’n Kort verhaal

  • 1

Die skerp lig maak my oë seer soos ek by die voordeur uitsukkel en die trappies versigtig afbeweeg. Ek gaan staan stil op die sypaadjie en meet my roete onseker af. Skaars gee ek my eerste tree die pad af toe hý van iewers by my aansluit.

Ek herken hom nie, maar sy teenwoordigheid voel bekend, soos ʼn argaïese herinnering. Met sy lang grys hare en twee rye diep plooie aan weerskante van sy ronde gesig kyk hy reguit voor hom uit en hou sy pas in die rigting wat ek inslaan. My eerste tree gaan woordeloos voort, maar die kierie wat hy saam met hom dra, tik ritmies op aardkors en verbreek die stilte in magiese vibrasies. Tik tik tik.

Ons lê ʼn taamlike afstand af voor my eerste poging tot ʼn gesprek, maar ek sukkel om die woorde te vorm en bal my vuiste kwaai teen my onderontwikkelde vermoëns. Ek raak agter en moet huppel en spring om by die ouman en sy kierie te bly. Nuuskierigheid forseer uiteindelik my eerste woorde uit. 

"Wie is jy?" vra ek, maar hy hou sy pas in stilte. Tik tik tik. Ons beweeg relatief vinnig verby rye en rye huise wat weerskante van die straat in gelid oprys. Vierhoekige houers van herinneringe.

In ʼn oomblik van spontane jeugdigheid verlaat ek my metgesel en hardloop met kort, vinnige treetjies oor die groen grasperke wat die wêreld verfraai. Ek swenk rats tussen bome en tuintjies, hardloop en val en staan op en hardloop weer. My tree verleng en maak dieselfde magiese vibrasies op die aarde wat konsentries uitkring in die rigting van nabye huise. Die polsende golwe bars hul deure oop en medemensies stroom uit hul wonings om die vlietende oomblik van vryheid mildelik te deel. Soos swaels sny ons deur die lug, oor en weer en tussen mekaar. Ons wapper en klets saam in hoë boomtakke. Ons bad in soel fonteine. Opeens, soos in ʼn oogwink, word dit stil en ek vind my weer langs my immerteenwoordige metgesel. Tik tik tik.

Die ouman bly verbete aanstap en ek hou outomaties by.

"Waarheen stap jy?" probeer ek weer. Dié keer meer selfversekerd, maar met dieselfde nuuskierigheid.

"En waarom stap jy saam met my? Neem jy my êrens?" Stilte.

"Kan ons nie nog..." Tik tik tik. Die volgende oomblik voel dit asof sy pas versnel en ons jaag tussen koue sementgeboue wat hoog bo ons uittroon. Kil handelskatedrale met glasoë wat gluur en grou mure wat ons aan weerskante kelder en in een rigting forseer. Ewe skielik wemel dit van massas en massas mense wat soos slange rondkriewel op die warm teer. Die geraas wat vanuit die stad opdruis, doof die getik van die ouman se kierie vir ʼn oomblik uit. Ek seil verby dié wat te stadig beweeg en word gestamp deur dié van agter. Met tande gekners stoei elkeen verwoed oor en weer en verby skubagtige ledemate wat mekaar meedoënloos verstrengel.

Ek vererg my vir dié wat my terugstamp en trek myself vorentoe aan dié wat voor my is. Oplaas beur ek by die laastes verby en skud myself ongeërg reg toe ek anderkant uit is. Die stank van swael en sweet kleef aan die binnewande van my neus. Die ouman se kierie klink weer in my ore op en ek vermy sy gesig soos ons verder stap. Tik tik tik.

Ek kyk terug oor my skouer. Die huise met hul tuine is ver, hul weligheid lyk vaal deur die newels. In die stad lyk al die yslike geboue eenders en elke mensgesig vreemd. Dis nou droog en koud, die landskap verrimpeld en gekraak soos ʼn soutpan. Aasvoëls draal laag en tydsaam in sirkels bokant ons.

Tik tik tik, hou die ouman sy pas, ritmies en konsekwent. Sy blik na voor, soos altyd. "Ek verstaan nie waarom jy saam met my móét loop nie," sê ek moeg en afgeleef, "maar kan ons asseblief stadiger voortgaan?" Met my oë op skrefies probeer ek die pad meet wat steeds voor my lê, maar dit vernou in die verte en loop dood teen die horison.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top