’n Klein bietjie magic, ’n lesersindruk met hulp aan taalonderwysers

  • 1

Titel: ’n Klein bietjie magic
Skrywer: Theresa van Baalen
ISBN: 9780639608112
Uitgewer: LAPA

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Toe Janke se pa-hulle besluit hulle gaan nie hierdie Desember op Gourits vakansie hou soos gewoonlik nie, is sy nie baie beïndruk nie. Toe sy uitvind hulle gaan vir vier weke na die piepklein, geïsoleerde Noord-Kaapse kusdorp McDougallsbaai, nog minder. ’n Piepklein dorpie saam met ’n oorbeskermende ma is nié Janke se idee van ’n prettige vakansie nie ... Ten minste is daar ’n oulike buurseun, Stefan, wat vinnig die ligpunt van Janke se vakansie word. Daar is net iets aan Stefan se sjarme en die verlatenheid van die dorpie onder die groot sterrehemel wat haar laat voel daar is iets magical in die lug ... En wie weet wat kan gebeur?[1]

1 Inleiding

Uit die staanspoor wil ek meld dat ek in hierdie dokument – soos met my vorige jeugverhaalbesprekings – my persoonlike en professionele indrukke as lesergerigte en ingeligte[2]  kritiese leser bied. Gesien in die lig daarvan dat ek vir baie jare onderwysstudente wat gekies het om Afrikaans as vak te onderrig, opgelei het om voorbeelde van jeugletterkunde krities te kies en kreatief te onderrig, het ek toenemend die behoefte gehad het om kriteria vir die onderrig van jeugletterkunde saam te stel. Mettertyd het ek ook ’n aanlynleesjoernaal ontwerp waaraan hierdie onderwysstudente interaktief kon deelneem in terme van die responsbenadering (resepsie-estetika)[3] tot die onderrig van letterkunde. Genoemde kriteria het in die proses ontwikkel om elemente wat die bedoelde leser, die teks en die skrywer as deel van die letterkundige kommunikasieproses behels, aan te spreek – dit is die kernfokus van hierdie skrywe.

Ek wil hier onder graag motiveer wat die redes vir my bespreking is en dus ’n narratiewe interpretasie maak (Burger 2018:103)[4]. In hierdie dokument beweeg ek van spesifieke interne teks- en literêre stylmiddele wat die betrokke jeugverhaal se genetwerkte wêreld ondersteun en integreer ek  algemene kriteria wat te make het met die eksterne waarde van jeugletterkunde as subgenre van literêre tekste. Hierdie skrywe het die potensiaal om onderwysers te bemagtig – uiteraard het ek genoop gevoel om hieroor meer te kommunikeer en eindnotas te verskaf met inligting aangaande verwysingsbronne wat my uitgangspunte verhelder.

My kritiese lees-, ontleding- en besprekingsproses plaas ek binne die kader van hoofagente in die literêre kommunikasieproses soos deur Rosenblatt (1995) aangaande die resepsie-estetika (ook genoem responsbenadering) uiteengesit. Waar daar in die verlede veral gekonsentreer is op teksstudie, blyk dit uit Rita Ghesquiere (1993) – ’n erkende kundige aangaande spesifiek jeugliteratuur  – se bespreking van die funksies van jeugliteratuur[5] duidelik dat die ervaring van die leser tydens die leesproses baie belangrik is. Daarom ag ek hierdie nuwe paradigma nodig waardeur die leser ’n liefde vir die boek en lees kan aankweek en die skrywer ’n aktiewe aandeel daaraan het, terwyl die literêre vorming en ontwikkeling van kommunikasievaardighede nie nagelaat behoort te word nie.

Die responsbenadering is ’n tweerigtingkommunikasieproses waarin die leser herskeppend reageer op die skrywer se weergawe van ’n bepaalde siening hoe dit die teksproduksie en teksresepsie van kinder- en jeugliteratuur beïnvloed. Met teksproduksie word bedoel die daarstelling van ’n geskrewe teks, en teksresepsie behels die proses van teksrealisering deur die leser. Dit is in die bespreking van jeugverhale ewe belangrik om te besluit wat die belangrikste elemente in die literêre kommunikasieproses is en wat die funksies van jeugletterkunde is.

Ghesquiere se mening dat die funksies van jeugletterkunde dit onderskei van die gewone roman, sluit aan by die opinie van ’n vroeë kenner (en bekroonde skrywer) van Afrikaanse jeugletterkunde, wyle Elsabe Steenberg, dat jeugverhale novelles is en oorgangsliteratuur genoem word omdat die jeugdige steeds vooruit reik na volwassenheid in die proses van haar[6] groei uit selfgenoegsaamheid en dat dit in hierdie subgenre weerspieël word.

As ingeligte leser bied ek hier my indrukke wat gegrond is op my ontleding van ’n Klein bietjie magic as ’n narratiewe interpretasie wat jeugdige leerders, ouers en onderwysers kan begelei om narratiewe in jeugletterkundige tekste te verstaan. Omdat die verhaal slim geskryf is, wil ek die skrywer komplimenteer deur dit so deeglik as moontlik te bespreek.

Die skrywer, Theresa van Balen, se eerste twee prenteboekpublikasies, Aspris-krokkedis en Karla Krullebol, is albei met ATKV-kinderboektoekennings bekroon. Aspriskrokkedis het ook in 2012 die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur ontvang.

Theresa is veral bekend as skrywer van die gewilde Sanri Steyn-reeks. Sy het al in ander genres ook geskryf, maar kinderstories sal altyd haar eerste liefde wees.

Theresa het onlangs begin om haarself te leer kitaar speel, maar sal liewer nie haar rekenaar permanent vir ’n kitaar verruil nie.[7]

’n Klein bietjie magic was op die kortlys in LAPA se jeugromanwedstryd van 2019. Haar ander jeugverhale (Z-A-K: Die blou planeet, en Z-A-K: Die reis na Zenkion) is (soos ’n Klein bietjie magic) as e-boeke en drukkopieë gepubliseer.

