Tydens ’n onlangse besoek aan Europa het ons, op pad van Amsterdam na die suide van Frankryk, deur België gery. Omdat ons laas in 1977 in Brugge was, het ons besluit om 2 aande in Brugge te slaap en die ou stad weer ’n slag te verken. Die ou stad is ’n pragtig gepreserveerde antieke stad met indrukwekkende geboue en natuurlik die bekende plein in die middel van die stad. Met ’n kaart van die toerismekantoor in die hand het ons rustig na al die belangrikste besienswaardighede geloop en kyk en so bietjie opgelees oor die geskiedenis.
So beland ons toe by ’n klein kerkie genaamd die “Heilig-Bloedbasiliek”. Ek het sommer instinktief uit die naam geweet hier moet ’n storie wees en is terstond die kerk in. Sover my Vlaams my toegelaat het, kon ek aflei van die kennisgewingbord dat daar ’n belangrike skat in die kerk bewaar word en omdat dit in die aanloop na Hemelvaartsdag is, is die skat uitgehaal en kan dit deur die publiek besigtig word. My nuuskierigheid bring my toe tot in die allerheiligste van die kerk waar die skat uitgestal word op ’n verhogie met ’n berookte en bekettingde ampsdraer wat jaloers oor die skat waghou (sien foto). Ek val toe maar in die ry en skuifel skuifel vorentoe en na 5 minute staan ek toe en kyk na ’n vuilerige stukkie lap wat in ’n mooi flessie bewaar word.
Nadat ek van die verhogie afgeklim het, nie heeltemal seker wat ek veronderstel was om te sien nie, begin ek toe inligting in Engels soek, wat ek uiteindelik in die vorm van ’n blaadjie iewers naby die brandende kerse opspoor. Al my moeite was beloon. Nes die bewaarplek van die “ark van die verbondsvolk” wat ek in Lallibella in Ethiopië opgespoor het, is daar toe ’n heerlike storie verbonde aan die “ding” wat ek so pas gesien het. Terloops die foto hierbo het ek van ver agter in die kerk met ’n langerige zoomlens geneem – ek wou dit nie waag om voor die man my kamera uit te pluk nie.
Die storie: Josef van Arimathea, wat Jesus se lyk na sy kruisiging versorg het, het al die lappe wat hy die bloed mee opgevee het, bewaar. Die lappe is toe in kleiner stukke verdeel en vertoon tydens byeenkomste van gelowiges. Tydens die tweede kruistog (1147-1149) het Thierry van Alsace Israel toe gegaan en het sy swaer, Baldwin III van Jerusalem, die fles met die stukkie bloedbevlekte lap vir hom gegee. Net soos die storie van “die ark van die verbondsvolk” in Ethiopië (’n storie vir ’n ander dag) is hierdie natuurlik bloot ’n storie wat herhaaldelik oorvertel is sodat dit nou al as die waarheid voorgehou word. Alhoewel wetenskaplike navorsing ontbloot het dat die glashouer ’n 13e eeuse parfuumbottel uit Konstantinopel is, speel hierdie glasbotteltjie vandag steeds ’n belangrike rol in godsdienstige praktyke in die Rooms-Katolieke kerk in Brugge.
Alhoewel hierdie pragtige storie van alle waarheid ontbloot is, en die meerderheid mense weet dat dit ’n bogstorie is, word dit steeds oorvertel en aanvaar talle mense dit bloot as ’n voldonge feit. Dis vir my so tekenend van wat in die hele godsdienstige wêreld aan die gang is. Almal (ja selfs ons Kosie) weet heimlik dat dit ’n loutere spul bog is omdat daar absoluut geen bewyse is wat hulle teorie ondersteun nie. As christene eerlik wil wees moet hulle erken dat maagde wat swanger word, diere wat praat en mense wat uit die dood opstaan, in die lig van ons huidige kennis van die wetenskap, totaal belaglik is.
Groetnis
Thomas



Kommentaar
Beste Thomas
Jy sê:"As Christene eerlik wil wees moet hulle erken dat maagde wat swanger word, diere wat praat en mense wat uit die dood opstaan, in die lig van ons huidige kennis van die wetenskap, totaal belaglik is."
Jy slaan die spyker op sy kop as dit wetenskaplik bewysbaar was sou dit nooit wonderwerke gewees het nie. Daar is nogal 'n stukkie ironie verbonde aan diere wat praat.
As 'n mens die skeppingsverhale aandagtig lees is die mens die een wat veronderstel is om in beheer te wees. Maar toe raak Adam AWOL (absent without leave) toe Satan met vroulief gesel en haar ’n gat in die kop praat. Satan is ’n uitstekende verkoopsman ( figuurlik natuurlik) en het ook ’n maklike verskoning geword vir baie mense wat uitgevang word.
“Satan het my dit laat doen.”
God het ook ’n sin vir humor en dit is amper of Hy sê: “Julle luister nie na My nie - kom ons kyk of julle jul ore sal uitleen aan diere,” en so word die rolle tussen mens en dier omgeruil.
Wat nou van maagde wat swanger word. Vandag kan ’n maagd maklik swanger word sonder om seksueel met ’n man te verkeer. Seksuele omgang is dus nie meer die pad na swangerskap nie. Kunsmatige bevrugting is deesdae algemeen.
’n Vyfdejaar mediese student is vir praktiese opleiding twee weke Skotland toe en kry toe gratis huisvesting by ’n dokter wat daarin spesialiseer. Sy let toe op dat die manlike sperm, alles uitgesoek, en die ‘eier’ saam in ’n plat glashouer in spesiale vloeistof geplaas word.
Omdat nie alle sperm ewe fluks is nie word van ’n baie klein houtspaan gebruik gemaak en kry die ‘manne’ so ’n ligte tikkie agter die stert om hul in beweging te kry (swem Jannie swem).
Nou lyk dit vir my luiheid is ’n manlike ding en verklaar dit dan ook in ’n mate Adam se afwesigheid en waarom swart vroue kleintjie op die rug lande bewerk terwyl manlief ’n dampie teen die hut se muur maak.
Nou wat nou van Maria se swangerskap! Bevrugting of skepping van ’n nuwe Adam?
Dalk, maar nou oorval ’n skielike luiheid my - skryf ek iets oor die mislukte skepping van Adam. Ek gaan eers ’n sambreel koop want ek verwag ’n stortvloed van woorde van Kosie wat dit as verregaande onchristelik en godslasterlik sal beskou.
Intussen, Leef jou reis.
NS Die ou in jou foto lyk beneuk genoeg om nie 'n naby foto te neem nie. Het jy darem iets in die kollektebordjie gegooi?
Thomas
Ek verbaas my telkens vir jou hoë dunk van vandag se kennis. Ons weet nog niks swaer; dit vat aardlinge maande om iets mars toe te stuur. Hoeveel kennis moet nog ontbloot/ingesamel word voor ons binne 'n paar minute by Alpha Centauri kan uitkom?
Terloops, of die storie waarvan jy praat waar is of nie, die botteltjie uit Konstantinopel sê niks - ou goed kan in nuwe hoeurs gestoor word.
Beste Jan Rap,
As jy 'n gees wat eeue lank in 'n botteltjie slaap stoor, is daar groot moeilikheid. Hulle wil nie gestoor word nie.
Groete,
Angus