’n Bespreking van Eben Venter se Wolf, wolf met verwysing na die titel, ruimtes en sosiopolitieke kommentaar

  • 0

Eben Venter (Foto: Naomi Bruwer)

1. Inleiding

Wolf, wolf deur Eben Venter is ryk aan aktuele temas. Die titel van die roman is oop vir verskeie interpretasiemoontlikhede. Een van die opvallendste moontlikhede is die speletjie “Wolf , wolf, hoe laat is dit?” wat gewoonlik deur kinders gespeel word. Hierdie speletjie aktiveer die spelbeginsel in die roman. Spel, wat manipulasie-spel insluit, bevorder die spanningslyn van die intrige.

Verder word daar op die ruimtes wat in die roman uitgebeeld word, gefokus. Die stad as ruimte, die huis as domein en die diskoers van transmigrasie word ondersoek. Voorgenoemde ruimtes en ruimteverwisseling gee vir die leser insig tot die karakterontwikkeling van pa Benjamin, Mattheüs en Jack. Venter lewer regdeur die roman sosiopolitieke kommentaar op die postapartheidsbestel. Dit is diep binne die intrige, ruimtes en handelinge van die karakters verweef. Venter maak in Wolf, wolf van die olfaktoriese gebruik om die leser by die ruimtes en ervarings van die karakter te betrek. Dit maak die teks lewendig.

 

2. Titel van die roman

Die titel van die roman is nie losstaande van die roman self nie. Eben Venter se Wolf, wolf is geen uitsondering nie. Die titel se effek is soos ’n fyn rooi lyn wat in die teks ingewerk is. Spel en die wolf as dier kan as twee fokuspunte uitgelig word.

2.1 Spel

In Neil Cochrane (2013:188) se resensie van Wolf, wolf wys hy daarop dat die titel die leser aan die kinderspeletjie “Wolf, wolf, hoe laat is dit?” herinner. Spel as diskoersmerker word dus prominent as tema in die roman uitgebeeld. Die manipulasie-spel wat tussen die karakters plaasvind, sluit by die spelbeginsel aan (Cochrane 2013:188).

Adéle Nel (2015:184) sluit by bogenoemde aan deur daarop te wys dat die titel ’n vooruitwysing is na die sinistere speletjies wat in die roman aangetref word. Alhoewel daar verskillende speletjies in die roman aangetref word, lig Nel (2015:198) uit dat die klem hier eerder val op die gevolge van spel wat gevaarlik en selfvernietigend kan wees. Die gevaarlike onderstrominge van die “wolf-wolf”-spel word goed uitgebeeld in die roman wanneer Mattheüs vir Jack sê: “Kom ons gaan speel Wolf, wolf op die grasperk” (257)1. Dié kinderspeletjie oorskry dus ’n grens. Die paradoksale aard van spel word egter beklemtoon deur die spanning van die negatiewe (Nel 2015:198). Jack se gespeel met Sissie se dogtertjies tydens oom Benjamin se testamentvoorlesing vind op dieselfde grasperk plaas waar hy en Mattheüs onwettig inkom (221). Dit is ook daardie spel wat tot Jack se dood lei (273).

Nog ’n speletjie waaraan die leser noodgedwonge onderwerp word, volgens Nel (2015:199), is ’n manipulasie-spel wat Venter met die leser speel. Hy beskryf Mattheüs se pornografie-kyksessies baie eksplisiet en die leser word gedwing om dit te lees. Mattheüs se pornografieverslawing word deur Nel (2015:199) “abjekte seksuele spel” genoem. Dit kan as abjek beskou word omdat dit buite die aanvaarde seksuele gedrag gesien word. Mattheüs kan homself enige tyd in sy gedagtes deel van die spel maak (77).

Dit is nie net Venter wat ’n manipulasie-spel met die leser speel nie. Daar is ook manipulasie-spel (’n tipe “wolf, wolf”-spel) tussen die karakters in die roman, soos wat Cochrane (2013:188) uitgelig het. Die mees ooglopende manipulasie wat voorkom, is tussen Mattheüs en sy pa. Saam met hierdie manipulasie is daar voorwaardelike liefde. Mattheüs versorg sy pa, maar verwag tóg dat sy pa hom finansieel sal bystaan om sy eie besigheid te begin. Sy pa staan hom dan finansieel by met die voorwaarde dat Mattheüs en Jack nie saam onder sy dak sal woon terwyl hy nog lewe nie. Nel (2015:199) vergelyk hierdie manipulasie met ’n psigologiese speletjie wat met die slagoffer gespeel word. Volgens haar word daar op ’n maskerspel en rolspel gesinspeel (Nel 2015:199). Benjamin dien as die patriarg wat sy ware intensies onder skaapsklere wegsteek.

Nog ’n subintrige waar manipulasie op die voorgrond is, is die verhouding van Mattheüs en sy Kongolese werknemer, Emile. Emile se onderdanigheid (230) dien moontlik as manipulasie om vir Mattheüs gerus te stel voordat hy uiteindelik sy winkel oorneem.

2.2 Wolf as dier

As daar teruggekeer word na die titel se ander interpretasies, kan daar hoofsaaklik op die wolf as dier gefokus word. Strydom (2018:108) is van mening dat diere in hierdie roman as simbole van emosionele toestande, begeerte, skaamte en uitsluiting optree. Die eerste kennismaking met Wolfie vind plaas wanneer Jack die patriargale ruimte in sy wolfmasker binnedring. Mattheüs se beskrywing van Jack met sy wolfmasker laat die leser giggel: “Hy laat gly die hek eenmansbreedte oop en daar staan Jack uitgevat in sy pikswart styfsit-oor-die-gulp-jeans en pikswart cowboy-styl hemp met klinkers vir knope en die pièce de résistance, die hondekopmasker wat tot op sy skouers pas waar dit harig uitwaaier soos ’n luukse pelskraag, dunner word om die hondenek met insetsels van silwer haartjies en daarop volg die kop met sy ekstra-lang glimmende snoet, selfs ’n bietjie aangeklam met dou, daarin die gesonke ooggate waaragter Jack uitloer” (159).

Dit is hier waar Jack ’n masker opsit en die rol van Wolfie vertolk. Wolfie simboliseer die erotiese en die ondermyning van die patriargale ruimte. Volgens Strydom (2018:110) word Wolfie ook die simbool van Mattheüs en Jack se “onwettige” verhouding binne die patriargale ruimte. Hy is ook van mening dat Wolfie juis die vooropgestelde idees en norme van die Afrikaanse kultuur se siening van seksualiteit uitdaag (Strydom 2018:111).

