeraak deur die beskawing, tot diens aan die onkundige en onwyse Westerlinge op hul reis deur die vreemde en verlore wêreld van Noag en Jesus. Die bybelse wêreld word as eenvoudig en onveranderd aangebied. Hier is geen ruimte vir ingewikkeldheid en onsekerheid nie; dit is ook waarom die basis van die Pesjitta-voorrangsteorie, naamlik dat Siries en Wes-Aramees dieselfde is, so ’n afskralende en vereenvoudigende uitgangspunt is. Dieselfde vorming, of dan vervorming, vind plaas in Lamsa se verstaan van die Bybel. Die Griekse Nuwe Testament is nog té Westers, dus word selfs ’n nuwe, meer gesaghebbende, Oosterse teks geskep wat, soos die persoon van Lamsa, meer akkuraat is oor die woorde en beginsels van Jesus en by implikasie van God.

Selfs Lamsa se kommentare op die Bybel vertoon die kenmerke van antieke, eerder as moderne, kommentare. Dit is kort, kursoriese en anekdotiese verklarings van idiomatiese uitdrukkings en antieke kulturele voorveronderstellings wat op afgesonderde en dikwels ongekontekstualiseerde skrifgedeeltes fokus. Wanneer daar byvoorbeeld gekyk word na Lamsa (1967:27–9) se uitleg van Matteus 5:15 se metafoor oor die lig, sien mens hierdie uitlegdinamiek duidelik. Hy begin deur te praat van die Oosterse antieke wêreld, waar daar nie elektrisiteit is nie, waar alles in kerslig gedoen word. Hy praat baie oor die uitleg van die antieke huis. Die opmerkings is baie algemeen en word gestel asof niks in die Ooste verander het nie. Hierop volg ’n verwysing na die Jode wat die lig vir die heidene moes wees, wat nie olie in hul lampe gehad het nie. Hy loop dus ook die supersessionisme van sy konserwatiewe Christelike gehoor vooruit, om aan te dui dat hy tog ook nie eintlik ’n Jood is nie. Sy kommentare is vol Aramese etimologiese woordstudies.

Die laat-antieke Siriese manuskripte voldoen aan al wat kosmeties nodig is om die diskoers van oriëntalisme te laat voortleef. Daar is iets mistieks aan hierdie geskrifte vir die ongeskoolde Westerse oog. Soveel as moontlik van hierdie Oosterse vreemdheid word in die produkte wat deur Lamsagroepe gelewer word, sigbaar gemaak. Dit verklaar ook waarom die teks van die PWL aanvanklik so vreemd vir die leser mag voorkom. Die doel van al die Hebraïsmes en die verskillende volgorde van die kanon is om hierdie aanloklike Oosterse andersheid te beklemtoon. Dit simboliseer, strategies, ’n stap nader aan die Oosterse oorspronklikheid, en dus waarheid. Dit is ook die rede waarom Lamsa en Coetzee soveel aandag aan idiome gee. Die Coetzees het ’n hele bundel saamgestel wat as sleutel dien tot die ontsluiting van hierdie Oosterse vreemdheid, met die titel Die Oorspronklike Name met Betekenisse. Mates, Gewigte en Groottes (Coetzee en Coetzee s.j.:1–40). Die veronderstelling is dat kennis van die “oorspronklike” uitsprake, idiome en betekenisse die leser nader daaraan bring om die “Ware, Lewende en Skepper God יהוה, in waarheid te ken” (Coetzee en Coetzee s.j.:2). Selfs die naam van God word in die Hebreeus (יהוה) gehou om gesag en egtheid aan die produkte te verleen.

Die doel van die diskoers, praktyke, en produkte van bewegings soos dié van Lamsa en die PWL is natuurlik transformasie. Dit wil die Westerse vreemdeling verander in iemand wat, soos Lamsa, nader aan die Oosterse wêreld is. Met “Oosterse wêreld” word verwys na die denkbeeldige Ooste wat deur die beweging gekonstrueer word – die onveranderde en onveranderlike “bybelse wêreld”. Hierdie transformasie veronderstel dat dit nie net bybelse teologiese en etiese beginsels is wat nagevolg moet word nie, maar ook eksplisiet die bybelse kultuur en taal. So kom ’n persoon nader aan die waarheid – die denkbeeldige Oosterse waarheid – en nader aan die ware God van die Ooste, wie se naam slegs in Hebreeuse letters geskryf mag word.

