"'n Gladde klippie in 'n suiwer stroom": Corlia Fourie se digdebuut

  • 0

Die goeie vrou en ander mites
Corlia Fourie
ISBN: 9781485309710
Protea Boekhuis

In September 2018 verskyn Corlia Fourie se bundel Die goeie vrou en ander mites – die digdebuut van 'n skrywer wat reeds meer as 20 kinderboeke, dramas, romans en kortverhale gepubliseer het. Dit is bykans onafwendbaar dat 'n bekende en bekroonde skrywer se eerste digbundel gelees word teen die doek van verwagtinge wat reeds deur haar oeuvre en haar reputasie as skrywer en joernalis onder lesers gevestig is. Met Die goeie vrou het Fourie nou in al die tradisionele genres gepubliseer en die titel van die bundel val in die tematiese patroon van ander titels waarvoor sy bekend is en waarin vroue sentraal staan: Moeders en dogters, Die meisie wat soos 'n bottervoël sing en ook die versamelbundel onder haar leiding, Vrou: mens.

Die titel van die digbundel word bewustelik beklemtoon deurdat dit ook die titel van die eerste afdeling is en dat die titelgedig nie net die eerste gedig in die bundel is nie, maar ook op die agterste skutblad gedruk is.

Hierdie vooropstelling van "die goeie vrou" en dat sy ʼn mite is, deel van die "ander mites" wat die titel in die vooruitsig stel, werk beslis bepaalde leesverwagtings in die hand. Soos byvoorbeeld dat die ontmaskering van mites, en spesifiek waar dit vroue aangaan, botoon in die bundel gaan voer. In die eerste strofe van die titelgedig word dan ook gesuggereer dat "Die goeie vrou" (p 7) nie waardeer is nie. Dit bring mee dat sy in die laaste deel van die gedig ophou om nie haarself eerste te stel nie, en optree: "Toe ... het sy haar moed / opgeneem, / die agterdeur oopgegooi, / die onweer / tegemoet geloop". Maar 'n leesverwagting wat (op grond van die titel en die titelgedig) daarop reken dat die bundel die klem daarop gaan laat val om mites omtrent vroue aan die kaak te stel, word deur die loop van die bundel enigsins teleurgestel. Vroue en hul lewens en belewinge is inderdaad die belangrikste tematiese gegewe in die boek. Dit is egter opvallend dat in die eerste afdeling se gedigte oor merkwaardige vroue en hulle tragiese of triomfantelike lewens, die minimum inligting gegee word oor hierdie vroue of oor mites, of selfs stereotipes rondom (hierdie) vroue. Die gedigte gaan meestal oor tipiese sake of kenmerke van die spesifieke vrou waaroor die gedig handel en waarmee die leser reeds vertroud is. Wie "mites" wat met betrekking tot vroue in stand gehou het wil eien en ontmasker, moet self en interpreterend hierna op soek gaan.

Kan dit wees dat dit die keuse van genre is wat Fourie in hierdie bundel terughou? Die tema is dit nie. Die manier waarop die temas en stof in en deur die poësie ontgin en aangebied word, dalk wel. Of skryf sy bewustelik verse wat hoofsaaklik fokus op mededeling – en dikwels bykans nie-emosioneel? Dit is hoe die uitgewer die bundel aanbied, naamlik dat dit "verse met ʼn anekdotiese inslag" (Anon, 2018) is. Die indruk wat die gedigte laat, kan inderdaad ondervang word deur ʼn eerste beskrywing van die anekdote, naamlik dat dit "kort ... interessante vertelling(s)" is "gewoonlik om 'n bekende historiese figuur ... geweef" word (Le Roux, 2017). As die anekdotiese as uitgangspunt geneem is, kon die bundel myns insiens daarby gebaat het. Ook die uitgewer se aanspraak dat die bundel oorwegend "satiriese verse" (Anon, 2018) bevat, stel enigsins teleur. Waar ter sake word die satiriese in hierdie gedigte myns insiens onderspeel – satire met die byt van ʼn Toerien of ʼn Walters is dit nie. 

So word daar in die gedig "As dit nag word” (p10) inligting oor die manier van selfdood van twee Amerikaanse vroueskrywers en twee Afrikaanse vrouedigters gegee – met die eerste vier strofes wat inligting op 'n feitlik opsommende manier gee, en selfs 'n soort afstandelike indruk laat sodat die gedig soos ʼn berig lees. Die blik van ʼn verslaggewer? Die agternaperspektief van ʼn optekenaar wat by die geskiedenis hou?

Vir Virginia Woolf
met ʼn kamer van haar eie
was skryf
soos om ʼn vreedsame swaan
in ʼn stil stroom te volg.
Met haar jassak vol klippe
het sy haar waterdood
tegemoet gestap.               

...

Ingrid Jonker
se lyk is in wier en gras
uitgespoel nog voor sy
een winternag
die see in is.

