’n Lewe met boeke: vlug, vlot en boeiend

  • 0

’n Lewe met boeke
Koos Human
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798147033

Koos Human het ná die stigting van Human & Rousseau in 1959 en die uitgee van skrywers soos NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, André P Brink, Etienne Leroux en ander Sestigers ’n belangrike, eiesoortige plek in Suid-Afrika se uitgewerswese verwerf.  Sy pas gepubliseerde herinneringe as uitgewer loop wyd: oor veertig jaar en oor byna ’n duisend publikasies waarmee hy gemoeid was. Ook oor politieke  knoeiery en skandelike eng vooroordele waarmee die lewe vir skrywers en uitgewers moeilik gemaak is.  ’n Lewe met boeke is vlug, vlot en boeiend in die vertelling.  Dit is ’n helder, insiggewende, dikwels wyse boek.

Die uitgewer as “gentleman publisher”, ’n legende wat in Suid-Afrika in ’n belangrike mate ook deur Human beliggaam is, het in die middelste ses dekades van die vorige eeu in ’n wye groep kleurryke uitgewers opnuut gestalte gekry. Onder andere: Horace Liveright, wat in die 1920’s die werk van T S Eliot, Ernest Hemingway, William Faulkner, EE Cummings, Eugene O’Neill, asook Sigmund Freud uitgegee het; Bennett Cerf, stigter van Random House; Alfred Knopf, Stanley Unwin,  André Deutsch, Allen Lane, Tom Maschler, en George Weidenfeld. Daar is nog verskeie ander, ook onder die hier  minder bekende Franse, Duitse, Nederlandse en Italiaanse uitgewers. 

Dit was ’n tyd waarin die lees van boeke sterk toegeneem het.  Die sogenaamde “goeie” boek het minder stigtelik leersaam en meer algemeen toeganklik geword.  Skrywers en hul boeke is toenemend in die kolligte van vermaak bemark en van dié lig het ook op uitgewers geval. Tog kon ’n senior Britse sakeleier nog vir die uitgewer Frédric Warburg vra:  “Is publishing an occupation for gentlemen or is it a real business?”

Dit is onwaarskynlik dat dié vraag vandag op dieselfde wyse gevra sal word.  Groei in boeke en boekverkope het veroorsaak dat onafhanklike boekhandelaars meesal deel geword het van groot kettinggroepe, wat nou oral in die ontwikkelde wêreld boekverkope oorheers.  Tegelyk het ’n gaping ontstaan tussen groter, meer saaklike uitgewerye, en kleiner nismarkuitgewers.  Op enkele uitsonderinge na is die uitgewerye wat deur die legendes van die vorige eeu gevestig is nou deel van groter groeperinge, meesal groot mediamaatskappye.  Die proses van hoe uitgewerye veral sedert die laaste twee dekades van die vorige eeu deel geword het van internasionale groepe, meesal nog vóórdat die oorspronklike stigters uitgetree het, is al wyd en omvattend beskryf, onlangs weer deur die uitgewer Jason Epstein in Book Business.

Human maak in sy boek ’n kniebuiging in die rigting van die legende van die uitgewer as kleurryke bemiddelaar tussen verskillende wêrelde met, onder meer, ’n hoofstuk oor die innemende vabond Mauritius Spies,  asook in die beskrywing van ’n ontmoeting wat grens aan die absurde met die weduwee van die digter Peter Blum. 

Dis opmerklik, as ’n mens sy herinneringe vergelyk met dié van tydgenote elders in die Westerse wêreld, dat al dié uitgewers, Human inkluis, vaardige skrywers is.  Hulle vermy omslagtige anekdotes en gewigtige uitsprake.  Hulle is skerp waarnemers, sonder om te veel aandag op hulself te vestig.  Dis meesal ’n plesier om oor hul ervarings te lees.  Maar wat in ’n vergelykende lees die sterkste opval, is die alomteenwoordige en dikwels neerdrukkende invloed wat politieke, ekonomiese en sosiale werklikhede hier op skrywers, boeke en uitgewers gehad het.

