Sosiale media bied ’n interessante en uitdagende platform aan skrywers om met lesers kontak te maak. Tegnologie het die manier verander waarop ons kommunikeer. Dit het ook die manier verander waarop skrywers deur hulle skryfwerk met lesers kommunikeer. As deel van ʼn LitNet Akademies-webseminaar verduidelik die skrywer Jaco Jacobs watter invloed elektroniese media op sy skryfwerk het en hoe dit sy manier om met die jeug te kommunikeer beïnvloed. Tegnologie het nie net die manier verander waarop hy ín sy boeke kommunikeer nie; dit het ook die manier verander waarop hy óór sy boeke kommunikeer, sê Jaco.
Dit is altyd verblydend as daar akademiese artikels oor die Afrikaanse jeugliteratuur verskyn, soos Johan Anker se “Die invloed van elektroniese media en die totstandkoming van ’n nuwe sosiale paradigma in ’n onlangse Afrikaanse jeugroman” (LitNet Akademies, 26 Mei 2015), en ek lees dit met groot waardering en belangstelling. Dankie tog vir ’n platform soos LitNet waar deeglike besprekings van jeugboeke soms nog geplaas word – eerder as die kwalik aangepaste mediaverklarings wat deesdae veels te gereeld as koerantresensies aangebied word.
En tog deins ek instinktief so ’n bietjie terug as ek met ’n onderwerp soos “die invloed van elektroniese media en die totstandkoming van nuwe sosiale paradigmas” in my eie skryfwerk gekonfronteer word.
Een van Martie Preller se kinderboektitels som my benadering tot my skryfwerk goed op: ’n Haas moet doen wat ’n haas moet doen. (Trouens, as ek reg onthou, gebruik Martie hierdie titel dikwels self as skryfcredo.)
Wanneer ek skryf, is “sosiale paradigmas”, “vernuwing” en selfs verwysings na moderne tegnologie die laaste dinge waaraan ek bewustelik dink. (Daar is gewoonlik veel dringender probleme wat my aandag verg, soos: Hoe red jy ’n tiener-band van ondergang nadat ’n onvermydelike liefdesdriehoek ontstaan het? Wat kan die klas se selferkende bleeksiel doen om die sexy nuwe blondine in die skool se aandag te trek? Hoe kry ’n tienerseun ’n treurende dolfyn sover om weer toertjies te doen?) My werk, soos ek dit sien, is bloot om ’n storie te vertel, hopelik so goed as wat ek kan. Dat tegnologie gereeld ’n rol daarin speel, of watter rol dit speel, is tydens die skryfproses iets wat my meestal min skeel.
As ek egter uit ’n agternaperspektief krities probeer kyk na die rol wat tegnologie in my skryfwerk speel, met Anker se uiteensetting (in bogenoemde artikel) van Dresang se term radikale verandering in gedagte, is daar hoofsaaklik drie funksies wat tegnologie in my eie skryfwerk vervul:
Geloofwaardigheid: Die meeste tieners vind makliker aanklank by stories wat in hul hedendaagse realiteit afspeel. Dit beteken stories oor karakters wat min of meer so oud soos die leser is, met probleme en situasies te kampe kry waarmee die leser kan identifiseer – en in die herkenbare hede leef. Dit beteken hoegenaamd nie daar’s geen plek in die tienerliteratuur vir byvoorbeeld historiese fiksie nie, en dit beteken ook nie ek glo tienerlesers en hul verwagtinge moet nie uitgedaag word nie. Maar wanneer ek byvoorbeeld aan ’n ligte liefdesverhaal vir tieners werk, maak dit instinktief vir my sin om dit in die hede te laat afspeel.
Nou, as jy oortuigend oor eietydse jongmense wil skryf, is dit, vanselfsprekend genoeg, deesdae bykans onmoontlik om nie die realiteit van slimfone, rekenaars, internettoegang, e-pos, apps, sosiale media en ander vorme en uitvloeisels van tegnologie in ag te neem nie. Dit het so deel van my eie leefwêreld geword dat ek skaars daaroor dink wanneer ek skryf.