Rika Cilliers het een herfsdag
met die Hoëveldse lug
vol wit vlinders
ʼn dooie een
langs die pad opgetel,
dit in gedigte benoem.
Met ʼn hand vol pille
is sy die ewigheid in.

Die emosionele impak wat die gedig wel op die leser maak, word opgewek uit die opstapeling van die beroemde (ikoniese) skrywers en digters – wat vroue is, wat selfdood gekies het – en uit die gestroopte "beriggewing" hieroor. Die "anekdotiese inslag" (ibid) waarvoor die bundel bemark is, blyk hier. Vergelyk hoe sterk in teenstelling hiermee 'n gedig soos "16 Dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders" aandoen. Dié gedig (en ook 'n handvol ander) is reeds in 2014 op LitNet gepubliseer (Fourie, 2014) en die impak daarvan maak vuis – en roep die Fourie op van byvoorbeeld Liefde en geweld.

Daar is egter aspekte van die poëtiese aanbod in die bundel wat die impak van die gedigte ondermyn. Een hiervan is die steurende titels wat soms gebruik word – asof sommer uitgedink of opgeplak. Dit is veral wanneer die titel as deel van die gedig gelees word, as 'n aankondiging, 'n inleiding, 'n plasing van die gedig, dat heelwat van die titels die gedigte in die steek laat. Vergelyk byvoorbeeld: "Johies" (p 33), "Dankie" (p 58), "Van baie lag" (p 60), "Grootmens", (p 63), "Verkleinwoorde" (p 71), "Koop" (p 73). Van die gedigte word ook gekniehalter deur die neiging (gewoonte?) om beeldende samestellings as nuutskeppings te gebruik. Dit is selfs moontlik om te vermoed dat die bundel gekniehalter word deur die insluiting van gedigte wat aan hierdie oordaad toegee. Sodanige woorde en frases (sommige met doelbewuste intertekstuele toespeling) doen die seggingskrag van die gedigte meer skade as wat dit daarin slaag om die idiolek van ʼn debuutdigter te vestig. Vergelyk byvoorbeeld: "bloedwarm begeer", "Was hy daarna tjankjammer?" (p 24), "gie-gie-gegiggel" (p 32), "om te byt in franksoet sproei, / en pitwit te sluk aan die geur" (p 32), "tussen groentjie-/ blare waardeur / die son kwispel" (p.34), "glipgly oor sinkdakke" en "rommelende tromme" (p 43), "tas jy in jou / krinkelkronkels / en grasieuse golwe" (p 45), "Bedags sleepvoet ek / ... Snags draf ek / voetseker" (p.51). Om die waarheid te sê, wonder ek oor advies aan die digter in hierdie verband van die uitgewersredakteur se kant. Is dit as ʼn wins beskou?

In die gedig met die ongelukkige titel "Nie, nie" (p 65-66) lyk dit aanvanklik asof hierdie soort formulering gebruik word om kontras te bewerk tussen aan die een kant internasionaal bekende besienswaardighede wat as oordadig en "ornaat" beskryf word en aan die ander kant die voorkeur wat aan die (meer sobere?) eie hier plaaslik gegee word. Só beskou, sou formulerings soos "witgeklitste Alpe, / Wallis se bottelgroen heuwels, / of die borstige blou berge / by Port Louis" en "skulppienk Marakesj" funksioneel in die gedig kon wees – was dit nie dat ook die teenstellings toe swaar dra aan dieselfde soort beskrywings nie. Vergelyk: "die Swartberge met ʼn sneeukraag", "sandsteenvolstruispaleise" en "afdraai-stofpaadjies".

Afgesien van die gedigte oor vroue, bevat Die goeie vrou ook ʼn gedig of wat oor tuine (p 30), die natuur (pp 33-35) en reise (pp 43-45), maar dit is die eerste drie gedigte in die afdeling "Bloeityd" wat na my lees, die sensitiefste (omdat eerlikste?) geskryf is. Dit sluit aan by die outobiografiese stroom wat deur die bundel vloei en wat uitmond in gedigte oor die afstand tussen 'n vrou en haar expat-dogters.

Die ars poetica wat die bundel onderlê, word verwoord in die gedig "Spoelklip" (p 49). In hierdie bundel verkies hierdie digter om nie klip te breek nie, maar om self glad gemaak te word:

 ... as kunstenaar
wil ek net wees:
'n gladde klippie
in ʼn suiwer stroom.
Nie die stowwerige
splint van ʼn steen.

Bronne

Anon, 2018. Die goeie vrou en ander mites. Protea Boekhuis.

http://www.proteaboekhuis.com/site.php/die-goeie-vrou-en-ander-mites.html 08 November 2018.

Fourie, C. 2014. Corlia Fourie.  https://www.litnet.co.za/author/corlia-fourie/ 2 November 2018.

Le Roux, A. 2017. Anekdote. In: Viljoen, H. (red.) Literêre terme en teorieë.

http://www.litterm.co.za/index.php/keuselys/8-a/11-anekdote 1 November 2018.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top