2 Lesergerigtheid

’n Klein bietjie magic is ’n tipiese chicklit-novelle,[8] waarin romantiese liefde die hooftema is, en is beslis toepaslik vir die teikengroep van jeugdiges naby aan die einde van hulle skoolloopbaan. (Later word meer hieroor gesê tydens die bespreking van styl en genre.) Die leser word vroeg voorgestel aan die hoofkarakter (Janke de Wet) wie se graad 10-eksamen agter die rug is. Sy ontmoet vroeg in die verhaal vir Stefan Vosloo in Port Nolloth op wie sy dadelik wanneer sy hom sien, verlief raak. Stefan is waarskynlik dieselfde ouderdom as Janke. Janke se boetie (Werner) word maats met Adriaan (Stefan se broer) en hulle is albei 13 jaar oud.

Die verhaal speel af teen die agtergrond van die gesin De Wet se Desembervakansie in McDougallsbaai, naby Port Nolloth. Die leser maak ook kennis met Janke se pa Deon en ma Roelien. Hulle buurman, die pa van Stefan en Adriaan, is Gerhard.

Die verhaal handel uiteindelik oor Janke se ontwikkelende vriendskap met Stefan, wat belangstel in en kennis het aangaande sterre – hy wil ’n sterrekundige word. Hy en Adriaan en hulle pa woon in McDougallsbaai en gee vroeg in die verhaal te kenne dat hulle ’n ruimteskip gesien het en dit geheim hou (30). Die kinders se ervaring van die see, sterre, golwe, Melkweg en maanpadda sal beslis tienerlesers se belangstelling prikkel en hulle woordeskat en ervaringshorison kan uitbrei.

Tolkien[9] onderskei tussen die sekondêre wêreld van die verbeelding en die gegewe realiteit, wat hy die primêre wêreld noem. Alhoewel die sekondêre wêreld van die skrywer (in hierdie verhaal McDougallsbaai en Port Nolloth) en die leser in ’n Klein bietjie magic dalk dieselfde aard het, is hulle nooit identies nie. Die transformasie van die skrywer se verbeelding tot storielyn, simbool, karakters en tydruimte kan verskil van die leser s’n, maar dit kan haar eie fantasieë laat aansluit by wat in die verhaalteks voorkom.

3 Literêre-teks-gehalte

Styl, genre en register

’n Klein bietjie magic is ’n tipiese jeugletterkundige werk wat ’n subgenre van literêre fiksie is. Dit beteken dat beide die literêre elemente en funksies van jeugletterkunde in hierdie afdeling onder die loep sal kom.

Die skrywer se styl in hierdie boek is tipies van romantiese fiksie, waaronder chicklit ressorteer,[10] waar romantiese liefde die hooftema is. Chicklit is deel van die roman-genre, maar het sigself die afgelope paar dekades verhef om op eie bene te staan. Meestal het hierdie boeke die nodige humor om die leser te help om die konflik in haar situasie(s) te relativeer. Ek het in hierdie boek nie eintlik humor gevind nie, maar Janke se kreatiewe taaluitings kan ongetwyfeld dieselfde funksie vervul.

Vroue- of romantiese fiksie is fiksie wat spesifiek vir vroulike lesers geskryf, gepubliseer en bemark word, want die aanname is dat die teikenlesers oorwegend vroulik is. Dit het definitiewe romantiese temas met ’n manlike en vroulike karakter wat mekaar heel vroeg in die verhaal leer ken, soos wat hier met Janke en Stefan gebeur.

’n Klein bietjie magic kan saam met ’n menigte ligte liefdesverhale deur meestal vroueskrywers soos Chanette Paul, Wilna Adriaanse, Kristel Loots en die Romanza-boeke in die laaste paar dekades in Afrikaans in dieselfde asem genoem word. Die ekologiese of natuurtema in die boek maak dat dit ook netjies op dieselfde rak as boeke soos Kringe in ’n bos (Dalene Matthee), ’n Tuiste vir Bitis, Ken jy die Kierangbos, Swiera van die Waterkant, As jy kan fluit op hierdie maat  (Freda Linde), Arboreta, die heks met die groen hare (Riana Scheepers) en Betower (Fanie Viljoen) kan staan.

Verder word chicklit gekenmerk daardeur dat die verhaal vertel word in die eerste persoon, daar is gewoonlik probleme met die liefde en die hoofkarakter is in die aanwesigheid van ’n ondersteunende vriendegroep. ’n Klein bietjie magic voldoen aan al bogenoemde kenmerke, waar die verhaal handel oor Janke, haar innerlike monoloog,[11] haar verhoudings, konflikte en probleme.

Alhoewel chicklit nie gewoonlik in tienertaal geskryf word nie, waarskynlik omdat dit meestal oor volwasse vrouens handel, is die register in ’n Klein bietjie magic kenmerkend van tienerverhale waar die dialoog van verskillende karakters uitbeeld wat die sleng of sosiolek[12] van hulle spesifieke maatskaplike agtergrond is.

’n Klein bietjie magic kan eerder as ’n novelle[13] en nie ’n roman nie gesien word, omdat die trant, intrige en karakterbeelding ligter as dié van die roman is; dit kan ook ressorteer onder ontwikkelingsromans (bildungsromans) ­– ook genoem adolessenteromans – waar die groei na volwassenheid, soeke na en uitdrukking van eie identiteit, ontwikkeling van verhoudings, sowel as bewustheid van ekologiese waarhede, sentraal staan.

Intrige en spanning

In chicklit is die intrige meestal die begeerte en soeke van die vroulike hoofkarakter na ’n bevredigende romantiese verhouding, waar dit eintlik gaan oor die gevoelens wat sy in so ’n verhouding ervaar.

’n Klein bietjie magic bevat verskeie intriges (plots) soos wat dit deur verhouding tussen karakters van verskillende ouderdomme en geslagte gemanifesteer word. Die hoofintrige is Janke se verhouding met Stefan en haar ma, en daarmee saam die ontdekking van verrassings in die natuur en in haar lewe.

