’n Ongelukslagoffer se bydraende nalatigheid

  • 0
Bron: http://www.mining-technology.com/news/newsengineering-group-sandvik-secures-mining-systems-contract-from-sasol-mining

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Vandeesweek sak ons vir ’n wyle diep af in 'n myn – die Middelbult-steenkoolmyn wat aan Sasol Mynbou behoort. Daarna gaan ons hof toe.

Op sy beste is so 'n myn maar nie 'n baie vriendelike omgewing nie, en as die swaar toerusting waarmee die mense doer onder werk, lol en die goed herstel moet word – én dis reeds laat in die nag! – dan is dit allermins plesierig.

Op 'n aand so 'n paar jaar gelede het die planeetratkas van 'n aaneendelwer onder in die myn gebreek. Nou, ek is nie 'n tegniese persoon nie, maar ek verstaan dat 'n planeetratkas eintlik maar werk soos die son wat in die middel as 'n groot rat sit met klein ronde ratjies wat in die rat inskakel rondom daardie groot middelste rat. Die klein ratjies word dan die planeetratte genoem.

En 'n aaneendelwer? Wel, dit is 'n apparaat wat steenkool uitdelf, en soos die naam aandui, is dit waarskynlik 'n outomatiese proses wat heeltyd aangaan. Nou, die mynmense het al geweet dat as die planeetratkas van so 'n aaneendelwer padgee, is daar net een man wat dit kan regmaak en dit is 'n sekere mnr Squire, wat die bynaam Planetory King gehad het – vanselfsprekend op grond van sy bedrewenheid met die herstel van planeetratkaste.

Planetory King Squire is dus na onder toe geroep en hy het begin om die ratkas te verwyder. Maar die as het vasgesit en mnr Squire kon dit nie op die gewone manier met die hande of 'n domkrag loskry nie. Hy het toe besluit om die as uit te trek deur 'n ketting daaraan vas te maak deur middel van 'n bout en dan die ketting te heg aan 'n wisselkar en dit op dié manier uit te trek. Nou wat is 'n wisselkar? Dit is 'n gewone elektries-aangedrewe gemotoriseerde laaibak waarmee die steenkool wat deur die aaneendelwer uitgedelf word, verwyder word.

Mnr Squire het vir sy handlanger, ene Abraham Antonie, gesê: "Hamba landa lo shuttle-car." In die vermaledyde myntaal Fanagalô beteken dit "Loop haal die wisselkar." Daar was net een klein probleempie: Abraham Antonie was nie bevoeg om so 'n elektriese wisselkar te bestuur nie, hoewel hy dit al een of twee keer vantevore gedoen het. Hy het egter gehol en die kar gaan haal soos wat hy deur mnr Squire beveel is. Onthou egter: dit is dónker onder in ’n myn. Daar was net die werkers se koplampe en die delwer se ligte, en toe die wisselkar naderkom, ook die ligte dáárvan. Mnr Squire kon die drywer van die naderende wisselkar sien, want hy het 'n koplamp opgehad. Hy kon egter nie die drywer se gesig onder die lamp en helm herken nie, maar het hom nogtans met sy eie koplamp gewink om die wisselkar nader te bring. Inderdaad was die bestuurder van die wisselkar die ongelisensieerde Antonie.

Die wisselkar het nader beweeg. Die ketting is aan die wisselkar en aan die as van die ratkas vasgemaak en tekens is met die koplamp gegee. Die wisselkar het agteruit beweeg, maar die ketting het van die as losgespring omdat die bout gebreek het. Die wisselkar is gestop en daar is aandag aan die probleem gegee. Mnr Squire was besig om die bout met 'n hamer en beitel te kap toe die wisselkar skielik sonder waarskuwing vorentoe beweeg en hom en 'n ander werker teenaan die kant van die aaneendelwer vasdruk. Dit is duidelik dat die ongeluk veroorsaak is deur die nalatigheid van Antonie die handlanger, wat na alle waarskynlikheid die versneller van die wisselkar getrap het toe hy veronderstel was om die rem te trap. Mnr Squire en die handlanger is albei ernstig beseer en het mettertyd 'n skadevergoedingsaksie teen hul werkgewer, Sasol Mynbou (wat ook Antonie se werkgewer was), ingestel.

Die saak het voor regter Kees van Dykhorst van die hooggeregshof in Pretoria gedien.1 Die regter moes oor twee vrae beslis: die eerste een was of die werkgewer inderdaad aanspreeklik was. Indien wel, sou die tweede vraag aan die orde kom: of mnr Squire nie self ook nalatig was en op dié manier bygedra het tot die beserings wat hy opgedoen het nie.

Wat die eerste vraag betref, het Sasol Mynbou se advokate aangevoer dat toe Antonie die wisselkar bestuur het, hy dit nie binne die bestek van sy diensverband met Sasol Mynbou gedoen het nie. Hy was 'n handlanger wat gehelp het in die onderhouds- en herstelwerkafdeling. Sy taak was nie om 'n wisselkar te bestuur nie. Hy was nie gelisensieerd om dit te doen nie en sy optrede was in stryd met die regulasies.

Dit was baie oortuigende argumente, maar die regter het bevind dat dít waarmee mnr Squire en Antonie besig was, suiwer in belang van die werkgewer was. Die taak wat hulle besig was om uit te voer, was om die planeetratkas van die aaneendelwer uit te haal. Wat Abraham Antonie gedoen het toe hy die wisselkar sonder magtiging bestuur het, was in opdrag van mnr Squire ten einde die taak waarmee hulle besig was, uit te voer. Hy het opgetree in dienstyd in die uitvoering van sy pligte tot die uitsluitlike voordeel van sy werkgewer, maar wel op 'n ongemagtigde wyse. Die regter was dus tevrede dat Sasol Mynbou aanspreeklik was.

Die tweede vraag was of mnr Squire self ook nalatig was. Die regter was van mening dat dit wel die geval was. Mnr Squire het homself in 'n gehurkte posisie geplaas voor die wisselkar, wat hom maklik teenaan die aaneendelwer kon vasklem indien die wisselkar in beweging sou kom. Die regter het beslis dat 'n redelike persoon, voordat hy hom in so 'n gehurkte posisie sou plaas, seker sou maak dat die wisselkar óf afgeskakel is sodat dit nie kan beweeg nie, óf beheer word deur iemand wat ten volle vertroud is met die werking daarvan en dit met bekwaamheid kan hanteer. Só 'n persoon was Abraham Antonie klaarblyklik nie.

Die regter het egter beslis dat dit duidelik was dat die nalatige optrede van Antonie, wat die direkte oorsaak van die ongeval was, veel meer moet weeg in die relatiewe nalatigheidskaal as dié van mnr Squire. Gevolglik het hy beslis dat Antonie driekwart nalatig was en mnr Squire self een kwart, wat beteken het dat mnr Squire se eis teen Sasol Mynbou met 25% verminder is.

1     Vgl Squire v Sasol Mynbou (Edms) Bpk & Andere  1993(3) SA 298 (TPA)

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top