’n Hap spookasem met Griessel-omnibus

  • 0

Titel: Nita Griessel Omnibus
Outeur: Nita Griessel
ISBN: 9780799342581
Uitgewer: LAPA
Bladsye:
516
Prys: R150
Klik hier en bestel Nita Griessel Omnibus nou by Lapa-Uitgewers!

Afrikaanse liefdesverhale het met tyd ’n effense metamorfose ondergaan, minder inkennig, meer parmantig en met ’n paar vurige liefdestonele sonder skaamte bygevoeg. Griessel se omnibus is egter kenmerkend van die meer beskeie liefdesverhale wat jy as kind op jou ouma se boekrak kon uitsoek.

Die omnibus bestaan uit drie verhale, naamlik Sonnige straatmusikant, Vurige Victoria en Dure Beloftes.

Sonnige straatmusikant is ’n aspoestertjie-storie oor ’n weeskind en musikant, Christi Nortier, ’n skatryk sakeman, Mynhard van Lill, en sy eensame dogter Noëline. Mynhard van Lill word grensloos geïrriteer deur die parmantige Christi, wat hom gedurig met haar oë uitdaag, maar sy dogter is dadelik in vervoering deur die lewenslus wat in hierdie meisie se oë borrel. Skelm stel Noëline vir Christi as haar musiekonderwyseres aan in ’n poging om haar meer te sien. Wanneer die slinkse Lucinda Slabbert die waarheid aan Mynhard vertel, verloor Christi egter haar werk. Die liewe tant Natie, huishoudster in die Van Lill-huis, beseer op ’n dag haar heup en Christi moet inspring en aspoestertjie speel ... met voorspelbare gevolge.

Dit is ’n liefdesverhaal wat presies in die genre pas: sonder enige pretensie en bloot net vir ontspanning. Die stywe en soms onrealistiese dialoog irriteer by tye, maar die swak eerste indrukke van die karakterisering verander mettertyd soos die leser besef dat tant Nalie en klein Noëline heel goed uitgebeeld word. Christi se oë wat “skitter soos oniksstene” word egter hopeloos te veel na verwys en ander “soos” vergelykings wil-wil irriterend raak. Die storielyn is by tye lekker snaaks, soos wanneer Christi in ’n paar lawwe insidente betrokke raak, waarvan een ’n paar valstande insluit. Tog is ’n musikant wat jonk genoeg blyk te wees om op straat die fluit te speel vir ekstra geld en oud genoeg is om ’n verhouding aan te knoop met ’n sewejarige se pa, egter onoortuigend.

Die storie van Vurige Victoria loop effens anders. ’n Meisie met ’n hardkoppige streep en ’n vlammende humeur se hart word gebreek deur die briljante prokureur Ras Scheepers. Met ’n seer hart en haar wye verskeidenheid diere vlug sy na die plaas Goedgemeen wat haar oom Benno na sy dood aan haar gelaat het. Op Goedgemeen is daar drie mans in haar lewe: die stil en teruggetrokke Matt du Plessis met die duister verlede; haar ongeskikte en arrogante buurman Jan Henneke, wat graag haar plaas wil koop; en klein Donny, wat van meet af haar hart steel. Net soos in elke liefdesverhaal is daar egter ’n Netta Pienaar wat eers Jan Henneke wil inpalm, maar dan later haar visier op Matt stel. Die dierbare tante Malie Henneke, wat alewig op die plaastelefoon afluister, is die een wat besef Matt du Plessis is om duistere redes op Goedgemeen …

’n Meisie wat met ’n gebroke hart wegvlug van alle mans om haar dan net tussen drie te bevind, is ’n algemene tema in liefdesverhale. Die taalgebruik in die verhaal is deurentyd onwaarskynlik formeel en oortuig nie hierdie leser van die menslikheid van die karakters nie. Die verhaal bestaan uit twaalf hoofstukke, waarvan die belangrikste gebeure in die twaalfde hoofstuk gebeur. Alhoewel daar ’n paar koddige insidente deur die verhaal versprei is, word dit nie so oortuigend snaaks vertel soos Sonnige straatmusikant nie, maar is ook nie ernstig genoeg om die vorm van ’n liefdesdrama aan te neem nie. Dit is ’n verhaal wat vertel word in hedendaagse terme, maar die taalgebruik en intrige oortuig nie.

In Dure beloftes keer Inneke Zietsman terug na Suid-Afrika om haar susterskind te kom haal nadat haar suster in ’n noodlottige kapingsaanval oorlede is. Terwyl klein Olga in ’n koma lê, word Inneke omring met die flirtasies en attensies van goeie vriend Jasper le Roux en die casanova Kenneth Scott. Dis egter net Dr Con la Batt wat hom nie deur die kinderlike, lewenslustige Inneke Zietsman laat verlei nie.

Weer eens moet die hoofkarakter kies tussen drie mans, met ’n sproetneus seuntjie om die keuse ’n bietjie makliker te maak. Hospitaalromanse is ’n ou tema in Afrikaanse liefdesverhale en die leser kan nie help om te wonder of ’n romanse tussen verpleegsters en dokters nog so relevant is nie. Sou ’n meer gepaste romanse nie eerder, soos in Grey’s Anatomy, tussen dokter en dokter ontstaan het nie? Ten spyte hiervan bly hierdie verhaal egter die mees oortuigende van die drie. Die motorkaping en ouers wat emigreer is veel meer relevant vir die hedendaagse leser. Dis ’n boeiende storie wat natuurlik aangehelp word deur twee kleuters en ’n skerpsinnige ouma wat deur die loop van die verhaal saggies in jou hart sal kom kruip.

Nita Griessel se omnibus sorg vir ontspanning langs die swembad met ’n drankie in die hand. Dis nie besonder sensueel nie en vertel bloot die stories van drie jong meisies wat, sonder dat hulle dit self besef, op soek is na ware liefde. Griessel vat hulle op paaie wat grotendeels onwaarskynlik is, maar ten minste sorg vir ’n glimlag en selfs nou en dan ’n skaterlag. Hierdie liefdesverhale is soos spookasem: lig en pienk met baie beloftes. Vir sommige is die pienk soetigheid na die tyd op die punt van hul tong dalk net een te veel, terwyl ander hul in die soetigheid sal behaag.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top