“’n Engel duisend” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
’n Engel duisend
Matthew het nie ’n enkele gemene been in sy liggaam gehad nie. Sy siel het gegloei soos die glinstering van sterretjies. Sy glimlag het almal maklik onder sy betowering gebring. Nie dat hy enige duiwelsdade in sy hart gekoester het nie; hy was nou eenmaal net ’n absoluut wonderlike persoon ... en sy moeder se oogappel.
Op neëntien jaar het Matthew hoog oor sy ma getoring, maar sy was tog te trots op hom.
“Waar jy jou boontjieranklyf van gekry het, kan ek net nie dink nie,” het Nancy hom gedurig mee geterg. “Kyk hoe kort en dik is ek, en jou pa is geen kameelperd nie! Maar jy!”
“Ag, Ma,” het Matthew gelag, “nie alles is in ons genes nie. Somtyds kry ons wat ons het doodluiters net deur gebede. Het Ma nie dalk hard gebid terwyl ek nog rustig gelê het in Ma se maag vir ’n lang, skraal seuntjie nie?”
Dit was ma en seun se gewone tergery, en almal wat hulle geken het, kon getuig van die diepe liefdesband tussen die twee.
Matthew was boonop so aantreklik met diep kuiltjies en sjokoladekleur ogies dat al die jong meisies smoorverlief was op hom, en al die tannies was heeltemal behep met die oulike mannetjie. Maar Matthew het op daardie stadium van sy lewe net een liefde in sy hart gedra: sy moeder, Nancy.
Miskien was dit onvermydelik, of dalk was dit net sy lot om tragies deur die lewe te gaan, maar toe Die Tragedie die familie tref, het dit vir Nancy gevoel asof haar hele lewe tot stilstand gekom het.
Die eerste keer toe Nancy en haar man, Kevin, besef het dat Matthew dalk sy hele lewe lank deur ongelukkige gebeurtenisse met tragiese gevolge gevolg gaan word, was toe hul mooi seun maar net ses jaar oud was. Die ongeluk het so vinnig gebeur dat Nancy jare later nog steeds versigtig was as Matthew naby ’n swembad was.
Die familie was daardie somersmiddag by Nancy se broer, Gareth, vir sy verjaarsdagbraai. Matthew was toe alreeds almal se gunstelingnefie, maar Gareth het ’n baie spesiale verhouding met sy susterskind gehad.
“Jy weet,” het Gareth baie male vir Nancy geterg, “Matthew moes eintlik my seun gewees het. Kyk net hoe lank is hy! Presies so lank soos ek!”
Nancy het net altyd gelag en gesê: “Wel, hy’s myne en dis die einde van die saak. Matthew is nou wel jou gunstelingneef, maar hy is my hart se punt.”
Daardie namiddag was die son ongenadig; Gareth se swembad was propvol familielede wat wou afkoel. Matthew en ’n paar van die ander kinders het die klein opblaasswembad geniet. Nancy, Kevin en Gareth kon nooit verstaan hoe Matthew ongemerk by die volwassenesswembad gekom het nie. Die een oomblik was die kind saam met die res van die kleuters in die klein swembad, en die volgende oomblik val hy by die diep kant van die groot swembad in.
Op daardie tydstip, asof die Duiwel dit so gereël het, was die volwassenes uit die swembad, almal besig om kos op te skep. Die harde plons het Nancy onmiddellik aan Matthew laat dink.
Sy het hom nie gewaar by die ander kinders nie, en voordat enigiemand anders besef het dat Matthew in die groot swembad geval het, was Nancy alreeds in die water.
“Matthew!” het sy gegil terwyl sy met al haar krag geduik het om haar seun, wat besig was om te verdrink, te red.
Daar was nog ’n hele klomp kere, na hierdie voorval, waar Matthew se lewe in gevaar was. Soos die keer toe ’n rondloperhond hulle werf in die Grassy Park-voorstad ingekom en die sewejarige Matthew aangeval het. Of die keer toe Matthew – toe elf jaar oud – deur ’n roekelose minibustaxibestuurder amper doodgery is. As dit nie vir Matthew se vriend, Lyle, se vinnige reflekse was nie, sou hulle Matthew daardie wintersoggend verloor het.
En so het die jare aangestap, somtyds sonder enige voorvalle, maar tydens ander jare was daar net te veel om toevallig te wees.
Een aand, na een van Matthew se “ongelukkies” (hierdie keer was dit die bure se smousperd wat skielik mal geraak het en Matthew aangeval het toe die veertienjarige die perd se nek gevryf het – het Kevin vir Nancy stewig omhels in hul slaapkamer. Kevin was skoon asvaal van die skrik.
