’n Brief aan my ouma

  • 7

Foto: Canva.com

Die Waterberge 
Dag 80, COVID-19

Liewe ouma Lenie,

Dis winter in die Bosveld, Ouma. Die boekenhout se blare het verroes en die vaalbome staan weerloos en kaal. Wanneer die wind waai skuur die raasblaar se takke teen mekaar en dan huil die bome. Wanneer dit hoogsomer is, kan mens jouself maklik verbeel daar gaan nooit ’n winter kom nie. Ek kry swaar, Ouma. Ons kry almal swaar. Die lewe het skielik langs die pad gebreek. Nou staan ons almal alleen langs die pad en wag en wag vir hulp. Die warrelwind waai stof in ons oë. Dit voel of die hele wêreld ophou leef het. Dis swaar om net stil te staan, Ouma.

Ek wou Ouma nog altyd gevra het oor swarigheid, maar wanneer ’n mens jonk is hardloop jy die lewe vooruit. Dan wil jy nie terugkyk nie. Toe Ouma nog geleef het, het Ouma nooit gepraat oor swaarkry nie. Hoe het Ouma dit reggekry om bo-oor die swaarkry te bly lewe? Hoe gaan ’n mens aan met jou lewe wanneer die dood heeltyd oor jou skouer loer? Wanneer jy met die dood begin praat asof dit ’n lastige bedelaar is wat hierdie keer vra vir jou lewe? Die dood is die eerste ding waarmee jy worstel wanneer jy drie-uur in die môre wakker word. Die laaste ding waarmee jy saans bed toe gaan.

Swarigheid kom nie op bestelling nie. Skielik, onverwags sien jy dit aankom soos ’n ongenooide gas. Dan sit jy op die stoep en wag ... en wag. Is die wag reeds die begin van ’n rouproses? Die verwagting van verlies? Die afwagting? Die nagmerrie-moontlikhede wat binne-in jou kop teen mekaar bly rondstamp? Dan begin jy allerhande redes versin waarom die dood juis jou en jou geliefdes sal verbyloop. Dan begin jy vir rukkies vergeet – probeer leef asof niks gebeur het nie, asof niks gaan gebeur nie.

Jy draai van die bospaadjie af en loop die veld in. Jy ruik die suur van die gras waardeur jou voete loop. Jy kyk op na die blou lug en voel die koelte van die wind wat oor jou gesig speel. Die terugruk uit hierdie oomblik se vergeet is brutaal, Ouma. Dit kom wanneer die TV jou vertel van die nuutste getalle. Wanneer jy die voorbereiding sien van massagrafte – net ingeval dit nodig gaan word.

Ouma is gebore tussen massagrafte. In ’n konsentrasiekamp in Middelburg. Ouma se ma moes Ouma vertel het van die rye en rye kindergraffies wat in gelid gestaan het. Wat vertel het van masels en loopmaag en ander siektes, van die doodsengel wat deur die kampe getrek het.

Toe kom die groot oorlog van 1914 en kort op sy hakke die rebellie. Ouma was maar twaalf toe die wêreld vir die eerste keer uitmekaar begin val het. Was Ouma ook kwaad? Kwaad oor die lewe Ouma in die steek gelaat het. Oor die broedertwis van die rebellie wat families verdeel het. Oor die baie lyke wat begrawe moes word van familie en bure se seuns. Eers hier op eie bodem en later in ver en vreemde lande.

Ek is ook soms kwaad, Ouma. Kwaad omdat die lewe my ook in die steek gelaat het. Kwaad oor mense se roekelose domastrantheid. Ek wil mense voorsê, skreeu dat hulle versigtig moet wees. Is dit arrogansie, ontkenning, of wat is dit wat mense laat voortgaan asof niks besig is om te gebeur nie? Dit maak my kwaad.

Baie mense is kwaad. Daarom probeer hulle blaam uitdeel. Soek hulle na iemand vir wie hulle kwaad kan wees. Kwaad het ’n adres nodig waaraan dit gerig kan word. Sensasie-stories oor sameswerings en nalatigheid sprei soos die stank van oorloop-riool tussen mense.

Siekte is ’n groteske vyand. Die groot oorlog was in sy laaste stuiptrekkings toe die Groot Griep hand aan hand saam met skarlakenkoors by Ouma-hulle aangekom het. Ouma was vyftien. Was Ouma se skool ook gesluit? Was Ouma ook alleen op die plaas terwyl Ouma wag – luister hoe die siekte al hoe nader kom? Geweet hoe dit voel wanneer alleenheid binne-in jou kom lê, wanneer jy afgesny word van vriende en familie? Dit voel soos ’n donker put waarin jy val. Terwyl jy val weergalm jou skreeu teen die kante van die put en wonder jy hoe ver die bodem nog is.

Ek weet nie of Ouma ooit die Groot Griep gekry het nie, maar ek weet Ouma het wel skarlakenkoors gekry. Dat die hoë koors Ouma se hart aangetas het. Hoe voel dit as jy nie weet of jy gaan bly lewe nie? Wanneer jy weet jou hart-letsels is vir altyd. Dat dit agter jou aanloop soos ’n aasdier wat wag om jou aan te val. Ek het al vergeet hoeveel hartaanvalle en beroertes Ouma gekry het, maar ek onthou wel dat ek as kind die binnekant van hospitale leer ken het elke keer wanneer ons Ouma besoek het.