Die gebruiklike slinksheid wat gewoonlik aan ’n wolf gekoppel word, word versag wanneer die wolfagtige dier “Wolfie” gedoop word. Strydom (2018:110) meen dat die seksualisering van Wolfie in teenstelling is met die wolf wat in volksverhale aangetref word. Hy voer ook aan dat Wolfie die enigste karakter is wat die etiese optrede van diegene rondom hom bevraagteken (Strydom 2018:110). Uiteindelik kom Strydom (2018:119) tot die slotsom dat Wolfie ’n tussenfiguur is aan wie daar moeilik betekenis gegee word. Volgens hom is daar ’n betekenis rondom die dubbele “wolf” wat in die titel gebruik word. Hy glo dat dit twee kante van “wees” aandui – natuurlik en onnatuurlik, asook normatiwiteit teenoor ondermyning (Strydom 2018:119).

Die titel van die roman is dus diep en dig binne die intrige verweef. Dit dui nie net op die spelbeginsel nie, maar ook op die manipulerende verhoudings tussen die karakters. Uiteindelik word die fokus ook op die simboliese aard van ’n wolf as dier geplaas.

 

3. Ruimte

Venter maak gebruik van ruimtes om simboliese betekenis aan die intrige en spanningslyn te gee. Die stad as ruimte word as Mattheüs se speelgrond voorgestel. Dit is ook hier waar daar sosiopolitieke kommentaar op die postapartheidsbestel gelewer word. Die huis as domein kom prominent voor. Die magstryd tussen oom Benjamin en Mattheüs word in terme van die patriargale ruimte ontleed. Ten slotte word daar klem op die diskoers van transmigrasie geplaas. Oom Benjamin se kankerreis, Mattheüs se emosionele reis, Jack wat as Wolfie manifesteer en die trek na die Rondebosch-meent word op grond van transmigrasiebeginsels bespreek.

3.1 Stad as ruimte

Wolf, wolf speel hoofsaaklik in Kaapstad in die Rondebosch-omgewing af. Dit word as die konkrete ruimte gebruik. Die voorgenoemde stedelike ruimte skep ’n skerp kontras met die plaas Luiperdskop. Volgens Strydom (2018:112) is die plaas ’n ruimte van heteroseksualiteit en slegs ’n manlike sone gekodeer met geweld wat as instink genaturaliseer word. Luiperdskop is funksioneel in die beklemtoning van die stedelike ruimte. Die stad as ruimte is weer op sy beurt funksioneel om ander ruimtes binne konteks te plaas. Die huis en spesifiek die meent se ligging binne die stedelike ruimte is prominent.

3.1.1 Die stad as speelgrond

Mattheüs se beskrywing van die ligging waar sy winkel gaan wees, “die hoekwinkel op Main- en Albertynstraat, Observatory, met ‘n uitsig op die Groote Schuur” (15), plaas en posisioneer die leser. Die feit dat dit op ’n ietwat gevaarlike plek is, kan simbolies wees vir die gewaagde keuse wat Mattheüs maak, asook vir sy laaste kans. Sy oggendrit na die winkel se ligging skep nie ’n idilliese prentjie nie: “Hy klim op ’n ent snelweg en gly anderkant die middestad af na Main en ry rustig deur Woodstock en Soutrivier met al die vaal sekuriteitsdeure afgetrek oor winkelvensters en onder op sypaadjievlak toegesluit met industriële slotte, ’n eindelose muur van onvriendelikheid so teen vroegoggend” (31). Dit skep ’n gevoel van onheilspellendheid by die leser.

Mattheüs koppel sekere reuke aan sy nuwe werksomgewing of selfs net aan die idee van sy winkel. Wanneer hy uiteindelik die tjek by sy pa kry, “ruik” hy al die kos wat hy gaan maak (97). Hy noem ook dat hy verhoogde sintuiglike waarnemings het wanneer hy vir die eerste ruk by sy winkel aankom (174). Een aand na werk “snuif [hy] aan die kruierigheid van die aandlug” (232). Venter gebruik dus sekere reuke ter ondersteuning van spesifieke ruimtes.

Mattheüs lig twee ruimtes uit wat in kontras met sy milieu en opvoeding staan. Die eerste ruimte is die nagklub wat hy een nag besoek: “Hy sien selfs die helle-ingang net vir ’n sekonde deur die oog van Benjamin Duiker” (30). Sy pa sou dus nie die ruimte waarvan die vloere vol onidentifiseerbare voorwerpe is, goedkeur nie. Die tweede ruimte wat uitstaan is Capital Bank, waar hy vir ’n lening gaan aansoek doen. Hy sê selfs: “Capital Bank is ’n bank vir sukkelaars en losers” (50). Weer eens wonder hy wat sy pa van die situasie sou dink: “Kyk, Mattheüs, laat Pa sommer nou al vir jou sê, jy sit vandag hier in ’n ou speel-speel-bankie” (51). Hy gebruik “nie skoon [...] nie”, “vuil”, “weggegooide ma’s” en “smeek” wanneer hy na Capital Bank verwys (50). Dit ondersteun Mattheüs se desperate gemoedstoestand.

Mattheüs eien sekere plekke, soos die La Perla-restaurant waarheen Jack vir Jamie vat. Mattheüs reken dat “[dit] sy plek is [...] daardie” (113). Namate die storielyn vorder, word daar klem op ander ruimtes geplaas.

3.1.2 Luiperdskop

Die klem verskuif vanaf die stedelike ruimte na die plaasruimte wanneer oom Benjamin vir oulaas voor sy dood Luiperdskop wil gaan besoek. Met die aankoms op die plaas neem hy die omgewing waar: “[...] nie in die hede nie, maar as ’n visuele herinnering” (129). Hy gebruik woorde soos “spreiligte”, “viertrekbakkie met jagligte”, “plaasperde”, “oral honde”, “gewere” en “’n jakkalsjag” om die ruimtebeskrywing in te kleur (129). Die beskrywing sluit aan by Strydom (2018:112) se beskrywing van die plaasruimte as ’n heteroseksuele ruimte. Selfs Mattheüs ervaar die plaasruimte anders as die stedelike ruimte. Hy het tog ’n waardering vir die plaasruimte: “Teen die oorkantste sitkamermuur het sy [Sissie] ’n koperfries van ’n leeufamilie opgehang. Dis nie sy smaak nie. En tog. Die volslae afgeslotenheid hier op Luiperdskop, die stilte buite- en binnekant ten spyte van die geraas op TV sus hom, bêre hom op ’n heilsame plek” (138).

