as woorde klippe word
en jy opfetus
om gesteen te wees;
jy, as heks gemerk,
o o p g e s p a l k
aan ’n fakkelkrans hang;
oproerig
die gepeupel
jou trotse kop
met valbyl vlek,
vir straathonde werp
om jou laaste bietjie bloed
te lek:
jou brokgebreekte gees
oor veld en vlees
u i t s p a t –
kom laaf die Wind
jou stukke(nde) lyf
en deur jou opgekapte oë
skemer daar weer
’n leksel leef
en wederleef
© Susanne Pike


Kommentaar
Iemand het eendag gesê, Susanne is die nuwe Ingrid Jonker.
Ek dink egter sy is Susanne Pike! Niemand kan haar styl en ongelooflike beskrywende nuwe woorde wat jou onmiddellik presies die beeld laat ervaar, nadoen nie!
Susanne Pike is in 'n klas van haar eie, ongeëwenaar! Baie geluk Susanne! Mag jou gedigte vernuwing bring en deur ons en ons nageslagte geniet en bewaar word!