Daar moet gevra word waarom mense, veral dié wat hul godsdiens rondom gesaghebbende geskrifte soos die Bybel of die Koran bou, so behep is met die waarde van “oorspronklikheid”. Ons moet hier bowenal verstaan dat die diskoers van “oorspronklikheid” (wat eintlik net nog ’n vorm van die waarheidsdiskoers is) ’n magsdiskoers is. Dit verleen mag en gesaghebbendheid aan die een wat aan die bepaalde waarheidsriglyne voldoen. Oorspronklikheid word verbind met suiwerheid, daarom word daar gestrewe na die oorspronklike geskrifte van die Bybel en selfs die werklike woorde (ipsissima verba) van Jesus. Ongelukkig kan geen vertaling van die Bybel aanspraak maak op absolute oorspronklikheid nie. Binne die Bybelwetenskappe is oorspronklikheid ’n beginsel en ’n waarde waarna daar gestreef moet word; maar in terme van die kritiek van die bybelse teks is oorspronklikheid ’n ideaal en nie ’n kenmerk nie.

Wanneer hierdie beginsel se volle implikasie duidelik word, kom dit aan die lig dat ons idee van “die Bybel” self ook ’n ideaal is, ’n ideaal wat op die keper beskou nie begrond is nie. Met die afwesigheid van die oorspronklike, bestaan daar nie iets soos “die Bybel” nie – “die Ou Testament” of “die Nuwe Testament” is dalk net so denkbeeldig soos Lamsa se Aramese oorspronklikes. Hierdie is die realiteit wat enige Bybelvertaling in die gesig staar – niemand kan ten volle aanspraak maak op oorspronklikheid nie. Op hierdie stadium is die oorspronklike, “eerste uitgawes” van die bybelse geskrifte verlore. Wat ons het, is ’n magdom afskrifte van manuskripte wat self kopieë is. Alhoewel die eerste tekste van die Bybel verlore is, sit ons met duisende manuskripte wat op die oorspronklike teks dui. As daar na die voorbeeld van die Nuwe Testament gekyk word, sien ons dat diegene wat die kritiese uitgawes van die teks van die Nuwe Testament moes saamstel, bepaalde keuses moes maak oor watter manuskripte, waarvan daar in die omgewing van 5 500 is, nader aan die oorspronklike is. Nie alle manuskripte word geraadpleeg nie. Die beste kritiese uitgawe van die Nuwe Testament, die Nestle-Aland Novum Testamentum Graece, bevat byvoorbeeld nie die lesings van al die papiri nie, want daar is net te veel. Een van die grootste projekte van die Institut für Neutestamentliche Textforschung (INTF) te Münster is om ’n breedvoerige Editio Critica Maior van die Nuwe Testament op te stel. ’n Kritiese uitgawe verteenwoordig dus ’n samestelling uit ’n aantal manuskripte van die teks en moet as ’n konstruksie van ’n ideaal verstaan word.

Die Lamsa-Bybel en PWL se paaie skei van dié van hoofstroomvertalings in hul erkenning en behandeling van die manuskripte waaruit die bybelse teks saamgestel is. Alhoewel hoofstroomvertalings nie die ideaal is nie en ook nie gebaseer is op oorspronklike bronne nie (en soos die Lamsa- en PWL-Bybels, ook soms teologiese voorveronderstellings in hul vertalings toon), is hierdie vertalings ten minste geskep vanuit ’n gekonstrueerde kritiese uitgawe wat die antieke teksgetuies wetenskaplik en so onafhanklik as moontlik evalueer. Laasgenoemde vertalings neem ook die kultuurhistoriese aspekte van die kulture van die Bybel op ’n wetenskaplike wyse in ag en maak gebruik van ander dissiplines soos argeologie, filologie, sosiologie en antropologie, en filosofies-kritiese en literêre teorieë om vertalingskeuses uit te oefen. Dit is waar die verskil lê. In kritiese uitgawes wat standaard gebruik word, kom ons so naby as moontlik, op daardie oomblik, aan die onbekombare oorspronklike ideaal. En dit is hier waar die Lamsa-Bybel en PWL al hul tekswetenskaplike geloofwaardigheid, betroubaarheid en integriteit verloor. Ongelukkig misluk die Lamsa-Bybel en PWL hier op ’n groot skaal en sal geen weergawe wat gegrond is op die Pesjitta-voorrangsteorie ooit erkenning kry van enige ernstige en kritiese Bybelwetenskaplike nie. Wat wel benodig word, is meer breedvoerige studies wat bewegings soos dié van Lamsa en die PWL krities as kultureel-godsdienstige uitdrukkings uit eie reg ondersoek, en veral navorsing oor hoe bewegings soos die PWL, wat gebaseer is op ’n vereenvoudigde oriëntalisme, in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kultuur funksioneer.