Dit is dalk te wagte dat die Amerikaanse uitgewers die meer sorgvrye indruk skep.  Vir die Europese en ook Britse uitgewers was daar dikwels ’n donker geskiedenis rondom die opkoms van Hitler en die Tweede Wêreldoorlog.  Maar afgesien van dié tydperk, en hier en daar ’n terloopse opmerking oor sensuur, is hul herinneringe byna uitsluitlik op skrywers en die interne uitgewerswêreld toegespits. Hulle deel met hul lesers die vaste wete dat hul lewensruimte tussen boeke ’n stewige en gerespekteerde huis is.

In Human se boek blaas die wolf meermale aan die deur.  Sy relaas daarvan is ewewigtig en beredeneerd, ’n koele, hoflike en afstandelike blik, te meer effektief omdat dit dikwels deur ’n byna versweë humor genuanseer word.  Veral drie waarnemings bly my by: die aanvanklike afwesigheid van ’n gevestigde boektradisie in die beginjare; daarná opeenvolgende sensuurmaatreëls; en eindelik, die aanblaas van eiewaan onder Afrikaners, wat dan uitloop op buitensporige politieke druk op skrywers en uitgewers.

Die gebrek aan ’n gevestigde boektradisie in die jare toe ’n jong Human as uitgewer begin werk het, word uitgebeeld in ’n beskrywing van die onnadenkende domheid waarmee die tipograaf Jurgen Fomm ontvang is toe hy in 1955 uit Hamburg na Suid-Afrika gebring is om die gehalte van boekproduksie by Nasionale Boekhandel te verhoog.  Onder meer is daar vir die hoogs beskaafde Fomm vir sy eerste nag in die vreemde ’n kamer in ’n ruwe en berugte hotel ’n hele ent uit die stad bespreek. En om te sê dat Fomm se eerste voorstel in die fabriekskamer van die drukker met ongeloof begroet is, is ’n understatement. 

Daar is verdere voorbeelde:  ’n uitgewershoof wat bars en bevelend is teenoor skrywers, asook die volkome onbevoegdheid van ’n ander uitgewershoof wat, ondanks min belangstelling in boeke, sy pos vermoedelik danksy ’n politieke guns verwerf het.  Latere hoofstukke oor outeursreg en bemarking gee ’n aanduiding van hoe die plaaslike bedryf in Human se tydperk as uitgewer algaande geprofessionaliseer is.

Die verbod op Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein! in 1977 en die uitgerekte appélsaak daarná is voorafgegaan deur ’n lang geskiedenis wat Human nou meegemaak het. Die regstreekse aanloop was al in 1956, toe die regering ’n kommissie van ondersoek na ongewenste publikasies aangestel het, met die rasbehepte Geoff Cronje as voorsitter.  Daarna het gevolg skandalige debatte deur Abraham Jonker en Blaar Coetzee in die parlement, asook die instel van daaropvolgende publikasierade. Onder voorsitterskap van Gerrit Dekker was die Publikasieraad aanvanklik betreklik onomstrede, maar onder Jannie Kruger en later regter Lammie Snyman, het die raad se bedrywighede meermale aan die belaglike gegrens, terwyl dit tegelyk vernederend vir skrywers en ’n bedreiging vir die Afrikaanse letterkunde was. 

Human bring dié ongelukkige geskiedenis, met die persoonlikhede wat daarby betrokke was, opnuut in perspektief.  Die sfeer waarin sensuur ’n bedreiging vir Afrikaanse letterkunde kon word, sê hy, was nie net ’n oordrewe sin vir fatsoenlikheid nie, maar deel van ’n wyer, meer algemene besoedeling:  ’n banale grootheidswaan onder Afrikaners, wat sou lei tot intense vooroordeel teen alles wat as volksgevaarlik gesien is, en ’n patriotistiese hovaardigheid, wat boonop deur smaak- en stylloosheid gekenmerk is.  Kruger, Snyman, G A Watermeyer en vele ander figureer in dié besmetting, wat ook veral deur die SAUK uitgedra en versinnebeeld is. 