Op ’n heel praktiese vlak het die koms van selfone dinge nogal moeilik gemaak wanneer jy byvoorbeeld ’n spanningsverhaal skryf – al opgelet hoe gereeld spanningsverhaalskrywers ’n rede moet bedink waarom die bedreigde held/heldin nie bloot ’n selfoonoproep kan maak om uit ’n benarde situasie te ontsnap nie?
Ek het eenmaal ’n medeskrywer hoor kla oor al hierdie verwysings na tegnologie in hedendaagse jeugboeke, en veral omdat dit ’n boek so vinnig kan dateer. Die groot vraagstuk in daardie gesprek was: Waarom skryf ons nie meer onsterflike boeke nie? Nou kyk, dis die soort opmerking wat my laat grinnik. Ek het geen, maar geen, behoefte om iets onsterflik te skryf of deur middel van my skryfwerk die een of ander gewaande vorm van literêre onsterflikheid te geniet nie. As daar op hierdie oomblik iewers ’n jongmens met ’n boek sit en daardie soort binneglimlag kry wat ’n mens kry wanneer ’n storie jou insluk en jy jou met die karakters daarin kan vereenselwig, is dit vir my meer as genoeg beloning vir die ure wat ek voor my rekenaarskerm deurbring.
Ja, verwysings na moderne tegnologie raak weliswaar vinnig verouderd. Byvoorbeeld:
- Met die fliekweergawe van my jeugboek Suurlemoen! is Tiaan, die hoofkarakter, se notaboek met ’n blog vervang en die musiekklas se kassetopnemer het plek gemaak vir ’n iPhone.
- Een van die rympies in my bundel Wurms met tamatiesous verwys na M-Net se gesneuwelde kinderkanaal KTV – en dit word boonop in die rymskema gebruik.
- ’n Boek is dalk net drie jaar oud, maar as die karakters daarin vir mekaar BBM-boodskappe stuur, kan dit vir die eietydse tienerleser ’n sekere (waarskynlik onbedoelde en moontlik misleidende) boodskap oor daardie karakter se sosiale of ekonomiese status of toegang tot tegnologie oordra – want terwyl BlackBerry nog ’n paar jaar gelede die mark oorheers het, is jou ma of pa se ou BlackBerry in 2015 blitsvinnig op pad na dinosourusstatus.
Maar dis nie ’n onoorkomelike probleem nie. Met herdrukke van my boeke sorg ek en my uitgewer dat verwysings na verouderde tegnologie bygewerk word. Dit is bloot hoe jy jou karakters oortuigend binne ’n moderne milieu plaas, en dit is ’n klein opoffering as jy sodoende die leesproses vir jong lesers meer genotvol kan maak.
Nuwe teksuitdagings: Een van die dinge wat ek die meeste gehoor het toe ek meer as tien jaar gelede kinder- en jeugboeke begin skryf het, was: “Kinders lees nie meer nie en dis hoofsaaklik aan tegnologie te wyte.”
Nou, ek is self ’n redelike tegnologievraat, ek het ook op my dag aan PlayStation-verslawing gely, ek het ’n blog, en profiele op Facebook, Twitter en Instagram. En ek is ’n leser.
Op ’n dag, jare gelede, het ek en my uitgewer gesels oor die alewige gekerm oor lees versus tegnologie. Kinders léés nog, is die gevolgtrekking waartoe ons gekom het; hulle lees net nie noodwendig die soort goed wat volwassenes wil hê hulle moet lees nie. Hulle lees selfoonboodskappe en webtuistes en blogs en status updates en twiets. Jy kan daaroor tande kners, of jy kan dit as ’n geleentheid beskou.
Toe ek destyds Liefde laat jou Rice Krispies anders proe geskryf het (gepubliseer onder die skuilnaam Tania Brink), was dit vir my ’n logiese besluit dat Marzanne en haar Skimdigter per e-pos met mekaar sou kommunikeer. Die hele intrige het rondom daardie geheimsinnige e-poskorrespondensie ontvou. Die teks van die e-posse is in die verhaal ingesluit en die boek se uitleg daarby aangepas.
