
Fotobron: OpenClipart-Vectors, https://pixabay.com/vectors/bank-banking-buy-chip-credit-2029480/
Die oggend van Woensdag 19 Januarie 2022 was soos enige ander oggend – totdat die telefoon ewe skielik lui. Vroutjie tel op. Sy gesels in Engels en ek hoor aan haar stem dat dit dringend is. Sy gee die telefoon vir my.
.........
’n Dringende manstem stel dit duidelik. Hy is van my bank se sekuriteitsafdeling en hulle het vasgestel dat ’n oorsese vliegkaartjie op ’n bedrieglike wyse met my kredietkaart gekoop is. Ek hoef nie bekommerd te wees nie, hulle het dit gestop. Wat hy nou gaan doen, is om my rekening te beveilig sodat dit nooit weer sal gebeur nie.
..........
’n Dringende manstem stel dit duidelik. Hy is van my bank se sekuriteitsafdeling en hulle het vasgestel dat ’n oorsese vliegkaartjie op ’n bedrieglike wyse met my kredietkaart gekoop is. Ek hoef nie bekommerd te wees nie, hulle het dit gestop. Wat hy nou gaan doen, is om my rekening te beveilig sodat dit nooit weer sal gebeur nie.
Die eerste vraag: Hoe doen ek my banktransaksies? Op selfoon en rekenaar, sê ek doodluiters. Wat is my selfoonnommer? Die hele tyd kef Vroutjie op die agtergrond: “Moenie dit vir hom gee nie!” Ek dink by myself: Wat weet sy nou, sy werk nooit met internetbanktransaksies nie. Selfoonnommers is in elk geval geen geheim nie.
........
Ek raak ’n bietjie bekommerd. Hoe weet ek hy is nie ’n swendelaar nie? Wat is sy naam?
........
Ek raak ’n bietjie bekommerd. Hoe weet ek hy is nie ’n swendelaar nie? Wat is sy naam? Ravi (of so iets) Govender, sê hy. Hy is van die oorkoepelende sekuriteitsafdeling. Alles in die haak; ek moet die verwysingsnommer 888/DCA/60/ neerskryf, wat ek toe doen. Ek moet ook die “JOB ID”: GIDIT3517 neerskryf. Op ’n stadium het hy so aggressief geklink (seker omdat ek nie die erns en dringendheid van die saak kon insien nie) dat ek moes sê: Hoekom praat jy só met my?
Hy wil ook weet of ek by nóg ’n bank is en ek sê ja en gee die bank se naam. Ek bevestig ook dat ek die bank se besigheid hoofsaaklik op die selfoon doen met die bank se app. Reg, sê hy, hy sal dié rekening ook beveilig. Steeds sê Vroutjie op die agtergrond: “Moenie vir die man dit gee nie!”
Hy oorhandig my toe aan sy kollega, Roger Fernandez, wat my rekeninge sal beveilig. Snaaks, sy stem is ook soos dié van Govender. Voor ek my oë kon uitvee, sit ek voor die rekenaar en voer “Roger” se instruksies uit en tik: Install, Search. Ek het dit alles op ’n vel papier geskryf, oa die selfoonnommer 0860 557 557.
Hy gee die hele tyd instruksies oor ons handtelefoon. Ewe skielik begin die merker, wat gewoonlik deur my rekenaar se muis beheer word, vanself op die rekenaarskerm rondbeweeg. Dit is asof Vroutjie se dringende boodskappe en die banke se waarskuwings: “Ons sal nooit jou bankinligting per telefoon vra nie!” ewe skielik tot my deurdring. Ek druk die rooi knoppie op die handtelefoon om die oproep te beëindig. Dadelik begin my selfoon lui. Ek weier die oproep. Hy lui weer en weer op my selfoon. Uiteindelik sit ek my selfoon af. Die handtelefoon lui weer en weer en weer. Ek maak die handtelefoon oop en skud die batterye uit.
Ek skakel dadelik (op my vrou se selfoon) my kredietkaart se bedroglyn. Volgens hulle is daar geen snaakse transaksies op my kredietkaart nie. (Nog nie!) Hulle stop my kredietkaart. Ek stop my ander rekening op die bank se app. Weer eens geen verlies nie. Sjoe!
Volgens SMS’e op my selfoon was daar ongeveer 10 “gemiste” oproepe, sommige uit KZN. My rekenaar is onmiddellik ingegee om virusse te verwyder. Toe die rekenaar terugkom, merk ek ’n onbekende program op my rekenaar se voorskerm: TeamViewer, ’n program wat dit moontlik maak om saam op ’n rekenaar te werk.
