’n Kennismaking met Johannes Kerkorrel ná die maal

  • 2

Hierdie is nie ’n staaltjie nie. Dit is nie ’n vertelling van hoe Johannes Kerkorrel as mens was nie, want ek weet nie. Hierdie is bloot ’n storie van ’n blad wat geskud is toe die boek reeds klaar was.

Barney Simon het hierdie program op 5fm gehad toe ek op hoërskool was. The Night Zoo het dit geheet.


Nee, nie dit nie.

Een aand in 2002, nadat ek lank met studiemateriaal vir een of ander matriek-eindeksamen geworstel en ten einde opgegee het (dit was waarskynlik chemie, te oordeel aan hoe kreatief ek met die swetswoorde omgegaan het), het ek op die bed gaan lê en die frekwensie daar iewers tussen 89 en 90 laat hang.

Ek kan nie sy presiese woorde onthou nie, maar ek onthou dat hy daaroor gestruikel het. Daar is beslis aan ’n traan of drie gesluk. Vroeër daardie dag het Johannes Kerkorrel homself gedood en Simon het dié nuus oorgedra nog voor dit die volgende oggend op Die Burger se voorblad sou wees.

Die bedenklike geheue beweer nou die oorheersende reaksie binne was ... ongeloof, soos dit seker vir almal was. Maar waar die meeste aanhangers waarskynlik sou meen die geskiedenis en hede van hul musikale ervaring met Kerkorrel is geskend hierdeur, het ek besef dit is aan my kant op die toekoms van toepassing.

Dit is nou tien jaar later. Wat die destydse hede betref, was ek toe maar bloot bekend met daardie "Al lê die berge nog so blou"-weergawe wat hy gepleeg het en die imponasievlakke was, wel, laag. (Die musikale ontwaking sou hom eers later afspeel.)

Dit was tot ek Koos Kombuis se Seks, drugs en boeremusiek in daardie matriekjaar gelees het en ’n hele hoofstuk van die geskiedenis waarmee ek tot toe onbekend was, oopgegaan het. Naarstig het ek nog inligting en musiek opgesoek, maar dit was, glo dit of nie, skaars en nie juis boaan Musica of enige ander musiekwinkel in die omgewing se trefferparade nie. Eers die volgende jaar, as eerstejaar op Stellenbosch, het ek in die Neelsie se musiekwinkel (die naam was Music Matrix en dit bestaan nie meer nie) begin werk en onbeperkte toegang gehad tot musiek wat soveel verwoord en verklank het van die rigtinglose gedagtes van ontevredenheid en onvergenoegdheid wat sitplek gesoek het. Baie dinge het in plek geval – meestal by Kerkorrel se liedere uit die Voëlvry-era het ek op soveel vlakke aanklank gevind. Ek was maar drie of vier jaar oud ten tye van die toer, maar ek was ook dertig en binne-in ’n klankskets oor die destydse Hillbrow, veertig en ontnugter, vyftig en paranoïes, sestig en aan bewind. Hierdie dinge sou eers later duidelik word.

Dis maar my simpel storie oor Kerkorrel-kennismaking. Later sou ek vriende word met mense wat baie na aan hom was. Hulle sou stories vertel van voor en agter die skerms, van die aanloop tot daardie dag op Kleinmond, ongelooflike stories wat drup van asem, Afrikaans en lééf.

En toe hou die asem, die Afrikaans en die lewe op.

Dis nou tien jaar later. Ek dink nou aan hoe Koos Kombuis op sy mees onlangse CD sy ou treffer "AWB Tiete" herdoop het tot "ANC Tiete".

Hoeveel woorde in "Sit dit af" sou verander moes word om dit relevant vir vandag te maak? Baie min, sou ek dink; basies net die name van PW en Pik na Zuma en ... Kgalema? Hulle sal waarskynlik nie meer lank langs mekaar staan nie, maar dis nou van die punt af.

Só is ’n toekoms met Kerkorrel in die omtrek ons ontneem. Destyds, regte plek, regte tyd, regte Zeitgeist? Definitief. Maar só ’n fyn waarnemingsvermoë gaan lê nie net nie – dit kan nie. Die vermoë om dit vleis te gee – des te meer so.

Nou sit ek soos ’n drol en spekuleer, na aanleiding van dinge wat ek nooit werklik self op die betrokke tydstip beleef het nie. Elke tree wat ek gegee het in die betragtingstog met Voëlvry en die musiek daaraan verbonde, het ’n vooraf-vasgestelde letsel op gehad, ’n vlek op die lens.

Nou sit ek op YouTube (’n fenomeen wat eers bykans drie jaar ná Kerkorrel se dood ontstaan het!) en krap rond vir sy liedjies wat deur wie ook al opgelaai is. Klik op "Hillbrow". Van die voorgestelde video's wat in die regterkantste kolom opduik, is "Tussen Treine" van Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock, "Hou my vas Korporaal" van Bernoldus Niemand en "Bicycle sonder ’n slot" van Kombuis wat, onverklaarbaar, van ’n beeld van die ou Suid-Afrikaanse vlag vergesel word. (Gelukkig is YouTube-kommentators nie op hul bekke geval nie: "Is dit net ek of is dit nogal fokken ironies om ’n koos song te sien met die oranje blanje blou as agtergrond. My hemel het ek êrens iets gemis?" seg een. ’n Ander: "Die draadtrekker wat die vlag gepost het is deur mekaar! Boetie het jy al ooit gehoor van die voëlvry toer indien jy dit google fokken lees asb mooi en dan haal jy jou propoganda af clown!") Ek wonder onwillekeurig hoe oud dié kommentators is. Of hulle daar in Drie Geuwels buite Stellenbosch in die spoeg en bloed gedans het, en of hulle, soos ek, daardie geskiedenis se sketse self moes opspoor en inkleur met verbeelding en bedenklike argetipiese herinneringe.


Die toepaslike gedeelte begin op 02:40.

Klik verder, op "Halala". In die kolom van voorstelle, heel bo, is ’n lied van Juanita du Plessis en Theuns Jordaan: "Dowwe spore". Verder af, ’n lied genaamd "Afrikaans sal ek altyd wees" – klik daarop en jy vind beelde van onder meer die ou vlag in die vorm van ’n hartjie, boepensmans in two-tones wat betoog, Steve Hofmeyr (as dit nie hy is nie, is dit ’n baie oortuigende dubbelganger) wat ’n toespraak lewer met ’n wapperende vierkleur in die agtergrond.

Hoeveel maal is hierdie laasgenoemde video al gekyk? 127 654 keer.

En die “Halala”-video? 8 898 keer.

Nou ja, wel ...

Meneer Kerkorrel, of meneer Rabie, ons het meer van jou nodig gehad. Ons het nou meer nodig van jou en ons sal in die toekoms weer meer van jou nodig hê.

Ek hoop daar is dweperige donners met blink BMW's in die nalewe, sodat jou gevierde middelvinger nie werkloos word nie.

  • 2

Kommentaar

  • Lekker verhaal. Ek was gelukkig genoeg om Johannes self te ontmoet, en een aand 'n aangepaste weergawe van 'energie' met hom te sing - dit was in 91 of 92 en sy song was aangepas vir die Stellenbosch kampus. hahaha. Terloops, dis Drie Gewels (daar's letterlik drie gewels op die gebou) en was ook bekend as die Drie Euwels, dalk nader aan die waarheid.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top