
Foto: Unsplash
Sowat 12 jaar gelede het ek ’n buitengewone geskenk vir Kersfees gekry. ’n Volbloed hartaanval volledig toegerus met ingeboude fibrillasies en slagaar-embolismes.
Nou, ek het al baie gehoor van ander interessante Krismisbokse. My ma het byvoorbeeld een jaar vir my pa ’n volledige mediese ondersoek vir Krismis gegee. Die volgende jaar was sy geskenk aan haar ’n volwaardige senuwee-ineenstorting saam met ’n stel nuwe valstande. Maar ’n hartaanval? ’n Hartaanval is nie eers iets wat jy by die winkel kan gaan terugruil vir ’n dompelkoker of ’n broodblik nie. Wie wil nou ’n hartaanval vir Kersfees hê?
Toe ander mense van die spul te hore kom, begin hulle my pla met allerlei vrae. Die soort vrae wat spruit uit beide nuuskierigheid en bygelowigheid, maar ook ander wat spruit uit doodgewoon oppervlakkige navorsing, opgestel binne die verband van afgeleefde hiernamaalsteorieë en ander bronne van slordige afleidings.
’n Afleiding is byvoorbeeld gemaak dat aangesien my hart gaan staan het en die mediese personeel ná ’n hele klomp skokke aanvanklik nie die ou klopsak weer kon kickstart nie, die episode met die huiwerende hart my dalk net naby genoeg aan die pearly gates laat kom het om die soort waarnemings te maak wat sekere teologiese twiste kon help besleg.
Het ek dalk my tone net diep genoeg in die Styx se waters gesteek sodat Charon my nie kon verhoed om ’n blik te kry op wat op die oorkantste wal in Hades aan die gang was nie? Miskien sou ek, ter bevordering van kosmiese deursigtigheid, verslag kon doen oor byvoorbeeld heersende louteringstoestande in die vaevuur of plakkerskampe in die dal van doodskaduwee?
Kon ek bepaal of die ontvangsruimtes voor die hekke toegerus is met genoeg dienspersoneel en logistiese steun in die lig van streeksoorloë in die Midde-Ooste, vark- en voëlgriep-uitbrake in die verre ooste, wegrapingepisodes in die VSA, vloedrampe en tsunami’s, Covid-pandemies oraloor, ensovoorts? Kan die gepaardgaande, verhoogde toeloop nog behoorlik bestuur word? Raak die plek daarbo nie nou al – wel, ’n bietjie … vol nie?
’n Slimkop wat hom bemoei met oneindigheidsteorieë dink dit is ’n dom vraag. Hy redeneer dat aangesien daar ’n oneindige aantal vertrekke in die hemel is (of behoort te wees) die plek nooit kan vol raak nie. Dit is so omdat as ’n mens sou aanneem dat al die hemelse ruimtes op enige gegewe moment vol is, enige nuwe aankomelinge wat Petrus deur die hekke kon inlaat maklik akkommodeerbaar is op die volgende manier. Skuif die siel in die laaste ruimte net een aan na die volgende ruimte in die oneindige reeks, sit die opvolger net agter hom in sy ruimte en so al met die ry af tot daar ’n ruimte oopgaan vir Petrus se nuweling in die ontvangskamer van die oneindige reeks. Die engele en die lede van die hemelse kore is al so gewoond aan hierdie soort ongerief dat dit nie ’n gefladder in die hemelhok sal veroorsaak of hulle halleluja-oefeninge te veel sal steur nie.
........
Ou horingkop met die pylstert kom boonop ook nog aanmekaar in die wapad aan met ’n lorrievrag siele wat hel toe gaan. Hy is mos ’n bleddie kommunis en as hy die sondes wat ’n oorbevolkingskrisis begelei, kan opstook, sal hy dit mos doen. Dink julle die duiwel slaap?
........
Goed en wel, kla sy opponente. Maar wat van die opeenhopings in die krotbuurte wat later ontstaan in die dal van doodskaduwee as gevolg van gebrekkige instromingsbeheer en plakkery terwyl daar gewag word op Petrus om sy mind op te maak? Want ou horingkop met die pylstert kom boonop ook nog aanmekaar in die wapad aan met ’n lorrievrag siele wat hel toe gaan. Hy is mos ’n bleddie kommunis en as hy die sondes wat ’n oorbevolkingskrisis begelei, kan opstook, sal hy dit mos doen. Dink julle die duiwel slaap?
Al troos wat ek kon aanbied is dat ou bokvoet, soos wat ons die mensheid ken, miskien met ’n groter lebensraum-probleem opgeskeep sit as Petrus.