Verder vergelyk Mattheüs sy suster se lewe op die plaas met sy lewe in die stad. Hy som sy suster se lewe op as: “Pluimvee, jakkalse, kinders skool toe aanry op ’n grondpad, uitrustings by die nuwe Worcester Mall, agtertoe om hulle te verskans teen die kus die Swartberge, voor hulle so ver soos die oog kan sien die Groot-Karoo: die som van haar wêreld wat op byna geen enkele punt met syne oorvleuel nie” (133). Hier word dit duidelik dat Mattheüs en Sissie se leefwêrelde en ervaringsvelde heeltemal verskil as gevolg van hulle uiteenlopende ruimtes. Dit is juis hierdie verskil wat vir Mattheüs laat huiwer om sy eie suster in vertroue te neem.

Binne hierdie plaasruimte het oom Hannes vir hom sy eie persoonlike ruimte geskep waar hy saam met sy “kroos honde” bly (144). Venter gebruik weer eens reuke om die leser se ervaring van die plaasruimte teenoor die stad as ruimte te versterk. Op pad plaas toe vra oom Benjamin: “dat sy venster ook ’n raps oopgemaak moet word, druk sy neus buitentoe in die skemerlug, vol droë geure” (128). Die tipiese plaasreuk bly deel van oom Benjamin se ervaring en belewenis van die plaasruimte. Dit gaan later ’n kontras skep met die reuksintuig wat vir oom Benjamin iets van die verlede word. Interessant genoeg maak Mattheüs as fokalisator melding van “die normaliteit van daardie reuk” van ’n vrou “hier op die plaas” (139). Hy koppel dus liggaamsreuke aan sekere ruimtes. Net soos wat die intieme nuanses van reuke van vrouens ongekend is vir hom, so is die plaasreuke anders as dié in stadsruimte.

3.1.3 Rondebosch-meent

Met die aanloop tot die einde van die roman vind daar ruimteverskuiwing binne die stedelike ruimte plaas. Nadat die huis op ’n veiling verkoop is, besluit Mattheüs om sy pa se ou Mercedes op die Rondebosch-meent vir hom en Jack as nuwe tuiste in te rig (244). Hulle bly dus soos bergies. Jack se idee rondom die meentverblyf is interessant. Hy koppel “fases” aan verskillende ruimtes. Hy sien die meent as ’n fase waardeur Mattheüs gaan nadat die testament gelees is. Volgens hom is die meent hulle tuin en die Mercedes hulle huis (245).

Volgens hom is dit “gesellige chaos” wat aan Mattheüs se kamer in die huis herinner (245). Dit maak dan net sin dat Mattheüs tuis voel. Jack lig twee belangrike funksies van die meent as ruimte uit. Eerstens sien hy die meent as hulle wegkruipplek in die middel van die stad en tweedens sien hy die meent as ruimte wat uiteindelik vir Mattheüs gaan genees (248). Namate hulle ruimte by die meent morsiger word, word hulle professionele en persoonlike lewens ook meer morsig (255). Ook hier gebruik Venter sekere reuke om die gebeure by die meent binne die korrekte konteks te plaas. Jack “ruik vroegnagdou oor die graskuiwe en soms ’n vlaag kargas wat binnetoe na die meent aanwaai” (248). Dit skep ’n skerp kontras met die “denneboom waar dit al ’n bietjie na ou pis ruik” (259). Die begin van hulle verblyf en die aanloop tot hul laaste tyd by die meent word dus deur middel van reuke aangedui.

Binne hierdie stedelike ruimte is daar dus verwysings na Mattheüs se werksplek, die kontras van die plaas en dan uiteindelik die Rondebosch-meent. Mattheüs se grootwordhuis speel net so ’n belangrike rol soos die domein in die intrige.

3.2 Huis as domein

Die patriargale huis van Benjamin Duiker staan sentraal in die magstryd en spel in Wolf, wolf. Die instinktuele patriargale en heteronormatiewe homososiale ruimte van die plaas word volgens Strydom (2018:112) in die vader se huis in die stad weerspieël, veral in die studeerkamer as nie-gekonnekteerde ruimte (Strydom 2018:146). Met die oog op die moontlike nalatenskap van die huis sien Mattheüs die huis as ’n trofee (230). Die huis as ruimte het twee binneruimtes, naamlik pa Benjamin se studeerkamer en Mattheüs se kamer wat hy as hawe binne die groter patriargale ruimte ingerig het. ’n Noemenswaardige gebeurtenis is die indringing van die huis deur Jack wat as Wolfie vermom is.

3.2.1 Die huis as algemene ruimte

Met die aanvang van die roman is dit duidelik dat die patriarg, Benjamin Duiker, baas van die plaas is by sy huis (6). Die vroegste beskrywing van die huis en tuin – “Franse dubbeldeure”, “gekrulde smeedystersekuriteitshekke” en “fontein” – skep die indruk dat dit die ruimte van gegoede individue is (7). Die spesifieke ruimte bly die domein van oom Benjamin. Mattheüs kom selfs tot die gevolgtrekking: “[...] hy tel niks in hierdie huis nie” (108). Jack kom som die huis op as ’n plek wat “respek afdwing, hy bedoel, kom hier by Poinsettiaweg nommer nege in en jy weet jy’t by ’n plek aangekom” (221). Net soos wat Mattheüs ontuis voel in hierdie ruimte wat deur sy pa gedomineer word, so pas hy nie in by die planne wat sy pa vir sy toekoms het nie.

Ook hiér maak Venter op Mattheüs se reuksintuig staat om die ruimte in te kleur. Mattheüs ruik ’n “versnit van kleiteëlwaks en verwelkende proteas en kelimstof en hulle Duikers soos hulle ruik” (224). Dit verseker dat die leser die ruimte as ’n “bekende” omgewing sien en versterk die obsessiewe nostalgiese belewing wat Mattheus aan die patriargale ruimte koppel.