Die bangheid staar my aan met ’n ongeskiktheid wat my verstom. Ek het klaar soveel verloor. Die stukkende skerwe van my lewe lê rondom my gestrooi: My sekerheid is gebreek. Ek mag nie my kinders en kleinkinders sien nie. Ek moet ander mense soos die pes vermy. Hierdie afgesaagde gesegde het nou vir ons ’n nuwe, skrikwekkender betekenis gekry. Onrus in plaas van vrede het vir hom ’n blyplek in my hart kom oopwurm.

Maar die groot verlies lê miskien nog vir ons en wag, soos dit ook vir Ouma lê en inwag het. Dit was ’n windverwaaide Augustus-dag in 1927. Die oorlog en die Groot Griep was verby. Ouma was getroud met Ouma se groot liefde. ’n Dogtertjie van drie het in die plaashuis rondgehuppel. Ouma was vyf maande swanger met my pa. Die oupa, wat ek nooit geken het nie, is met sy fiets dorp toe. Dit was voor die tyd toe gewone mense karre kon bekostig en ná die tyd toe mense nog met perde dorp toe gery het.

Miskien het Ouma brood gebak, sodat Oupa vars brood met varkvet en stroop kon eet wanneer hy moeg van die dorp af terugkom. Toe die son reeds na die horison begin trek het Ouma kort-kort by die venster uitgekyk. Allerhande redes uitgedink waarom Oupa moontlik laat kon wees: Miskien sukkel hy om alles te kry wat hy moes gaan koop. Of miskien het hy ’n ou vriend raakgeloop en aan die gesels geraak sonder om te besef dat dit laat word. Eintlik is dit ver om met ’n fiets dorp toe te ry en vat dit langer as wat ’n mens dink.

Toe die skemer onverbiddelik oor die Hoëveld toesak het Ouma Ouma se voorskoot uitgetrek en die huishulp gaan roep om na die dogtertjie te kom kyk. Ek weet nie hoe ver Ouma in die plaaspad afgeloop het nie. Ouma se hart moes geruk het toe Ouma die fiets en die lyf in die pad sien lê het. Die pyngevoel van bene wat te vinnig probeer hardloop, die ydele hoop wat baklei met die donker wete dat dit te laat is – heeltemal te laat. Het Ouma langs Oupa se koue lyf gaan sit en sy donker krulkop op Ouma se skoot getel? Die mengsel van sand en skuim, wat ná die toeval in Oupa se mondhoeke gaan sit het, saggies uitgevee?

Toe was Ouma alleen en dit was die begin van die Groot Depressie. Ouma moes met ’n skreeuende baba op die rug ander mense se vuil klere was om aan die lewe te bly. Dit maak my bang, Ouma. Die onsekerheid. Die verskriklike moontlikhede van wat vir ons voorlê.

Tog het Ouma nooit oor swaarkry gepraat nie. Ek het meeste daarvan by tannie Sue, Oupa se jonger suster, gehoor. Ek het Ouma nooit sien huil nie, al was Ouma ’n sagte mens. Miskien het Ouma binnekant toe gehuil. Wat ek die beste onthou is Ouma se vertelling hoe julle as jongmense in die berge naby Loskopdam gaan stap het. Ek onthou Ouma se lag, nie die vals lag van iemand wat voorgee om immer vrolik te wees nie, maar die lag van iemand wat die klein stukkies vreugde in die lewe kan geniet. Is dit hoe Ouma dit reggekry het om aan te hou lewe?

Nou is Ouma al amper vyf dekades lank dood en ek is self oud, en ek hoop dat ek ook iewers die moed sal kry. Moed wat liefde en hoop lewend kan hou. Oor geloof is ek nie meer so seker nie ...

Petie

  • 7

Kommentaar

  • Avatar
    Noeleen du Plooy

    Ek is self ’n ouma en my eie ouma wat oorlede is op 80 sou ’n soortgelyke storie kon vertel. Ook my eggenoot se grootouers wat in ’n konsentrasiekamp was en oupa wat ’n gevangene was in Bermuda … en hulle het almal die wa tesame deurgetrek. Elke generasie het geleer om saam te werk, ek hoop ons kan dit ook nou doen.

  • Absoluut aangrypend! Baie dankie vir die eerlike beskrywing in hierdie tyd. Beslis ’n geskrif wat tussen my nuwe kleidogter (gebore tydens COVID-19) 22 April 2020 se lewensboek geplaas word.

  • Avatar
    Elsa du Plessis

    Hierdie is 'n praat uit my eie geskiedenis. Ek hoor vir Petie praat; ervaar haar uitsiglose angs in die gesig van 'n herhaling van wat was.

  • Pragtig geskryf. Baie dankie. Ek woon in die Loskopvallei. My ouma het ook baie van die swaarkry beleef. En ja nou is ek ook oud en seker.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top