En in die vaevuur moet daar ’n waglys so lank soos jou arm wees. Die wagtyd wissel natuurlik ’n bietjie soos wat louteringstoestande wissel aan die hand van brandstofpryse, maar dit bly maar ’n nou poort om deur te wikkel. Veral wanneer die Opperwese se bestuursmaatskappy op die aarde, die Vatikaan, sukkel om naasbestaandes te oortuig dat priesterlike gebede vir die afgestorwenes die proses kan versnel in ruil vir milde gawes aan die kerk. Nadat Calvyn met sy uitverkiesingsleer die vaevuur ontmasker het as ’n katolieke protection racket, kan Protestante nou mos net uitvind na watter kant toe die bordjie wys wanneer hulle anderkant aankom. Gebede aan die duskant gaan jou nie vinniger oor die hete kole laat loop nie. Die resultaat: Nog meer harmansdrup in die poort.
Godsdienssosioloë wou weet of die amptenare voor die hemelse poorte meer aankomelinge uit Mecca as uit Rome deurgelaat het en of daar enige sigbare voortrekkery vir die een of vir die ander geloofsuiting speurbaar was. Kon ’n stukkie manna onder die hek deur jou kanse op toetrede beïnvloed of is die heilige gees se spioene oraloor teenwoordig om wanpraktyke te bekamp? Het daar nie, ten spyte van die aanmaning dat jy dit nie kan saamvat nie, ’n geldgat of twee tog maar probeer insluip met sy aardse skatte nie?
Ander wou weet of die uitgestorwe werkersparadys in die destydse Sowjet Unie dalk herberg gevind het in ’n agterplasie iewers op die Elysiese velde. So ’n Gulag met baie vodka, pret en konsertinamusiek en ’n klomp vrouens met oorpakke en waterbootse wat met kruiptrekkers besig is om ’n werkersparadys te laat verrys, terwyl hulle uit volle bors die “Internationale” uitbasuin.
Uit die ANC se hoofkantoor was daar angstige navrae oor of ’n mens enige aanduidings kon kry van hoe vêr die planne vir die Wederkoms al gevorder het. Sodra hulle weet, is dit mos vir hulle maklik om uit te werk hoe lank hulle nog aan die stuur van sake kan bly.
........
’n Mens moet die regte vrae stel as jy die regte antwoorde wil kry en in elk geval hoor ek hier is so ’n bleekgesig-beenkop ou met ’n swart jurk en ’n sens by my voordeur wat aanmekaar op die klokkie druk en my aandag aftrek.
........
Iemand met ’n naam wat geklink het soos Breyten of Hermann of so iets wou weet of ’n mens nog Afrikaans hoor as Charon se boot die Styx oorsteek en of regstellende aksie ook hier al sy tol geëis het? Waar tussen die hemel en die hel setel die grondplanne vir Stellenbosch, die nuwe kampus, en verstaan die Opperwese darem nog so ’n bietjie Afrikaans of het Hy ook al intussen ’n voorkeur ontwikkel om Haar openbaringe net in Engels aan te kondig?
Het Adam ’n naeltjie?
Is die hel los?
Ongelukkig moes ek hulle almal teleurstel. Hades is versluier in ’n skaduwee en die Styx se wal aan die oorkant is te ver om te sien. ’n Mens moet die regte vrae stel as jy die regte antwoorde wil kry en in elk geval hoor ek hier is so ’n bleekgesig-beenkop ou met ’n swart jurk en ’n sens by my voordeur wat aanmekaar op die klokkie druk en my aandag aftrek.
Ek moet eers gaan hoor wat hy wil hê.
Kommentaar
vir Jannie Gagiano en B. Buiteblaf
Grootbek, jy beter ‘n plan maak.
Wanneer daai hekke van die aardse bestaan
agter jou toeklap
gaan daar nie vir beide jou
én jou ek
lêplek wees in die enkelselbed
van die dood nie –
al lewe julle nou ook hoé lekka lekka lepel
Om die waarheid te sê
is die dood al vol bespreek
en dis onwaarskynlik dat wie dan ook
sal kanselleer
so asof daar nog iets te sê sou wees
vir aanhou lewe
Een van julle is een te veel
‘n Oplossing sou wees
terwyl jy tog nog by jou sinne is
met die paplepel in die mond
om jou ek hier buite
waar die donker vryheid waai
nek-om te draai
en op te eet
D.w.s. indien jy lank genoeg
sou kon aanhou skrywe
om die lewe van die lyf te hou –
dat jy dit huidjie en muidjie verslind
en verteer sal hê
teen die tyd
dat daar ‘n plan met jou
gemaak moet word
vir die gelyklyk wegsê nêrens toe