
Fotobron: https://pixabay.com/photos/areca-tree-betel-nut-tree-flora-4754234/
Areca-nuts can be consumed when the fruit within the husk is fresh and soft; or, when the fruit is mature and the nut has dried to gain a wood-like consistency. Areca-nut is chewed as a stimulant. (Dalisay, Beute, Benitez, Herzog en Pokhrel 2019)
..........
Die Areca catechu-palm is inheems in Suid-Oos Asië. Dié palmsoort kom ook wydverspreid voor in dele van Sri Lanka en Oos-Afrika (veral Tanzanië en Kenia). Die bome word ongeveer 10–20 m hoog.
...........
Die Areca catechu-palm is inheems in Suid-Oos Asië. Dié palmsoort kom ook wydverspreid voor in dele van Sri Lanka en Oos-Afrika (veral Tanzanië en Kenia). Die bome word ongeveer 10–20 m hoog.
Bykans 5% van die wêreldbevolking het die gewoonte om die gedroogte veselagtige vrug en/of die saad te kou of pruim, maar nie in te sluk nie. Die Internasionale Agentskap vir Kankernavorsing (IARC) dui die syfer egter as veel hoër (10–20%) aan. Die chemiese samestelling van die saad lei tot ’n gewaarwording van ’n stimulerende sensasie, omdat die aktiwiteit van oordragstowwe soos dopamien en norepinefrien in sekere breinareas verhoog word. Behalwe toenames in kognitiewe wakkerheid kom matige euforie (oordrewe vreugde, optimisme) ook soms voor (Moss 2022). Dié gebruik is veral gewild in Taiwan en Nepal (Huang, Geng, Wu, Huang, Chen, Chang en Chen 2022).
Die vrugte van die arekapalm word onder andere gebruik as ’n bestanddeel in tradisionele medisyne en essensiële (oftewel vlugtige) olies in sekere lande. Gedurende 2019 het Indië 900 000 ton gedroogte arekasaad geproduseer, wat op bykans die helfte van die wêreldopbrengs neerkom.
Antropoloë wys daarop dat ’n bepaalde kulturele konteks, sosiale waardes en/of rituele waardes, dikwels aan die gebruik van spesifieke voedselprodukte gekoppel word.
Agtergrond
Die gedroogde blare van ’n inheemse Indiese rankplant (die betelpeperplant of Piper betle) word gebruik om die arekaneut in toe te vou en as ’n koubare pruimpie (quid) te bemark. Vandaar die populêre werkwoord “betelsaadpruim” (betel-nut chewing), wat verwys na die pruim van ’n kombinasie van twee verskillende plantsoorte (die betelpeperblaar en arekasaad) in een enkele produk. Die saad kan op sigself ook gepruim word, of andersins binne-in ’n betelpeperblaar-“pakkie” toegedraai word. Dit kan óf in ’n gedroogde óf in ’n groen vorm gekou word.
Arekasaad (wat, soos genoem, oor psigoaktiewe eienskappe beskik) kan saam met tabakblare en gebluste kalk voorberei word, wat dit ’n besonderse geur en smaak gee. Die taalkundige Gerhard van Huyssteen (2018) verduidelik die verbandhoudende terminologie soos volg: “Die gebluste kalk (meestal afkomstig van koraal of skulpe) is noodsaaklik om die arekoline (ook geskrywe arekolien of arekalien – een van die chemiese bestanddele in die arekapalmsaad) te hidroliseer in arekaïne (ook arekaïdien, arekaïen of metielguvasien – ’n alkaloïde (ook alkaloïed) wat ’n sterk onderdrukker vir die heropname van gamma-aminobottersuur is.”
Die sade word beskou as ’n tradisionele stapelitem vir gebruik tydens Tamil-rituele en -gebruike tydens huwelike. Dit word ook as verversings tussen etes genuttig.
Die gebruik het sy oorsprong meer as 5 000 jaar gelede in die Filippynse Eilande gehad, waar argeologiese artefakte in die Duyong-grot opgespoor is. Van daar het die betelpeperblaar-arekasaad-pruimgewoonte deur migrasie na Suidoos- en Suid-Asië, Taiwan en Suid-China versprei.
Gevaarligte
In ’n onlangse artikel wat in die gesaghebbende tydskrif die New England Journal of Medicine gepubliseer is, wys Moss (2022) daarop dat arekasaad deur die Internasionale Agentskap vir Kankernavorsing (van die WGO) as ’n groep 1-mondkarsinogeen geklassifiseer is. Pasiënte toon ’n verhoogde vatbaarheid vir orale submukosefibrose wat die kanse verhoog vir die ontwikkeling van kwaadaardige gewasse in die mondslymvlies (Bissessur 2009). Die gebruik daarvan word verder ook in verband gebring met verskeie niekankeragtige odontogeniese siektes, soos tandbederf – dit laat ’n permanente en helder rooi residu in die mond en die gewoonte hou ook negatiewe implikasies vir swangerskappe in.