 

Bibliografie

Adams, J.N., M. Janse en S. Swain (reds.). 2002. Bilingualism and ancient society: Language contact and the written word. Oxford: Oxford University Press.

App, U. 2015. The birth of orientalism. Philadelphia: University of Pennsylvania Press.

Bauscher, D. 2006. The Aramaic-English interlinear New Testament. Raleigh, NC: Lulu.

Beyer, K. 1986. The Aramaic language: Its distribution and subdivisions. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Borchert, G.L. 2011. Jesus of Nazareth: Background, witnesses, and significance. Macon, GA: Mercer University Press.

Borg, M.J., & Crossan, D. 2010. The first Paul: Reclaiming the radical visionary behind the church’s conservative icon. New York: HarperOne.

Brock, S.P. 2006. The Bible in the Syriac tradition. Piscataway, NJ: Gorgias.

Chilton, B.D. 2010. The Aramaic Lord’s Prayer. In Crossley (red.) 2010.

Clemons, J.T. 1974. Some additional information on Syriac manuscripts in the United States. Orientalia Christiana Analecta: Symposium Syriacum 1972, 197:505–8.

Coetzee, G.C. en H. Coetzee. s.j. Die Pad van waarheid tot die lewe: Die oorspronklike name met betekenisse. Mates, gewigte en groottes. Tanakh en Nuwe Verbond. Pretoria: PadWLewe.

Crossley, J.G. (red). 2010. Judaism, Jewish identities and the Gospel tradition: Essays in honour of Maurice Casey. Londen: Equinox.

DeSilva, D.A. 2004. An introduction to the New Testament: Contexts, methods & ministry formation. Downers Grove: IVP Academic.

De Wet, C.L. 2015. Preaching bondage: John Chrysostom and the discourse of slavery in early Christianity. Oakland, CA: University of California Press.

Douglas-Klotz, N. 2010. Prayers of the cosmos: Reflections on the original meaning of Jesus’ words. San Francisco: Harper Collins.

Ehrman, B.D. en M.W. Holmes (reds.). 2013. The text of the New Testament in contemporary research: Essays on the status quaestionis. New Testament Tools, Studies, and Documents 42. Leiden: Brill.

Epp, E.J. 2013. The Papyrus Manuscripts of the New Testament. In Ehrman en Holmes (reds.) 2013.

Elliger, K. en W. Rudolph (reds.). 1997. Biblia Hebraica Stuttgartensia. 5de uitgawe. Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft.

Feldman, L.H. (red.). 1965. Josephus: Jewish antiquities, Book 20. Loeb classical library 456. Cambridge, MA: Harvard University Press.

Flesher, P.V.M. en B.D. Chilton. 2011. The Targums: A critical introduction. Leiden: Brill.

Grypeou, E. en H. Spurling (reds.). The exegetical encounter between Jews and Christians in late antiquity. Jewish and Christian Perspectives Series 18. Leiden: Brill.

Hoskyns, E. 1961. The fourth Gospel. Londen: Faber & Faber.

Joseph, B.D., J. Destafano, N.G. Jacobs en I. Lehiste (reds.). When languages collide: Perspectives on language conflict, competition, and language coexistence. Columbus: Ohio State University Press.

Juedes, J.P. 1989. George M. Lamsa: Christian scholar or cultic torchbearer? Christian Research Institute. http://www.equip.org/article/george-m-lamsa (9 Mei 2016 geraadpleeg).

Lamsa, G.M. 1933. The Holy Bible from ancient Eastern manuscripts. Philadelphia: A.J. Holman.

—. 1945. New Testament commentary. Philadelphia: A.J. Holman.

—. 1947. New Testament origin. St. Petersburg, FL: Aramaic Bible Society.

—. 1966. The life of George M. Lamsa translator. St. Petersburg, FL: Aramaic Bible Society.

—. 1967. Gospel light: Comments on the teachings of Jesus from Aramaic and unchanged Eastern customs. Philadelphia: A.J. Holman.

—. 1968. More light on the Gospel: Over 400 New Testament passages explained. New York: Doubleday.

—. 1971. Idioms in the Bible explained. Philadelphia: A.J. Holman.

—. 1989. Holy Bible: From the ancient Eastern text. San Francisco: Harper.

Lataster, R. 2009. Was the New Testament really written in Greek? Raleigh, NC: Lulu.

Lee, S. (red.). 1987 (1826). The Bible in Syriac. Londen: United Bible Societies.