“Nance, dink jy God probeer ons iets vertel? Moet ons nie liewer met dominee Afrikaner gaan gesels oor al hierdie voorvalle nie?”
“Ai, Kevin. Ek weet glad nie meer wat om te dink nie. Nes ek glo dat alles orraait is, en dat Matthew beskerm word deur God, dan gebeur daar iets soos vandag se aanval,” het Nancy saggies gefluister.
Haar oë was rooi van huil; haar houding het getuig van die stres wat haar moedeloos gemaak het. Sy het geweier om te dink aan wat met Matthew kon gebeur het as die buurman nie sy perd onder beheer gekry het nie. Nogtans het Matthew ’n lelike kneusplek op sy blad gehad waar die verwilderde perd hom geskop het.
“Kom ons bid, my lief. Laat ons die Almagtige smeek om Matthew te beskerm en bewaak. Mag die liewe Here hom altyd veilig en lewenslank gelukkig hou.”
Nie een van die twee ouers kon ooit gedroom het wat Matthew uiteindelik sou toeval nie.
Ten spyte van wat soos ’n vloek gevoel het, of dalk omdat sy lewe so vervloek was, het Matthew as ’n 25-jarige op ’n larger than life manier die wêreld aangepak. Hy het elke oomblik gekoester, elke nuwe dag omarm met dankbaarheid, en geleef asof elke sekonde sy laaste was.
Hy het ’n wye en uitgebreide vriendekring gehad; hy was bevriend met kleurlinge, swartes en blankes. In Matthew se hart was daar net een kleur vir mense: die kleur van die mensdom.
“Ons is almal geskape na God se beeld, en elkeen van ons is ’n kind van die Here. Waarom sal ek na iemand se kleur of ras kyk om die persoon to oordeel? Om die waarheid te sê, nie ek of jy het enige reg om mense te beoordeel nie,” het Matthew aan Samantha, een van sy naaste vriendinne en ook sy nooi, gesê.
Samantha was smoorverlief op die aantreklike jong man wat vir alle doeleindes homself glad nie so beskou het nie. Sy nederigheid en egte opregtheid het hom net al hoe meer aantreklik gemaak.
Matthew was saam met sy vriende op ’n piekniek op Signal Hill in Kaapstad. Hulle het gereeld so byeen gekom oor naweke. Lyle was altyd in beheer van die braai. Op hierdie Saterdagmiddag was die son al laag en die weer perfek vir ’n skemerbraai en gesels.
“Ja, ek stem saam,” het Samantha gesê, “maar nie almal dink soos jy nie, Matt. Daar is soveel mense wat met haat in hul harte rondloop, wat net ras sien. Hoe kan jy sulke mense se gedagtes beïnvloed of verander?”
“Ek stem saam met Samantha,” het Andile, een van Matthew se swart vriende, skielik opgemerk. “Vra maar net vir my hoe moeilik dit is vir mense om my te sien as nog ’n mens en nie as ’n kaffertjie nie.”
“Hei, moenie so sê nie, Andile!” het Lyle Andile onmiddellik in die rede geval. “Jy weet niemand hier dink so van jou nie, of sou ooit daardie walglike woord gebruik om jou te beskryf nie.”
“Maar Andile is ’n goeie voorbeeld van waarvan ek gepraat het. Die meeste mense is te haastig en gretig om andere te etiketteer. Dis weinig dat hulle besef ons almal kom van een Skepper, dat ons onder sy genade bestaan.”
“Ek hoor jou, Matthew. Miskien eendag, as meer mense dink soos jy, sal Suid-Afrikaners en ander nasionaliteite dieselfde idees bereik,” het Andile gesê.
“In elk geval,” het Samantha die gesprek onderbreek, “my maag dink dis hoog tyd dat ons eet! Wie’s lus vir lekker braaivleis en geroosterde mielies?”
Daarmee het die jongspan hul gesprek beëindig om Lyle se heerlike braaivleis te geniet. Geen van die jongmense het drank benodig om ’n lekker tyd te hê nie, en dit was nog ’n rede waarom Matthew sy vriende so waardeer het.
Matthew het besluit om nie sy ware gevoelens omtrent die onderwerp te openbaar nie; hy het maar stilgebly. Innerlik het dit hom nog lank gepla dat dit nooit maklik sal wees om mense se natuur te verander nie.
Daardie aand het Matthew een van sy gedagtes neergeskryf in sy joernaal. Nancy sou dit vind ná Die Tragedie asof dit bedoel was vir haar om dit te lees.
“Wel, jong man. Ons sien uit na volgende Maandag, wanneer jy sal begin werk hier in die kantoor,” het Markus gesê nadat hy en Johan die besluit geneem het om Matthew die pos as IT-tegnikus aan te bied.