Die pruimgewoonte begin (weens die effek van rolmodellering) reeds op ’n jong ouderdom, meestal gedurende adolessensie, en die jeugdiges is gewoonlik totaal onbewus van die negatiewe gevolge van die kougewoonte en beskik oor min of geen inligting oor die verbandhoudende kankerrisiko’s nie.
Daar bestaan betroubare bewyse dat arekasaadverbruik en die voorkoms van kanker aan die toeneem is in die Asiatiese Stille Oseaan-gebied.
Lin, Pi-Sunyer, Liu, Li, Li, Huang en Lin (2009) toon aan dat ’n groep huidige en vorige Chinese arekasaadgebruikers ’n hoër voorkoms van algemene en sentrale obesiteit toon, in vergelyking met individue wat nog nooit voorheen saadkouers was nie.
Suid-Afrika
Betelpeperblaar en arekasaad word na Suid-Afrika ingevoer deur 25 aankopers (wat ongeveer 125 besendings uitmaak), hoofsaaklik vanuit Nederland, Indië en Ciprus, volgens inligting op die Volza-webtuiste, wat tot 10 Maart 2022 bygewerk is. Dit sluit heel sade sowel as gekerfde saad in.
Volgens Bissessur (2009) kom die pruim van arekasaad onder verskillende gemeenskappe in die diverse Suid-Afrikaanse bevolking voor. Bissessur stel van ’n geleentheidsteekproef (N=101) van saadkouers saam en voer op ’n individuele basis onderhoude met die deelnemers. Statisties beduidend meer vroulike deelnemers het arekasade gekou as mans. Die gebruik was veral gewild onder die jonger ouderdomsgroep (20–39 jaar). Die gewoonte was meer gewild onder diegene wat voltyds gewerk het in vergelyking met dié wat werkloos was. 66% van die respondente was totaal onbewus van enige verbandhoudende gesondheidsrisiko’s, en die meerderheid was geensins van plan om die gewoonte te staak nie. Die meeste respondente was vasbeslote om voort te gaan met die gewoonte selfs nadat hulle vooraf volledig ingelig is oor die gevare daarvan.
Bissessur (2009) beveel aan dat bewusmakingprogramme oor die nadelige gevolge van arekasaadkouery saamgestel en aangebied moet word; gesondheidswaarskuwings behoort in die vorm van etikette op verpakkingsmateriaal te verskyn; die produkte behoort deur die staat belas te word om dit kostegewys buite die bereik van jonger verbruikers te plaas; ouderdomsbeperkings op die gebruik van die produkte behoort van toepassing te wees.
...........
Reeds 34 jaar gelede het Seedat en van Wyk (1988a) deur middel van ’n kliniese studie aangetoon dat ’n betreklik hoë voorkoms van orale submukosefibrose in ’n Suid-Afrikaanse steekproef voorkom. 38% van die steekproef arekasaadkouers het dreigende en/of bevestigde orale submukosefibrose onder lede gehad. Die voorkomssyfer onder vroue was 70:1, wat op ’n geweldig hoë voorkoms neerkom.
.............
Reeds 34 jaar gelede het Seedat en van Wyk (1988a) deur middel van ’n kliniese studie aangetoon dat ’n betreklik hoë voorkoms van orale submukosefibrose in ’n Suid-Afrikaanse steekproef voorkom. 38% van die steekproef arekasaadkouers het dreigende en/of bevestigde orale submukosefibrose onder lede gehad. Die voorkomssyfer onder vroue was 70:1, wat op ’n geweldig hoë voorkoms neerkom.
Volgens van Wyk (1995) toon die voorkoms van orale submukosefibrose onder Suid-Afrikaners ’n unieke patroon in vergelyking met ander lande. Dit hou verband met die waarneming dat die gewoonte veral onder vroue voorkom; ook omdat slegs 60% van deelnemers in sy navorsingsprojek die peperblaar-arekasaad-kombinasie verkies het en die res die saad alleen; die meeste saadkouers het die swart of gebakte saad verkies en ’n minderheid tabakblare by hul pruimpie gevoeg.
Seedat en van Wyk (1988b) kom tot die gevolgtrekking dat daar ongetwyfeld ’n verband aangedui kan word tussen arekasaadkouery en die ontwikkeling van mondkanker, maar dat die presiese wyse waarop die patologie ontwikkel, nog steeds onduidelik is. Genetiese voorbeskiktheid mag dalk ’n belangrike veranderlike wees.
Van der Bijl en Thompson (1998) onderneem ’n studie met 12 vroulike pasiënte tussen die ouderdomme van 46 en 65 jaar by die Tygerberg-hospitaal. Die bevindings dui daarop dat die kontraksie- (of inkrimpings-) effek van polifenole in arekasaad die versperringseienskappe van epiteelselle wysig, met die gevolg dat die nadelige effek wat sitotoksien op die mondslymvlies uitoefen, versterk word.
