Iewers in 2009 moes ek iemand vir ’n afspraak ontmoet. As ek reg onthou, was dit in die atrium van Wembley Square, die kantoorkompleks in Tuine, Kaapstad, waar ek gewerk het. Daar was ’n paar restaurante en koffieplekke in die atrium. Dit was in die hoogbloeityd van yuppies wat nie in kantore gewerk het nie maar met hul bollas en baarde, hul iPads en koffie hof gehou het in die cool ruimtes van die stad.
Soos my blik oor die gewoel skeer, kon ek om die dood nie die persoon raakgesien kry met wie ek oor sy boek moes praat nie. Die probleem was nie dat ek nie geweet het hoe hy lyk nie. Hy het een van die bekendste gesigte in Suid-Afrika gehad, geliefd op verhoog en op televisie, oral dáár waar ’n kwinkslag of die slag van ’n heilige koei die beste reaksie op die absurditeite van dié land was.
Ek was opgewonde en angstig. Helde slyt met die tyd saam weg, soos motorparte en klere. As mens ook nie bra geneig is tot heldeverering nie, is dit des te raarder dat jy in jou grysheid nog so ’n kinderlike bewondering vir ’n ander mens oorhou. Maar ek het dit vir Pieter-Dirk Uys nog altyd gehad sedert ek in my laat tienerjare by hom gesien het presies hóé gelaagd en kragtig die woord kan wees wanneer intelligensie, verbeelding en humor soos drie laserstrale op een punt bymekaarkom om die verrotte bestel en ons gewetes te skroei.
Ek het die geleentheid gehad om my held te ontmoet, iemand wie se gesig ek voor my ongelowige oë op die verhoog gesien verander het van die een karakter in die ander, maar nou kon ek hom nie raaksien nie. En hy was reg voor my: ’n klein, onopmerklike figuurtjie in swart, ’n los broek en jersey en ’n swart wolmus.
Die skepper van Evita Bezuidenhout en haar hele narrehok van ’n familie kon homself voor jou oë in Pik Botha en PW Botha en Piet Koornhof omtower, so werklik soos gedaantes in die Viewmaster. Maar Pieter-Dirk Uys het miskien sy hoogste prestasie in oëverblindery behaal deur homself, gestroop van al hierdie karakters, onsigbaar te maak. Die persoon in die kamer verby wie almal sou kyk.
Ek maak nie aanspraak op diep kennis van die man nie, maar ons het meer as een keer saam brood gebreek in die loop van drie boeke van hom wat ek uitgegee het. En as ek my dit mag verstout, wil ek sê dié beskeie, private persona sit aan die kern van die orkaan van diens en skepping wat daar rondom hom woed. Wat ágter daardie persona sit, is nie vir my beskore om te weet nie. Ons is almal iemand agter die maskers wat ons rondom ons aan die wêreld voorhou.

Hoekom ek Pieter-Dirk moes ontmoet, was om te praat oor sy kookboek – of liewer, Evita s’n: Kossie Sikelela. Ek het al hier oor boektitels geskryf, en ek wens ek het hom gevra of die idee van ’n kookboek ontstaan het uit die woordspel met die volkslied, en of dit andersom was. Hoe dit ook al sy, dit was vintage PDU. En natúúrlik sou ons so ’n boek uitgee.
Om die boek te maak is aansienlike talente byeengebring. Die inhoud was Linda Vicquery s’n, ’n talentvolle oudkollega wat ontwerper by Tafelberg-Uitgewers was. Dit was ’n blye hernuwing van kontak, want Linda woon toe al lank in Frankryk. Sy kan so goed kook as wat sy kan teken, en dit is haar resepte en tekeninge in die boek. Haar uitleg van die boek, kompleet met handgeskrewe opskrifte, was ’n reusagtige werk wat sy eers in die vorm van ’n "dummy"-boek, oftewel modelboek, aangestuur het uit Frankryk. Pieter-Dirk is nou in besit daarvan, ’n kostelike artefak uit eie reg.

Die stofomslag met Franse vou (foto verskaf)
Die stofomslag van die boek was enig in my ervaring. Die ewe talentvolle ontwerper Marius Roux het ’n stofomslag met die sogenaamde Franse vou voorgestel. Dit beteken die omslag vou bo en onder in voor dit omvou om flappe aan die binnekant van die voor- en agterblad te maak.
