’n Huldeblyk aan Arthur Chaskalson, die Grondwetbouer

  • 1

Hierdie bydrae is ’n persoonlike huldeblyk aan ’n groot Suid-Afrikaanse juris wat by sy heengaan verlede jaar nie die erkenning ontvang het wat hy so uitermate verdien het nie.

Vroeër het ek Arthur Chaskalson leer ken en waardeer in menseregte-sake wat ek met hom kon meemaak sowel as in sy hoedanigheid as stigterslid van die Regslui vir Menseregte. Dit was egter met die opstel van grondwette – eers die Namibiese en later die Kempton Park-Grondwet – dat ek sy insigte ten volle kon belewe en sy warm menslikheid eerstehands kon ervaar.

Die skryf van die Namibiese Grondwet het ’n besondere aanloop gehad. Na die 1989-verkiesing het al die politieke partye hul grondwetvoorstelle na die Grondwetgewende Vergadering gebring. Swapo was egter in die knyp, want hul grondwet het ’n klomp Oos-Duitse ideologieë bevat wat na die val van die Berlynse muur nie meer alte lekker was nie. Toe doen hulle ’n slim ding en vra die latere hoofregter Ismail Mohammed om die verskillende voorstelle as ’n Swapo-voorlegging saam te voeg. Hierdie nuwe Swapo-voorstel met sy bietjies van al die voorstelle vind toe aanklank by al die partye en Dirk Mudge stel toe voor dat dit as die werkstuk van die Vergadering aanvaar moes word sonder om dit as die Swapo-voorstel te bestempel, en so te verhoed dat die eindproduk as a Swapo-grondwet bekend sou staan. Dit was ’n reuse-deurbraak.

Toe, teen die einde van die jaar, word ons, Arthur, die Stellenbosse professor Gerard Erasmus en ek self, gevra om aan die hand van hierdie taamlike raap-en skraap-werkstuk ’n grondwet op te stel, in weerwil van baie Amerikaanse en veral Duitse regsgeleerdes wat wou kom oorneem. Want hulle kom toe met die waarskuwing: “Julle kan tog nie regsgeleerdes van Suid-Afrika, die onderdrukker, gaan vra om jul grondwet te skrywe nie, en dan nog twee Boere ook!” Maar soos een lid opgemerk het: “Ons soek nie vreemdelinge om vir ons ’n grondwet te skrywe nie. Dit moet ons eie mense wees.”

Dit was klipharde werk, dag en nag, om in drie weke ’n grondwet saam te timmer asook ’n  memorandum op te stel om puntsgewys elke artikel te verklaar. Arthur was al hierdie dae en nagte uitermate skerpsinnig, sorgsaam en onvermoeid.

Begin 1990 moes ons toe die konsepgrondwet aan ’n gesamentlike grondwetlike komitee van al die partye in Windhoek voorlê. Die gees was hartlik, maar die debat soms hewig. Met ons aanstelling in die Grondwetgewende Vergadering is daar veel gewag gemaak van die “manne van die hemel” wat nou ’n grondwet gaan skrywe. In die komitee merk een van die lede toe op: “Ons het gedink die manne van die hemel gaan vir ons ’n grondwet skrywe, nou lyk dit of hulle van die ander plek kom!” Dit is juis die punt. So ’n tegniese konstitusionele komitee met sy  gesag van geleerdheid het die voordeel om as weerligafleier te dien. In plaas daarvan dat lede van politieke partye op mekaar skel en onenigheid skep, kla hulle dan oor die komitee wat kwansuis onbekwaam is en nie hul werk gedoen het nie!

’n Moeilikheid was dat terwyl die binnelandse partye, en veral die DTA (Demokratiese Turnhalle-Alliansie), al vir jare grondwette opgestel het, daar ’n hele paar Swapo-lede bygekom het wat bosoorlog gemaak het en beslis nie die tyd of kennis gehad het om demokratiese grondwette te bestudeer nie. My verduidelikings aan die komitee kon nie altyd my tikkie irritasie wegsteek nie. Arthur, daarenteen, was altyd luisterend en begripvol, altyd soekend na formulerings wat almal sou tevrede stel.

’n Sluitstuk en leitmotief by die opstel van die grondwet was die sogenaamde Konstitusionele Beginsels. Hierdie beginsels is na lang jare van onderlinge stryd deur al die politieke partye aanvaar en deur die Veiligheidsraad van die VVO (nou die VN) onderskryf. Grondslae van ’n demokratiese staat, soos die beskerming van menseregte, die skeiding van magte en vry en regverdige verkiesings, is uitdruklik deur die Beginsels voorgeskryf.

Die opstel van die grondwet is konstant deur hierdie beginsels gelei. In die komiteebespreking is daar keer op keer na hulle teruggekeer. Trouens, hierdie beginsels het as die “Heilige Koei” bekend geword, en telkens as ’n voorstel gemaak is wat teen dié heilige koei sou wees, is so ’n voorstel ook deur die Swapo-lede summier van die tafel gevee.

