’n Huldeblyk aan Chris Fourie

  • 3

Dis eers moeilik om uit te vind wanneer Chris Fourie oorlede is. Daar’s baie Fouries, sê Chris se weduwee, Ounie, wie ek uiteindelik opspoor, laggend. Ounie, nie vandag se kind nie, klink viets en vars soos ’n lenteblom.

Die 19e Julie was Chris se laaste dag. Dis presies vier weke nadat ek Chris probeer bel het om hom te nooi na ons eerste opvoering van die stuk Die nag van legio in Bellville, Kaap. Ek wou Chris graag daar hê, maar sy foon is nie beantwoord nie. En, sê Ounie Fourie vir my, teen daardie tyd was hy bykans ’n maand al in die St Stephen Gesondheidssorgsentrum, Paarl. Chris is daar behandel vir kanker van die kolon, maar selfs voor die kanker was Chris reeds in ’n erge toestand van verswakking. Hy was net nie lekker nie.

’n Student van hom, met wie ek lank gelede kontak had, laat dit klink of hy ’n lekker dosent was. Chris was dekades lank ’n dosent aan die universiteit van die Oranje Vrystaat – in drama. Bloemfontein was sy halfwegstasie. Na sy aftrede het hy Kaap toe verhuis; huis toe gekom. Hier het ons paaie gekruis en Chris het in 2006 vir my gespeel in Faan se stasie. Hy was uitstekend; selfs briljant. Nes hy ook, was in die multi-pryswennerstuk, opgevoer deur Hennie van Greunen en geregisseer deur Heinrich Reisenhoffer – Festen.

En nou, met die gesprek oor sy siekte, onthou ek die akteur se dilemma die aand – in die jaar 2006, op die Kaapstadse lughawe. Ons was op Aardklop met Faan se trein en Faan se stasie. Ons speel beide stukke in die pragtige stadsaal. Langs die stadsaal is ’n lang vertrek waarin albei stelle gehuisves kon word. Na die een opvoering word stelle betyds omgeruil vir die volgende produksie.

So reël ek wat ek kan. Soos telefonies ekstra hande deur middel van Pieter Mulder, die politikus, om die omruiling van die stelle maklik te maak. Hulle is Dr Mulder se seun en twee van sy pelle. Die een pel het nogal getrek op die oud-Bulslot Geo Cronjé, met die Paul Kruger-baard. Alles verloop seepglad. Faan se trein speel eerste. So Faan se stasie se akteurs arriveer ’n wyle later. Hulle vlieg die aand uit die Kaap uit om by ons aan te sluit. Maar nevermaaind hoe goed mens probeer reël nie: die oproep kom: Chris Fourie wat sê die lugredery wil hom nie laat vlieg nie; sy bloeddruk is nie lekker nie.

Ek begin reëlings tref om hom die volgende dag te laat reis. Ek reël met Aardklop. Hy bel weer. Hy gaan nou ’n ding teken wat alle blaam van die redery afhaal, en hy gaan vlieg, om nie dinge te kompliseer nie. Ek en Aardklop begin reël, maar in die proses kry ék second thoughts. Ek besef Chris is so ’n spanman en wil ons nie drop nie. En dat sy ongelooflike integriteit hom nou noop om te veel te waag. Ek besef ons moet hóm nie waag en opoffer nie. Môre is nog ’n dag. Chris, juweel wat hy is, is te waardevol.

Hokaai, sê ek vir Aardklop. Wag gou. Ek bel weer.

“Chris, kom liewer more. Ons reël alles.”

“Albert, ek is heeltemal bereid. Regtig,” sê die selflose, onselfsugtige man. “Jy hoef nie verantwoordelikheid vir my te neem nie.”

Okay seg ek. En seg ek vir Aardklop ook. En Chris vlieg.

Ons open soos bestem op Aardklop, en alles is in orde, met selfs Geo Cronjé wat kans sien om ’n verskyning te maak gedurende die malhuis-toneel. Tydens hierdie week is ons behoorlik getrakteer deur die who’s who. Selfs as lokaalbestuurder had ons ’n ster – Sonja Herholdt en FC se mooi seun, Simeon. En Paul Eilers – die mees famous van almal.

Chris was nie famous nie.