Lieberman, S. 1965. Greek in Jewish Palestine. New York: Jewish Theological Seminary of America.

Magiera, J.M. 2006. Aramaic Peshitta New Testament translation. San Diego, CA: Light of the Word Ministry.

Marcos, N.F. 2000. The Septuagint in context: Introduction to the Greek version of the Bible. Leiden: Brill.

Metzger, B.M. 1995. Reminiscences of an octogenarian. Grand Rapids, MI: Baker Academic.

—. 2005. The text of the New Testament: Its transmission, corruption, and restoration. Oxford: Oxford University Press.

Morris, L. 1995. The Gospel according to John. New international commentary on the New Testament. Grand Rapids, MI: Eerdmans.

Nestle, E. e.a. (reds.). 2012. Nestle-Aland Novum Testamentum Graece. 28ste uitgawe. Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft.

Nuwe Lied. s.j. Tuisblad. Nuwe Lied Bedieninge. http://nuwelied.info (9 Mei 2016 geraadpleeg).

Perlin, R. 2014. Is the Islamic state exterminating the language of Jesus? Foreign Policy. https://foreignpolicy.com/2014/08/14/is-the-islamic-state-exterminating-the-language-of-jesus (9 Mei 2016 geraadpleeg).

Pines, S. 1987. Gospel quotations and cognate topics in ‘Abd al-Jabbār’s Tathbīt in relation to early Christian and Judeo-Christian readings and traditions. Jerusalem Studies in Arabic and Islam 9:195–278.

Pinkerton, J. en R. Kilgour. 1920. The New Testament in Syriac. Londen: British and Foreign Bible Society.

PWL. 2015. Die Pad van waarheid tot die lewe: Die woord van יהוה in Afrikaans. Vertaal deur G.C. Coetzee. Pretoria: PadWLewe.

PWL-Web1. s.j. Die PWL-vertaling van die Bybel in Afrikaans. Die Pad van Waarheid tot die Lewe-webwerf. http://www.padwlewe.ch/PWLBybel.html (9 Mei 2016 geraadpleeg).

PWL-Web2. s.j. Geskiedenis van die PWL-vertaling. Die Pad van Waarheid tot die Lewe-webwerf. http://www.padwlewe.ch/Geskiedenis.htm (14 Mei 2016 geraadpleeg).

PWL-Web3. s.j. Vertaling. Die Pad van Waarheid tot die Lewe-webwerf. http://www.padwlewe.ch/Vertaal.html (7 Mei 2016 geraadpleeg).

PWL-Web4. s.j. Opsoek na die waarheid. Die Pad van Waarheid tot die Lewe-webwerf. http://www.padwlewe.ch/downloads/Aramese%20oorsprong.ppsx (9 Mei 2016 geraadpleeg).

PWL-Web5 s.j. Skakels. Die Pad van Waarheid tot die Lewe-webwerf. http://www.padwlewe.ch/Skakels.html (9 Mei 2016 geraadpleeg).

PWL-Web6 s.j. Die Pad van waarheid tot die lewe. Elektronies aflaaibare uitgawe. Die Pad van Waarheid tot die Lewe-webwerf. http://www.padwlewe.ch/downloads/PWL%20Bybel.pdf (10 Mei 2016 geraadpleeg).

Roth, A.G. 2012. Aramaic English New Testament. 5de uitgawe. Sedro-Woolley, WA: Netzari Press.

Sabar, Y. 2003. Aramaic, once a great language, now on the verge of extinction. In Joseph e.a. (reds.) 2003.

Said, E.W. 1979. Orientalism. New York: Vintage.

Salvesan, A. 2009. Keeping it in the family? Jacob and his Aramean heritage according to Jewish and Christian sources. In Grypeou en Spurling (reds.) 2009.

Sandwell, I. 2007. Religious identity in late antiquity: Greeks, Jews and Christians in Antioch. Cambridge: Cambridge University Press.

Schuele, A. 2012. An introduction to biblical Aramaic. Louisville, KY: Westminster John Knox Press.

Siegman, E.F. 1956. Yonan codex of the New Testament. Catholic Biblical Quarterly, 18(2):151–57.

Silver, S.P. 2007. Khabouris codex transcription. Dukhrana. http://www.dukhrana.com/khabouris/files/Khabouris.pdf (10 Mei 2016 geraadpleeg).

Sokoloff, M. 2002. A dictionary of Jewish Babylonian Aramaic of the Talmudic and Geonic periods. Jerusalem: Bar Ilan University Press.