Verder word die gewone Griekse dramatiese struktuur van spanning gevolg, waar die eksposisie of kennismaking gebeur soos wat ons Janke in haar gesin en tussen hulle nuwe vriende (Stefan en Adriaan) leer ken. Ons maak veral kennis met die protagonis (Janke) wie se antagonis aanvanklik haar ma is, so ook die onbekende omgewing (McDougallsbaai) waar hulle gaan vakansie hou (in plaas van Gourits soos in ander jare se Desembermaande). Die basiese konflik van die verhaal kom na vore, naamlik dat Janke nie haar ma se oordeel oor haar kan vertrou nie en daarvan wil vrykom, omdat haar ma alles en almal wil beheer en monitor (24). Daar is ook gedurig konflik tussen Janke se ma en pa, dan “grawe hulle gewoonlik ook elke liewe stokou koei uit die sloot terwyl hulle aan die baklei is” (68).

Daarna is daar aanhoudend stygende handelinge/gebeure, waar sekondêre konflikte bekend gemaak en opgelos word wanneer Janke toenemend begrip vir haar ma kry – veral nadat haar ma erken het dat sy oorbeskermend en te perfeksionisties is en dat sy wanneer hulle terug is in die Kaap, by ’n sielkundige wil gaan hulp kry (73). As Janke sê: “My pa is cool ... Maar my ma is partykeer ’n regte koei!” (62), herinner Stefan haar dat sy kan bly wees sy het ’n ma, want syne is doodgeskiet, dat hy graag die verskietende sterre met haar sou wou deel, omdat sy belangstelling in sterre van haar af kom – sy het vir hom en Adriaan geleer van konstellasies, en het (ook) in aliens geglo (126).

Uiteindelik is daar meer as een fisiese klimaks en ook emosionele hoogtepunte in die boek. Die eerste fisiese klimaks vind plaas wanneer Janke agterkom dat Werner dieper in die mis gegaan het en Adriaan vertel dat hy nog net een groot golf wou ry. Hierdie voorval veroorsaak nogal baie spanning. ’n Emosionele klimaks kom voor wanneer Janke se ma haar uittrap voor Stefan, wat vir Janke baie vernederend is. Hierdie verhaalmoment is terselfdertyd ook ’n krisis, waar daar ’n beslissende keerpunt kom: Haar ma beken dat sy onredelik was en vra om vergifnis, en sê dat sy Janke met haar eie besluite sal vertrou (71).

Die ander fisiese klimaks vind plaas wanneer hulle kyk hoe die sterre verskiet (112). Hierdie hoogtepunt roer vir Janke emosioneel – sy kan sien dat haar ma en pa ook in vervoering is oor die sterre, soos twee verliefdes. Dit is dán wanneer Janke haar grootste ontdekking maak: “Dalk is dít die magic, dink sy, alles wat ons nie kan sien nie, onsigbare teenwoordighede, alles wat is en was, wat die lug vul wat ons inasem” (113).

Daarna is daar die dalende gebeure, die fase waarin die vakansie verby is, Janke-hulle inpak om terug te gaan Kaap toe, en Stefan kom groet. Daar is belofte vir meer kontak in die toekoms, eerstens deur WhatsApp en videogesprekke, en ook dat Stefan-hulle in die April-vakansie by hulle oom in die Kaap gaan kuier. Janke en Stefan sien weer die flaminke en hierdie keer ook die dolfyne, en saam ervaar hulle die magic in die lug (136).

Karakterbeelding en dialoog

’n Klein bietjie magic bevat ’n oorvloed van uiteenlopende karakters van verskillende temperamente, agtergronde en geslagte (mbt ouderdom en seksualiteit). Elkeen van die karakters is goed uitgebeeld en alhoewel daar duidelike hoofkarakters en newekarakters is, is daar nie oorheersende stereotipes nie.

Soos wat die (nou reeds bekende) gebruik by chicklit is, is die protagonis (hier Janke) ’n moderne, stedelike matriekmeisie wat vasgevang was in haar omstandighede waar sy teen haar sin saam met die gesin moes gaan vakansie hou – in McDougallsbaai in plaas van Gourits, en waar haar ma en die omgewing eintlik die antagoniste is. Behalwe dat sy deelneem aan atletiek en graag saam met haar vriende na die mall en flieks in Kaapstad gaan, is daar is nie ander meldings van haar (vorige) belangstellings nie – ons weet net: “As syself eendag kinders het, gaan sy nie soos haar ma wees nie. Sy sal nie haar kinders met die Bybel gooi elke keer as hulle vir hulleself probeer dink nie, en sy sal beslis nie die heel tyd vir haar man probeer sê wat hy moet dink en doen, en hoe hy moet voel nie” (10).

Janke ontmoet vir Stefan (nog ’n sterk karakter) en hulle raak verlief. Die leser raak egter nie té betrokke by die randkarakters (Janke se ouers en boetie Werner, Stefan se boetie Adriaan en hulle pa, en deur laasgenoemde se oë en herinneringe ook hulle ma) nie, sodat die bedoelde (vroulike) leser nie weggetrek word van die verhouding tussen die manlike en vroulike hoofkarakters nie.

’n Kenmerk van jeugletterkunde is dat dit (in ooreenstemming met  die psigologies-emosionele funksie) ’n uitbeelding is van die identifikasieproses waardeur die leser insig verwerf in haar eie gevoels- en ervaringswêreld. In ’n Klein bietjie magic is dit veral Janke deur wie se oë en ervarings die leser ’n groter gevoeligheid vir verskille tussen mense (verskillende geslagte, ouderdomme, kulture) ontwikkel. Janke leer om haar eie gedrag en die gevolge daarvan te interpreteer en dít lei daartoe dat sy minder veroordelend teenoor ander (haar ma, pa en Werner) kan staan.

