'n Brief uit Grahamstad

  • 1

nightjartravel.com

Amper ses jaar later, maar die poskantoor kan nie in dié geval verwyt word nie.*

’n Algemene rustigheid het oor Grahamstad geheers toe ek daar aankom. Dit het gevoel die dorp het onder ’n wolkombers aan die slaap geword. Dit was 5 Mei 2009. Dit was net na 08h00. Vir ’n wyle was ek rigtingloos, want my hotelkamer sou eers later gereed wees. Ek het toe heelwat later koers gekry, maar my gedagtes was rigtingloos. Dit het bly dwaal.

Herinneringe van my laerskool-geskiedenislesse het soos spoke uit ’n ou en vervalle begraafplaas te voorskyn gekom. Dit was die geskiedenis van die 1820 Britse Setlaars. Dit het sonder ophou deur my kop galop.

Die Britse invloed is oral sigbaar. Grahamstad is immers sinoniem met die geskiedenis van die Setlaars. Dit is letterlik in die historiese argitektuur van dié dorp vasgelê en figuurlik in jou geheue ingegraveer. Veral die geskiedenis van die Hobsons – gewilde angorabokboere van die Karoo – is ook daar aanwesig.

Kyk, wat sal Grahamstad nou wees sonder ’n stukkie Karoo-geskiedenis?

Tydens ’n besoek aan Madagaskar in 2007 het Felix Hobson van die Oos-Kaapse Departement van Landbou my vertel van die ryk geskiedenis van die Hobsons. Dit was om en by 1820 toe ’n Hobson in die Oos-Kaap aangeland het. Hy het die saad van die Hobsons hier geplant. Vandag lewer die Hobsons op verskeie vlakke van die Suid-Afrikaanse samelewing, veral in die Oos-Kaap, ’n konstruktiewe bydrae tot die ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling van die nasie. Daar is byvoorbeeld Denys Hobson, ook ’n angorabokboer, wat vir Suid-Afrika op provinsiale en nasionale vlak krieket gespeel het.

Ironies genoeg stop ek voor die UPB-boekwinkel en wals in. Kyk deur die boeke, maar vind niks vir die oog en siel nie. Koop koerante en maak my uit die voete. Net langs dié boekwinkel is die baie gewilde koffiewinkel, Red Café, wat aan ’n seun, Justus, van die skrywer Pieter Wagener behoort. (Teleurstellend het Pieter my onlangs ingelig Justus besit nie meer dié koffiewinkel nie. Hy het dit verkoop.)

Ek koop toe die volgende boeke in dié gewilde kuierplek: die Engelse skrywer DH Lawrence se Selected Letters, saamgestel deur Aldous Huxley, ’n klassieke stuk wat elke skrywer en boekemens behoort te besit; en die roman Maru deur Bessie Head.

Ek begin toe gou-gou lees en kom tot die volgende slotsom: dit is nie wat Huxley in die voorwoord geskryf het wat saak maak nie, dit is die gedeelte wat Lawrence se vrou, Frieda, na sy dood in 1930 oor hom geskryf het: “What he had seen and felt and known he gave in his writing to his fellow men, the splendor of living, the hope of more life … a heroic and immeasurable gift.”

In Maru bewys Bessie Head dat sy onder die grootste skrywers tel wat ’n passie vir beskrywing het. In die eerste hoofstuk skryf sy: “The rains were so late that year. But throughout that hot, dry summer those black storm clouds clung in thick folds of brooding darkness along the low horizon. There seemed to be a secret in their activity, because each evening they broke the long, sullen silence of the day, and sent soft rumbles of thunder and flickering slicks of lighting across the empty sky.”
Ek hou toe op lees.

Ek het ’n hele reeks voorafbeplande afsprake gehad – met onder andere Pieter Wagener. Die hongerpyne het egter geknaag en toe bestel ek sommer ontbyt. Ek bel Pieter en hy sê hy sal dit nie kan maak nie; word iewers opgehou deur ’n kleinigheidjie. Nou moet ek maar alleen ontbyt geniet.