Gevolgtrekkings en implikasies
Verbouing van arekasaad is ’n internasionale en ’n besonder winsgewende bedryf. Die verbruik van die produk is diep en stewig gewortel in kulturele waardes en gebruike wat oor eeue heen van toepassing is.
Die verband tussen die pruim van arekasaad (wat op ’n groot verskeidenheid wyses presenteer) en die ontwikkeling van mondsiektes en -kanker word bo redelike twyfel bewys deur middel van goedgekontroleerde internasionale navorsing en enkele ouer Suid-Afrikaanse studies. Geselekteerde voorbeelde daarvan word in hierdie artikel bespreek.
Die gewoonte en siektebeeld kom ook in die diverse bevolkingsamestelling van Suid-Afrika voor. Daar is voorheen reeds pertinent aanbeveel dat weldeurdagte bewusmakingsprogramme in verband met die saadkougewoonte opgestel en behoorlik toegepas behoort te word. Geen portuurgeëvalueerde publikasie is opgespoor waarin die aard, samestelling, toesig en kwaliteitskontrole, prosedure of uitkomste van sodanige programme aangetoon word nie. Voorkomingsprogramme kan ’n belangrike rol speel om ingeligte besluitneming onder verbruikers te bevorder, mits dit wetenskaplik opgestel en onder deeglike toesig toegepas word.
..........
Verpligte en duidelik waarneembare waarskuwingstekens op die arekasaadverpakking behoort ’n vanselfsprekende vereiste te wees. Dit is by uitstek die verantwoordelikheid van die Suid-Afrikaanse regering om hierdie toesigrol te speel.
............
Verpligte en duidelik waarneembare waarskuwingstekens op die arekasaadverpakking behoort ’n vanselfsprekende vereiste te wees. Dit is by uitstek die verantwoordelikheid van die Suid-Afrikaanse regering om hierdie toesigrol te speel.
Die rol van faktore soos genetiese voorafbeskiktheid, die interaktiewe effek tussen bestanddele in diëte soos tabaksnuif, die pruim van tabakblare en/of arekasaad, rook van tabak, die gebruik van alkohol, asook die opvoedings- en sosio-ekonomiese-status-vlakke van Suid-Afrikaanse saadkouers behoort verder ondersoek te word.
Dit blyk verder dat borrie en die oksidant kurkumien (bestanddele wat in kerriepoeier voorkom) ’n onderdrukkende effek op die ontwikkeling van mondkanker het. Dié aansprake behoort plaaslik volledig nagevors te word.
Geen onlangse, goedgekontroleerde studie oor die gebruik en implikasies van arekasaad wat sedert 2020 in Suid-Afrika gepubliseer is, kon deur middel van erkende akademiese databasisse opgespoor word nie.
Bibliografie
Bissessur, S. 2009. Betel nut and tobacco chewing habits in Durban, KwaZulu-Natal. MSc (Tandheelkunde)-verhandeling, Universiteit van Wes-Kaap.
Dalisay, F, W Beute, C Benitez, TA Herzog en P Pokhrel. 2019. Adolescent betel-nut use in Guam: beliefs, attitudes and social norms. Addiction Research and Theory, 27(5):394-404. doi: 10.1080/16066359.2018.1538410. Epub 2019, Jan 11. PMID: 31231175; PMCID: PMC6588185. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC6588185.
Huang, Y, J Geng, P Wu, J Huang, S Chen, J Chang en HC Chen. 2022. Betel-nut chewing increases the risk of metabolic syndrome and its components in a large Taiwanese population follow-up study category: original investigation. Nutrients, 14: 10181018. https:// doi.org/10.3390/nu14051018.
Lin, W, FX Pi-Sunyer, C Liu, T Li, C Li, C Huang en C Lin. 2009. Betel nut chewing is strongly associated with general and central obesity in Chinese male middle-aged adults. Obesity (Silver Spring), 17(6):1247–54. doi:10.1038/oby.2009.38.
Moss, WJ. 2022. Perspective. The seeds of ignorance – consequences of a booming betel-nut economy. New England Journal of Medicine, 387:1059-61 doi: 10.1056/NEJMp2203571
Seedat, HA en CW van Wyk. 1988a. Betel-nut chewing and submucous fibrosis in Durban. South African Medical Journal, 74(11):568-71. PMID: 3194805.
—. 1988b. Betel chewing and dietary habits of chewers without and with submucous fibrosis and with concomitant oral cancer. South African Medical Journal, 74(11):572–5. PMID: 3194806.
Van der Bijl, P en IOC Thompson. 1998. Effect of aqueous areca nut extract on the permeability of mucosa. South African Journal of Science, 94(5):241–4.
Van Huyssteen, G. 2018. Vanwaar [sic] kom "poenankies" dan, Gehasi? Beeld, 31 Augustus.
Van Wyk CW. 1997. Oral submucous fibrosis. The South African experience. Indian Journal of Dental Research, 8(2):39–45. PMID: 9495135.