3.2.2 Die studeerkamer

Binne die patriargale ruimte dra Benjamin Duiker se studeerkamer die stempel van manlikheid en sy patriargale geaardheid. Die studeerkamer is volgens sy smaak ingerig. Die dekor is afgekyk by die film High society. Volgens Mattheüs het die studeerkamer ’n sfeer – “’n sigaaragtige, manlike sfeer, ’n binnesfeer” (9). Mattheüs is egter nooit die kring binnegelaat nie (10). Dit is moontlik die rede waarom Mattheüs hierdie vertrek amper as die middelpunt van die huis beskou, juis omdat dit ’n verbode ruimte vir hom was, ’n vertrek wat teen alles van wie en wat hy is, indruis.

Mattheüs se opgewondenheid oor hoe hy die vertrek wil en gaan verander ontsenu die leser: “Syne gaan die studeerkamer word. Hy kan nie wag vir dié trofee nie. Die Slag van Bloedrivier-prent, dié kan maar waai. Net hier en daar ’n bietjie vat: hy weet presies hoe hy dit gaan herinrig” (11). Dit is vreemd dat hy al beplan hoe hy dit wil verander terwyl oom Benjamin nog op sy sterfbed is. Oom Benjamin se versoek dat sy bed vanaf sy slaapkamer na sy studeerkamer geskuif moet word maak sin as daar na die betekenisvolheid van sy studeerkamer gekyk word. Oom Benjamin wil sy einddae in sy studeerkamer slyt (8). Mattheüs besef dat dit nie oor die studeerkamer self gaan nie, maar eerder oor die atmosfeer waarnatoe sy pa wil teruggaan (10). Die leser kom tot die insig dat die dekor van die studeerkamer waar oom Benjamin wil sterf baie belangrik is. Alle troufoto’s en babafoto’s moet saamtrek studeerkamer toe (21). Dit blyk dat oom Benjamin iets van dit wat hy tydens sy kankerstryd verloor het in daardie ruimte wil terugvind.

Die studeerkamer kan met sy pa se werkswinkel en kantoor in lyn gebring word. Daardie ruimtes is volgens Mattheüs “’n verlengstuk van die man, Benjamin Duiker” (111). Die kragtige uitwerking wat ’n sekere ruimte as patriargale domein het, moet nie onderskat word nie. Op ’n sekere stadium “kon [Mattheüs] dit nie meer uithou nie. Hy moes wegkom uit die domein waarin sy pa groter as lewensgroot raak” (111). Snaaks genoeg is die studeerkamer die eerste plek waarheen Mattheüs telkemale na sy pa se dood terugkeer: “Dis die enigste plek waar hy nog vir oulaas saam met sy pa sal kom sit” (214).

Na oom Benjamin se dood “[huiwer] sy gees daar soos op geen ander plek in die huis nie” (213). Dus behou sy pa se studeerkamer na sy dood steeds daardie veelbesproke atmosfeer.

Die olfaktoriese lig weer eens die verandering wat binne hierdie ruimte plaasvind uit. Die studeerkamer het altyd ’n “sigaaragtige reuk” gehad (9). Dit blyk egter later of die studeerkamer nou “besmet is met die eienaardige reuk wat die siekte binnegedra het” (107). Die tweede belangrike ruimte binne die huis as domein is Mattheüs se kamer.

3.2.3 Mattheüs se kamer

Teenoor die studeerkamer wat as oom Benjamin se domein beskou kan word, is Mattheüs se kamer beslis sy eie domein. Mattheüs sien die kamer as sy “hawe” (35). Wat vir Mattheüs soos ’n hawe voel, is vir die leser ’n voorstelling van sy gemoedstoestand. Die “pottoe gordyne” en “sy klere in ’n bondel op die vloer” (35) skep ’n gevoel van wanordelikheid en dui op sy pessimistiese uitkyk. Dit is ook hier waar hy verlore raak in die wêreld van pornografie (34). Mattheus sien sy kamer as ’n ruimte van beskerming: “As hy maar vir ewig en altyd in hierdie vuil nes van hom kan wegkruip; [...] die veiligheid van die vertrek oorweldigend” (158). Volgens Jack “[...] is jy in ’n Matt-geskepte ruimte met reëls à la Matt, as jy jou in Matt se kamer bevind” (125). Daar is ook glo “altyd ’n frisson van seks wat daar hang” (124).

Die olfaktoriese speel veral ’n rol in Mattheüs se kamer. Deur die verskillende geure in ag te neem, kan daar ’n duidelike onderskeid tussen die studeerkamer en Mattheus se kamer getref word. Vir Mattheüs is die “reuke almal bekend en nie onaangenaam nie” (35). Hy vertel ook van sy gunsteling deodorant wat “’n gerookte, warm neutgeur amper soos ’n gesonde mansasem” het (35). Die reuk van die kamer verander nadat Jack sy intrek daar geneem het. Dit dui daarop dat die betekenis van die ruimte verander. Dit is ’n ruimte wat hy nou met Wolfie, wat die patriargale ruimte binnegedring het, deel. Mattheüs merk ’n muwwigheid op en hy maak melding van Jack se drafskoene met ’n jaar se voetsweet (197). Die agteruitgang van die kamer dui op die naderende einde van Mattheüs en Jack se verhouding. Die krake van die indringing van die patriargale ruimte begin nou deurskemer.

Mattheüs pas egter aan by die verandering van sy private ruimte. Hy noem sy bed “hulle bed” en koester tog die kussings wat na hom en Jack ruik (199). Hy laat Wolfie dus al hoe meer toe. Hulle leefwêrelde word verstrengel. Die volgende lig dit uit: “[...] albei nou gehul in ’n nuwe reuk wat jou sweet dra en wat elkeen herken juis omdat jy dit nie ken nie, omdat jy dit nêrens anders ruik nie” (199). Dit is ook Jack wat “van die reuke en bondels goed soos hulle gelos is” hou (203). Uit die bogenoemde kan daar waargeneem word dat Jack ’n belangrike rol in ruimteveranderinge en indringing speel.

3.2.4 Jack wat ruimte as Wolfie binnedring

Selfs op sy sterfbed maak Benjamin Duiker dit duidelik dat hy die hoof van die huis is. Die huis kan as ’n voorstelling van die konserwatiewe heterogene Afrikaanse patriargale kultuur beskou word. Wanneer oom Benjamin enige intimiteit onder sy dak tussen Mattheüs en Jack verbied, verbied hy ook die hele konsep van hulle verhouding binne sy patriargale verwysingsraamwerk. Meer eerlik en reguit kon oom Benjamin dit nie aan Mattheüs oordra nie: “Ek wil nie hê dat jy en Jack in hierdie huis inkom en saamslaap of watter onnoembare dade julle ook al aanvang nie. Dis julle besigheid. Dit sal ek nie toelaat nie. Dit druis teen my beginsels in. Ek glo vas dis nie die manier hoe die mens gemaak is om te lewe nie. In my huis, nee. En volstrek nie terwyl ek nog in die lewe is nie” (48). Wanneer Jack aankondig dat hy intrek, skop Mattheüs dadelik vas: “Hy kan onmoontlik vir Jack hier laat kom bly” (95).

