Daar is drie boeke op die spyskaart van LAPA se boekkuier in Pinelands. En die stroopwafels agterna, verdien ten minste ’n hoofstuk van hul eie in Naomi Meyer se foto-essay.
Antjie Krog lees die paragraaf voor: "Ek ken die uitdrukking in haar oë, dieselfde uitdrukking wat sy het as sy ons van Frankryk vertel, hoe ver weg dit is en hoe baie sy dit mis. Maar nou lê duisend Frankryke in haar oë."
Dis ’n paragraaf uit Sam, ’n ware verhaal van ’n dogtertjie en haar olifant, ’n boek van Ingrid vander Veken wat sy vertaal het. Vander Veken, wat die verhoog met haar deel, roep uit: "Wonderskoon!"
Op hierdie stadium eet die gehoor reeds uit Antjie se hand. Sy lees: "My naam is Marthe Roy de Montigny. Ek het één naam, maar in my woon twee dogtertjies. Die een dogtertjie wil nie in China bly sonder Mamma en Yvonne nie. Ek weet nie wie van die twee ek is nie, ek kan nie kies tussen die twee nie."
Doodgewone woorde op papier, dalk. Met die asem van lewe wat sy hier inblaas deur middel van haar voorlesing, veroorsaak Antjie ’n lang tou mense wat toustaan om die boekie te koop.

Dis LAPA se boekkuier op 21 Augustus in Kaapstad. Die geleentheid vind plaas in Pinelands, in ’n gebou wat vroeër bekendgestaan het as die Huis der Nederlande en nou SASNEV heet.
Antjie Krog en Ingrid vander Veken is eerste aan die beurt en sit op die verhoog.
Antjie Krog bedank LAPA vir wat hulle vir kinderboeke doen. "Ons het gedink dis verby met Afrikaans en daar’s geen hoop nie, wat nog te sê enige ligpunt vir Afrikaanse kinderboeke. En dan publiseer hulle boeke soos hierdie ..."
"Hóé het jy hierdie storie vertel, Ingrid?" vra Antjie vir Ingrid vander Veken.
"Dis nie asof jy iets importeert, jy vertel dit bloot, gewoon, uit die oogpunt van ’n kind."
Maar Ingrid vertel tog sy was in Thailand en in Sri Lanka, en het baie navorsing gedoen om hierdie boek te kon skryf.

Antjie lees voor.
"Maar die allergekste aan die allergekke hond, is die lang slurp ..."
"Sam, hallo Sam ..."
Ek kielie terug en Sam kielie terug. En my hand is vol warm lug.
My naam is Marthe en dit is die ware verhaal van my en my olifant.
"Ek vind dat Antjie ewe goed voorlees as vertaald," lag Ingrid.
Die gehoor begin lyk of hulle almal vir Antjie wil bed toe sleep - om die boek aan hul kinders en kleinkinders voor te lees.

Antjie: "Die emosionele werklikheid van ’n kind ... Toets jy tekste uit op kinders, lees jy voor vir kinders? Hoe bepaal jy wat in so ’n dogtertjie se hart omgaan?"
Ingrid: "Ek dink oor die verskillende werklikhede van China en Frankryk en dan ook oor ’n kind van agt wat nie weet wat ’n olifant is nie. Ek vind dit heel prettig om te sien hoe kinders reageer. Ek het self geen kinders, maar weet van die eerlikheid en ongenadigheid waarop kinders reageer. As dit nie goed is nie, sal jy dit goed weet!"

’n Vraag oor die illustrasies kom van Nanette van Rooyen, wat die gespreksleier is: Wie het die illustrasies gedoen? Marjorie van Heerden. Hoekom is besluit op ’n Suid-Afrikaanse illustreerder? Die probleem met die illustrasies was dat daar natuurlik wonderlike illustreerders in Nederland en Vlaandere is - maar hoe moes Frankryk en China daar uitgesien het in die 19de eeu? Toe vra ons strooktekenaars maar daar was geen emosie daarin. Maar "daar sit meer gevoel en emosie in hierdie illustrasies van Van Heerden".
Die oopmaak van emosie in haar kind. As sy ’n krisis beleef, sê sy haar naam en van. In haar woon twee dogtertjies; sy weet nie watter een van die twee sy is nie, sy kan nie kies tussen die twee nie.
Hoofstuk twee
Chanette Paul - wat as "onbeskof prolifiek" deur Nanette van Rooyen beskryf word omdat sy so baie en so suksesvol skryf - is volgende aan die beurt. Sy gesels oor die eerste boek van haar twee Maanschijnbaai-boeke, Jo & Sue.
"Nie net ’n goeie skrywer nie, maar ook ’n goeie storieverteller. Sy moet die hele vloer volstaan en dans," sê Nanette van haar. "En weet almal hier dat sy al 36 boeke geskryf het?"
"Dis hoe dit begin het," vertel Chanette. "Ek en my man het staan en kosmaak. Ek was seker ingedagte, want hy het die ui by my oorgeneem en gevra: ’Nuwe roman?’"