Gesien in die lig daarvan dat die hoofkarakter en haar nuwe vriend (en dus die bedoelde lesers) in die adolessente fase[14] van ontwikkeling is, is dit gepas om te let op die volgende kenmerke van hierdie lewensfase en hoe die uitbeelding van spesifiek Janke as hoofkarakter hieraan voldoen:

  • Adolessente is gewoonlik in ’n aktiewe introversiefase, wat lei tot die ontdekking van die ek, met haar wêreld van gedagtes, gevoelens, stemminge, drange, strewes en begeertes. Dit word in ’n Klein bietjie magic deur Janke se perspektief uitgebeeld wat haar dikwels onttrek as sy nie konflik kan hanteer nie – eers met haar ma en soms ook met Stefan – dit lei tot die ontdekking van haar (en moontlik die leser se) unieke individualiteit.
  • Omdat die jeugdige gedurig met haarself gemoeid is, neig sy tot selfkritiek en ook ’n kritiese instelling teenoor ander mense. In ’n Klein bietjie magic is Janke nie net selfkrities nie, maar veral krities teenoor ander mense – haar ma wat gewoonlik die rusies begin, alles probeer beheer en gedurig vir Janke monitor; haar pa wat altyd ingee om die vrede te bewaar; ook Werner, vir wie sy Muggiepoep noem omdat hy so kinderagtig is en vir haar en Stefan spot (23).
  • Die jongmens is baie bewus van tyd – verlede en toekoms – die verganklikheid van die lewe en die betekenis van die dood. Dit hang saam met die ontwikkeling van haar waardesisteem. Daar is dikwels van jeugdige optimisme of pessimisme sprake. In ’n Klein bietjie magic word die negatiewe belewings – van misdaad en vrees in die Kaap; Janke wat wonder hoekom die lewe so verskriklik onregverdig is as sy hoor dat Stefan en Adriaan se ma oorlede is (geskiet in die Kaap tydens ’n motorkaping); lig- en lugbesoedeling in die Kaap – gebalanseer deur Janke se ontroerende belewing van sterre “wat helderder teen die pikswart hemelkoepel skitter as wat sy dit al ooit in haar lewe gesien het”; ’n perfekte aand wat donker en maanloos is; die rustigheid en eenvoud saam met Stefan op die rotse; WhatsApp- en video-oproepe wat die afstand soveel makliker maak, sodat sy met Stefan sal kan kontak hou; dankbaarheid dat Stefan van haar hou en haar lewe verander het, die sterre vir haar gewys het en haar van sy ma vertel het. Hierdie proses van vergeesteliking word sterk beïnvloed deur die waardes van Stefan, ook dat haar ma en pa alles uitgepraat het en vrede gemaak het, en dat sy en haar ma kon vrede maak ná die skietstilstand.
  • Kenmerkend van die jeugdige is die stryd om saam te leef met haar ontwikkelende geslagsdrang wat ook bydra tot die ontwikkeling van haar persoonlikheid, geestelike kragte en funksies. Janke en Stefan is in ’n Klein bietjie magic nie net van hulle eie seksualiteit redelik bewus nie, maar ook van die seksualiteit van hulle maats van die teenoorgestelde geslag. Die leser ervaar saam met Janke hoe haar liggaam reageer wanneer Stefan naby haar is, haar hand vat, haar soen. Ook wanneer Stefan vertel hoe hy gewéét het hy wil haar sien toe hulle oë ontmoet het die dag by die museum, en dat Janke sy hart laat vinniger klop.
  • ’n Ander kenmerk van die jeugfase is die tiener se rebelsheid. Sy word nie meer opgevoed deur woorde alleen nie, maar sy is veral in opstand teen die mense in haar omgewing se voorbeeld. Maniere waarop Janke haar verset toon, is haar eie wil en optrede om vroegoggend (soos by Gourits) strand toe te stap, wat tot ’n rusie met haar ma lei. Sy wonder wanneer haar ma gaan ophou om vir hulle almal te probeer voorsê. Die gebruik van tienersleng is dalk ’n subtiele vorm van die tienerkarakters in hierdie boek se rebelsheid.
  • In hierdie lewensfase worstel die jeugdige met ’n strewe na selfuiting, wat uitgebeeld word in die gebeure waar die karakter se selfvorming en geestelike of kulturele ontwikkeling plaasvind. Janke ondervind ’n toenemende diepgaande emosionele en geestelike bewustheid van ’n gevoel van elektrisiteit/magic wat in die titel voorspel word en haar uiteindelik één met almal en alles laat voel – “Dis asof sy stoksielalleen in die wêreld is, asof die heelal haar omhels met koue, nat arms. Asof sy een is met die heelal” (90).
  • In die adolessente fase ontwaak daar ’n verlange en behoefte na geesgenote, veral na iemand wat dink soos jy dink en wat jy kan liefhê. Janke se verhouding met die teenoorgestelde geslag (Stefan) word dus ook uitgebeeld in terme van so ’n vriendskap, wat nie noodwendig seksueel is nie – hoewel Janke toenemend bewus raak van rillings in haar lyf. Sy luister gretig as Stefan verduidelik van die bioluminessensie in die golf wat ’n ligvertoning lewer en wanneer hy van verskietende sterre vertel. Sy deel haar ervarings van magic met hom en hy voel dit ook self aan.

Jeugliteratuur bied vir die tienerleser kompensasie vir die gebreke en onvolkomenheid van die werklikheid waarin sy leef (misdaad en vrees in die Kaap) – sy kry kans om daarvan te ontsnap, om ’n ander deel van die werklikheid te leer ken (McDougallsbaai) en haar wense te laat vervul. In hierdie opsig is ’n Klein bietjie magic bevredigend, omdat Janke se posisie en wedervaringe die leser kan help om met haar te identifiseer deur die gebreke en onvolkomenheid in haar ouers, broer en vriende te aanvaar en die beste te bied wat sy as persoon kan bied.

Verder is jeugliteratuur vir die leser ’n middel waarmee sy haarself kan handhaaf en haar eensaamheid en verveling kan verminder. Om te lees help om haar spanningsvlakke te reguleer, want deur die proses van biblioterapie (terapie van lees) kry sy onbewustelik insig in haar eie probleme. Omdat die lees van fiksie hoofsaaklik vir die tiener ontspanning bied, is sy nie daarvan bewus dat sy intellektueel ontwikkel, emosioneel groei (omdat sy saam met die hoofkarakter kan voel) en kreatief/geestelik skeppend besig is nie. Ook hierin slaag ’n Klein bietjie magic uitstekend, want ek as leser kon nie die boek neersit nie as gevolg van die hoë spanning en interessante intriges rondom verhoudings en versoening, en die uiteindelike wete dat Janke nie alleen is nie.