Red Caféis – of sou ’n mens nou sê was – die begin en eindpunt van kuierplekke in dié historiese dorp. Rhodes-studente met snaakse en vreemde haarstyle en vreemde tale beweeg uit en in dié plek. Die bekoorlike koffiereuk in die lug het my op koffie in plaas van tee laat besluit. Die klassieke klanke van Mozart het my rustiger laat voel.

Voor my op die tafel het sout- en peperpotte gestaan. ’n Bottel tamatiesous het aan die bopunt van die tafel gestaan. Die tafel was groot genoeg vir omtrent vier mense, maar omdat ek alleen daar gesit het, het ek besluit om my skootrekenaar in die motor te gaan haal en sommer te begin skryf.

Ek val weg met skryf en word onderbreek deur die kelnerin wat vir my ’n tweede koppie koffie aangegee het. My selfoon lui en die kelnerin moet ’n bietjie langer met die koffie in die hand staan. Ek vat toe aan die verkeerde selfoon – want ek is ’n tipiese moderne mens met twee selfone.

Dit is die koerant – The Herald in die Baai, om presies te wees. Hulle wil kommentaar hê oor een of ander projek. Ons het die sakie sommer gou-gou afgehandel.

Ek pak op en gaan wys gesig by Godfrey Meintjies van die Departement Afrikaans en Neerlandistiek by Rhodes-universiteit. Ons kuier gou; hy moes nog ’n klas gee en ek vaar die strate in om my hare te gaan laat sny.

Ek beland toe wraggies in een van die agterstrate wat deur buitelanders “regeer” word. Ek stop hier en stop daar om te verneem na ’n haarkapper. ’n Nigeriese student met gebroke Engels wys my na nog ’n agterstraat; hy sê ek sal daar gehelp kan word.

’n (Buitelandse) vrou sny vir die heel eerste keer my hare. Ek kyk na ’n Afrika-kanaal op ’n betaalkanaal. Na vyf minute beveel sy my met ’n buitelandse aksent om op te staan en te loop, want haar werk is nou klaar. Ek vee oor my kop. Ek voel tevrede en gee haar R20. ’n Dame kry my in die straat en sê in Afrikaans ek lyk netjies nadat ek haar vroeër gevra het waar presies die haarkapper is. Sluit my kar oop en skakel my CD-speler aan en ek luister na die goue klanke van Jonathan Butler. Vroeër het ek in Red Café’n oordosis klassieke musiek ingekry en nou bring die klanke van ons “Kaapse klong” ’n balans.

Ek kyk op my horlosie en sien die tyd het aangestap: dit is presies 13h00. Toe onthou ek skielik: my oorle ouma sou altyd klokslag om 13h00 op die Afrikaanse radionuus inskakel. Dan moes daar stilte wees. Die omroeper of nuusleser het dan die bulletin soos volg begin: “Hier volg die nuus, gelees deur …” En aan die einde van die bulletin: “Ter afsluiting van die nuus, herhaal ons weer die hooftrekke.”

Ek haas my weer na Red Caféom die honger te stil. Ek sit buitekant en bekyk Grahamstad vanaf die eerste vloer van die gebou waarin dié koffiewinkel geleë is. ‘n Menigte studente vloei en praat in vreemde tale. ’n Man in die oorkantse hoek luister na my gesprek terwyl ek met ’n vriendin op my selfoon praat.

Die man glimlag en ek glimlag terug. Hy drink bier en gedra hom soos ’n skrywer, want hy luister my telefoniese gesprekke af. Wyle Nadine Gordimer sou trots op hom gewees het, want sy het geglo skrywers moet groot ore hê om mense geduring af te luister. Net een probleem: die man is nie ’n skrywer nie. Hy is ’n elektrisiën; taamlik oud en sy gesig is ’n bietjie verrimpel.