Stern, S. 1994. Jewish identity in early Rabbinic writings. Leiden: Brill.

Taylor, D.G.K. 2002. Bilingualism and diglossia in late antique Syria and Mesopotamia. In Adams, Janse en Swain (reds.) 2002.

Trimm, J. 2011. Concerning codex Khaboris. Nazarene Space. http://nazarenespace.com/group/peshittaandsyriactexts/forum/topics/concerning-codex-khaboris (11 Mei 2016 geraadpleeg).

Van Rooy, H.F. 2015. The Syriac versions of Old Testament quotations in Matthew. In die Skriflig, 49(1):1–12.

Warraq, I. 2007. Defending the West: A critique of Edward Said’s Orientalism. Amherst, NY: Prometheus.

Whiston, W. (red.). 1999. The new complete works of Josephus. Grand Rapids, MI: Kregel Academic.

Wikipedia. 2016. Khaboris codex. Wikipedia. https://en.wikipedia.org/wiki/Khaboris_Codex (7 Mei 2016 geraadpleeg).

Williams, P.J. 2013. The Syriac versions of the New Testament. In Ehrman en Holmes (reds.) 2013.

Yamauchi, E.M. 1974. Greek, Hebrew, Aramaic, or Syriac: A critique of the claims of G.M. Lamsa for the Syriac Peshitta. Bibliotheca Sacra, 131(524):320–31.

Yonan Codex Foundation. 1993. Khaboris manuscript. Grants Pass, OR: FHU.

 

Eindnota

1 Hiermee betuig ek graag dank aan Herrie van Rooy (NWU), Leonard Maré (NWU/Auckland Park Teologiese Seminarium) en Gerhard van den Heever (Unisa) vir hul insette gedurende die skryf van hierdie artikel.

  • 16

Kommentaar

  • Leopold Scholtz
    Leopold Scholtz

    'n Uitstekende, weldeurdagte stuk wat getuig van groot erudisie en onberispelike logika.

  • Baie dankie, Prof Chris. 'n Uitstekende, baie relevante en nodige beoordeling van hierdie "Bybelvertaling" wat tans chaos in ons land veroorsaak.

  • Baie dankie vir hierdie kritiese evaluering van die PWL.
    Ek was self vir 'n jaar lank betrokke by Gerrie Coetzee se groep en aanvanklik baie beïndruk met die 'Aramese Voorrang Teorie' en het selfs finansieel bygedra tot die publikasie van die PWL, ten dele, ironies genoeg, juis omdat ek 'n kritiese diskoers oor die kwessie in akademiese kringe wou sien, presies soos die een wat u hierbo aan die gang gesit het.
    Wat nou nog kortkom, om my beker by wyse van spreke te laat oorloop, is 'n repliek van Gerrie se kant af en dan ander gerespekteerde partye wat ook oor en weer kommentaar lewer. Wat ek ook graag sou wou sien is 'n meer betroubare vertaling van die Peshitta in Afrikaans sonder die ideologiese bagasie van die PWL wat my van die begin af onthuts en agterdogtig gemaak het.
    Bietjie agtergrond oor genoemde “ideologiese bagasie”:
    Gerrie se groep sal ek klassifiseer as deel van die “Hebrew Roots Movement” of wat hyself die Torah-groepe noem en wat beweer dat die Nuwe Verbond slegs 'n voortsetting - en uitbouing is van die Ou Verbond en daarmee gepaardgaande die instandhouding van die Wet. Daarom eet hulle byvoorbeeld nog “kosher” en dra sommige mans (diesulkes wat aan hulle standaarde van 'n “heilige lewenswandel” voldoen) die “tsitzit” (tossels) aan hulle broeke. Daar word verder baie klem gelê op die onderhouding van die Joodse feeste, maar babatjies word nie besny nie. Gerrie het by geleentheid 'n uitgebreide verduideliking gegee hoekom nie, maar ek het die strekking daarvan nou vergeet. Ek kon nie die voorkeur vir die oorspronklike Griekse of Aramese name vir al die Bybelfigure en Bybelboeke tydens gesprekvoering baasraak nie. Die praktyk het my in elk geval baie herinner aan eksklusiewe groepe of seunsbendes wat hulle eie geheime taal ontwikkel om by te dra tot 'n eksklusiewe samehorigheidsgevoel.
    Wat my egter gehinder het vanaf 'n vroeë stadium van my betrokkenheid by hulle en uiteindelik my betrokkenheid by hulle beëindig het, is die onkonsekwentheid waarmee die instandhouding van die Ou Verbond en die Wet gehandhaaf word. So kon ek byvoorbeeld nie vasstel hoekom egbrekers, rebelse kinders, oorgewig mense en homoseksueles nie deur hulle gestenig word nie, want dis tog wat die Wet bepaal het!
    Wat ek ook nie kon vasstel nie, is hoekom die voorkeur vir die Peshitta noodwendig so 'n voorkeur vir Judaïsering ten gevolg sou hê. Dis hoekom ek gevoel het dat die PWL gepubliseer moet word sodat dit aan wyer kritiese evaluasie soos hierdie blootgestel kan word.
    Nogmaals dankie!