Dit was dieselfde hubris wat ’n klimaat geskep het waarin dr. H F Verwoerd, sonder teenspraak van baie kulturele leiers, dit op hom kon neem om, by wyse van spreke, NP van Wyk Louw se kop in te slaan.  Later sou John Vorster as premier die keurders op ’n literêre paneel individueel inroep en afdreig om te verhoed dat die CNA-prys in 1968 aan Breyten Breytenbach toegeken word. Human noem dié vreemde knoeiery kenmerkend van die klimaat van die tyd:  mense is met dreigemente ingeboelie tot optrede wat teen hul basiese oortuigings indruis.

Vorster se inmenging het later ook onregstreeks gelei tot ’n breuk tussen Human en Breytenbach. Die skrywer het Human se weergawe van Vorster se afdreiging anders vertolk as wat die uitgewer dit bedoel het.  Eindelik het Human en ander direkteure van die uitgewery hulle in ’n ope brief van Breytenbach se politieke stellings gedistansieer.  Human is ruim in sy erkenning dat die skryf van ’n ope brief ’n oordeelsfout was, waaruit hy geleer het. Die breuk met Breytenbach is eers jare later herstel.

In dié betekenisvolle hoofstuk oor Human se verhouding met Breytenbach word die leser bewus dat Human toe al deur Breytenbach, en vermoedelik ook deur ander, jonger skrywers as deel van die establishment beskou is.  Die eens lewendige en skerpsinnige jong uitgewer se rol sou dus met die jare tog verander, om in ’n klein taalgemeenskap  mense te vergaar eerder as  verder verdeel, om so dan sy ewewigtige bydrae te  kan maak om die integriteit van die uitgewersbedryf te handhaaf.

Human se terugblik bied ’n ryke verskeidenheid van menings en interessante brokke geskiedenis, van die verbondenheid tussen Nederlands en Afrikaans tot breukvlakke in literêre twiste en tot die tydelike gewildheid en oplewing van reisverhale of ander genres in Afrikaans. Hy is ook diskreet; enkele sake word aangeroer juis deur die verswyging daarvan. En soms is die prikkel vir die leser ’n terloopse opmerking wat in betekenis tergend oop is, soos die slotsin oor Peter Blum se werk. Nadat Enklaves van die Lig dertig jaar nie verkrygbaar was nie, en meer as een geslag Afrikaanse lesers nooit daarmee kennis gemaak het nie, sê Human, het die min belangstelling by die herverskyning “my mismoedigheid oor die toekoms van Afrikaans verder gevoed”...  

Vóór in die boek verskyn ’n geleentheidsgedig deur Elisabeth Eybers, geskryf vir Human se vyftigste verjaardag. Human sluit dié aanprysende gedig in, maar waarsku dat die aandagtige leser nie maklik deur die oënskynlike vleitaal geflous sal word nie. Dit is wel so, maar die aandagtige leser sal nietemin oplet die gedig ook méér sê: haar uitgewer-medewerker word bevestig as medepligtige, ’n waardering van groter betekenis as enige maklike vorm van vlei.

Human self het onlangs in ’n lesing voor die ALV-kongres by wyse van ’n aanhaling van Sir Stanley Unwin ’n nugter mening oor die aard van die uitgewer gesuggereer: “Publishers are not necessarily either philanthropists or rogues.”  En die uitgewery is nie “an occupation for gentlemen” nie; dit is “a real business.”

Sowel Eybers se gedig as Human se aanhaling van Unwin val in die toon van ’n boek wat reguit en sonder aanstel is en juis daarom ten volle bevestig dat Human nooit bloot ’n handelaar in bedrukte papier was nie, maar wel uitgewer in die rykste, wydste sin van die woord.    

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top