Met die skryf van Suurlemoen! het ek dit ’n entjie verder gevoer. As hedendaagse lesers geïntimideer word deur ’n see van teks, soos ek prakties beleef en in die joernalistiek geleer het, hoekom nie maniere vind om ’n storie met visuele elemente en ’n ander teksbenadering te vertel nie? Die storie het gegaan oor twee ouens wat besluit om hul eie rockgroep te stig en aan ’n Battle of the Bands-kompetisie deel te neem, en daaruit het allerhande opwindende moontlikhede ontstaan om grafiese elemente in die teks te gebruik wat kon help om die storie te vertel: Post-it-plakkers waarop idees vir lirieke gekrabbel is, bio’s vir inskrywingsvorms, foto’s wat die hoofkarakter met sy digitale kamera geneem het, uittreksels uit die hoofkarakter en sy pel se “Gids tot meisies”. In plaas daarvan om in die laaste hoofstuk te beskryf wat ná die kompetisie gebeur het, het ek slegs ’n foto met byskrifte gekies. A picture is worth a thousand words, lui die cliché mos – en waarom nie soms ’n prent die praatwerk laat doen nie?
Suurlemoen! was ’n waagstuk. Maar dit het vrugte afgewerp. Ek het dadelik terugvoering van lesers, ouers en onderwysers begin kry wat min of meer sê: “My kind haat lees, maar hy/sy het hierdie boek verslind.”
Dit het my aangespoor om boeke te skryf soos Perfek (waarin illustrasies ook die storie help vertel), Virus (met elemente van ’n grafiese roman), Vis & tjips (waarin die hoofkarakter se sketse deel van die storie vorm) en My eerste soen en ander dinge wat jou uit die bloute kan tref (waarin Reza se bloginskrywings groot dele van die storie vorm).
Dit voel vir my, weer eens, haas vanselfsprekend: tegnologie het die manier verander waarop ons kommunikeer. Dit het ook die manier verander waarop ek deur my skryfwerk met lesers kommunikeer.
Buitetekstuele elemente: Tegnologie het nie net die manier verander waarop ek ín my boeke kommunikeer nie; dit het ook die manier verander waarop ek óór my boeke kommunikeer.
Sosiale media bied aan skrywers ’n interessante en uitdagende platform om oor boeke en skryfwerk te gesels en met lesers kontak te maak.
Suurlemoen! (die boek) se Facebook-groep het tans meer as 900 lede en die Stalmaats-groep het ’n raps oor die 250 lede. Op hierdie groepe kry ek gereeld boodskappe van skoolkinders wat vrae oor die boeke vra, onderwysstudente wat hulp met werkstukke benodig (of soms verwag jy moet die werkstuk namens hulle voltooi!), en ongeduldige lesers wat wil weet wanneer die volgende Stalmaats-boek of ’n vervolg op Suurlemoen! verskyn. Ek het selfs al deur middel van Suurlemoen! se Facebook-groep een of twee Skype-onderhoude met klasse gehad waar ondernemende leerders self die inisiatief geneem het om my te kontak en te nooi om in die Afrikaansperiode met hulle te gesels. Vis & tjips is tans nasionaal voorgeskryf vir graad 10 tweede addisionele taal – en ek word oorval met meer versoeke vir optredes en skoolbesoeke as waarby ek ooit kan uitkom, dus moedig ek onderwysers graag aan om die YouTube-video waarop ek oor die ontstaan van die boek gesels, met hul klasse te deel. Agterop die boek is ook ’n QR-kode wat jou na die YouTube-video neem.
Ten slotte: tegnologie het dalk ’n invloed op die manier waarop ons stories vertel en die manier waarop ons stories lees.
Maar aan die hart van die saak – die rede wáárom ons skryf en lees – het dit niks verander nie. Ek skryf omdat ek graag ’n goeie storie wil vertel. Die leser lees omdat hy/sy graag ’n goeie storie wil lees
Die res is bysaak.
Lees ook die LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel deur Johan Anker wat hierdie gesprek laat ontstaan het: Die invloed van elektroniese media en die totstandkoming van ’n nuwe sosiale paradigma in ’n onlangse Afrikaanse jeugroman.