  • Ek wil net byvoeg wat betref "... hoekom die voorkeur vir die Peshitta noodwendig so 'n voorkeur vir Judaïsering ten gevolg sou hê":
    Ek voel Prof De Wet het net ten dele 'n antwoord verskaf in sy verwysing na die "kulturele aanloklikheid van oriëntalisme". Ek sou graag wou hoor of hy enige noodwendige verband sien tussen 'n voorkeur vir die Peshitta en Judaïsering van die Christelike geloof by Gerrie-hulle se groep of was dit bloot toevallig?

  • Beste Willeman,
    Baie dankie vir hierdie skrywe, en ek moet sê dat ek ook baie bly sal wees om 'n repliek van Gerrie Coetzee af te kry, en dat ander ook betrokke sal raak. Maar vir jou reaksie is ek ook dankbaar. Jy is beslis reg oor die "Hebrew Roots" beweging. Ek sal dalk nog op 'n stadium meer daaroor wou skryf.
    Aangaande jou vraag oor die Pesjitta en die Judaïsering van die Christendom: hierdie is 'n baie interessante tema. Daar is beslis 'n verband tussen die voorkeur vir die Pesjitta en "Judaïsering". Ek dink die rede is veral verwant aan die taalkwessie. Siries is 'n Semitiese taal, en die Siriese Christendom van die eerste 5 eeue vC het baie van die antieke Palestynse/Joodse kultuur so aangeneem (en baie minder van die Griekse/Hellenistiese kultuur). Wat ironies is is dat daar ook in hierdie stroom van die vroeë Christendom baie anti-Semitisme was. So ek dink bloot die verband kom, oppervlakkig, via die taal, aangesien taal ook 'n voertuig is om kultuur oor te dra. Dit verduidelik ook waarom hulle verkies om van "Aramees" te praat, en nie "Siries" nie. Dit is presies wat 'n mens by Lamsa gekry het. So dit is nie toeval nie.
    Die Christendom het natuurlik ook begin as 'n vorm binne die Judaïsme, en die sogenaamde "parting of the ways" het eers baie later voorgekom. In hierdie verband beveel ek Daniel Boyarin se boek "Border Lines" aan. Maar soos ek noem in die artikel - ons almal is tot 'n mate behep met "oorspronklikheid". Maar die kwessie van Christelike oorspronge is vreeslik kompleks, en om bloot aan te neem dat 'n Judaïstiese uitdrukking van die Christendom meer "outentiek" of "oorspronklik" is is baie problematies. Maar so skep ons ons identiteit binne die wêreld van ons ervaring, en vir sulke groepe is die terugkeer na 'n meer Joodse uitdrukking van die Christendom ook 'n manier om uniekheid (in kontras met die hoofstroom) aan te dui. En ons almal wil uniek wees. Ons almal wil spesiaal wees. Dankie vir die skrywe!
    Chris

  • Hallo Chirs, ek sien daar is 'n antwoord van Gerrie hier te kry op sy web-werf: http://www.padwlewe.ch/downloads/PWL%20antwoord%20Okt%202016.pdf Dit sal gaaf wees indien jy op van die inhoud daarvan kan reageer. Net een ander item, ek self is besig om hierdie vertalings na te speur en het verskeie verskille tussen die Lamsa Bybel en Gerrie se "PWL Bybel" gekry, dus is dit waarskynlik nie billik om Gerrie se vertaling as bloot 'n Afrikaanse weergawe van die Lamsa Bybel af te maak nie - sulke rowwe aannames maak ander dele van die "kritiese evaluasie" verdag. Seënwense. Jakobus

