
Foto: Canva
’n Flentertjie geluk
Gee jy die appel en ek die ui
dan koop ek ’n flentertjie geluk
’n sakkie sout en ’n reënboog
by die vlooimark onder in die vlei
ek ontmoet jou vanaand,
middernag,
onder die betowerende glans
van ’n skarlaken volmaan
bring jy die kompas, ek het ’n kers
dan wandel ons deur die melkweg
spring stuitig van ster na ster
inkswart, die kosmos se kombers
die môrester se glinster
slaap nog rustig agter die horison
momentaan
voor die nag versplinter

