’n Mooi verhaal vir Kersfees

  • 8

Ek het ’n wonderbaarlike verhaal – ’n ware een boonop – wat vra om vertel te word. Ek sal dit so kort moontlik probeer vertel sonder om afbreuk te doen aan die essensie van die geskiedenis, wat grootliks persoonlik is.

My oupagrootjie se oupa, Johannes Jacobus Pretorius, gebore in 1798, het van Graaff-Reinet af Vrystaat toe getrek en is in 1860 op die plaas Klipfontein buite Bloemfontein oorlede. Die plaas is aan sy seun, Carel Petrus, gebore in 1834 op Graaff-Reinet en oorlede in 1927, bemaak. Hy het ’n gedeelte van die plaas aan die Unieregering geskenk en die Landboukollege Glen is daarop aangelê.

Carel Petrus Pretorius

In die klein museum by die Landboukollege kon ek onlangs ’n afdruk van ’n portret van hierdie oupa opspoor. ’n Gestrenge man, duidelik, sodat ek verlig is dat ek hom met vier geslagte gemis het.

Hy was getroud met Johanna Catharina Linde, gebore in 1840 en oorlede in 1909, dus voor hom, en in die boedel na haar dood was die plase Wolverdraai, 3 274 morg, en die helfte van Middelplaats, 760 morg.

My oupagrootjie, Johannes Jacobus, gebore in 1859 en oorlede op 23 Desember 1922 “aan ’n geweerskoot self toegedien”, was hulle oudste seun en tweede kind, en iets moes drasties skeefgeloop het tussen, of met, Carel Petrus en Johannes Jacobus, want hy was ’n arm man, en boonop diep in die skuld, toe hy homself geskiet het.

Hier gaan ek ’n effense draai loop met die storie, maar ek is seker lesers is ook nuuskierig oor hoekom hy homself geskiet het. Ek was ook, en is steeds, nuuskierig, want die beste wat ek tans kan doen, is om ’n teorie aan te bied. Ek hoop dat een van die lesers van hierdie artikel bykomende inligting kan verskaf.

Wat wel ’n feit is, is dat hy volgens familie-oorlewering ’n baie kwaai vrou gehad het en dat hulle, soos gemeld, ten tye van sy selfdood diep in die skuld was. ’n Verdere feit is dat hy ’n hensopper was tydens die Boereoorlog. Die kombinasie van ’n kwaai vrou, groot skuld en verwyte (van homself en deur die gemeenskap) oor sy roemlose optrede tydens die oorlog sou myns insiens oorgenoeg aanleiding tot selfmoordgedagtes kon wees, en hy het op Saterdagmiddag 22 Desember 1922 van sy huis in Brandfort (wat nog staan) gestap en die aand nie teruggekeer nie.

Ek kon Die Volksblad van daardie week opspoor (Vrystaatse Argiefbewaarplek) en die gebeure word in strak, gespierde taal geskets. Toe hy nie terugkeer nie, is die Sondagmôre ’n soekgeselskap uitgestuur, maar hulle kon hom nie vind nie. Die middag het hulle weer probeer en ’n ou veldwagter kon die rigting aandui waarin hy met sy “.22 lang repetietie geweertjie” gestap het – in die rigting van Botha se berg naby Brandfort.

Aan die voet van die berg het die mense sistematies te werk gegaan: “In ’n regte lyn het hulle toe saam geloop, elke boom, elke klip en elke voortjie deurgesoek. Na hulle omtrent ’n uur gesoek het, kry hulle die lyk, tussen groot klippe en oordek deur ’n dik boom, amper onvindbaar verskuil, morsdood. In ’n sittende houding, sy linkerhand op sy bors, naas hom aan die regterkant die geweertjie, afgeskiet ’n koeëlwond in sy voorkop.”

Al die mense van wie hier bo melding gemaak is, behalwe Johannes Jacobus se kwaai vrou, is waarskynlik in ’n netjiese begraafplaas op die gronde van Glen Landboukollege begrawe. Dis oor hierdie begraafplaas dat my storie eintlik handel.

Die begraafplaas by Glen Landboukollege soos dit in 1993 gelyk het. Grafte van links na regs: Carel Petrus Pretorius, Johanna Catharina Linde, Johannes Jacobus Pretorius en Anna Maria Minnaar (in een graf) en (waarskynlik) Johannes Jacobus Pretorius.

Ek moes “waarskynlik” in die vorige sin en onderskrif van die foto byvoeg, want die graf heel regs het ’n naamlose grafsteen. Ons het lank oor dié naamlose graf gewonder, maar toe gehoor die ouer geslagte het soms die gewoonte gehad om iemand wat aan selfdood gesterf het, naamloos te begrawe. Dit moet dus waarskynlik die arme Johannes Jacobus se graf wees.

Ek is ’n ywerige grafganger en het dikwels die begraafplaas besoek om ’n bier te drink of ’n skelm sigaret te rook. Ek kon op ’n manier vertroosting daar vind. Die begraafplaas het, soos sigbaar in die foto, ’n netjiese klipmuurtjie van ysterklip wat duidelik deur kundige (Italiaanse?) vakmanne gebou is.  Ook daaruit kon ek inspirasie vind.