Die uiterlike dialoog is oral funksioneel en outentiek aangebied om by die onderskeie karakters te pas. Die gebruik van sleng waar dié soort taal byna die norm is, is aanvaarbaar veral omdat dié betrokke slengwoorde redelik bekend is en die tienerleser dit onmiddellik sou herken en verstaan. Die enigste informele of kragwoord wat gebruik word, is “bleddie”, wanneer Werner aan die begin sê McDougallsbaai is ’n “bleddie dam” (15) en Janke sê “Ma is bleddie onredelik!” (60).

Agtergrond/milieu/ruimte

Ruimte is binne die skryfkuns een van die sogenaamde skeppingselemente wat tot die kreatiewe skrywer se beskikking is. Dit val binne die vier vertelkategorieë van die narratologie van die skryfkuns, naamlik karakter, tyd, ruimte en gebeure. Dit gaan in ’n jeugverhaal daarom om die "vertel" van die storie, die transformasie van die data van ’n lewe in die vorm van ’n narratief: die skep van ’n narratiewe identiteit, ’n fiktiewe wêreld, al sou dit op die werklikheid gegrond wees. Die ruimte van die novelle is dan (soos dié van die roman) per definisie ’n fiktiewe ruimte, al sou dit direk verwys na ’n lokaliteit wat in die werklikheid net so bestaan.

Epiese ruimte is ’n gepersonaliseerde ruimte – Burger (2018:46) noem dit ’n kammawêreld wat in die leser se verbeelding tot stand kom en dit is afhanklik van vertelling. Plekke en objekte bestaan in ’n Klein bietjie magic nie ter wille van sigself nie, maar ter wille van die betekenis wat dit vir die karakters het. Plekke van handeling en die ruimtelike kenmerke daarvan vorm daarom epiese speelruimtes of belangeruimtes eerder as blote lokaliteit. Onder epiese ruimte kan ons, ter wille van die bespreking, praat van die fiktiewe plek (hier McDougallsbaai) waarbinne die handelinge van die karakters op ’n bepaalde tyd gebeur. Dit moet onderskei word van die werklike ruimte (Port Nolloth en omgewing) waarop die fiktiewe ruimte gebaseer is. Die verteller gebruik sowel eksterne as interne faktore om ’n werklikheidsillusie van realisme te skep. Die skrywer skep dus ’n narratiewe ruimte[15] wat fisiese ruimte, denkruimte en sosiale ruimte letterkundig uitbeeld. Verder gee die skrywer aan intieme ruimtes betekenis wat identifikasie as abstrakte ruimte aan iets soos huise (Janke-hulle en Stefan-hulle s’n), sowel as die strand in McDougallsbaai as konkrete ruimte koppel, terwyl sosiale ruimte die spanning tussen individue belig.

Deel van die eksterne ruimte in ’n Klein bietjie magic is faktore wat verwysings is na selfone, WhatsApp-tekste en video-oproepe, Instagram, Spur, ’n Land Cruiser, die Annenouspas, baksteenhuise, ’n karavaanpark, ’n polisiestasie en museum, ’n treintrok, hawe, seeboeie, ’n boot, sloepe, snoekbakkies, mosselskulpe, die seuns se bodyboards, flaminke en dolfyne, Werner se Spider-Man-handdoek, ’n gastehuis wat lyk soos een by Pelgrimsrus, gemaak van geriffelde sink, misdaad in die Kaap, karkapings, Coke, warmsjokolade en melkskommels, die film 2012 – alles tipies van die samelewing in die 21ste eeu.

Faktore wat die interne ruimte in ’n Klein bietjie magic uitbeeld, is dat die verhaal aangebied word deur van een toneel/plek na die volgende te beweeg (Burger 2019:53). Elke gebeurtenis word volledig beskryf: die ruimte, karakters, handelinge en konflikte – die motorrit, die huis waarin Janke-hulle gaan bly, die strand, Stefan-hulle se huis, die kafee, die see in die mis, die uitspansel met sterre en meteorreën.

Verder is daar ruimskootse gebruik van direkte rede in realistiese dialoë tussen karakters, ook die  innerlike monoloog[16] van Janke as interne fokalisering, wat help om die werklikheidsillusie te skep. Janke se binnewêreld is ’n uitstaande ruimte in die boek, waar die leser bewus word van die hoofkarakter se intense gevoelens en emosionele groei – soveel dat Janke nie weet wat om met al haar gevoelens te maak nie (69). Dit herinner nogal aan ’n narratiewe vorm waar die eerstepersoonsverteller tipies is van dié in die memoir,[17] personeteks of lewensverhaal – wat die avonture en/of innerlike ontwikkeling van individue bied teen die agtergrond van ’n bepaalde tydruimtelike raamwerk. Die memoir/lewensverhaal maak gebruik van die roman/novelle se stilistiese middele.

Omdat die tyd (vier weke in vakansietyd) en ruimte (Port Nolloth as vissersdorpie by die see) soveel spanning (en opwinding) veroorsaak, kan ’n Klein bietjie magic dalk selfs as tydruimtenovelle gelees word. Die werklike tyd en ruimte waarin die hoofkarakter haar bevind, het ’n uitwerking op haar psige – dan kan dit ook waar wees dat die fiktiewe ruimte van die roman ’n soortgelyke uitwerking op die leser kan hê. Hierdie soort oop plekke in die boek kan daartoe bydra dat die leser deur middel van haar eie verbeelding of ervaring die agtergrond inlees in die verhaal.

Gesien in die lig van bostaande bespreking met betrekking tot agtergrond, is dit duidelik dat die skrywer in ’n Klein bietjie magic ’n ryk sekondêre (literêre) werklikheid skep wat deur al die karakters en gebeure bevolk word.

