’n Gebed en die wasmasjien

  • 3

’n Gebed en die wasmasjien

Foto: Canva

Ek en Ousus Adams sit in haar eenvoudige huisie se voorkamer wat see se kant toe wys. Die venster wat son-kant toe wys is hier en daar toegeplak met ’n swart sak of ’n stukkie karton. Plek-plek hang ’n gebleikte gordyn wat al woes verniel is deur die sleepmis en warm son.

"Ja," sê sy. "So sal die wind nou waai vir dae aaneen. Dis net stof. Sien daar by die deur se een hoek is dit oop en al die stof waai daar in. Dis net ’n gemors. Dis ’n oostewind wat vandag waai. Hy waai warm en droog."

Ousus trek haar kopdoek met haar duim en wysvinger stywer oor haar voorkop, grou in haar pienk overall se sakke en haal ’n sigaret uit. Sy steek hom stadig aan die brand. Dan leun sy met haar elmboë op haar knieë en bekyk die wêreld met ou, wyse oë. Sulke oë wat sê "ek kan van swaarkry en sukkel, maar ek ken ook van bid en hoop".

Ek kyk weer by die aangelapte muur verby, na die deur wat regs staan, en dan see se kant toe.
"Stêndley" begin sy praat, harder as haar gewone praat. Dis ’n klas praat wat sê dat ’n baie ernstige ding op haar hart rus. 
"Ja, Ousus, wat is die probleem?" vra ek.
"Die is nie ’n probleem nie, maar dis ’n saak wat ek verkeerdelik met die Here gepraat het," vertel sy, trek aan haar sigaret en sit regop. Sy kyk my vas in die oë.
"Kan ’n mens dan verkeerd met die Here praat?" vra ek.
"Ja, jy kan," sê sy baie harder.

Sy vertel toe van die twin-tub-wasmasjien.

"Stêndley, hier op ’n dag is ek besig met wasgoed was. Ek het vroegoggend begin sodat dit teen middag kan klaar wees. Voordat die sleepmis oorkom. Toe ek die wasgoed so uit die masjien haal om oor te sit in die spinner, werk die spinner nie. Ek sê toe dat dit nou ’n ding gaan afgee, want hierdie wasgoed gaan nooit droog word nie. Die sleepmis gaan dit nog benoud laat ruik."

Sy sit weer vooroor, sit haar elmboë op haar knieë en trek weer aan die sigaret.

"Dit kos my om met my hande die wasgoed uit te droog, te skud en dan weer te draai. Gelukkig het hulle droog geraak voor die mis kon oorkom, maar daardie aand was my hande moeg. Ek gaan toe voor die Here en vra tog net vir ’n spinner vir die masjien. Ek kan mos nog nooit so sukkel nie. Stêndley, so waar as my mamma, kom Jozef van hier onder by my aan en sê dat hy so ’n masjien het; die wasgedeelte werk nie, maar die spinner werk wonderlik. Ek sê toe dankie, Here, en vat die masjien. Hier sit ek toe met twee masjiene. Een vir was en een vir spin."

Sy lig haar kop op en kyk my in die oë. Ek sien ’n bietjie lag, maar ook ’n bietjie ernstigheid in haar oë sit.
"Maar jy is mos dan geseënd om twee masjiene te hê, Ousus," sê ek.
"Ja, maar sien, ek het verkeerd gebid. Hier sit ek met twee masjiene wat my plek vol staan. Een vir was en een vir spin. Ek moes reg gebid het en vir die Here ’n nuwe masjien gevra het, en nie net ’n spinner nie, dan het ek ’n nuwe masjien gehad wat werk. ’n Mens moet reg bid."

Ek kyk na haar, dan na die twee wasmasjiene en lag.
"Jy moenie lag nie, dis waar."
"Is waar, Ousus, ons mense moet tog leer om reg te bid. Dinge kan soveel beter wees."

  • 3

Kommentaar

  • Hierdie Stanley-man skryf so na my hart. Binnekort verskyn 'n boek by Ns. Skrywershuis met die titel My gebed vir 'n boer. Dis 'n samestelling van gebede, gedigte, vertellings en essays. Stanley het daarin ook twee plasings wat aan die hart gryp.

  • Ek het hierdie baie geniet. So lekker geskryf en een van daardie stories wat mens wil oorvertel. Welgedaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top