Jack se totale onbegrip oor die rede waarom hy nie mag intrek nie versterk die spanningslyn. Hy maak dit as onbelangrik af terwyl dit eintlik ’n groot deel van oom Benjamin en Mattheüs se laaste poging tot ’n verhouding is. Jack “weet lankal nie meer of [het] nooit geweet dat die seun die vader moet respekteer en help tot op sy laaste dag [nie]” (117), maar tog sien hy die huis se hek as ’n verbode hek wat die illusie by die leser skep dat dit dalk vir Jack ’n uitdaging kan wees. Van die begin af is dit duidelik dat Jack ontuis voel in die area wat as verbode beskou word. Hy sê self: “Hy was al drie keer in die studeerkamer, elke keer [ironies genoeg] as oom Bennie nie daar is nie” (124). Hy het toe reeds oom Benjamin se gesag ondermyn deur in die studeerkamer wydsbeen op Mattheüs se skoot te gaan sit.

Wanneer Jack met ’n wolfmasker opdaag en daarop aandring om in te trek, word die patriargale ruimte binnegedring deur die erotiese en verbode, dit wat Wolfie simboliseer. Mattheüs besef met Wolfie se intrek dat sy pa se verbod verbreek gaan word (161). Jack se binnedringing word simbolies deur Wolfie voorgestel, maar Venter gebruik ook ’n tjoppie wat Jack uit die huis se yskas haal om die ruimte te simboliseer. Jack sê self: “Die tjop verteenwoordig die huis wat hy binnegekom het” (167). Tóg kom Jack ook tot die besef dat hy homself by die huis inforseer het (167).

Al is oom Benjamin besig om te sterf en nie meer by sy volle positiewe nie, is hy tog steeds ingestel op wat om hom aangaan, veral omdat dit sy ruimte is. Die leser besef dit wanneer hy vir Samantha vra: “Hier’s niemand in die huis nie, nè, Samantha?” (170) en volgens Mattheüs “[het] sy pa waarskynlik so ’n mistige besef van Jack daar op ontugtige lakens in sy seun se kamer” (179). Jack gaan selfs so ver as om vir tannie Sannie met die wolfmasker deur die oop venster te tart (81). Omdat tannie Sannie dieselfde waardestelsel en patriargale ruimte as oom Benjamin verteenwoordig, kan daar gesê word dat Wolfie se uitdagende houding versterk word. Die wil om die eeue lange stelsel uit te daag, word versterk.

Mattheüs praat voor sy pa se dood al van sy pa se huis as “hulle huis”, met verwysing na hom en Jack (185). Hy sluit Jack dus by die nie-meer-so-erg-verbode patriargale ruimte in. Selfs Sissie aanvaar dat Jack daar gaan bly na oom Benjamin se dood. Dit is besonders dat Jack by hierdie ruimte ingesluit word, omdat dit juis in teenstelling is met sy eie grootwordhuis. Die teenstelling is grotesk. Sy grootwordhuis was “mistroostig”, “liefdeloos” en “donker” (212) terwyl Jack Mattheüs se grootwordhuis as huislik ervaar. Hy voel selfs geborge in die tuin (218). Die gevolg van Wolfie se indringing veroorsaak dat Mattheüs die belofte wat hy aan sy pa gemaak het, verbreek. Die straf is dat sy pa die huis laat verkoop volgens sy testament en Mattheüs besef dat sy pa tog van hom en Jack in die huis geweet het.

3.2.5 Nadraai

Mattheüs se dunk van die huis voordat dit amper verkoop word, is te verwagte. Dit is rou en eerlik. Sy gemoedstoestand weerspieël hoe hy teenoor die ruimte voel wat tot dusver sentraal in sy lewe was: “Fok die huis en die tuin met die frangipani’s en suurlemoenbome en alles wat in die huis was, die lang familiegeskiedenis, dik en dun, die liefde en haat wat op daardie huis geënt is, fok dit alles” (231). In die nadraai van die testamentvoorlesing gaan spandeer Mattheüs sy laaste aand in die huis, spesifiek in sy pa se studeerkamer.

Jack som die atmosfeer perfek op deur te sê dat die huis ’n konstante ding tussen Mattheüs en sy pa was (233). Dit kan dus as ’n uitdaging vir en magstryd tussen pa en seun gesien word met die huis as domein. Mattheüs sukkel om die magstryd op te gee. Waar Sissie die huis as geskiedenis sien, keer Mattheüs herhaaldelik terug na Poinsettiaweg nommer nege (246). Gevolglik blyk dit dat Mattheüs die magstryd met betrekking tot ruimte met die nuwe eienaar voortsit, wat dan tragies eindig.

3.3 Diskoers van transmigrasie

Die term transmigrasie word gedefinieer as die aksie om in ’n ander liggaam in te gaan na tye van sterfte (Cambridge Dictionary 2020). Transmigrasie kan ook gesien word as die oorgang van een wese van bestaan na ’n ander wese van bestaan (Merriam Webster 2020). Die diskoers van transmigrasie kan van toepassing gemaak word op Wolf, wolf. Daar is baie gevalle in die roman waar transmigrasie plaasvind. Mattheüs, Jack en oom Benjamin gaan al drie deur emosionele transmigrasie. Oom Benjamin se kankerstryd het transmigrasie tot gevolg. Hy wil van ruimtes (vertrekke) in die huis verander. Die effek wat die chemoterapie op hom het, verander hom liggaamlik byna in ’n ander wese. Mattheüs bevraagteken aan die ander kant sy eie identiteit wanneer hulle die stad vir die plaas verruil. Dit is dus die ruimte verandering wat daardie invloed op hom het. Jack ondergaan transmigrasie wanneer hy in Wolfie verander en die patriargale ruimte binnedring. Ten slotte ondergaan beide Jack en Mattheüs transmigrasie as hulle soos bergies op die Rondebosch-meent gaan bly.

