
De Kat-tydskrif duik al jare lank op boekwinkels se rakke op. Die tydskrif het nog altyd aandag getrek as 'n toonaangewende joernaal oor die kunste. Gedaanteverwisselings het plaasgevind. Voorblaaie het geskok. De Kat was nog nooit vervelig nie. Elzilda Bekker, redakteur van dié tydskrif en vervaardiger van DeKat-TV, vertel vir Naomi Meyer van dié kat met sy nege lewens.
Hallo Elzilda, en dankie vir die geleentheid om te gesels. Deesdae vertel Facebook mens mos ’n klomp dinge van ander mense en ek sien jy was in die Afrikaans Hoër Meisieskool. Is jy maar nog altyd ’n boorling van Pretoria? Vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond.
Boorling van Pretoria, maar woon al dertig jaar in Johannesburg, twaalf daarvan in ’n ou honderdjarige huis op Houghton-rif, omring deur 140 koi-visse, drie poue, drie honde en ’n parmantige koekoekhaantjie. Selferkende bibliofiel met letterlik kamers vol boeke, plate en vreemde voorwerpe.
Tussen al die ander tydskrifte op die rak, staan De Kat ’n bietjie uit, soos ’n dramastudent. Dit lyk anders as ’n weeklikse tydskrif met sepiesterre op die voorblad. Is die gedagte om ’n sekere kunssinnige segment van die mark te trek?
Van ons naam tot stories en voorblaaie, is dit 'n soektog na die ongewone met ’n kulturele verbintenis. Die tipiese De Kat-leser is 'n vrye denker en innoverende toonaangewer wat by sy of haar erfenis betrokke is.

Só onthou ek ook De Kat van kleins af: as ’n tydskrif wat anders lyk as die res. Ek onthou ’n De Kat-buiteblad uit die tagtigerjare: ’n model wat toegedraai was in verbande. Dink jy mens kan in die voorkoms van vandag se De Kat nog ’n eggo hoor weerklink van ’n vroeëre De Kat, iets soos ’n moderne James Bond wat kopknik vir 007 van vyftig jaar gelede? Of doen julle iets nuuts, julle eie ding?
Ons dans op die ritme van ons eie tromslag.
Op die voorblad van 'n onlangse De Kat pryk ’n foto van een van Pieter Hugo se modelle. Haar vel is ’n eienaardige skakering van grys en enige kolle of vlekke word geaksentueer deur spesiale tegnieke wat Hugo in sy fotografie gebruik. ’n Interessante oefening, in hierdie land waar almal op ’n ander manier so behep is met die kleur en voorkoms van ’n vel. Die resultaat is ’n foto waarvan mens nie kan wegkyk nie. Watter soort stories vang jou oog dadelik as ’n voorbladstorie?
Die ongewone, die unieke, die vreemde en die onverwagse.
Ek het, amper tot my verbasing, dié slag ’n Engelse De Kat gekoop. Maar ek ken baie van die bydraers as mense wat oorspronklik in Afrikaans skryf. Gaan ek dalk soos die GRA klink as ek jou vra of julle hart Afrikaans klop? Dis tog soos dit vir my voel (Afrikaans, al lees ek dit in spreektaal-Engels), maar wel gestroop van nasionalistiese bagasie. Of maak die taal van die tydskrif nie regtig saak nie, dink jy?
Dit is vir my baie belangrik om ons kultuur met soveel lesers as moontlik te deel. As ek De Kat in Duits ook kon vertaal, sou ek. De Kat was nog altyd 'n bewaarder van die Afrikaanse taal en juis daarom sien ons die Engelse uitgawe as ’n instrument om die Afrikaanse kultuurskatte met die Engelssprekende gemeenskap te deel.

Ek sien De Kat fokus op die Clover Aardklopfees, veral die teaterproduksies. Ek het ook by die Pendoring-toekennings in September in die Kaap ’n vroeëre De Kat as geskenk ontvang. Wanneer borg De Kat ’n geleentheid?
Ons borg die Pendorings al van die begin af. Dit is dus nou 18 jaar wat ons betrokke is.
Julle het ook ’n TV-program op kykNET en jy noem in jou redakteursbrief dat julle by die 500 000 kykers het. Sal jy julle TV-program beskryf as ’n visuele joernaal? Of as iets anders?
Dit is beslis ’n joernaalprogram waar ons op vreemde en ongewone paaie loop. DEKATv moedig kykers aan om in drome te glo en te loop waar ons loop – op onverwagse paaie en stofpaaie, waar stories volop is en die hartklop van mense warm is.
Gepraat van julle voorkoms op die rak: julle voorkoms as YouTube-lokprent stem vir my ooreen met hoe julle tydskrif lyk. Dis opvallend hoe baie dié inset van Nataniël gekyk is!
Hier trek julle ’n eksotiese baadjie aan, ’n De Kat soos die Le Chat Noir van die Moulin Rouge. En kyk die blou skoenlapper wat groei! Wil jy dalk iets sê oor hoe hierdie lokprente gekonseptualiseer is?
Die gevoel van ons nuwe reeks, wat tans op kykNET is, trek inspirasie van die Steampunk-beweging, waar tegnologie, romanse en fantasie gemeng word. In die openingstoneel skep ons 'n fantasiewêreld – ’n De Kat-wonderwêreld.
Enige ander of nuwe projekte wat De Kat beoog?
Natuurlik. Innovering is ons leuse. Hou die pers in die middel van 2013 dop.
Hoe lyk De Kat in die toekoms? Of, anders gestel, hoe lyk die toekoms vir De Kat?
Ons het volgende jaar weer ’n TV-reeks van 39 episodes en later in die jaar kom nog ’n nuutjie … Die lewe is ’n lied.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


Kommentaar
Goeiedag. Ek soek 'n spesifieke argiefartikel. Oor Hanlee Louw wat in Die towerfluit queen of the night vertolk het. Sy's afgeneem op haar plaas met hoenders op en om haar. Dit was om en by 1992/93. Waar kan ek soek daarvoor?