’n Groep Kaapse kunstenaars in universele gesprek by Clover Aardklop Kunstefees 2014

  • 0

’n Groep prominente kunstenaars uit die Kaap neem vanjaar onder leiding van kurator Theo Kleynhans deel aan Clover Aardklop 2014. Ek het ’n paar kunstenaars in hulle ateljees besoek en die voorreg gehad om ’n voorskou saam met hulle te ervaar. Die onderskeie uitstallings is uiteenlopend wat betref medium, styl en tema, maar daar ontstaan dinamiese gesprekke tussen werke wat tot nuwe betekenis lei.

Brahm van Zyl is bekend as ’n landskapskilder. Sy teksturele skilderye van padkafees, verlate kerkgeboue op plattelandse dorpies en motorwrakke langs die pad verbeeld altyd die kunstenaar as reisiger. In hierdie uitstalling word uitbeeldings van die veranderlike aard van die landskap (natuur) gekombineer met mensgemaakte bakens (kultuur), maar die mens self is altyd afwesig. Russtopeetplekke simboliseer die veranderende aard van die menslike lewensreis. Dit is terselfdertyd ’n simbool van verbygaande tyd. Liggroen sementtafeltjies en -bankies waarop name ingeteken is, word monumente waarop geskiedenisse geskryf en herskryf word.

Susan Grundling se amper fotorealistiese uitbeeldings van Karooplantegroei dien as teenpool vir Van Zyl se monumente. Die Karooflora se vermoë om ter wille van oorlewing in ’n verweerde landskap aan te pas personifieer Grundling se beskouing van die menslike vermoë om aan te pas ter wille van oorlewing. Haar werk verbeeld ’n geborgenheid aan land/plek, maar het ’n dubbelsinnige karakter: sy is gewortel in haar land en tog voel sy onseker oor haar toekoms in ’n immer veranderende omgewing. Van Zyl bied ’n afstandelike blik op ’n geskiedenis, terwyl Grundling se reusagtig plante verpersoonlik word.

Hubert Barichievy se reeks miniatuurborsbeelde van ikone bied ’n vars eietydse interpretasie van portretstudies. Hy beeld 25 wêreldbekende persoonlikhede in helder kleure uit en die ikonografie herinner aan werke uit die popkunsbeweging. Karakters is gekies volgens roem, kenmerkende gelaatstrekke en hulle publieke persona.

Richard Smith beskryf sy tekenproses as ’n dinamiese spel waarin houtskool op papier geplaas word, uitgevee word en weer bygevoeg word om sodoende lewe aan sy reuseportrette te gee. Portretstudies word tradisioneel as ’n verpersoonliking van die onderwerp beskou. Smith plaas geometriese vorme, parallelle lyne en klein simbole in die ruimte reg voor die gesigte wat hy uitbeeld. So word ’n onpersoonlike tekening verkry. Die formele elemente van elke tekening word beklemtoon: vorm, lyn, tekstuur, toonwaarde en kontras. Barichievy se klein kleurvolle humoristiese harsportrette en Smith se reuse-houtskoolgesigte verbeeld die uiteenlopende visuele gestaltes van die portret. Barichievy verpersoonlik bekende karakters in driedimensionele vorm, terwyl Smith sy onpersoonlike interpretasies van mense tog benoem: Gabriel, Raymond en Julia.

Juria le Roux het ’n reeks dubbelportrette geskilder. Met die eerste blik herinner hierdie skilderye aan die sosiale realisme van Corbet of Van Gogh se “Aartappeleters”, maar wanneer ’n mens dieper kyk , word dit duidelik dat sy inderwaarheid die verhouding tussen werkgewer en werknemer beskryf. Die eienaar van die land en die mense wat hierdie land bewerk, leef al vir 30 jaar in harmonie saam. Alledaagse rituele word uitgebeeld en elke persoon speel ’n rol in ’n gedeelde geskiedenis van ’n gedeelde plek.

Corlie de Kock beklemtoon teken as ’n visuele taal waarmee die verhouding tussen werklikheid en verbeelding, asook die verganklike en die ewige, bevraagteken word. Dubbelportrette met skadubeelde, spookfigure en onvoltooide portrette bevraagteken identiteit, herkoms en verhoudings.

In wese is daar ’n universele gesprek. Die mens se identiteit, sy soeke na geborgenheid met ’n plek/landskap en sy/haar reis lewensreis bly die sentrale tema.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top