3.3.1 Benjamin se kankerstryd

Oom Ben se versoek om van sy kamer na die studeerkamer verskuif te word, word as transmigrasie beskou. Hy weet dat dit tien teen een sy laaste fisiese reis is. Sy studeerkamer is ’n werklik waarneembare ruimte. Volgens Nel (2010:172) is dit ’n eerste ruimte, materieel en objektief. Oom Benjamin se liggaam word deur die chemoterapie afgetakel, wat veroorsaak dat hy homself binne ’n tweede ruimte bevind. Volgens Nel (2010:172) kan hierdie handelingswyse begryp of bedink word. Sy meen dat dit ’n domein van representasies en verbeelding is; dit is subjektief en geestelik. Daar word klem gelê op oom Benjamin se begrip van ruimte as ’n emosionele belewing.

Venter gebruik in hierdie instansie ook die olfaktoriese om oom Benjamin se laaste aardse reis en die oorgangsproses te beskryf. Interessant genoeg is dit oom Benjamin se reuksintuig wat eerste agteruitgaan (12). Hy kan egter nog die motor se uitlaatgasse ruik (115), wat simboliese waarde het. Die Mercedes het nog altyd ’n groot deel van die beeld van sy manlikheid uitgemaak. Dit kan ook gekoppel word aan die patriargale denkwyse waarvan hy sukkel om afstand te doen. Oom Benjamin besef wat die chemoterapie aan sy lyf doen. In ’n brief aan Mattheüs skryf hy: “Daar op Luiperdskop die naweek het ek ’n paar van die plaas se reuke opgetel. En nou in die toilet ook as ek gaan om water af te slaan dan ruik ek hoe slaan dit op in my neus. Dit moet ’n geweldige dosis wees wat ek daar in onkologie elke slag kry. Ek sou sê dis van die laaste goed wat ek nog kan ruik. Pa se eie giftige urine” (182–183).

Vir Mattheüs is die kankerreuk van sy pa amper te veel om te verwerk. Hy beskryf hoe die reuk van die studeerkamer verander het: “Die studeerkamer met sy aantreklike mengsel van reuke is iets van die verlede” (33). Selfs die hond kon nie meer vir oom Benjamin aan sy liggaamsreuke identifiseer nie. Mattheüs ervaar ’n tipe abjeksie en verwerping van die kankerreuk: “Hy draai weg van die reuk, snydend, die vel van ’n liggaam wat permanent afgekoel nog net ’n blikkerige damp afgee, ontsettend om so iets chemies aan ’n mens te ruik, jy kan dit nie voorstel nie” (34).

Benjamin was altyd die “beste ruiker in hulle familie [en] kon sê wanneer die aartappels in die donker kas begin uitloop het, en hy kon hulle ma per maand ruik” (129). ’n Interessante deel van die transmigrasieproses is egter dat oom Benjamin se ander sintuie versterk namate sy reuksintuig agteruitgaan (39). Voor Benjamin se dood het Mattheüs en Sissie ’n gesprek oor die dood wat by transmigrasie aansluit. Sissie is nie onkundig oor die dood nie, en sien gereeld skape doodgaan. Aan die ander kant wil Mattheüs weer sien hoe dit is as iemand sterf (196). Dit is in die studeerkamer waar Benjamin sy laaste asem uitblaas en sy aardse woning verlaat. Mattheüs ondervind ook ’n soort transmigrasie wanneer hulle op die plaas Luiperdskop naby Laingsburg gaan kuier.

3.3.2 Mattheüs en Luiperdskop

Met die reis na Luiperdskop word ’n transmigrasieproses al voorspel wanneer die landskap begin verander (126). ’n Vreemde ding gebeur op die plaas met Mattheüs. Dit is asof hy ’n identiteitskrisis beleef omdat hy hom in ’n ander ruimte as die stedelike ruimte bevind. Mattheüs meen: “Dit vereis eerlikheid om te erken dat dit op hierdie kaal plaas met hom gebeur het, tussen mense met gewoontes wat nie syne is nie, ver weg van die stad wat hy as sy ononderhandelbare heimat beskou” (148). Die emosionele reis wat in sy gedagtes plaasvind is dus die resultaat van die fisiese migrasie wat plaasgevind het. Nel (2010:172) sluit by bogenoemde aan deur die anderste wyse van dink as ’n derde ruimte te klassifiseer. Daar word dus slegs betekenis verkry wanneer die ruimte beleef word (Nel 2010:172). Verdere transmigrasie wat plaasvind is Jack wat as Wolfie die patriargale ruimte binnedring.

3.3.3 Jack as Wolfie

Wanneer Jack die patriargale ruimte binnedring as Wolfie (161), neem hy nie die tipiese kenmerke van ’n slu en agterbakse wolfkarakter aan nie. Wolfie het ’n speelsheid aan hom en ontvang ook erotiese kenmerke wat deur Jack aan hom toegedien word. Met die opsit van die wolfmasker ondergaan Jack transmigrasie. Hy vereenselwig met sekere eienskappe van Wolfie. Hy doen as Wolfie dinge wat Jack miskien nooit sonder die masker sou doen nie. Jack gaan selfs so ver as om vir tannie Sannie met die wolfmasker te tart (181). Uiteindelik kom daar vir Jack niks goeds van die transmigrasieproses nie. Omdat hy as Wolfie manifesteer, moet hy die gevolge van Wolfie se dade aanvaar wanneer Wolfie soos ’n rondloperhond doodgeskiet word (273). Nog ’n belangrike transmigrasieproses wat plaasvind is die migrasie van Jack en Mattheüs vanuit die huis na die Rondebosch-meent.

3.3.4 Rondebosch-meent

Volgens Strydom (2018:117) is die Mercedes waarin hulle gaan bly ’n voorstelling van hulle gekombineerde ruimtes. Volgens hom word Mattheüs se pornografiese ruimte en Jack se ruimte waar hy aan sosiale media verslaaf is, gekombineer. Dit is hier waar hulle albei weer hul identiteit kan vind en wegkruip (Strydom 2018:117). Hy lig ook uit dat Jack bekend is met die meentspasie waar die honde vrylik rondloop. Strydom (2018:118) stel voor dat hulle ’n ruimte skep van ’n reflekterende self wat gesien kan word as ’n poging om bande buite die mensgesentreerde te skep en dus met ’n sin van transspesies op te eindig.

Met behulp van die reuke wat Venter gebruik om die ruimteverskuiwing te beklemtoon, kry die leser ’n duideliker beeld van hoe Mattheüs en Jack agteruitgaan. Hulle leefarea by die meent begin al na urine ruik omdat hulle toilet toe gaan soos wat die honde op die Rondebosch-meent dit gewoonlik doen (246). Die afleiding kan dus gemaak word dat hulle tydens die transmigrasie na die meent die honde se eienskappe aanneem. Jack se skoliere kan hom glo ook ruik in die klas (273).