Beide Johan en Markus was heel beïndruk met Matthew se persoonlikheid en sy fenomenale kennis van IT. Hy was net die tipe tegnikus na wie hulle al maande lank op soek was.
“Baie dankie, meneer Van der Berg. Ek kan U belowe dat julle nie spyt sal wees dat julle my in diens geneem het nie. Ek is rêrig baie dankbaar vir hierdie geleentheid,” het Matthew gesê voordat hy huis toe gejaag het om vir Nancy die goeie nuus te vertel.
“Maar waarom het jy enigsins getwyfel dat hulle jou die werk sal aanbied?” was Nancy se reaksie toe Matthew haar laat daardie middag vertel dat hy die pos gekry het.
Gareth was toevallig by Nancy vir ’n kuier, en hy het sy gunstelingneef entoesiasties omhels.
“Man, ek’s trots op jou! Om sommer met jou eerste werksonderhoud die pos te kry is nie maklik nie! Maar natuurlik het hulle jou die werk gegee. Hulle kon jou potensiaal sien, net soos ons dit al lankal opgemerk het,” het Gareth uitgebars.
Kevin, ’n werktuigkundige wat van die huis af gewerk het, was soos gewoonlik besig met ’n kar in die agtererf. Die oproer in die voorkamer het hom nuuskierig gemaak.
“En nou? Waarom al die opwinding?” het hy gevra toe hy die kamer instap.
“Ag, dis niks nie,” het Nancy speels opgemerk. “Ons vier maar net jou seun se eerste aanstelling as ’n werknemer by Discovery Health,” het sy bygevoeg.
“Jislaaik! Veels geluk, man!” het Kevin uitgeroep voordat hy Matthew vasgedruk het in ’n vaderlike omhelsing. “Wanneer begin jy?”
“Maandag, Pa. Is dit oukei as ek vanaand met Lyle-hulle ’n bietjie gaan party om die geleentheid te vier?” het die opgewonde Matthew gevra.
“Ek sien nie hoekom nie. Natuurlik kan jy, as dit orraait is met jou Ma,” het Kevin aangelas.
“Solank jy terug is by die huis voor middernag,” het Nancy gesê.
Dit sou die heel laaste keer wees dat enige van hulle vir Matthew so opgewonde en vrolik sou sien.
Lyle het geglimlag oor hoe Matthew so lekker dut terwyl hy sy Honda Civic bestuur. Matthew was pootuit na die dag se doene en die partytjie waarvan hulle op pad terug huis toe was. Lyle het aangebied om te bestuur, aangesien Matthew so moeg was. Musiek het saggies gespeel; “Everything I do” deur Bryan Adams was een van Lyle se gunstelingliedjies. Dit was alreeds na elfuur; die pad was vry van verkeer, met net twee of drie ander motors op die M5-snelweg.
Die pikswart hond het van nêrens verskyn, reg voor die voortsnellende voertuig. Lyle het onmiddellik probeer om die hond te vermy deur die stuurwiel hard na regs te ruk. Die skielike slinger van die voertuig het Matthew regop laat sit van die skok.
“Wat gaan aan? Lyle! Kry die kar onder beheer, man!” het Matthew geskree toe hy sien hoe die voertuig van een kant na die ander op die snelweg swenk.
Op daardie presiese oomblik het die regtervoorwiel met ’n oorverdowende slag gebars. Die gevolge was katastrofies. Binne sekondes het die voertuig die pad verlaat en deur die lug getuimel. Dit het omtrent vier keer gerol langs die helling af, waar dit ’n paar bome getref het voordat dit tot stilstand gekom het.
Lyle was gelukkig dat hy uit die voertuig gegooi was met die eerste omkanteling. Matthew was nie so bevoorreg nie.
Sy veiligheidsgordel het hom vasgeknel gehou, en hy is saam met die voertuig geslinger totdat dit ophou rol het. Een van die boomtakke het hom hard teen sy kop getref; sy liggaam was erg beseer deur die voertuig se vele tuimelings.
Matthew het gekreun van pyn, maar hy het een woord uitgespreek voordat hy sy bewussyn verloor het.
“Ma.”
“Meneer en mevrou Jordaan, ek moet u waarsku. Berei julle voor vir wat julle gaan aanskou. Dis nie ’n aangename gesig nie,” het die dokter ernstig aangekondig toe Nancy en Kevin opdaag by die hospitaal.