Chanette vertel hoe haar hoofkarakter na haar gekom het. Dié het ’n buite-egtelike kind gehad; die kind was nou al agtien en die hoofkarakter was veertig. Sue sou haar naam wees. Maar sy is nie ordentlik nie. Sy gebruik die "f"-woord.
Sue bly by haar en sy wil nie ordentlik word nie. Sy gaan nie uit die storie uitklim nie. En so foeter Sue haar hele romanse op.
Chanette het daar sit en tik, en dan sit die hoofkarakter en manipuleer haar. So, in plaas van so ’n ou boekie met ’n held en heldin, en daar is struikelblokke, sit sy toe met vier weerspannige vroue wat met haar maak wat hulle wil, en teen hierdie tyd weet sy nie meer wat dit is nie.
Die uitgewer brom: "Ons moet ’n naam aan die genre gee." Die boekwinkel wil weet, die leser wil weet. En Chanette weet nie wat sy besig is om te skryf nie.
En die manuskrip rek en rek ... toe sy besef dit handel nog eintlik heeltyd oor familie.
Hierdie boek, Jo & Sue, en die boek wat hierop volg, Nan & Jeannie, handel oor familie-wees en baie sterk oor vrou-wees.

Chanette verduidelik van die navorsing wat sy moes doen - om telkens navorsing oor die tydperk en era te doen en die karakters se lewens hul loop teen die gekontekstualiseerde agtergrond te laat neem.
"Sou Sue werklik by herhaling Basic Instinct kon gaan kyk het? Sou sy ’n halsband met klinknaels gedra het, of grunge-klere? Wat van Kurt Cobain? Alles wat deel is van die storie, alles - daar moet navorsing gedoen word oor elke karakter."

Chanette doen ’n voorlesing om te illustreer watter navorsing mens moet doen om ’n klein stukkie te laat werk: "Die laaste aand het Wikus haar gesoen. Sy het hom desperaat teruggesoen. Corné probeer besweer. Om van Corné te probeer vergeet, het sy toegelaat wat sy instinktief geweet het sy moenie, en te laat besef wat aan die gebeur is. Heeltemal te laat. Reeds toe Mandela sy eerste tree op sy weg na vryheid gegee het, het sy vermoed daar was gevolge. Teen die tyd dat sy Julia Roberts in Pretty Woman so ongeërg met kondome sien omgaan het, was haar vermoedens bevestig."
Hoofstuk drie

Irma Joubert is die derde spreker en gesels oor die verrassing van vertaling en oor haar boeke wat in Nederlands vertaal is (soos Tussen stasies).
Dit het begin met ’n oproep van haar uitgewer, vertel sy. Hoe sal sy voel om ’n toer Nederland toe te onderneem? Sy’t gesê sy is in!
Sy was vir tien dae weg, sy het vyftien optredes gehad en tussendeur onderhoude met die media. "En tussendeur het ek geëet, my amper moedeloos geëet." Sy is oorlaai met biltong, bobotie en geelrys - en melktert, dalk haar mees ongunsteling van nageregte. Tog het die Nederlanders se hartlikheid haar aanhou verstom.
Irma Joubert vertoon foto’s van haar Nederlandse toere. Die volumes mense wat stapels boeke koop, is verbysterend.
In Nederland is Irma Joubert se boeke verpak as "Christelike lektuur". Omdat "mense nie juis vloek in haar boeke nie en omdat die waardes van die vyftigerjare meestal gehuldig word". So daar was baie Christelike koerante en tydskrifte wat met haar wou gesels. Haar boeke was in die top-tien-verkope, maar verpak as Christelike lektuur.
Leeskringe baie soos hier: lees so tien boeke per jaar, gesels baie onder mekaar ... maar die Nederlandse leser (in die Christelike mark) was baie eng. Kru taal soos "bliksem" en "donder" was vir hulle rof, en so ook "die tonele". Daar was geweldige konserwatisme. Toe Irma grootgeword het, was daar nie televisie nie. Maar op Saterdagaande was daar ’n bioskoop. En dit was hulle vermaak. Vir die res was daar partytjies. Op partytjies het jy gedans. Die Nederlandse lesers het dit moeilik geglo. Hoe het die Christenmense op Saterdagaand partytjie gehou?

‘n Ander aspek wat hulle gepla het: die Boere se ondersteuning van die Duitsers in die Tweede Wêreldoorlog.
Mense het dit baie negatief ontvang toe Irma sê haar ouma was uit Nederland, maar haar oupa uit Duitsland. Die sentiment teenoor die Nazi’s word nie geduld nie, nie eens die konneksie nie.
Nog iets wat hulle moeilik verstaan het, was die ruimte van die Bosveld. Dit was droog en warm.
Dan kom jy in Nederland: dis groen en dit voel nie of daar stof is nie. Alles is sag.
Die Afrikaanse boek Persomi, kind van brakrant word in Nederland Kind van die rivier.
Watter rivier, het Irma gewonder. Die rivier wat beskryf word in haar boek, is ’n sandlopie. Die res van die tyd is dit plasse water met vrekkende visse wat daarin spartel. Maar die Nederlanders sou dit nie uit hul verwysingsraamwerk verstaan nie.
Sy draai om.
’n Ontploffing ruk deur die kombuis.
Sy voel die gloed brandwarm teen haar vasslaan.
Iemand pluk haar weg.
Sy ruik gebrande hare.
Sy ruik die rook.
Die rook is om haar en in haar.
Iemand skree.
Sy sien hoe die gordyne vlam vat, en die mat, en die bed.
Die groot bed waarop Jurgen lê en slaap
die rook maak alles swart
iemand skree verskriklik
skree en skree en skree
verskriklik
(Uit: Tussen Stasies, 2007)
Is dit vir haar ’n nadeel dat sy in Nederland onder die Christelike mark ressorteer? Nee wat, as dit ’n manier is om ’n vreemde land se mark te betree ... hoekom nie?
Hoofstuk drie en ’n half

Nanette van Rooyen was deurgaans gespreksleier, maar haar boek Leah se Meermin is ook deur LAPA uitgegee.
Die klavierspel is behartig deur Theodorus van der Pluym ...

... en die stroopwafels het die Vlaamse boekkuier afgerond.