Transmigrasie word dus in baie areas van die roman aangetref. Venter het kenmerkend nie net op fisiese migrasie gefokus nie, maar ook op die emosionele en geestelike transmigrasie en die uiteindelike slotsom van so ’n proses. Nog ’n tema wat subtiel in die intrige ingewerk word, is die sosiopolitieke kommentaar wat op die postapartheidsbestel gelewer word.

 

4. Sosiopolitieke kommentaar op die postapartheidsbestel

Met die lees van Wolf, wolf kom die leser tot die besef dat die roman in die tyd na die apartheidsbestel afspeel. Dwarsdeur die roman lewer Venter sosiopolitieke kommentaar op die postapartheidsbestel deur na xenofobie, rassestelsels in skole, werkers, regstellende aksie en ruimtes in die stad wat aan die Groepsgebiedewet herinner, te verwys.

4.1 Verskil ten opsigte van graad

Aan die begin van die roman maak die leser kennis met Samantha, die huishoudster. Mattheüs se gedagtes lig die leser in dat daar volgens hom ’n graadverskil is: “[...] dat haar vel, haar gladde strandvel, net ’n graad weg is van dit wat hy as eroties beskou en dat hy sou kon opstaan en oorstap na haar toe, haar soort, en daardie graadverskil tot niet maak. Hy sou haar kon hê, dis wat hy wil sê” (19). Met daardie woorde maak hy die leser meer attent op die graadverskil en vergroot die klasgrootte.

4.2 Ruimtes

Net soos wat graadverskil ter sprake kom, gebruik Venter kontrasterende ruimtes om kommentaar te lewer. Die bank waar Mattheüs gaan aansoek doen vir ’n lening, Capital Bank, is volgens sy pa ’n “speel-speel bankie” (51). Mattheüs neem verder foto’s van die president, Minister van Finansies en die president van die Reserwebank waar. Dit doen nie sy gemoedstoestand goed nie: “Al waartoe hulle bydra is die belaglik wordende aard van sy missie” (51).

Die ligging van sy winkel kom ter sprake as oom Hannes vir hom ’n Beretta-pistool gee. Volgens oom Hannes is Main Road, Observatory een van daardie “rampokkerstrate” (145). Dit dui daarop dat daar gevaarlike dele in die stad is, wat moontlik met die stygende misdaadsyfer na die apartheidsregime gekoppel kan word. Jack en Mattheüs moet ook bietjie van die pad af instaan, “anders ry die taxi’s nog jou gat ook af” (101), wat duidelik die karakters se inherente houding jeens taxi’s en taxi-bestuurders te kenne gee.

Met betrekking tot provinsiale ruimtes word daar ook kommentaar gelewer. Marko, Mattheüs se swaer, “wat wou padgee uit die Noorde (‘Wes-Kaap is al waar ’n wit man nog kan bly.’)” (128), gee vir die leser ’n kykie na die gedagtes van ’n tipiese wit Afrikanerboer na 1994. Na 1994 het die Groepsgebiedewet verval. Dit kom duidelik na vore wanneer Benjamin Duiker se huis aan ’n ene meneer Anthony Bongani Mkhonza verkoop word (241). Dit dui op ’n verbrokkeling van die heterogene patriargale Afrikaanse ruimte. As Emile, die Kongolese werker, aan die einde Mattheüs se winkel oorneem, word Mattheüs se gevoel van verwesendheid versterk as hy weier om sy situasie te vergelyk met die inwoners van Distrik Ses wat tydens die apartheidsjare uit hulle huise gesit is. Na die gewelddadige voorval is hy verlig, “en byna onmiddellik klim hy op die oprit verby Groote Schuur-hospitaal wat hom op De Waalweg plaas en verby die kaal kol waar Distrik Ses eens was en weier om ooreenkoms te sien tussen daai mense wat op so ’n vieslike manier uit hulle huise gesmyt is en eie onteiening” (268). Dit wil voorkom asof dit in ’n sekere sin regstellende aksie is en Mattheüs besef dit. Sy gekondisioneerde brein weier egter om dit te erken.

4.3 Rassigheid

Die impak van die apartheidsbestel is in Zilverbosch, ’n privaat seunskool, ook sigbaar, al probeer hulle hard om ’n beeld van nie-rassigheid te skep. Moenien Albertse, ’n graad 10-leerder wat ’n Moslem is, word deur die ander seuns “gam” genoem (62). Dit is juis as gevolg van Moenien dat dinge vir Jack begin skeefloop. Tydens ’n roeikamp urineer die blonde Mikey op Moenien. Moenien vat dit as ’n grap, maar Jack lees “dit mag omdat dit kan” op Mikey se gesig (69). Al was Jack aanvanklik verlig dat die ras-ding nie daarby ingesleep word nie, redeneer Moenien se ma anders. Die ou en nuwe Suid-Afrika kom op die voorgrond wanneer sy in ’n toneel sê: “Those white shits pissed on my son’s gym pants. Brand new Adidas and not cheap. Dink mister Richardson miskien dis fair? En dink hy vir een oomblik sy gaan haar mond daaroor hou in die nuwe Suid-Afrika?” (84).

Uit ander gedagtes van Mattheüs kan regstellende aksie se impak weer gesien word, byvoorbeeld wanneer Mattheüs wens dat die wit vrou hom sal help by Capital Bank. Die impak word vererger as die bruin vrou wat langs hom sit, sê: “OK, I make a deal. As ek nou vir mevrou Botha kry, kan jy maar eerste loop voor my. Julle blankes help mekaar. I respect that, you know” (53). Dit blyk dat wit mense “gedwing” word om saam te staan in die nuwe Suid-Afrika. Mattheüs gebruik selfs die woorde “effe uitgeslote deesdae met regstellende aksie” (54). Aan die einde van die roman kan Samantha nie glo dat Emile Mattheüs se winkel oorgneem het nie: “Dit kan nie in dié land gebeur nie. Sy glo [dan] in hierdie land” (269). Dit sinspeel op die veronderstelling wat baie Suid-Afrikaners gehad het dat die nuwe Suid-Afrika werklik demokraties, regverdig en misdaadvry sou wees. Daar word ook gekyk na die interessante verhouding wat tant Mary (die ou huishoudster) met oom Benjamin gehad het. Daar word ’n blik gewerp op tant Mary se gedagtes wanneer sy sê: “Die eerste wit mens wat ek kan sê: ek gee om vir hom” (271). Ras is dus duidelik op die voorgrond.