Ek kan om die dood nie eens onthou hoe ek by Chris Fourie uitgekom het nie. Dis seker omdat ek nie vergeet nie. Gister se nuwe naam, nuwe gesig mag my verbygaan, maar ek baai nou nog soms in gedagtes oor unieke mense wat in die verre verskiet akteurs was - wat kultuur en opwinding en eietrots in my bors laat brand het. Die lysie potensiële akteurs het nogal in uiteenlopendheid en uniekheid gegroei, toe ek moes soek na ’n akteur om die legendariese karakter van Faan te speel in Faan se trein. Wanneer ek die teks gelees het, en gaan sit en my oë toegemaak het en my die karakter se stem verbeel het, het name by my opgekom soos Pieter Brand, ’n superster wat die bedryf verlaat het; Ben Kruger, ’n baie slim en afgeronde akteur en nog en nog en nog. Tot die dobbelsteen op die sterk aanbevole Paul Eilers geval het.

Paul wás Faan. Faan se Oom Giel moes spesiaal wees.

Paul Eilers en Chris Fourie repeteer

In die toneelstuk Faan se trein word gereeld verwys na Oom Giel – die dierbare, invloedryke man wat hom ontferm oor die probleem-mens, Faan. Dis nét Oom Giel wat Faan kan beheer as hy so buite homself raak. Oom Giel is die man wat opkom vir Faan as gevra word hy moet uit die dorp verwyder word. Oom Giel word na geluister op die dorp, word gesê. Oom Giel klink of hy geld het ook. Maar mens sien hom nooit in Faan se trein nie. Oom Giel maak eers sy verskyning in die opvolgstuk, Faan se stasie  – net so ’n treffer soos die eerste stuk, Faan se trein.  Dan dra die akteur wat Oom Giel speel, swaar aan die verwagtinge van gehore wat Faan se trein onlangs gesien het.

Die persoon wat opgesaal is met die rolverdelings, moet fyn trap om die regte akteur vir Oom Giel te kies omdat daar soveel verwagting van Oom Giel is. Hy kan nie ’n onsimpatieke karakter wees nie. Terselfdertyd moet hy gesag hê.

Die beskeie Chris gedurende ’n break

Chris Fourie bid in die treinkompartement van Faan se stasie

’n Beroemde produksie wat in my peuterdae in die huidige Kunstekaap opgevoer is, se naam was Die reënmaker. Ene Suzanne van Wijk het dit geregisseer. Sy het vier maal die stuk opgevoer – ek gee ongeveer die datums – 1967, 1973, 1979 en 1983. My pa, Dawie Maritz, was in die stuk. Tydens die eerste produksie van 1967 sou hy 47 jaar oud wees en ek sewe. Hy het die konstabel gespeel, en die tóé beroemde vermaaklikheidskunstenaar, Bruwer Engelbrecht, die sersant. Bruwer het daai dae onder andere op radio en op die verhoog opgetree saam met Pip Freedman en Piet Pompies.  In beide die eerste opvoerings was supersterre soos Babs Laker, Paul Malherbe, Kristo Pienaar, en ’n aantal ander jongelinge soos Etienne Pienaar en Nico Liebenberg. In ’n latere opvoering, in die 70’s, was Pa die sersant. Uiteindelik, toe die stuk in Windhoek in Suidwes-Afrika opgevoer is, was Pa (Dawie Maritz) die pa. Sy pragtige dogter – die rol wat Babs Laker jare tevore gespeel het  ̶  is gespeel deur Brümilda van Rensburg.

Vir my, ’n sewejarige, was daar tydens die 1967 opvoering van Die reënmaker net een ster in die produksie. Die oom wat die groot tamboer slaan. Hy was Chris Fourie.

Dit kon my nie beter getref het as om met my kinderjare-hero van Die reënmaker geseën te word om die rol van Oom Giel in Faan se stasie te speel nie. Hoe dit gebeur het, weet nugter. Maar alles was nommerpas.

Reënmaker. Vlnr: Pietro Nolte, Kristo Pienaar, Babs Laker, Paul Malherbe en Chris Fourie

Vlnr: Kristo Pienaar, Kris Fourie en Pietro Nolte

’n Latere produksie van Reënmaker. Agter: Dawie Maritz en Nico Liebenberg. Voor: Ettienne Pienaar

Paul Malherbe en Babs Laker

Dawie Maritz en Bruwer Engelbrecht as polisiemanne

Die tamboer wat in die produksie gebruik is, is by NALN in bewaring.

