’n Nuwejaarsuitnodiging – die Christendom staan sterk!

  • 0

Die mees onlangse Pew Research Center se bevindinge is dat die Christendom oor die afgelope 100 jaar of wat bykans vervierdubbel het – en alhoewel meer mense in Europa oënskynlik wegbeweeg het van die tradisionele Christelike kerke, word dié tydperk gekenmerk deur ’n ongekende Christelike groei in die ander wêrelddele, veral Suid-Amerika, sub-Sahara-Afrika en tradisioneel Oosterse lande soos Filippyne en baie sterk in Sjina. In Sjina, byvoorbeeld, is daar nou al meer as 67 miljoen geregistreerde Christene en in die Filippyne, amper 87 miljoen.

Hoewel daar ’n skerp afname aan geregistreerde Christene in Europa is, is dit steeds ’n feit dat sowat 67% van die Europese bevolking steeds geregistreerde Christene is.

Let op dat ek heeltyd verwys na geregistreerde Christene – mense wat op een of ander wyse as lidmate by die verskillende Christelike kerke wêreldwyd as sodanig geregistreer is. ’n Aspek wat nie deur die PEW in ag geneem kon word nie, is natuurlik die miljoene ánder Christene wat nié as lidmate by kerke geregistreer is nie. Dié tendens is toenemend en is waarskynlik ook die verklaring vir die oënskynlike “daling” in ledetalle van tradisionele kerke in Europe en elders, selfs hier. So is daar, as ’n enkele voorbeeld, sowat 5 belydende Christen-gesinne in die straat waarin ons woon. Nie een van dié gesinne, is ingeskrewe lidmate van die kerke in die omgewing nie, maar bykans almal van hulle woon ongereeld die kerke in die buurt so half om die beurt by. Hierdie tendens kom oral voor. Maar sulke gelowiges sal nie op die rekords staan by enige van die kerke waar hulle aanbid nie en vir die amptelike oog, soos dié van PEW, bestaan hulle dus nie.

Meer as ’n derde (2.1 biljoen) van die wêreldbevolking is geregistreerde belydende Christene. Daarby moet dan nog gereken word ’n faktor vir die ongeregistreerde Christene, verál in plekke soos die Midde-Ooste, byvoorbeeld Israel en die Arabiese lande, en die verre Ooste, byvoorbeeld Sjina, waar mense báie skugter is om hulle affiliasie bekend te maak, weens allerlei vooroordeel en selfs vervolging. As mens na die plaaslike tendense kyk, waar Godsdiensbeoefening vryelik beoefen mag word, sal daar ten minste twee ongeregistreerde gelowiges wees, vir alke 5 geregistreerdes – wat nog te sê in die lande waar Christelike Godsdiensbeoefening ontmoedig en selfs vervolg word – dáár sal die prentjie waarskynlik andersom wees – vyf ongeregistreerdes vir elke geregistreerde, ens.

Die 2.1 biljoen Christen gelowiges se getal wat deur PEW vermeld word, is dus ultra konserwatief. In ’n land soos Sjina met sy groot en digte bevolking, waar Evangelisasie weens verstedeliking, snelle verwestering en ultra digte bevolking en behuising, uiters effektief beoefen kan word, kan daar waarskynlik 335 miljoen Christene wees, in stede van net 67 miljoen geregistreerdes. Só ook in die Filippyne en elders in Suidoos-Asië en veral die Arabies elande en Israel, waar ekstreme Islamitiese groepe en ortodokse Judaïsme die verspreiding van die Christendom aktief probeer teëstaan.

Daar kan dus met sekerheid aanvaar word dat véél meer as net ’n derde van die wêreldbevolking aktiewe, belydende Christene is en dat dié getalle handomkeer toeneem by die jaar.

Tog word hierdie selfde tydperk, die afgelope eeu of wat, ook gekenmerk deur die felle aanslag van die ateïsme en die agnostisisme teen hoofsaaklik die Christendom. Selfs en veral in die akademie, word daar openlike veldtogte teen die Christendom gevoer. Akademici soos Richardt Dawkins is meer berug as teenstanders van die Christendom, as wat hulle bekend is vir enige akademiese uitmuntendheid. Desnieteenstaande maak die Christendom handomkeer nuwe gelowiges wêreldwyd.

Dit laat dan die ander religieë en die agnostiese bewegings in dieselfde bootjie – hulle gaan met rasse skrede agteruit, want daar is by hulle géén Lewende Gees, dié van God, van die HERE Jesus Christus, Wie só kragtig funksioneer om só effektief, in weerwil van eeue oue verbete teenstand, só die enigste ware Godsdiens te laat floreer nie.

Groete, en as jy nog nie met ons is nie, sluit gerus dié jaar by ons aan. Álmal hou daarvan om dissipels van die Wenner te word en te wees. Sommige het net nog net nie die Weg daarheen gevind nie …

Kobus de Klerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top