Die oproep oor Matthew se voertuigongeluk het hulle laat jaag na Noodgevalle by Groote Schuur-hospitaal. Hulle is ingelig deur ’n verpleegster dat Matthew en Lyle per ambulans na die naaste hospitaal geneem is. Die duidelik ontstelde verpleegster het geweier om aan die angstige ouers meer inligting te verskaf.
“Dis beter as U dadelik na die hospitaal kom, asseblief,” was al wat sy wou sê.
“Dokter, hoe erg is dit?” het ’n bewende Nancy saggies gevra terwyl sy met al haar mag aan Kevin se arm geklou het.
Kevin het so stil soos ’n standbeeld gestaan, sprakeloos van die skok.
“Mevrou Jordaan, Matthew het sleg daarvan afgekom. Blykbaar het die voertuig ’n paar bome getref terwyl dit die helling afgetuimel het. Ek’s bitterlik jammer, maar Matthew was baie ernstig beseer.”
“Wat bedoel u, dokter?” het ’n bevreesde Kevin gevra.
“Nee, nee. Dit kan nie waar wees nie. Ek glo dit nie,” het Nancy die dokter aangespreek voordat hy Kevin kon beantwoord. “Matthew is oukei. Ek weet hy’s nie in lewensgevaar nie. Nee, nie my kind nie.”
“Nance, laat die dokter ons die volle storie vertel voordat ons in daardie kamer instap. Asseblief, skat,” het Kevin gesmeek, sy oë vol ongestorte trane.
Nancy se wange was klam van haar trane wat so onbeheerst soos die bloed in haar are gevloei het. Haar snakke na asem en haar aritmiese hartklop het alreeds die waarheid besef.
Hardnekkig, asof haar weiering om die nuus te hoor dit nie waar sal maak nie, het Nancy aanhoudend haar kop van kant tot kant geskud.
Kevin het sy vrou stewiger omhels terwyl hy haar trane probeer wegvee het. Later sou hy wonder waar hy die krag vandaan gekry het, maar hy het homself regop geruk en die dokter, wie se blik op die vloer was, dapper aangespreek.
“Dokter Wessels, is daar die geringste kans dat ons seun sy trauma sal oorleef?”
Met Kevin se vraag het Nancy hartverskeurend gekreun. Kevin het haar dadelik gehelp na ’n stoel waarin sy gesak het soos in ’n bondel nat wasgoed.
“Meneer Jordaan, ek is uiters jammer om U in te lig dat Matthew tans op lewensondersteuning is. Sy beserings was te ernstig, en hy is in ‘n koma. As ons die masjiene afskakel, sal Matthew nie weer wakker word nie.”
Alhoewel Nancy haarself voorberei het vir wat sy in Matthew se hospitaal kamer sou sien, was die realiteit nog steeds ’n geweldige skok.
Matthew se pragtige gesig was potblou aan die linkerkant. Sy regteroog was wawyd oop, asof hy nie kon glo wat met hom gebeur het nie. Dit was egter uiters duidelik dat daardie oog niks sien nie. Dit het gestaar asof dit diep in die Hiernamaals ingekyk het.
’n Yskoue rilling het langs Nancy se ruggraat afgeloop.
“My lieflike, lieflike seun,” het Nancy gesnik terwyl sy saggies orals aan Matthew se gesig geraak het. Kevin het sy seun se linkerhand in syne geneem en net gestaan soos iemand wie se drome versmoor was. Hy het nie eens besef dat sy trane soos twee watervalle onbelemmerd langs sy wange af gevloei het nie.
“Kevin, ons kan hom nie so laat ly nie,” het Nancy gehuil. “Vra asseblief vir dokter Wessels om die masjiene liewer af te sit.”
“Ja, ek stem saam,” het Kevin gesê. “Matthew se siel is met die Vader. Laat ons sy liggaam die waardigheid gun wat dit verdien.”
Met innige liefde en ’n gebroke hart het Nancy Matthew se gesig gestreel terwyl Kevin met die dokter gaan praat het.
“My hart se punt, jy was nie bedoel vir hierdie lewe nie. Jy was ’n tydelike geskenk aan ons van God, maar Hy was te lief vir jou, dus het Hy jou teruggeroep. Slaap rustig, my engel. Jy sal vir ewig lewend bly in jou ma se hart en siel.”
Nancy het twee dae later op Matthew se joernaal afgekom. Toe sy Matthew se laaste nota lees het sy in trane uitgebars. Sy het haar geliefde seun se woorde op sy grafsteen laat graveer:
Ons lewe net een keer,
Maar as ons reg lewe,
is een keer oorgenoeg.
Ter nagedagtenis aan
Matthew Herrendoerfer
16 Augustus 1994 – 24 Maart 2019
* Gebaseer op ’n ware verhaal. Sommige name is verander.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie