‘n Onvergelyklike kultuurvate

  • 0
Günther Komnick kort na sy aankoms in Kaapstad – saam met sy kamera waarmee hy die korpus werk gedokumenteer het.

Een van die belangrikste publikasies wat ’n beeld van Kaapstad en omgewing van die 1960’s vaslê, het pas verskyn in die besonder goedversorgde fotoboek, Cape Town: Memories of the ’60s van die meesterfotograaf Günther Komnick.

Foto’s van die Kaapse argitektoniese bates, veral wat terugdateer na die 1960’s, toe die toepassing van die Groepsgebiedewet voorheen gevestigde strukture verskuif het, is skaars en word toenemend as ’n kultuurbate beskou. Die argitektoniese afbeeldings is ook ’n sosio-ekonomiese rekord van die leefwyse in die Kaapstadse stadskom.
Suid-Afrika is geseënd met fotograwe van internasionale aansien wat in die afgelope vier dekades bygedra het tot die groei van die fotoboek-genre. Daar is reeds ’n uitstekende aantal publikasies van ons heel beste fotograwe wat deur hul lense aspekte van die Kaapse lewe gedokumenteer het.

Portretstudie van  Sjeik Ahmed Khadeer   (studie: Günther Komnick)

Die swart-wit argivale foto het in die afgelope halfeeu sterk op die voorgrond getree in werk van Jansje Wissema, Paul Alberts, Jurgen Schädeberg, Chris Jansen en Cloete Breytenbach, om enkeles uit te sonder.

Die Stalle, Roosstraat 58, Bo-Kaap, 1960  (Foto: Günther Komnick)

Een van die belangrikste publikasies wat ’n beeld van Kaapstad en omgewing van die 1960’s vaslê, het pas verskyn in die besonder goedversorgde fotoboek van die meesterfotograaf Günther Komnick. Dit bevat ’n reeks foto’s wat die gees en omstandighede van Kaapstad in dié jare sinvol en betowerend vaslê. Nooit grens dit aan die sentimentele nie, maar skep ’n sinvolle dokumentêr oor die lewe en omstandighede van Kaapse mense, veral die in die destydse Distrik Ses en die Bo-Kaap.

Robert Sithole, Suid-Afrika se bekendste penniefluitjie-musikant, gebore en getoë in Distrik Ses. In hierdie studie van Günther Komnick is Robert 13 jaar oud.

Komnick is in 1929 in Insterburg in die destydse Oos-Pruise gebore. Hy het hom in 1956 in Kaapstad gevestig en was jare lank in die advertensiewese aktief. Sy eerste fotoboek, Impressions, is in 2009 uitgegee. Hy het hom ook onderskei as ’n kinderboekillustreerder en het veral met die skrywer Freda Linde nou saamgewerk.

Die 84-jarige Günther Komnick, foto deur Gavin Furlonger.

As fotograaf was hy besonder aangetrokke tot die lewe en omstandighede van Kaapse mense. Dit is wat ook in hierdie reeks foto’s onder die titel Cape Town: Memories of the ’60s, weerspieël word.

Berglaan, Bo-Kaap, 1958.  Studie deur Günther Komnick.

Ek wil spesifiek die baie besonderse atmosferiese foto’s van Distrik Ses en die Bo-Kaap uitsonder. Dit was vóór Distrik Ses se tragiese verskuiwings plaasgevind het. Komnick se kameralens was ingestel om die menslike ervaring – die gewone menswees – vas te vang. In hierdie fotobeeld, wat veral ook belangrik is omdat dit die werk van Wissema, Jansen en Cloete aanvul, is die klem op die aktiwiteite van hierdie gemeenskap en in die besonder hul musiektalent.

’n Polsing van lewe – vier jazz musikante van Distrik Ses, circa 1960.  Studie deur Günther Komnick.

’n Ikoniese foto is dié van Robert Sithole (1945–2006) – die penniefluitjie-musikant wat later bekendheid ver buite sy grense geniet het. Komnick se studie is van hom as 15-jarige en hier is die gevoelvolle uitdrukking, die verwagting buite die uitsiglose van sy tyd, ’n roerende ervaring. Die mond, die fluitjie en die hande in hierdie studie beklemtoon opnuut die atmosferiese eienskappe van die wit-swart medium en die tegniese vaardigheid van die fotograaf om die besondere ligeffekte te bewerkstellig.

Tretchikoff se studie van die Pennywhistler wat  Robert Sithole, gebaseer op Komnick se studie, as model gebruik.

Die foto’s van die vroue en kinders van Distrik Ses onder wasgoedlyne, en meestal buite op sypaadjies, skep ’n beeld van ’n skynbaar sorgvrye lewe – weliswaar in armoede – van ’n gemeenskap wat hom intens tuis gevoel het aan die hange van Tafelberg. Dat dit weens politieke gulsigheid verstoor moes word, is ’n blywende aanklag teen die gewete.

Hierteenoor staan die destydse slawehuisies in hulle netjies rye van die Bo-Kaap wat in Komnick se benadering ’n sosiohistoriese narratief word van hoe mense in die 1960’s in die Kaap geleef het. Wat ook belangrik is van hierdie foto-aanbod van die Bo-Kaap, is die fyn register om ook die argitektoniese te dokumenteer. Die Stalle van Roosstraat 58 is in hierdie verband besonder belangrik.

Wat mens deurgaans tref, is die kinderlike verwondering in die studies van Komnick – ’n empatie met die kind wat ’n blik bied op ’n sorgeloosheid wat hulle nog kon geniet – voordat hulle later met die werklikhede van die sosiopolitieke omstandighede moes kennis maak. Vyftig jaar nadat die foto’s geneem is, sou ’n mens graag wou weet wat van hierdie kinders geword het.

Omslag van Gunther Komnick se Cape Town: Memories of the 60’s

Portretstudies van Maleiers, by uitstek dié van sjeik Ahmed Khadeer, kan die foto feitlik as ’n biografiese indruk van die sitter geld. Teen sy Maleiersagtergrond en sy bepeinsing met die spel van lig is hier ’n kunswerk van besondere gehalte geskep.

Die gehalte en prestasie van Günther Komnick as fotograaf word opnuut met hierdie publikasie verreken. Hy het as dokumenteerder van sy tyd ’n bydrae van betekenis en waarde gelewer. Dat sy werk op hierdie wyse nou vir die rekord beskikbaar is, is ’n wins. Sy fotografie word beskryf as sou dit aansluit by die styl van beroemde fotograwe soos Henri Cartier-Benson en Yousuf Karsh.

Die werk word van ’n inleiding deur M Cassiem D’arcy voorsien. In hierdie woordbeeld bied hy opnuut ’n besef aan van die onvervangbare verlies wat Kaapstad ervaar het met die sloping van Distrik Ses, wat nou nog as verminking van ’n gemeenskap en sy mense registreer. Nêrens word dit ’n aanslag nie, maar net ’n verrekening, juis omdat die fotoboek deel van die regstellingsproses is. Almal wat in hart en niere Kaaps is, sal hierdie fotoboek as kleinood ag.

’n Foto-uitstalling gebaseer op Cape Town: Memories of the 60’s word vandeesmaand in die Erdmann-galery in Kaapstad gehou. Die uitstalling duur tot 28 September.

Besoek www.erdmanncontemporary.co.za vir nadere besonderhede.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top