Vir hierdie boek sou ons die omslag meer as dubbel so groot as die gesamentlike oppervlakte van die voorplat, rugkant en agterplat maak deur diep flappe en die voue bo en onder terug tot byna in die middel te maak. Wanneer jy die hele ding oopvou, het jy ’n plakkaat van omtrent A2-formaat.
Ek onthou nie wie se idee dit was wat op die plakkaat moes kom nie, maar dit sou so moes vou dat ’n beeltenis van Evita en iets wat kos voorstel presies ooreen sou moes kom met die reghoek wat oor die voorblad pas. Die besluit was: ’n tafel feestelik gedek met lawwe idees van boerekos (onder meer ’n worstoring), met Evita se familie daarrondom.
Dit sou ’n saamgestelde foto moes wees, en ons het een hele dag daaraan geneem in ’n skuur iewers naby Darling. Die fotograaf was Kelly Walsh, en Marius het die stilering gedoen. Met die kamera opgestel het Pieter-Dirk as Evita aan die een ent gaan staan vir ’n foto. Dan moes hy hom gaan verander in Evita se seun De Kock en weer kom staan, op ’n ander plek. Dan Billy Jean, haar dogter, en Evita se suster Bambi. ’n Paar ander vriende en plaaslike kinders het ook gesit, gestaan of gelê in die rolle van De Kock se katelknaap, Billy-Jean se kêrel en hulle kinders.
Om Pieter so in ’n opeenvolging van karakters te sien, was ’n belewenis wat my bybly. Nie net moes elke karakter eers uit sy of haar klere kom en die gesig uitgevee word nie, maar dan moes die volgende een weer aangeklee en ingekleur word. Dit het agter ’n toe deur gebeur, elke keer vir ’n heel lang tyd. En elke keer het die akteur volledig in karakter uitgekom.
Daar was geen gekorswel of kommunikasie of selfs oogkontak met enige van ons nie. Die een enkele doel was dat hy ’n oortuigende figuur slaan en alle konsentrasie wy aan poseer vir die foto. ’n Meer professionele mens het ek nog nie teengekom nie. Dit was ’n lang en uitputtende dag vir almal, maar die meeste vir PDU met al sy karakters onder die warm ligte. Maar hy het verbete aangehou.
Nog ’n groot talent in die boek is die skrywer van ’n boodskap voorin. Die boodskap lui onder meer: "Ek het gehoor dat Evita, hierdie beroemdste wit vrou in Suid-Afrika, hartstogtelik glo dat versoening rondom die etenstafel kan gebeur. Gee vyande ’n bord lieflike kos en kyk hoe word hulle vriende? Ons stem almal saam."

Sophia Loren se voorwoord (foto verskaf)
Die boodskap kom van Sophia Loren, met wie Pieter-Dirk jare lange vriende is. Die boek het goed gevaar en ons het almal kans gesien vir ’n opvolg: Evita se bossie sikelela twee jaar later, waarin daar, ook van Linda Vicquery, resepte en tekeninge vir die buitelewe is. Voorop laasgenoemde staan ’n boodskap van ’n ander wêreldberoemde aktrise: Charlize Theron.
Dit mag na naamspogtery lyk, maar die assosiasie, veral met Charlize, verraai iets van die groot, eintlike werk wat Pieter-Dirk Uys sonder fanfare en agter die skerms doen – net soos Charlize self, wat groot ontwikkelingsprogramme in Suid-Afrika se diep platteland bestuur sonder om daarvan ’n Joliaanse of Madonneense spektakel te maak.

Pieter-Dirk wy hom reeds dekades lank hartstogtelik en met onuitputlike energie aan Vigs-opvoeding. Dit moes hy aan die begin teen die weerstand van oorweldigende onkunde en vooroordeel doen, maar dit was hy wat uiteindelik in die Suid-Afrikaanse parlement ’n kondoom oor ’n piesang getrek het om die noodsaak van beskerming te demonstreer.