Narratief en intertekstualiteit (teks, subteks en metateks)

Die novelle beeld ’n element van ’n ongewone gebeurtenis uit, wat die inspirasiebron van die novelle[18] is. Die rol van ’n persoonlike lotsbestemming het toegeneem – laasgenoemde manifesteer in Janke se worsteling met begrippe soos “destiny” en “magic”. ’n Klein bietjie magic gesien word as ’n novelle in die vorm waarin dit tans is, juis as gevolg van die ongewone gebeure by die see – die maanpaddas; die groen spikkels; die sterre wat verskiet; Werner wat groen ligte (gloeiende groen kolle) sien in die mis (94); Werner en Adrian wat dink hulle sien aliens en ’n ruimtetuig as ’n vreemde lig op die strand aangaan – terwyl Janke dink dit is ’n soort vliegtuig, tipe helikopter, of hommel (123); “die astronomiese kalender ... die piek van die Geminidi-meteoorreën” (98). Hierdie gebeurtenisse is inderdaad ongewoon in ’n gewone tiener se lewe.

Terwyl die narratief ’n streng epiese vloei van begin na einde het, het die skrywer verkies om die sentrale konflik op ’n Grieks-dramatiese wyse aan te bied – die verhaal begin met die begin en loop na die einde, terwyl daar enkele terugflitse van herinnering is wanneer Janke aan hulle karavaanvakansies by Gourits dink (6) en Stefan en Adriaan wat onthou van hulle ma (123, 126). Ten slotte is die epiese doelstelling van die skrywer dié van versoening tussen Janke en haar ma, ook tussen haar ma en pa, waarin die konflik in verhoudings en Janke se aanvanklike ontevredenheid met haar omgewing opgelos word. Die beweging tussen die begin, die einde en die sentrale gebeure veroorsaak nie net spanning nie; hiermee word die hoofhandeling in die rigting van die moment van rus en vrede gestuur.

Terwyl ’n subteks ontbreek – wat gewoonlik gevind word aan die begin/einde van die verhaal of hoofstukke – is daar in hierdie novelle wel deeglik metatekste wat dus ook as intertekste dien. Deur die gebruik van aktiwiteite en media (die film 2012, die astronomiese kalender, inligting aangaande die maanpadda, wat ’n bedreigde spesie is, en die bioluminessensie in die golwe) word bestaande strukture en samelewingsverbande gesuggereer, en die fiksionele wêreld deur die gepaardgaande intertekstuele verwysings vergroot en gekonkretiseer.

As parateks[19] kan gekyk word na die omslag van die boek waar die illustreerder (Megan Bird) die leser in donkerblou kleure met sterre wat oorheers (spesifiek drie groen sterre) uitnooi om dit in ooreenstemming met die karakters se persoonlike optredes en nagtelike gebeure te bring. Ook is daar ’n tienermeisie en -seun wat op rotse sit en uitkyk oor die see, wie se hande aan mekaar raak – die suggestie sal menige tienerleser se aandag trek. Verder beklemtoon die grafika binne die teks – heel aan die begin van hoofstukke, is daar klein en groter sterre – die buitengewone gebeure wat die konteks en inhoud van hierdie jeugnovelle is.

Verteller en dialoog

’n Onderskeid kan gemaak word tussen narratiewe stem en fokalisering. In ’n Klein bietjie magic is daar ’n interne ek-verteller. Die leser maak saam met Janke kennis met, en sien deur haar perspektief almal en alles wat gebeur. Daar is ook ’n element van interne karaktergebonde fokalisasie as Janke se fokalisering wissel van haar binnewêreld en innerlike monoloog na die ander karakters en hulle dialoog om te wys wat hulle dink en voel en ervaar het – dit gee die leser ’n goeie beeld van die oorsake (en oplossing) van die konflik tussen die verskillende karakters.

Wanneer die fasette van fokalisering in ag geneem word, is dit duidelik dat die perseptuele (sintuiglike) faset veral aan die orde kom wanneer die ruimte of atmosfeer uitgebeeld word. Ruimtelike fokalisering versterk dikwels die fokalisering van die gemoedstoestand of situasie van Janke (haar waarneming van die tuin, die see, die wolke, die stilte – dus wat sy sien, ruik, hoor), terwyl die ruimte en gebeure dien as beklemtoning van haar verwarring en konflik (ervarings waarvan sy bewus word in haar maag wat draai, rillings op haar vel, en haar interpretasie daarvan) oor watter waardes sy in haarself kan integreer om sodoende haar identiteit te bevestig. Die beskrywing van die agtergrond is tipies van ruimtelike fokalisering.

Wat die psigologiese faset van fokalisering betref, word die karakters se gedagtes en emosies deur Janke gefokaliseer. Dit sluit in kennis (bewussyn/wete/besef), vermoede (gissing en veronderstelling), mening (geloof/oortuiging), geheue (herinneringe). Meestal is die ek-verteller in die emosionele en ideologiese komponente van hierdie verhaal nie neutraal, objektief en onbetrokke nie – die waardes word hoofsaaklik ideologies gefokaliseer vanuit die perspektief van Janke en haar belewing van en kritiek teen haar ma se onredelikheid, perfeksionisme, behoefte om te beheer, dat sy [Janke] telkens haar oë rol tydens haar ma se gedurige verwysings na die Bybel: “O please, hier gaan ons al weer! ... Haar ma het so ’n manier om die Bybel by alles in te sleep. En as sy die laaste sê uit die Bybel gehad het, dan mag niemand verder ’n opinie hê oor die saak nie” (7).

Janke worstel self om te weet wat waar is. Die ideologiese fokalisering van norme en waardes waarvolgens die gebeure en karakters uitgebeeld word, is dus sowel implisiet (wat betref die fokalisering van karakters deur Janke se perspektief) as eksplisiet (soos gefokaliseer en uitgebeeld deur die karakters se sienings en ervarings – ook deur Janke se perspektief).

Die lees van jeugfiksie wat deur die skrywer geskep en die eerstepersoonsverteller verbeeld word, kan bydra tot die adolessente leser se intellektuele ontwikkeling – in ’n Klein bietjie magic is die leser bewus van verskillende taalgebruike (spesifiek tienersleng en Kaaps), wat verwys na die informele niestandaardvariante wat deur tieners gebruik word, alhoewel sleng nie net tot tieners beperk is nie.