As jy gaan toer met ’n produksie, en die produksie is groot – groot stelle, groot rolverdeling – en alles in die hande van een ou wat beide vervaardiger en regisseur is, moet jy sommer vooraf sorry sê vir die foute wat jy gaan maak. Boonop is die verhoogbestuurder oorlaai! Vir Faan se Trein was die onbenydingswaardige taak dié van ’n meisie, die nimlike Jeanne Steenkamp. Sy had een assistent – ’n werklose ou wat wil opera studeer en bereid is om enigiets te doen. So ruimte is min; allermins ruimte vir moeilikheid. Jy het hier ’n sekere soort mens in jou groep nodig. In enige produksie, is attitudes en nukke okay, want mens is mens. Maar dit help as jy weet wat jy sien is wat jy kry.

Chris Fourie het perfek gepas. Hy was nice. Een woord. En hy had gesag. Sagte gesag. Maar gesag. Chris was die perfekste Oom Giel waarvoor mens kon bid.

Chris was soft-spoken. Chris wou nie onaktief wees nie; veral nie op sy oudag nie. Chris kon ook ontwerpe doen – vir stelle. En kostuum-ontwerpe. Chris was bereid om verniet op produksies te werk as die persoon verantwoordelik vir kostuums of as stelmaker.

Die laaste keer wat ek hom gesien het, was by ’n openingsaand van ’n opvoering by Maynardville te Wynberg. Hy was aangename geselskap, altyd – die maer man met die grys hare, beskaafde uitspraak en sy unieke, onverklaarbare gesag.

En die versoek om besig te bly.

Maar dit was hom nie beskore nie. Tyd is nie almal ewe genadig nie. Die plaaslike vermaaklikheidswêreld is die ouer persoon se genadebrood. Of krieseltjie. En die krieseltjie gereeld te min. En nou is die man met die tamboer dood. Die dosent van jare der jare se studente te UOVS is dood. Festen se ou man is dood. Faan se stasie se Oom Giel is dood.

“Ons was geskei, maar ons was nooit kwaaivriende nie. So ons het weer bymekaar gekom toe hy sorg nodig gehad het,” vertel Ounie. Dit was maar swaar vir hom na die einde toe.

Chris was Kapenaar toe hy sy laaste asem uitgeblaas het. Mens kan maar sê sy trein het die Paarlstasie binnegestoom. Vir die man wat nog nie uitgespeel was nie. Hy sou nog graag die tamboer wou slaan. Hy sou nie graag sy uurglas wou laat leegloop nie.

Die ironie is dat ons op 19 Julie, op sy sterfdatum, in Bloemfontein geopen het met oorle PG du Plessis se teatermeesterstuk, Die nag van legio. Die stuk wat te laat was vir Chris om te sien. Te laat vir hom om weer ’n slag uit te kom. Te laat vir hom om weer ’n bietjie te kon baljaar het saam met kollegas en vriende, saam met die mense in die bedryf waarvoor hy lief was.

Hy sou homself beskou as vergete terwyl daar nie rolle vir hom was nie. Nie begrotings om hom eens net saam te laat ry terwyl hy selfs gratis werk nie. Maar Chris was sout van die aarde. Chris was my tamboerman. Chris was Giel. En Chris was betyds vir ons “Stasie”.

Faan se stasie eindig tragies. Die opbou soontoe is eweneens tragies. Faan vergelyk homself met sy hond, Optel.

“Ek onthou vir Optel … my snotneus-steekhaarbrak.  Ons het vir ystervark, draaigatjakkals en springhaas die hekke na die bokveld oopgemaak … sommer so draf-draf, blaf-blaf.  [Faan hoes.]  Toe raak Optel stil … loop lê onder die kooi of die kombuistafel … of buite op die werf onder die damskrop.  Toe sê Pa die vrekte is op sy spoor.  Aalwynsap het ek hom ingejaag.  Maar hy wou nie eers skuttery nie.  En toe ek my weer kom kry, toe lê hy tjoepstil voor die trapmusiek …”

Jy kan verseker weet, Chris Fourie het nooit ’n kwikstertjie geskiet nie.

  • 3

Kommentaar

  • Herman Lategan

    Dankie hiervoor, dit is belangrik dat hierdie wonderlike mense en gebeure onthou en oor geskryf word.

  • Louis du Preez

    Dankie vir hierdie huldeblyk Albert. My pad het ook met Chris gekruis toe hy in die Boland kom bly het en vir my in twee woordkunsproduksies gespeel het. So 'n aangename persoonlikheid! So professioneel! Pragtige stemwerk! Dit was wonderlike om hom as vriend te hê.

  • Johan Esterhuizen

    Dankie vir die onthou en dankie vir die eerbewys. Die foto's het Chris se bydrae in 'n pragtig, spesiale konteks geplaas. Lest we forget, né?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top