'n Brief oor die ander kant van Charles Malan

  • 0

 Hallo almal

My innige meegevoel aan familie, kennisse en naasbestaandes met die heengaan van ons skrywersvriend, Charles Malan.

’n Foto wat ek en Charles saam met Don Mattera geneem het in 1995 by die Congress of South African Writers se byeenkoms in Hillbrow.

Ek, Charles, Rachel Greeff en andere is op Maselspoort verkies as die laaste Afrikaanse Skrywersgilde Bestuur, met Charles as voorsitter. Charles het, toe die ANC se Congress of South African Writers (waarvan ek ook lid was) daarop aandring dat hy as Afrikaanse Skrywersgilde-lid ook ’n spreukbeurt kry (dit in die tyd toe Afrikaans nog beskou was as die taal van die onderdrukker), opgestaan vir Afrikaans in ’n oorwegend Engelse en vyandige omgewing.

By die Swart Afrikaanse Skrywerssimposium op Paternoster in 1995 het Charles die onoortreflike referaat gelewer met die titel: “Black is beautiful, maar is swart sinvol?” Hy het ons lekker laat lag met sy verduideliking van die Groot Afrikaanse Tradisie (GAT) en die Groot Afrikaanse/Afrikaner-Letterkunde (GAL).

Ek kan met trots sê Charles Malan was in die struggle om Afrikaans te bevry van sy apartheid-status. Hy was nie ’n na-prater nie; hy het gepraat en geskryf toe dit saak maak, selfs teen die nuwe Inligtingswetgewing.

Hamba kahle, Charles.

Skrywersgroete

Robert J Pearce

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top