Kognitiewe ontwikkeling gebeur in die algemeen met al die inligting wat die tienerleser opdoen deur die kennis van Stefan, wat ’n sterrekundige wil word. Voorbeelde hiervan is die Geminidi-meteoorreën in die astronomiese kalender (98); die pype in die hawe vir diamantbote waarmee gruis van die seebodem opgesuig word waarin dalk diamante is (101); dat dolfyne mense gedurende storms na veiligheid help – Werner in die mis en die visserman se ervaring (107); die bioluminessensie wat deur plankton veroorsaak word in die golwe (117); dat sterre draai soos die aarde en die maan (126).

Die adolessente leser van hierdie verhaal se analitiese denke word geoefen omdat die lees van so ’n ongewone teks haar stimuleer om te soek na die samehang of logiese opeenvolging van gebeurtenisse – lewe, siekte en dood, die optrede van verskillende karakters, vreemde gebeure. ’n Paar keer lees ons dat Janke dinge logies wil verklaar: Nadat Werner sy ervaring in die see gehad het, sê sy: “Ek weet nie of ek glo dat dit iets bonatuurliks was nie, want dalk is daar ’n logiese verduideliking vir wat jy gesien het” (96) en sy weet nie of sy die ruimtetuigstorie glo nie (123).

Ook word die adolessente leser se verbeelding aangewakker deur die proses waarin sy haar inleef in die lewens van ander, asook die erkenning van motiewe en simbole, die bekende en die onbekende omgewing en gebeure. Letterkunde het ook ’n estetiese funksie – dit kan die ander funksies transformeer deur ’n ewewig te skep en moralisering te voorkom. Dit gebeur in ’n Klein bietjie magic wanneer die leser se aandag op die teks self gevestig word – die genre, narratiewe lyn, fokaliseerder, milieu, intrige en spanning wat geskep word. Op hierdie manier raak die leser bewus van die kreatiewe krag van taal, soos ook blyk uit treffende beskrywings vanuit Janke se perspektief. Enkele voorbeelde hiervan is:

  • “Om ’n volgende draai klou die pad alleen aan die regterkant aan die berg vas” (6).
  • “As sy nóú iets sê, fladder die skoenlappers sweerlik by haar mond uit” (54).

Universele temas

Daar word algemeen aanvaar dat jeugfiksie geskep word en op ’n bepaalde manier aangebied word om te vermaak, om die ontvanger of leser te laat dink en te laat ervaar – hier deur die perspektief van Janke – om die leser te boei, haar te interesseer, haar mee te voer en tot meelewing met karakters en verhaal te bring.

Die maatskaplike funksie van jeugletterkunde behels dat die adolessent gehelp word om te sosialiseer deur kontak met jeugverhale, want sy maak keuses sonder die invloed van haar portuurgroep. In ’n Klein bietjie magic maak die leser kennis met die samelewing se probleme (misdaad), gedragspatrone, (Janke se ma se) waardes en norme – veral in terme van verhoudings en onafhanklikheid. Hoewel die teks morele waardes en etiese beginsels uitlig, kom dit nie as sedelesse of preke na vore nie. Ook is die taalgebruik van die verskillende karakters werklikheidsgetrou. Laasgenoemde hang ook saam die ontwikkeling van kulturele geletterdheid, veral in ’n diverse maatskaplike landskap soos Suid-Afrika.

Die individu word begelei om haarself te sien as deel van ’n geheel, wat treffend uitgebeeld word in Janke se groeiende bewussyn hiervan. Dit onderstreep dus Carlsen se woorde (aangehaal in Ghesquiere 1993:120):

Literature by its very nature is selective and suggests integrations, connections, insights into experience, and values which the individual [reader] might not otherwise find for himself. At the best literature confronts the reader with the basic eternal problems of human beings, thus helping the individual to see himself as a part of an ongoing history.

’n Klein bietjie magic voldoen aan die betrokke kriteria/vereistes vir kulturele geletterheid,[20] want die teks en veral Janke se ontwikkeling as karakter se effek op die leser kan tot ’n verbeterde selfbeeld en selfrespek lei. Verder is die literêre kwaliteit van hoë gehalte en is daar ’n akkurate en gebalanseerde uitbeelding van ’n multikulturele wêreld, en daarmee kry die leser ’n waardige, menswaardige beeld van ander kultuurgroepe. Voorbeelde hiervan is Janke wat die bruin dogtertjies sien en hoor praat (11); die toegeneentheid en bewoënheid wat Janke ervaar in haar gesprek met die visserman “wat haasbek glimlag” en sy vriendelikheid en vrygewigheid teenoor die vrou (“met ’n bypassende kopdoek”) wat kom vis koop; en dat hierdie newekarakters in tipiese Kaapse sosiolek praat (104). Die teks lig ook hiermee universele waarhede uit – verrassings kan oral gevind word, versoening is moontlik as almal die waarheid in hul eie lewens erken en aanvaar; niemand is alleen nie.

’n Belangrike element van kulturele geletterdheid is dat die jeugverhaal behoort aandag te gee aan kontekstuele en/of omgewingskwessies. In ’n Klein bietjie magic word dit gemanifesteer in Janke se ontmoeting met die natuur (die see en golwe, mis en maanpadda, die verskietende sterre) en wanneer sy haar éénheid daarmee ervaar (112). Ook is die perspektief van die eerstepersoonsverteller betroubaar en die tienerleser kan in Janke se skoene staan; sodoende kan haar empatie gewek word (vir Janke en Stefan se ma’s) en haar verbeelding (met die magic wat oral is) ontwikkel.

In terme van kulturele (as deel van geestelike) ontwikkeling, slaag ’n Klein bietjie magic deur uit te beeld hoe die bewussyn van die nóú (openheid vir die verrassing van en nuwe beloftes in die hede) bydra tot die ontwikkeling van die hoofkarakter se persoonlikheid en uitlewing van haarself – soos reeds genoem, word dit spesifiek gemanifesteer deur Janke se ervaring van magic/elektrisiteit in die lug en haar lyf, wat resoneer met die titel. Janke probeer om agter te kom wat waar is, wat toevallig is, wat vir haar bestem is – sy wonder dus baie oor die verlede, hede en toekoms. Sy worstel met konsepte soos “destiny” (28) en toeval (83) wat tipies is van tieners se ontwikkeling van ’n lewens- en wêreldbeskouing.