Vroeg in Mei 2018 het ’n aaklige gesig op my gewag. Die voorste muurtjie was totaal aan stukke geruk en die antieke hekkie gebuig.

Die stukkende begraafplaas soos in Mei 2018

By navraag aan die terreinopsigter het dit geblyk dat die Landboukollege hulle dam wou laat skrop en dat die Departement Werke swaar masjinerie met ’n lowbed-sleepwa verby die begraafplaas gesleep het. Dié haak toe aan die hoek van die muurtjie en pluk dit om.

Hoe nou gemaak? Ek dag eers ek sal dit self probeer herstel, maar besef gou dat dit ’n onbegonne taak is. Ek vra diplomaties of hulle dit kan herstel. Gaan sien die hoof. Niks gebeur nie. Ek begin prokureursbriewe stuur. Dit help niks. Ek kry ’n kwotasie vir die herstel van die muur. R80 000. Wie gaan dit betaal?

Jare gaan verby. Ek probeer dit vergeet, maar kry dit nie reg nie.

Vroeg in Mei 2023 gryp na ek ’n laaste strooihalm en gaan soek die openbare beskermer se provinsiale kantoor in die middestad. ’n Vriendelike, hoogs professionele dame met die naam Matsela Qoopane staan my te woord. Ek verduidelik my saak en gee die lêer met foto’s en korrespondensie vir haar.

Op 12 Mei 2023 kry ek ’n e-pos (hier deur my uit Engels vertaal) van haar af.

Hierdie dien om u in kennis te stel dat me Matsela Qoopane die ondersoeker is wat aan u saak toegewys is. U saak is as ’n Diensleweringsaak geklassifiseer, wat tussen ses en agtien maande kan neem om afgehandel te word. U sal ten minste elke ses weke terugvoer ontvang oor die vordering van u saak.

’n Brief met besonderhede van al u bewerings sal aan die Departement gestuur word, en sodra ’n reaksie ontvang is, sal u in kennis gestel word.

Ek ontvang oor die volgende jaar inderdaad elke ses weke terugvoer van me Qoopane. Sy handel beslissend en sonder omhaal van woorde.

Niks gebeur nie en ek begin van voor af wanhoop.

Sy stuur briewe, volg op, reël vergaderings, kontak ’n plaaslike Erfenis-argitek, identifiseer ’n bekwame Erfenis-kontrakteur, dring aan dat die begraafplaas skoongemaak word, dreig met ’n dagvaarding.

Op 30 Julie vanjaar ry ek moedeloos uit begraafplaas toe.

Die begraafplaas is kraaknuut en skoon.

Die muur is herstel en daar is ’n nuwe hekkie gehang. Die begraafplaas is kraaknuut en skoon.

Tot die grafte is gerestoureer: nuwe randjies, netjies soos kan kom. Die naamlose grafsteen is opgekikker. Ek hoor dit het R100 000 gekos.

Ek skryf láng, diep dankbare briewe vir me Qoopane en vir haar lynhoof. Hierdie wye, droewige land is nog nie verlore nie.

Ek gaan drink ’n bier by die begraafplaas, sit op die splinternuwe muurtjie en besef geleidelik: Hiér wil ek begrawe word. Ek kry sommer moed vir my vergeefse stryd teen die dood – maar oorweeg darem nog nie selfdood nie.

My vrou sê sy sal saam met my daar gaan rus. My neef en sy vrou oorweeg dit ook.

Die begraafplaas gaan nuwe lewe kry.

Ek het paniekerig my eie begraafplek laat voorberei.

  • 8

Kommentaar

  • Jan vd Westhuizen

    Middag Jannie.
    Ek het nie gedink so-iets is nog moontlik in ons land nie. Dis 'n baie mooi verhaal. Jy kan trots wees om so baie inligting van jou voorgeslagte te hê. Ek sal graag op Google Maps na die begraafplaas wil kyk as jy asb. die koördinate sal stuur.
    Baie dankie

  • Hendrik Nolte

    Pragtige skrywe. Gee my moed en idees vir Standerton-Wes se begraafplaas wat as weikamp deur die munisipaliteit gebruik word.

  • Annatjie Botha

    Middag, Jeannie. Ek het óók 'n baie interessante "begraafplaasstorie" wat ek met jou wil deel, as jy belangstel kan jy my kontak?

  • Inderdaad 'n wonderlike verhaal, nie net oor die storie nie, maar ook oor die verbete volharding om 'n doel te bereik. Op my dorp is die begraafplase 'n droewige toneel wat met 'n gelate sug die rug gekeer word.

  • Sebastian Pistor

    Inspirerend! Dankie, Jannie. Aanhouer wen. Jou storie gee my moed vir my opdraande stryd om ’n gepaste gedenkmuur opgerig te kry vir die sowat 5 000 eertydse pasiënte wat in ongemerkte grafte op Robbeneiland begrawe is. Hulle nagedagtenis moet in ere herstel word.

  • Nora Rossouw-Costerus

    Pragtige storie van hoop en dat alles in hierdie pragtige en dierbare land van ons nog nie verlore is nie.

  • Soms dink ek my strewes na reg en geregtigheid is tydmors, maar dié verhaal gee my nuwe moed.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top