    • Beste Jakobus,
      Baie dankie vir jou skrywe, en dat jy my aandag gerig het op Coetzee se antwoord. Ek sal dit deeglik nagaan en terugantwoord.
      Dankie ook vir jou belangstelling in die artikel. Ongelukkig stem ek hoegenaamd nie saam met jou dat die PWL nie die Lamsa Bybel is nie. Dit is. Soos ek in die artikel toon, is hierdie stelling gebaseer op die vertalingsfilosofie en ideologie van die PWL. Natuurlik sal daar verskille op mikro-vlak wees tussen vertalings. Maar dit is nie die punt nie. Die PWL stem identies ooreen met die Lamsa Bybel op grond van die aanname dat dit uit "oorspronklike" Aramese manuskripte vertaal is. In die Bybelwetenskappe word Bybels gegroepeer rondom hul vertalingsfilosofie en vertalingsbenadering. Daar sal altyd klein verskille wees op sintaktiese vlak (woorde en sinne wat bietjie van mekaar verskil), maar jy mis dan ongelukkig die woud vir die bome. Hierdie is nie "rowwe aannames" nie, Jakobus, dit is die ideologiese fondament waarop die Bybelvertaling gegrond is. (Ek sal natuurlik ook graag meer wil hoor oor die verskille wat jy gesien het. Het jy dit met die Siries vergelyk?)
      Verder: daar is niks "verdag" daaraan om hierdie groter grondliggende ooreenkomste uit te wys nie (dit is juis gevaarlik om dit mis te kyk!). Nie een van die internasionale Bybelgenootskappe se Bybelvertalings en vertalingsprojekte sal ooit hierdie manuskripte as primêre bronne gebruik nie. Dit is bloot onsin (ja, onsin). Dit is waar dat Jesus Aramees gepraat het, en dat die vroegste mondelinge tradisies van Jesus waarskynlik Aramees was (wat steeds nie die Siries van die Pesjitta is nie). Dit is moontlik dat party van hierdie Aramese tradisies agter sommige evangelies soos Matteus staan. Maar dit is die meeste wat ons kan sê, totdat materiële bewyse gevind word wat die teenoorgestelde toon.
      Ek daag Coetzee, of enige ander persoon uit, om my een "Aramese" teks van die Nuwe Testament te wys wat ouer is as die Griekse manuskripte. En dit beteken nie een wat voorgee dit is gebaseer op ouer tekste nie – want dieselfde kan dan geargumenteer word vir die Grieks. Noem vir my een Aramese Nuwe Testamentiese geskrif (gee die papirus-naam, nommer, en versameling) wat ouer is (of net so oud is) as die oudste Griekse papiri. Dan kan ons verder gesels.
      Die aannames van die PWL en Coetzee is hoogs problematies, en die argumente ten gunste van die vertaalfilosofie is ten beste amateurs en nie gegrond op enige aansienlike akademiese gronde nie. Ek staan hierby.
      Dankie weereens vir die skrywe – en ek is baie bly vir die debat! Dit is baie gaaf. En laat ek noem hier dat ek enige tyd bereid is om in die publiek te debatteer met Coetzee of enige van sy aanhangers.
      Groete,
      Chris

  • Amen Prof Chris vir jou artikels en kennis en insig. So tragies dat mense meer behep is met "weg van waarheid" as met die Een wat sê "Ek is die Weg en Ek is die Waarheid".

  • Na al die aantygings wat gemaak is, bronne wat deurgegee is, en navorsing wat ek en my vrou persoonlik gedoen het is ons vas oortuig daarvan dat die Aramees die mees oorspronklike is.
    Ons het elkeen 'n weergawe van die PWL gekry, en na vele maande is albei van ons oortuig dat dit die mees korrekte vertaling in Afrikaans beskikbaar is.
    Aanvallende berigte soos hierdie veroorsaak net skade in God se Koninkryk deur twyfel te saai, dit moet liewer van die web af verwyder word, veral nadat Coetzee antwoord daarop gegee het en dit die logiese feit is dat De Wet die fout gemaak het deur hierdie berig te plaas voor hy dit vir Coetzee gegee het om persoonlik daarop te antwoord.
    Nou as lesers hierdie berig lees en nie Coetzee se antwoord nie word die PWL afgebreek, en na lesers Coetzee se antwoord lees word de Wet se “feitlike navorsingsvermoë” betwyfel.

  • Avatar
    Herman Burger

    Gerrie gee voor dat hy geen teologie bedryf nie, maar bloot na die waarheid soek. Die waarheid is egter dat sy teologie soos ’n seer duim uitstaan. Hy glo in die samesweringsteorie dat die kerk deur die eeue, ten einde hul eie leer te regverdig, die oorspronklike Aramese tekste van die mense weggehou het. Verder ook dat die Bybel hom nie self kan weerspreek nie. Hy meen dat die weersprekings in die bestaande vertalings opgelos kan word deur direk uit die Aramees te vertaal.
    Dat hy nou, na al die jare van studie oor die brontekste, meen om tot die insig te gekom het dat hy nou die ware bronteks gevind het, is so aanmatigend. En dis tragies om te sien hoedat mense alles wat hy sê vir soetkoek opeet.

