'n Kunsgesprek waaraan straatmense kan deelneem?

  • 1

Foto: Vryfees Twitter

 

Volksblad en Kovsies hou Vryfees. En gedurende hierdie tyd is daar onverwags standbeelde in Bloemfontein wat met pienk lap gedrapeer word. Lees ’n onlangse onderhoud oor OPENlab.

Kobus du Preez, ’n argitek en dosent van Bloemfontein, gesels met Naomi Meyer oor wanneer selfs ’n kartonboks kuns kan word.

Kobus, dink jy mense kyk genoeg na geboue – en is dit nodig? Hoe dink jy sal hierdie pienk lappe die aandag vestig op iets waarby mense elke dag verbyry of -stap?

As jy belangstel in argitektuur en jou omgewing sal jy waarskynlik na geboue kyk. Almal stel egter nie belang daarin nie en dis goed so. Enigeen wat gewoond is daaraan om soms by ’n groot bronsbeeld van ’n man verby te stap, sal seker twee keer kyk as die ou nou skielik pienk is.

 Selfs die mees onbelangstellende mens sal nie kan help om die verandering raak te sien nie. Dié wat belangstel in hulle omgewing mag dalk wonder:

– Hoekom pienk: is dit nou pienk vir seuntjies en blou vir dogtertjies?

– Het dit enigiets met geslagtelike oriëntering te doen?

– Dit lyk nogal baie na plastiek. Brons klink permanent, maar plastiek klink weggooibaar.

– Is daar nog ’n beeld oor daar onder die plastiekdop? Hoe seker is jy? Mens kan die brons vir heelwat verkoop by ’n twyfelagtige skrootmetaalhandelaar. Een wat jou nie gaan verklap nie ...

– Wie het nou weer voorheen hier gestaan? Seker weer een of ander dooie wit man.

Het jy al vantevore bewaringsprojekte aangepak?

In my praktyk het ons ’n paar bewaringsprojekte aangepak soos Huis van Rensburg in Philippolis (waarvoor ons ’n toekenning van SA Instituut van Argitekte gekry het), maar ook heelwat ander werk. In my dosentloopbaan het ek meestal Ontwerp en Argitektuurgeskiedenis gedoseer. Ek is sedert 1997 betrokke by bewaring in die Vrystaat. Dit was destyds nog die ou Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede (RNG), maar deesdae het die klem verskuif na erfenishulpbronne. Mens kan met ander woorde daaroor gesels en probeer om die nut van hierdie hulpbronne te bekyk.

Foto: www.ricardopeach.com

 

Is geboue kuns? Op ’n ysige winternag: Wil mens nie eerder ’n knus binnekant van ’n gebou met ’n kaggel beleef as wat dit saakmaak hoe dit lyk nie?

Is kos kuns? Op ’n ysige winternag: Wil mens nie eerder ’n stomende bakkie sop hê as wat dit saakmaak hoe die sop lyk nie? Omdat dit mense is wat dit uitdink en dit maak, is daar ’n element van kultuur ter sprake.

Die hele spektrum van kultuur is ter sprake in argitektuur – van ’n skuiling wat my net moet help om te oorleef tot by ’n simbool van selfverwesenliking. As dit argitektuur is in ’n kultuur van oorlewing, is ’n goed-geïsoleerde kartonboks uitstekend en maak dit glad nie saak hoe dit lyk nie. As dit egter ’n teken van vooruitgang ook is, dan maak dit saak hoe dit lyk. Meeste geboue probeer op albei stoele sit. Daar is ’n funksie wat deur die gebou gefasiliteer moet word en daar is ook ’n indruk wat vir toeskouers en gebruikers georkestreer word. As dit belangriker raak watter indruk die gebou op sy gehoor maak, dan beweeg die gebou nader aan kuns en kan dit selfs ’n ikoniese gebou word. Hier in Suid-Afrika dink mens aan die Unie-geboue, die Apartheidsmuseum, die Kasteel of die Konstitusionele Hofgebou. Hierdie geboue kommunikeer eksplisiet met elke besoeker oor presies hoe welkom of onwelkom die verskillende soorte mense in die verlede was en nou is, en wat daar gedoen word.

Dis ’n wonderlike idee om die kuns na die mense te bring, veral in ’n land waar baie mense nie brood kan koop nie, wat nog te sê ’n kaartjie na ’n kunstefees. Maar dink jy hierdie is eerder ’n intellektueel se idee dat mense in die straat gaan staan en die kuns bespreek as wat dit in praktyk sal gebeur?

Ja, ek wil nie myself graag uitlaat oor die dringendheid van oorlewing nie, want ek ervaar dit anders as mense wat nie ’n brood kan koop nie. Ek sukkel daarom ook om die waarde van kuns in ander mense se lewens te bepaal. Of mense dit op straat gaan bespreek is ’n ope vraag, maar as dit vir my gaan laat stik aan my tee en selfs gaan laat wakker skrik sal ek hulle nie genoeg kan bedank nie.

As mense in Bloemfontein is, weet jy waar hulle orals hierdie kunswerke gaan sien? Of is die gedagte ook juis dat dit onverwags moet opduik?

Die verwerkte kunswerke is op die kampus te sien (die beelde van Presidente Steyn en Swart) en dit was ’n baie onverwagse ervaring om dit self raak te loop, al het ek so half en half geweet wat om te verwag. Die werklikheid is nou maar eenmaal die ware Jakob!

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Dit is heeltemal onvanpas en oneerbiedig om die standbeelde van eerbare Boere in pienk te drapeer. Waarom nie eerder oud-terroriste se standbeelde in rooi drapeer nie? Dit sou myns insiens meer van pas wees, want dit kan dui op sowel die bloedvergieting wat hulle veroorsaak het as hulle kommunistiese assosiasie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top