4.4 Xenofobie

In Wolf, wolf word daar verder ’n sterk fokus op xenofobie geplaas. Emile, die Kongolees, wurm homself by Mattheüs se winkel in en neem uiteindelik die winkel oor. Laura Buxbaum (2017:78) ondersoek die ongewone wyse waarop xenofobie en diere as metaforiese simbole in wisselwerking met mekaar is in Wolf, wolf. Haar artikel fokus op hoe Afrikamigrante in die teks gemarginaliseer word. Daar word vir die migrante dierlike eienskappe gegee.

Die leser maak kennis met immigrante wanneer Mattheüs met die vrou wat langs hom in die bank sit, gesels. Sy lig hom dan in: “Spaza shops [...] They all start businesses and rip off Africans who can’t buy at Checkers” (52). Daaruit blyk dit dat hierdie spaza-winkels volop is in die nuwe Suid-Afrika. Wanner Emile, die immigrant, Mattheüs se kos vir hom proe, voel Mattheüs amper gedwing om vir hom te sê: “It’s my business” (153). Dit kom heel moontlik vanuit Mattheüs se vooropgestelde idee van immigrante in die nuwe Suid-Afrika.

Venter lig sekere stereotipes rakende immigrante suksesvol uit. Mattheüs se binnestem waarsku hom teen Emile (189). Emile se familie se gesigte lyk soos “slagoffers” (190). Mattheüs wil op Emile se higiëne verbeter en stuur hom om hom te gaan was (191). Daar word ook van Emile as ’n “sub-mens” gepraat (204). Daar word beskryf hoe Emile met sy hande eet (205). Jack en Mattheüs se opinie oor die koning van Swaziland skok die leser. Hulle noem hom onder andere ’n “moddervertrapper”, “klein paleis-stoepkakker”, “papvreter-fokker” en ’n “naaier van jong maagde” (208). Daar word telkemale na Emile se onderdanigheid verwys (191, 230). Dit is ook Emile wat sy hand wegruk as hy per ongeluk aan Mattheüs se hande raak (261). Snaaks genoeg noem Emile hom steeds “sir” nadat hy hom afgedank het (262). Uiteindelik neem Emile die winkel oor met sy kamstige onderdanigheid wat iets van die verlede is (264). Hy lyk sommer meer manlik. Venter het dit nie net goed in die storielyn ingewerk nie, dit vorm ’n integrale deel van die storielyn en Mattheüs se uiteindelike ondergang.

Venter gebruik die reuksintuig ter versterking van die belewenisse en ervarings van sy karakters ten opsigte van die “ander”. Dit tree sterk na vore wanneer Mattheüs vir Emile en sy vrou lughawe toe neem: “Die twee mense bring reuke in die kar [...] ’n opgewonde sweet daaragter” (251). Mattheüs het ook vroeër, soos reeds vermeld, vir Emile oor sy higiëne aangespreek: “’n Koekie seep en ’n handdoek gee hy vir Emile om hom te gaan was agter in die toilet [...] Onder die arms, beduie hy. ’n Suur damp gaan hy nie ook nog duld in sy takeaway nie” (191). Volgens Buxbaum (2017:90) ondersteun en versterk die wyse waarop Emile uitgebeeld word en die feit dat hy die winkel gaan oorneem die beeld wat daar van immigrante is en vuur dit xenofobie aan. Daar word dus moeiteloos deur Venter sosiopolitieke kommentaar op die postapartheidsbestel gelewer juis omdat die gebeure lewensgetrou in vandag se samelewing is.

 

5. Gevolgtrekking

Die roman bevat intrige op intrige en is lewendig vir die leser. Dit is juis temas soos die titel en ruimtes wat die teks in die gedagtes van die leser laat voortbestaan. Die titel Wolf, wolf bly onbewustelik deur die lees van die roman in die leser se agterkop. Die onderbewussyn skakel dus relevante instansies met die wolf-tema. Die spel-beginsel word definitief deur die titel geaktiveer, maar ’n wolf as dier word ook aan karakters gekoppel deur middel van stereotipering.

Die ruimtes word as ontwikkelingsvelde en magsdomeine voorgestel. Dit word aan ook die emosionele gemoedstoestande van die karakters gekoppel. Xenofobie en rassigheid in die nuwe Suid-Afrika kom onder die loep as deel van die sosiopolitieke kommentaar wat Venter op die postapartheidsbestel lewer. Die gevolgtrekking kan egter gemaak word dat die teks uiteindelik aan die leser behoort. Elke leser het ’n ander persepsie waarmee die teks gelees en geïnterpreteer word. Die feit dat dit vir die leser moontlik is om die teks volgens hul eie resepsies te interpreteer, is juis wat Wolf, wolf ’n moet-lees maak.

 

6. Bibliografie

Buxbaum, L. 2017. Representations of xenophobia and animalisation in Zebra Crossing, Zoo City and Wolf, wolf. Journal of Literary Studies, 33(1):78–93.

Cambridge Dictionary. 2020. Transmigration. https://dictionary.cambridge.org/dictionary/english/transmigration (16 Desember 2020 geraadpleeg).

Cochrane, N. 2013. Wolf, wolf, Eben Venter: boekresensie. Tydskrif vir Letterkunde, 50(2):188–9.

Merriam Webster. 2020. Transmigration. https://www.merriam-webster.com/dictionary/transmigrate (16 Desember 2020 geraadpleeg).

Nel, A. 2010. “My lyf was my slagspreuk”: verset en die politiek van die liggaam in 30 nagte in Amsterdam van Etienne van Heerden. Stilet, 3(1):165–86.

Nel. A. 2015. Spel en die spelende mens in Die sneeuslaper (Marlene van Niekerk), Klimtol (Etienne van Heerden) en Wolf, wolf (Eben Venter). LitNet Akademies, 12(1):180–205.

Strydom, W. 2018. On queerly reading canid tropes in Eben Venter’s Wolf, wolf. Tydskrif vir Letterkunde, 55(3):108–20.

Venter, E. 2013. Wolf, wolf. Kaapstad: Tafelberg.

 

Eindnota

1 Verwysings waar daar slegs bladsynommers gegee word, verwys na Wolf, wolf deur Eben Venter, die roman onder bespreking.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top