Op sy werk op die gebied van Vigs het broodnodige opvoeding oor demokrasie, stemreg en burgerregte gevolg, en terwyl baie ander gepraat het, was dit Pieter-Dirk wat week na week van skool na skool regoor die land gegaan en kinders met gravitas en humor gehelp voorberei het vir burgerskap.
In Darling het hy van ’n afgeleefde stasie ’n artistieke baken gemaak wat, in die gedaante van Evita se Perron, nuwe lewe in die hele dorp geblaas en besoekersgetalle laat opskiet het. Deur die Darling Trust, wat hy geskep het met aartsbiskop Desmond as beskermheer, word veel werk gedoen om die armstes van die dorp ’n vastrapplek te help gee.
Vir sy onvermoeide werk het hy eredoktorsgrade van drie Suid-Afrikaanse universiteite ontvang, buiten ’n muur vol ander pryse en oorkondes. Hy is in die breedste en smalste betekenisse van die woord ’n held.
Om die Kossie-boeke te help promoveer, het hy hom met dieselfde drif aan die taak gewy. Evita is in haar groot tas met tawwerds en pruike, skoeisel en grimering, juwele en ander bykomstighede aangekarwei om waar daar ook al ’n geleentheid was, op ’n verhoog te stap en die gehoor uit haar hand te laat eet.
In 2010 was Suid-Afrika die fokusland van die Londense Boekebeurs wat elke jaar April plaasvind. In Maart was daar ’n klein uitbarsting van een van die mindere vulkane in Ysland, met die naam Eyjafjallajökull. Dit is omtrent so ver weg van Londen as Kaapstad van Johannesburg. Dus het niemand hulle daaraan gesteur nie.
Die beurs sou op 19 April begin. Op 14 April gebeur daar iets met die vulkaan wat ’n groot deel van die wêreld in sy spore sou stuit en alle lugverkeer in Europa tot stilstand sou dwing. Die vulkaan het begin om as uit te skiet, so fyn dat die silikoonkristalletjies op warm vliegtuigenjins sou aanpak en hulle sou laat stol. Teen die tyd dat ons na Londen moes vertrek, is ons vlugte die een na die ander gekanselleer. Uiteindelik was daar net ’n skrale geraamtetjie van die Suid-Afrikaanse kontingent in Londen om hul eie stalletjies en die Suid-Afrikaanse paviljoen te beman.
Wie daar was, moes vir al die programgeleenthede instaan, en ons Britse kollegas by Random House het moedig probeer. Maar een Suid-Afrikaner wat daar was omdat hy reeds voor die vulkaan in Londen moes wees, was Pieter-Dirk Uys, met Evita in ’n tas by hom. Ons afspraak was nog dat ek na die beurs vir Evita sou terugneem na Suid-Afrika.
Op die Suid-Afrikaanse paviljoen, by ons eie tamaai uitstalruimte (die groot uitgewerye raak spoggerig op sulke plekke), waar sy ook al die yl skare van ’n spookagtig leë verhoog af kon vermaak, het Evita sonder klagte ingestaan. Elke duim ’n staatmaker.
Pieter-Dirk se ywer vir die boek was nie vir eie gewin so onvermoeid nie. Hy sou al sy tantième stort in die Darling Trust, wat ’n swembad in die dorp wou bou sodat verveelde kinders hulle daar kan uitwoed in die warm somer en nie vir kwaadgeld ontvanklik sou wees nie. Ons van Umuzi, wat ’n druknaam van Random House Struik was, sou sent vir sent bydra. Die swembad is gebou.
Die boek het sukses op sukses geword. Ons moes die Engelse uitgawe dieselfde jaar drie keer herdruk sover ek onthou, en ek dink die Afrikaanse uitgawe minstens een keer. Toe Kersfees kom, het ons opgelet mense koop elkeen twee of meer eksemplare: een vir hulleself en die res vir geskenke.
Ek glo vas dat daardie soort sukses behaal word wanneer daar aan die kern van ’n boekprojek iemand met soveel energie soos Pieter-Dirk Uys staan, wat soveel kreatiwiteit loswoel waar hy ook al gaan, wat so vrygewig is met sy tyd en sy geneentheid, en dit alles met so ’n groot hart doen.
Selfs wanneer dit ’n boek is deur iemand wat nie bestaan nie en wat nie die inhoud daarvan geskryf het nie.