Hy kom sit by my aan tafel en stel hom voor. Hy is Melvin. Kort en saaklik. Net Melvin. Net dit. Niks ander nie. Niks meer nie. Ek het nie sy van gevra nie. Hy het net sy selfoonnommer vir my gegee. Hy is getroud en was jare op dwelms. Nou is hy bevry en sorg vir sy familie. Hy het nou sy eie besigheid en het voorheen vir die universiteit gewerk. Al die professore by Rhodes ken hom. Daaroor voel hy baie trots. Hy het gesê ek moet groete sê vir prof Meintjies as ek hom later die aand weer sou sien.

Nou sit Melvin hier vlak voor my. Hy bestel nog ’n bier. “Nee wat,” sê hy, “ek drink elke dag my dop hier. Ek wag hier vir my manne, want kyk hier my broe’, ek is my eie Lanie.”

Daarop het die uwe amen gesê.

“Kykie my broe’ ek wou altyd gestudeer het, maar die opportunity was nie daar nie. Die geld was skaars en ek moes uitspring om te gaan werk. Ek moes die pot aan die kook hou. Het jy gestudeer?”

“Ja.”

“Hier by Rhodes?”

“Nee.”

“Waar dan?”

“In PE.”

“Lekka my broe’, lekka.”

Ek kyk weer op my horlosie. Besef toe ek is amper laat vir ’n afspraak by die restaurant Cock House. (Terloops, dié restaurant was eers ’n woonhuis en die tuiste van André P Brink toe hy aan Rhodes Afrikaans gedoseer het.)

Die laaste keer toe ek Grahamstad aangedoen het, was toe ek ontbyt met ’n vriendin gehad het; en die voorlaaste keer saam met my vriend, die letterkundige Philip John. Daar het sedertdien baie water in die see geloop. Toe was ek daar vir onder meer lesings by Rhodes-universiteit se Departemente Engels en Afrikaans later die dag. Die bekroonde skrywer en ’n boorling van Burgersdorp Eben Venter sou onder meer ook daar ’n lesing gee.

Venter het onder andere oor die werk van die Australiese skrywer David Malouf gepraat. Hy het vir Malouf in die laat 1980’s in Australië ontmoet toe Venter in sy broer se kafee vir vegetariese kos in Sydney gewerk het.

“Malouf het dikwels ingekom en oor sy bril en sterk neus beleefd, en nogal beskeie, ’n bruinrysbal en ’n gevulde tofusakkie gevra,” sê Venter.

Venter het ook in Engels oor sy roman Trencherman gepraat. Dié plaasroman begin waar die skrywer, Marlene van Niekerk, se roman Agaat geëindig het, met die oorhandiging van die familieplaas aan die bruin werker, Agaat.

Hy het ook in Afrikaans by die Departement Afrikaans en Neerlandistiek gepraat oor sy eie werk as skrywer en ook uit sy werk voorgelees.

Dit wat Venter kwytgeraak het oor sy werk as skrywer sal my altyd bybly: “’n Skrywer moet skerp kyk, goed luister en die vermoë hê om te ruik en om uit die derms te kan skryf. Anders kan die skrywer nie ‘voed’ nie. Skrywers moet ook verskeie kwaliteite en vaardighede hê om te kan skryf om te ‘voed’.”

* ’n Terugblik op my besoek amper ses jaar gelede aan Grahamstad.

  • 1

Kommentaar

  • Kleurvolle terugblik op 'n besoek aan Grahamstad. Ek het terloops 'n petalje om te deel oor Jacques, 'n bestuurder van Cockhouse. Jacques is hoogs ontstoke oor 'n plaaslike kallant wie sy motor se bumper gestamp het tydens 'n laataand sessie by 'n plaaslike kroeg. Die kallant het gevlug en nou het Jacques niks meer as die ou se stoel om hom te vergoed nie. Jacques het wel nou die stoel sy troon gemaak en kan gereeld daar aangetref word, in hoë gemak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top