Nul uit tien vir my, wat gereeld met rekenaars werk, en so maklik anderhalfuur lank om die bos gelei (“gehipnotiseer”) is deur die skurk, en volpunte vir Vroutjie se onfeilbare vroulike intuïsie.


Kommentaar
Ek gaan nou seker soos 'n ou man klink, maar waar is die jare heen toe mens nog jou bankbestuurder persoonlik geken het? Nou bel vreemdelinge jou uit Johannesburg en 'n rekenaarsisteem monitor ongewone aktiwiteit op jou rekening.
En as mens 'n oproep uit Durban kry, antwoord jy nie eens die foon nie. Dis nou as jy die area kode 031 te gewaar. As dit nie 'n selfoonnommer is nie.
Ek kry toe ook 'n oproep met 'n herkenbare Indiese aksent aan die ander kant, wat vra of ek sopas 'n betaling van R4500 aan 'n hotel in Nairobi, Kenia met my kredietkaart gedoen het, want vir hom lyk dit na bedrog.
Ek besef dadelik hierdie is 'n internetslenter en besluit om die ou aan die gang te hou. Ek vra vrae, gee vae antwoorde, ontwyk wat hy vra, weier om my naam en telefoonnommer en e-posadres te gee, tot hy moedeloos is. Hy wil my banknommer weet.
"As jy van die XXX bank se sekuriteitsafdeling af bel, weet jy mos wat my bankrekeningommer is," antwoord ek.
Uiteindelik vra hy weer: "Het jy sopas 'n betaling van R4500 aan 'n hotel in Nairobi gemaak?"
Ek antwoord "Ja, dit is alles in die haak. Die betaling kan deurgaan". In my lewe was ek nog nooit in Nairobi en het ek nog nooit enige hotelbespreking daar gedoen nie.
Hy is duidelik uit die veld geslaan, en weet nie wat om te sê nie.
"F*** you!" skree hy, en sit die telefoon neer.
Ek kon hom byna 'n halfuur aan die gang hou. Niks kon my meer genot verskaf het nie.
Baie dankie, Schalk en Barend. "Once bitten, twice shy".
Die doel van my artikel was egter om die mini-drama wat in ons huis afgespeel het weer te gee.
Hopelik sal dit mense ook aanmoedig om versigtiger op te tree.
Schalk, dankie vir jou praktiese wenke.
Doen die volgende in geval van 'n skelmoproe.p Antwoord en sê Koos is nie hier nie, die persoon moet aanhou, jy gaan gou vir Koos roep. Dan sit jy die foon neer en gaan rustig voort met dit waarmee jy besig was. Ignoreer die herhaaldelike "hello, hello". Na 'n tyd sal die skelm agterkom hy is vir die gek gehou en dat hy 5 tot 15 minute van sy tyd gemors het. Gewoonlik word jou foonnommer van sy lys afgehaal.
https://www.thetimes.co.uk/article/how-to-waste-a-phone-scammers-time-an-experts-guide-rjgvxp0r5?shareToken=066c50fcdc9e3ca476dfcb49347bde7a
Bostaande skakel is deur 'n vriend aangestuur.
Dankie, Gawie. Die kuns is om 'n skelm-oproep te kan erken.
Ek kry gereeld 'n SMS oor die geld wat een of ander vir my nagelaat het. Dan antwoord ek hulle gwoonlik in Engels met "Thank you. On receipt of your checque and cleared, 10% will be donated to your favourite charity".
En ewe skielik het ek nie meer ryk ooms of tannies nie.
Ek verlustig my partykeer aan oproepe uit die buiteland. Ek bevestig gewoonlik vrae met 'n ja. Dan wil hulle weet of ek tyd het om te luister na uitmuntende beleggingsmoontlikhede. Ek word dan gevra of ek beleggings het en waarin. Ek het gewoonlik dan 'n groot eiedomsportefeulje wat kantoorblokke in New York, London, Singapoer en ander stede insluit. Ek besit goud- en diamantmyne, noem dit - ek het dit. Jy kan dan hoor hoe opgewonde raak die siel aan die ander kant. Kan hulle vir my voorleggings aanstuur? Ja, gerus, en ek gee dan 'n spook-vonkposadres met die allerverskriklikste taal; die buitelander weet mos nie wat dit beteken nie. Hy kom net agter daar bestaan duidelik nie so 'n adres nie.