Uiteindelik berus die verhaal nie op óf ’n pessimistiese óf ’n optimistiese (eensydige) verdraaiing van die primêre werklikheid in die sekondêre wêreld nie en word daar universele temas uitgebeeld van die ontwikkeling van eie identiteit, onverwagte gebeure in die natuur, die ekologiese eenheid tussen die mens en natuur en tussen alle mense, liefde teenoor ergernis en verwyt, versoening en oplos van konflikte, aanvaarding en vergifnis. Ook maak Janke melding van haar eie waarheid dat niks toevallig is nie (83), dat dit nie Stefan se skuld was dat daar “kriminele was wat besluit het om jou ma te skiet nie. Jy is nie verantwoordelik vir hulle besluite nie” (64). Janke dink ook by haarself dat ma’s nie veronderstel is “om dood te gaan terwyl hulle kinders klein is nie, en dat kinders nie veronderstel is om hulle ma’s tussen die sterre te soek nie” (124).

4 Slotopmerking

’n Klein bietjie magic kan gesien word as jeugletterkundige teks, veral gesien in die lig van die estetiese taalgebruik, en dit is “die perfekte lees om [die leser] te laat glo in basiese goedheid en verwondering oor klein dingetjies soos melkpaddatjies en sterrereën … Daar is … waardevolle lesse en dieper sake vervleg met die gemaklike storielyn, waarvan die gevaar van perfeksionisme en voorskriftelikheid uitstaan” (AmandaCI, LAPA-resensie). Ek dink egter nie dat dit voorgeskryf kan word nie, omdat daar dalk ’n oormaat emosionaliteit met die uitbeelding van Janke se gevoelslewe is. Meisies sal hiermee kan identifiseer, maar my mening is dat dit seuns sal frustreer/irriteer – gebaseer op my ervaring in die onderwys met hoërskoolseuns. Dit is eerder by uitstek ’n selfleesboek en saam met AmandaCI wil ek ten slotte sê dat dit aangenaam was “om ’n verhaal vir jongmense te lees wat sonder geweld en lyflikheid aangebied is, hoewel daar sprake is van ’n kaping en gevolglike lewensverlies”. So wil ek ook saamstem met Katinka (LAPA-resensie): “Wat my opgeval het in die boek, is dat daar heeltyd subtiel op goeie waardes en positiewe konflikhantering gefokus word.”[21]

Wanneer ’n Klein bietjie magic gelees word met die fokus op die literêre elemente en die funksies van jeugletterkunde, naamlik die psigologies-emosionele, die informatiewe (intellektuele en estetiese) en maatskaplike funksies soos wat dit in hierdie jeugnovelle verbeeld word, slaag dit oorwegend baie goed as jeugletterkundige teks.

Eindnotas

[1] https://lapa.co.za/n-klein-bietjie-magic

[2] MA Rossouw (2013) verwys na die “geïnformeerde leser” en haar verduideliking daarvan stem ooreen met wat ek die “ingeligte leser” noem. In TT Cloete, 2013, Literêre terme en teorieë. (Alle ander verwysings na Cloete is ook na hierdie bron.) https://literaryterminology.com/index.php/l/108-lesertipes.

[3] Rosenblatt, L. 1995. Literature as exploration. 5de uitgawe. New York: Modern Language Association.

[4] Burger, W. 2018. Die wêreld van die storie. Pretoria: Van Schaik.

[5] Ghesquiere, Rita. 1993. Het verschijnsel jeugdliteratuur. Amersfoort: Acco Leuven.

[6] Ek gebruik vroulike voorname wanneer ek na die bedoelde leser verwys, omdat die hoofkarakter vroulik is.

[7] https://lapa.co.za/Skrywer/theresa-van-baalen.html.

[8] Kapp, Sophia. 2010. Chic lit. In Riana Scheepers en Leti Kleyn (2010:114–8). Die Afrikaans skryfgids. Johannesburg: Penguin Books.

[9] Combrink, L. 1990. Die rol van die leser in die literêre kommunikasiesituasie. Die Unie, 86.

[10] Kapp, Sophia. 2010. Chic lit. In Riana Scheepers en Leti Kleyn (2010:114–8). Die Afrikaans skryfgids. Johannesburg: Penguin Books.

[11] Scholtz, MG. 2013. Innerlike monoloog. In Cloete (2013). http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/16-i/72-innerlike-monoloog.

[12] HAT (2000:2039) definieer sleng/slang as “Opsetlik gemeensame, ondeftige, ietwat plat taal, stands- of beroepstaal; groep(s)taal”.

[13] Drennen, IG. 2013. Novelle. In Cloete (2013). http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/21-n/150-novelle.

[14] Die newekarakters Werner en Adriaan is 13 jaar oud en sal nog in die puberteitsfase wees, maar die bedoelde lesers van die verhaal sal waarskynlik meer met Janke en Stefan identifiseer.

[15] Du Plessis, H. 2013. Die skep van ruimte in ’n roman, met verwysing na die drie koepelromans van Hans du Plessis. LitNet Akademies, 10(3):341–61.

[16] http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/16-i/72-innerlike-monoloog.

[17] Bischoff, A.M. 2013. Vertellerteks en personeteks. In Cloete (2013). https://www.litterm.co.za/index.php/v/261-vertellerteks-en-personeteks

[18] Drennen, IG. 2013. Novelle. http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/21-n/150-novelle.

[19] Greyling, Franci. 2009. Die skepping van die fiksionele wêreld in kinder- en jeugliteratuur deur middel van die kreatiewe gebruik van paratekstuele elemente. Mousaion, 27(2):209–26.

[20] Combrink, L. 1996. Kulturele geletterdheid en multikulturele onderwys. Tydskrif vir Taalonderrig, 30(1):1–16.

[21] https://lapa.co.za/n-klein-bietjie-magic#reviews.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top