’n Ode vir Sang-Heung Lee

  • 5

Foto: Canva

’n Ode vir Sang-Heung Lee                

Vir nege maande het jy gespartel
in jou ma se broei-oond.
Toe maak jy jou verskyning
en jy lyk so anders as ander.
Met vae vrae is jou ma na die internis.
Sy verdoemende uitspraak was:
“Die kind is ongeneesbaar: ’n outis.”

Toe weet jou ma: Jy is ’n misbaksel.
Dié broodjie het nie gerys nie.
“Waarom, Here, moet ek die hel
en bitter van my eersteling smaak?”

Jou ooglede het jou oë gesluier,
lig het ligweg by jou verbygegaan,
jou tong het woordlomp gestruikel.
“Wat gaan van my word?
Ek het aan alles ’n tekort.
As volslae outis strompel ek
van afgrond tot afgrond.”

Soos Parmenides, vra ek die godin
om haar leisels in toom te hou
en my syns- en sinvraag te beantwoord:
“Waarom in hemelsnaam is ek gekies
om in die sonwa na die godepaleis te reis?
Ek vrees die Onsienlike sal my verjaag.
Kan ek nie op aarde met lig bestraal word nie?”

In Sang-Heung se stikdonker het die Onsienlike
Hom oor die dwalende seuntjie ontferm
en aan hom die gawe gegee om note
te hoor en met sy klankryke stem te sing.
Op die dag van die groot kompetisie
het Sang-Heung ma-vas onbeholpe rondgewaggel,
maar toe wonderbaarlik ’n komposisie gespeel.

Wolfgang Amadeus Mozart
se klavierkonsert nommer 20 in D-mol, K 466.

Hy het ook soos ’n engel gesing, die skare was
asemsnakkend en trane het gestroom.
’n Tydlose oomblik van verwondering.
Sang-Heung ry in die stralende sonwa;
die skare juig – hy is die algehele wenner.
Hy is: bridge over troubled waters.

  • 5

Kommentaar

  • 'n Aangrypende ode met 'n knap inspan van woordkuns oor 'n menslike inkorting met 'n Onsienlike gawe wat bly voorduur. Cas Vos se digkuns en kennis van die musiek roer die snare en skep meeleef.

  • As 'n enkelma van 'n volwasse outis het hierdie my só diep geraak. Vir my bly hy steeds perfek geskape in sy "onvolmaaktheid"(volgens wêreldse terme). Mooi, diep gedig.

  • Dankie Cas dat jy hierdie uitsonderlike lewe, wat 'n ster-geleentheid ervaar het, in woorde gevang het en onder my en andere se aandag bring!

  • Susan Vorster

    Ek het lank geneem om hierdie gedig van jou te lees, Cas. Dit was die wag werd. Al wat kortkom op hierdie oomblik is om die klanke wat ek raaklees hier te gaan soek en ook te hoor. Puik!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top