    • Die waarheid sal altyd self wys aan die vrug en tans is die vrug goed wat kom van al die Bybels wat versprei is wat talle mense sê makliker lees en meer goed duideliker stel as enige van die ander Afrikaanse vertalings. Meer nog, geskiedkundig en taalkundig is Aramees die taal wat gepraat is in daai tyd en dis nie net Gerrie Coetzee wat so sê nie, maar meerdere akademiese mense, behalwe vir die in die Teologie-departemente wat nog leer dit is uit Grieks, terwyl Griekskundiges uitgewys het dat die Griekse tekste nie een Griekse idioom eers gebruik nie, maar wel Semitiese idiome en taalgebruik en dit volgens Griekse grammatika totaal en al foutief is. As mens geskiedkundig en taalgewys gaan ondersoek instel en sien dat daar selfs in die 1800s mense was wat die vertalings begin het uit die Aramees en baie al oortuig was oor die hele wêreld ten tye en dat die Aramese nuwe testament nog altyd in die Midde-Ooste gebruik is vandat daar 'n split gekom het tussen die Westerse of Roomse en Oosterse of oorspronklike gemeentes/kerke. Nogtans, dis elke mens se keuse en elkeen kan ondersoek instel en ook vir God vra wat Sy waarheid is. Ek dink dat as God vir 'n mens iets duidelik maak oor 'n saak en mens seker is dat dit van God af kom en nie mens self oorreed nie, maar heeltemal oop wees om enige kant toe ’n antwoord te ontvang. Dan sal mens werklik weet wat reg is of nie.

  • Avatar
    Jacques du Buson

    Ek is net so dankbaar vir 'n Afrikaanse Bybel met die naam van Yeshua in. Wie nie teen ons is nie, is vir ons.

  • Avatar
    Pieter Haywood

    Net hierdie alleen sal my oortuig dat hierdie vertaling die waarheid moet wees!! Daarom sal dit nie herken word as die waarheid nie!! Gaan dit oor of dit wetenskaplik bewys kan word of oor hoe die H/G ons oortuig van die waarheid!!

    Die Lamsa-Bybel en PWL se paaie skei van dié van hoofstroomvertalings in hul erkenning en behandeling van die manuskripte waaruit die bybelse teks saamgestel is. Alhoewel hoofstroomvertalings nie die ideaal is nie en ook nie gebaseer is op oorspronklike bronne nie (en soos die Lamsa- en PWL-Bybels, ook soms teologiese voorveronderstellings in hul vertalings toon), is hierdie vertalings ten minste geskep vanuit ’n gekonstrueerde kritiese uitgawe wat die antieke teksgetuies wetenskaplik en so onafhanklik as moontlik evalueer. Laasgenoemde vertalings neem ook die kultuurhistoriese aspekte van die kulture van die Bybel op ’n wetenskaplike wyse in ag en maak gebruik van ander dissiplines soos argeologie, filologie, sosiologie en antropologie, en filosofies-kritiese en literêre teorieë om vertalingskeuses uit te oefen. Dit is waar die verskil lê. In kritiese uitgawes wat standaard gebruik word, kom ons so naby as moontlik, op daardie oomblik, aan die onbekombare oorspronklike ideaal. En dit is hier waar die Lamsa-Bybel en PWL al hul tekswetenskaplike geloofwaardigheid, betroubaarheid en integriteit verloor. Ongelukkig misluk die Lamsa-Bybel en PWL hier op ’n groot skaal en sal geen weergawe wat gegrond is op die Pesjitta-voorrangsteorie ooit erkenning kry van enige ernstige en kritiese Bybelwetenskaplike nie. Wat wel benodig word, is meer breedvoerige studies wat bewegings soos dié van Lamsa en die PWL krities as kultureel-godsdienstige uitdrukkings uit eie reg ondersoek, en veral navorsing oor hoe bewegings soos die PWL, wat gebaseer is op ’n vereenvoudigde oriëntalisme, in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kultuur funksioneer.

  • Aan hulle vrugte word hulle geken. Gelukkig staan ons stoksielalleen voor God se regterstoel. Opmerking is dat die inligting deur gegee deur "Chris" wel 'n carbon copy van 'n artikel geplaas deur Dr Suman Kashyop. Laat jou wonder oor die misleiding wat voort gaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top