In Februarie 1990 is die grondwet eenparig deur die Grondwetgewende Vergadering aanvaar en in Maart dieselfde jaar het Namibië onafhanklik geword met ’n grondwet wat op daardie stadium as die mees demokratiese en modernste grondwet in Afrika bestempel is. So het die tagtigjarige stryd om onafhanklikheid van Suidwes-Afrika wat aanleiding gegee het tot die geskiedenis se grootste en langste hofstryd in die Wêreldhof en ’n tragiese bosoorlog tot gevolg gehad het, vreedsaam en op ’n hoë konstitusionele noot geëindig.

Drie jaar later is ek en Arthur weer aan’t grondwet skrywe, hierdie keer in die sewe-man Tegniese Komitee Kempton Parkse Veelparty-beraad, gewapen met die kennis van ons Namibiese ervaring en verseël met ons wedersydse respek en vriendskap.

Ek is oortuig dat die Namibiese grondwetskryf  die Voorsienigheid se manier was om vir ons ’n laboratorium vir die opstel van ons eie grondwet te verskaf. Wesenlike aspekte van die Namibiese ervaring kon gebruik word, byvoorbeeld om die ontwerp van die grondwet nie aan ’n veelparty-vergadering oor te laat nie, omdat dit tot ’n Babelse verwarring van botsende aansprake en aggressies kon lei. Dit is juis waarom die eerste Kodesa-vergadering misluk het. Eerder ’n tegniese komitee wat die verskillende politieke voorstelle kon oorweeg sonder om self in die onderhandelingspolitiek betrokke te raak, en om op dié manier  die botsings en politieke wantroue te besweer.

Weer, net soos in Namibië, moes ons ook ’n “Heilige Koei” ontwerp in die vorm van Konstitusionele Beginsels  waaraan die eindgrondwet getoets kon word. Arthur was onmiddellik vir so ’n voorstel te vinde en met sy kenmerkende oortuiging verklaar hy: “Ek is nie so seker dat die ANC daarmee gelukkig gaan wees nie, maar hulle móét dit eenvoudig aanvaar.” En die ANC hét dit aanvaar … ongetwyfeld gesteun deur Arthur se oorredingskrag.

Arthur se nederigheid ... Met die bespreking van die instelling van die Konstitusionele Hof vra hy: “Wat dink julle, hoeveel regters moet daar in die Hof wees?” Ek sê toe ewe: “Ag Arthur, dit gaan tog jou Hof wees. Hoeveel regters wil jy hê?” En kry toe die sagte teregwysing: “Nee, ons skryf nie ’n grondwet om baantjies vir boeties te skep nie.”

Tydens die skryf van die tussentydse grondwet het daar egter ’n lelike ding gebeur. Ken Owen, destydse redakteur van die Sunday Times, het ’n persoonlike en vals veldtog teen Arthur gevoer, want hy was vas oortuig dat ná Bram Fischer, Arthur die leier van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party geword het. Ek het hom persoonlik hieroor gekonfronteer en hy het belowe om die bewyse – nogal uit Moskou! – te gaan haal. Niks het daarvan gekom nie. Toe beweer Ken, in een van sy weeklikse Sunday Times-rubrieke, dat ons in die tegniese komitee slaafsgewys deur Arthur beïnvloed en voorgesê word. Arthur was diep seergemaak, maar het aangedring dat ons nie aandag aan die stuk kwaadwilligheid skenk nie. Ek het beswaar gemaak: “Nee Arthur, ek wil van al ons lede – Dikgang Moseneke, François Viljoen, Bernard Ngoepe, Willem Olivier en George Devenish – hoor of hulle voel jy druk jou opvattings op ons af.” Die reaksie was ’n ontstelde ontkenning van al ons lede.

Die pynlike is dat met Arthur se heengaan verlede jaar, Ken Owen – stem uit die spelonke – toegelaat is om in die pers weer hierdie totaal ongegronde lasterlikhede oor Arthur kwyt te raak. Ek het probeer om met hierdie huldeblyk ’n ander lig op die saak te werp, maar dit is nie gepubliseer nie. Gaan die kwaad voortwoeker en die gedagtenis van een van ons eerbaarste en grootste juriste aanhou om so bevlek te word?

Arthur het sy Hof gekry. Sy ampstermyn as president en later hoofregter van die Konstitusionele Hof sal vir altyd ’n ligtoring in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse regswese wees.

Arthur, eenmalige Mensch, ons eer jou gedagtenis.

  • 1

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Beste  Marinus,

    Dankie vir 'n interessante artikel oor Arthur Chaskalson. Dit verbaas my glad nie dat Ken Owen, destydse redakteur van die Sunday Times, nogal, Arthur Chaskalson wou brandmerk as 'n kommunis nie. Jy weet mos self dat gedurende Hendrik Verwoerd se premierskap, en daarna, was alle nie-rassige demokrate geteer en geverf as kommuniste, óf saamlopers. Dit was maar die lot van eerbare persone (Beyers Naudé)  met 'n gewete wat bereid was om te veg vir 'n regverdige gemeenskap, die wegdoen van diskriminatiewe wette, en waar die "rule of law" heers.

    Groete,

    Pieter Redelinghuys

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top