’n Mens kan die plek as obskuur beskryf. Dis meestal ou(erige), geskeide mans wat daar kuier. Mans wat FW skel as ’n verraaier en redelike agting vir PW het.
Donderdagaande is dit karaoke-aande by Craig's Pub & Biltong, ’n kroeg in Bloemfontein wat met wyn ’n mens help survive met die helse lot pyn.
Hulle hou van Johannes Kerkorrel se musiek. Sing jy “Hillbrow”, sing hulle saam. Selfs “Halala Afrika” gaan goed af.
Met ’n galopperende hart vra ek die klankman of hulle “Sit dit af” het. My gunsteling-Johannes-song. Toe die klavier op die backtrack begin speel, raak ek heel bang. "Dit was ’n nare gesig. Dit het my heeltemal ontwrig. Dit was ’n moerse klug. Dit was PW se gesig …" Elke liewe woord weergalm soos ’n skoot.
Toe die song klaar is, is daar stilte. Ek kan sien die mans is nie happy nie. Genadiglik is Mike, wat my aan die kroeg bekendgestel het, daar. Hy is invloedryk en redelik gesaghebbend in die kroeg.
"Jy sal nie só sing oor my leier nie," sê Mike kliphard. Hy spot.
Een van Mike se vriende, John, ’n Portugees, lag uit sy maag en gee ’n Jägermeister aan. "That was great," sê hy.
Vele Donderdagaande daarna sing ek “Sit dit af” daar.
Een van die PW-ooms kom na amper ’n jaar se “Sit dit af” en sê hy sit elke Vrydag by sy werk, met ’n helse hoofpyn, en al wat in sy kop draai is Kerkorrel se treffer. "Jy weet, ou seun, ons het almal vir PW gestem. ’n Ruk terug nog sou ek ook vir hom stem as ek kon. Maar na die liedjie soveel oggende deur my seer kop gemaal het besef ek, PW is maar ’n ou fokker gewees."
Ek moes die song vir die oom laat kry.
En deesdae versóék hulle die liedjie op ’n Donderdagaand, en die (onmiddellike) beloning is ’n Jägermeister, wat hulle Vrydagoggende laat dink.


Kommentaar
'n Emmer van daai galgeelbokpis vir jou! Op PW! Ha!